Lees deur internet, klik hier >>
13 Augustus 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Vrouemaand
In Vrouemaand is dit belangrik dat ons nie net die stories van persone met mag hoor nie – hulle is immers gewoond daaraan om hul sê te sê en gehoor te word. Dit is belangrik dat ons spasie skep en luister ook na diegene wie se stories nie altyd belangrik geag word nie. Die inspirasie vir hierdie artikel kom uit die gedeelde eerste lesers-gehoor van twee uiteenlopende figure in die Bybel - Esra en Rut. Lees Elmarie Dercksen se skrywe namens die Taakspan vir Gender Geregtigheid hier.
Dit skakel ook goed aan by Marileen Steyn se artikel wat verlede week in Kerkbode verskyn het. Dit was die eerste van ‘n reeks rubrieke wat in Augustus op etlike stemme fokus wat praat oor verskeie kwessies wat vroue raak. 
Kunswerk: Picasso
Aansoeke nog oop vir saakgelastigde vakature
Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (Sinode van Wes-Kaapland) wag steeds aansoeke in om die pos van PSD (predikant in sinodale diens) in die Diensgroep vir Ondersteuningsdienste te vul.
Die ideale kandidaat is 'n leraar wat passievol is oor die rol van die kerk in die wêreld, maar ook oor vaardighede en kennis beskik om finansies te bestuur en ondersteuning te verleen aan ons gemeentes en bedieninge. Die sinode se belangrikste funksie is ondersteuning aan gemeentes. Daarom is dit belangrik dat die Saakgelastigde gemeentebediening verstaan en ook ‘n rolmodel is van diensbaarheid aan die Here.  
Klik hier https://www.kaapkerkadmin.co.za/poste/ vir meer posvereistes asook belangrike dokumente wat jou aansoek moet vergesel. Stuur jou aansoek as een PDF-dokument aan ngkadmin@kaapkerk.co.za. Die aansoekproses sluit op Maandag 23 Augustus om 12:00.  
Vergifnis as barmhartigheid
In ons eerste tema van die reeks vir Barmhartigheidsmaand het ons gesê: “Die barmhartigheid van God is ’n geskenk wat bly gee, want dit bly nie by Hom nie.”
Hierdie is hopelik vir ons meer as net ‘n pragtige stelling, want wanneer ons oor die verband tussen vergifnis en barmhartigheid nadink, besef ons dat die barmhartigheid van God verseker met meer as net liefdadigheid teenoor ander te make het. 
Jesaja 40:18 vra: “Met wie kan julle God vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom gelykstel?” Miga 7:18 -19a vra: “Wie is ‘n God soos U?  U vergewe sonde … U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon.”  Deur hierdie vrae te stel, nooi Jesaja en Miga ons om te besef en te erken dat God geen gelyke het in die aanbod van Sy vergifnis aan ons nie. Dat ons inderdaad deur Sy vergifnis te ontvang, ‘n geskenk bo alle waarde ontvang het. Want deur ons ons oortredinge te vergeef, toon werklik dat God nie vir altyd kwaad bly nie. Tog beteken dit nie dat God verlief neem met ongeregtigheid nie. Nee, God hou nie daaraan vas nie, maar soos die NIV-vertaling dit stel “delight to show mercy” aan elkeen wat na Hom kom.  Hy verheug Hom daarin om liefde, genade, barmhartigheid te betoon.
Wanneer God dus vergewe, betoon Hy liefde aan diegene wat straf verdien het; betoon Hy barmhartigheid aan ons wat in nood verkeer.
Dit behoort daarom ons karakter te definieer en uit te spel hoe ons met alle mense omgaan, want ons het vergifnis vir ons oortredings van God ontvang. Nie maar net goed doen aan vriende en familie omdat dit vir ons voordelig is nie. Of goed doen aan mense met wie se nood ons om een of ander rede kan simpatiseer. Nee, ons word opgeroep om bo hierdie uit te styg, liefde te betoon, te vergeef en barmhartig te wees, ook teenoor mense wat ons te na kom of selfs diegene wie ons reken in nood verkeer deur hul eie toedoen!
Soos barmhartigheid, is vergifnis eie aan die karakter van God en word ons aangemoedig deur Jesus in Luk 6:36 “Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.”
Deur so te leef, is ons barmhartigheid werklik “die geskenk van God wat bly gee!” Klik hier vir verdere hulpbronne vir Barmhartigheidsmaand. In die video hieronder gesels Badisa met 'n beradingstudent by Toevlug oor vergifnis en sy pad na herstel van dwelms. 
GEMEENTENUUS
Sorgmaand by Sonstraal
Augustus is Sorgmaand by Sonstraal-gemeente waartydens hulle 'n beroep op die gemeente doen om vir ander te sorg deur middel van fondsinsameling, asook die insameling van  nie-bederfbare kos, toiletware, komberse en klere. So neem hulle deel aan God se sorg vir sy wêreld.
Soos elke jaar, fokus Sonstraal veral op die volgende instansies wat mense in nood help: Badisa Trio, MES, Straatwerk, Ruyterwacht, Vuka Nomtobhoyi Langa Kinderhuis en Kraaifontein Moedergemeente. Hulle help ook graag ander instansies wat hulle pad kruis en hulp benodig. 
Hulle het die behoefte om die volgende items bymekaar te maak: 
  • Parafien verwarmer
  • Herlaaibare ligte (vir wanneer die krag af is)
  • 10m verlengingskoord 
  • Kombuistoebehore
  • Sporttoerusting (bv. verskeie sportballe, springtoue, ens.)
  • Bordspeletjies (bv. Checkers, Monopoly, Slangetjie-en-leertjies, ens.)
  • Gymtoerusting
Indien jy kan help met enige van hierdie items, kan dit by die kerkkantoor afgegee word tydens kantoorure (08:00 - 14:00).
Maak jou kruik vol
Citrusdal-gemeente nooi alle vroue uit na 'n aand saam met Benescke Janse van Rensburg. Kom luister saam na die gratis Zoom-webinaar op Dinsdag 17 Augustus om 19:00. 
Skrywer en omroeper Benescke se passie in die lewe is om God se Woord en beloftes te deel op ‘n kreatiewe en relevante manier waarmee die mens op straat kan identifiseer.
Gebruik hierdie skakel en die kode 313516 om by die sessie aan te sluit.
Kontak die kerkkantoor by 022 921 2843 of stuur 'n e-pos aan ngkcitrusdal@telkomsa.net met navrae.
Omgee in COVID-tyd
Gedurende die derde vlaag van COVID-19 in Suid-Afrika het die gemeente van Durbanville-Bergsig hulle jonger lidmate gevra om bemoedigende prentjies en boodskappe vir die personeel van Durbanville Mediclinic te teken en te skryf. Dit is saam met bederfpakkies by die hospitaal afgegee.
"Hoe heerlik dat die kinders se mooi prentjies die personeel kon bemoedig," skryf die gemeente op hulle Facebook-blad. Kyk gerus die video onder vir meer terugvoer oor die projek. 
PREDIKANTENUUS
Baie geluk aan Ruan en Liezel-René Niewenhuizen (Caledon) wat die naweek in die huwelik bevestig is!
ONS GELOOFSFAMILIE IN AFRIKA
Ons susterskerk in Nigerië
Baie van ons ken of onthou iemand wat by die destydse Soedansending betrokke was. Dit was gewoonlik nie in Soedan self nie, maar in Nigerië. Soedansending was ’n term wat gebruik is om die gordel 10 grade noord van die ewenaar dwarsoor Afrika aan te dui waarin sendingstasies gestig is om die suidwaartse verspreiding van Islam uit die noorde van Afrika te keer. Ons sendingwerk in Nigerië is op 17 April 1911 deur die NG Kerk Sending begin met ds. George Botha, oupa van Johan Botha, vorige PSD van Getuienisaksie, as pioniersendeling.
In 1954 begin die sendelinge om Tiv-evangeliste en -leraars deur middel van aandskole op te lei en die eerste vier predikante is net ná die amptelike stigting van ons susterskerk, die NKST (Nongo uKristu uKen Soedan hen Tiv – die Kerk van Christus in Soedan onder die Tiv) op 9 Januarie 1957 georden. Hulle was di. Isholibo Sai, Ugo, Annum en Ayaka.
Die NKST het toe 1 800 lidmate gehad en 3 000 mense wat Sondae dienste bygewoon het. Teen die 1970′s is die NKST as die vinnigsgroeiende kerk in die wêreld beskou. Vandag is daar al meer as ’n miljoen mense verbonde aan die NKST. Lees meer van ons susterskerk in Nigerië hier
Foto: Afgevaardigdes van die NKST tydens ‘n Sinodevergadering.
EKOLOGIE
Hoe reageer jy op die slegte nuus van klimaatsverandering?
Hopelik gaan die politieke en ekonomiese leiers van die wêreld, wat vanaf 31 Oktober tot 12 November in Glasgow vir die 26ste Conference of the Parties (COP) vergader, hulle ernstig aan die jongste Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC)-verslag steur. Mag hulle tog doen wat nodig is om die mens van sy dwaasheid te red -  dat ons eiehandig sorg dat lewe soos ons dit vandag ken (ons eie inkluis) uiteindelik nie meer op aarde moontlik sal wees nie.
Ons is heel waarskynlik die laaste geslag wat nog iets daaraan kan doen om die verwarming van die aarde se atmosfeer tot 'n leefbare vlak in te kort. Kom ons doen alles wat ons kan – met blydskap. Lees meer hier.
Kyk ook na hierdie video deur Popular Science wat die werklike implikasies van 'n temperatuurstyging van twee grade Celsius uiteensit.
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
Induksiekursus vir skribas
Skribas, saakgelastigdes en ander kerkkantoorpersoneel word vriendelik uitgenooi om te registreer vir die skribakursus wat van 30 - 31 Augustus by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington aangebied word. Registreer gerus hier vir die Augustus-kursus. Die kursusfooi is R200 per persoon en sluit kos en verblyf in. Indien jy reeds in 2020 betaal het, dui dit asseblief op die registrasievorm aan.
Stuur asseblief ‘n epos na collette@kaapkerk.co.za indien jy enige spesifieke  vrae aan die fasiliteerders het  ten opsigte van die punte op die program - klik hier vir die program. Registrasie sluit 28 Augustus. Alle vrae moet dan ook teen 28 Augustus om 08:00 na Collette gestuur word.
Dieselfde kursus sal ook van 20 - 21 Oktober aangebied word. Registrasies hiervoor sal einde September oopmaak.  Hou jou e-pos en VrydagNuus dop vir verdere inligting. 
NUWE DATUM: Bedienaarskursus
Die diplomakursus vir Bedienaars met Jeug- en Familiebedieningsvaardigheid se aanvangsdatum is uitgestel na 1 September. Laat inskrywings sal ook nog in Oktober en November aanvaar word. Hierdie kursus is ideaal vir kategete, jeugleiers, gemeentelede met ‘n passie vir jeugbediening of matrikulante wat ‘n GAP-jaar wil neem om beter toegerus te wees om leiding te neem t.o.v. Jeug- en Familiebediening. 
Inskrywings kan hier gedoen word. Kontak jeug@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
VBO Kursus: Hoe hanteer ons jeugwerk?
Hierdie kursus hanteer die uitdagings rondom jeugwerk van kleuters tot jong volwassenes  met ‘n fokus op geloofsvorming en dissipelskap. Ruim geleentheid word gegee vir interaktiewe deelname en die uitruil van idees. Die kursus is gerig op predikante in die vroeë fase van hulle bediening, maar kan deur enige leraar/jeugwerker bygewoon word. Klik hier om aanlyn in te skryf.  
Plek: Aanlyn per Zoom
Tye: 16 Aug (09:00 – 16:00), 17 Aug (09:00 – 16:00), 18 Aug (09:00 – 13:00)
Aanbieder: Anriëtte de Ridder 
Koste: R95

VBO: 30 punte
Sluitingsdatum: 12 Augustus 2021

Bankbesonderhede vir elektroniese betalings: ABSA (632005), naam van rekening: TSO,  rekeningnommer: 142 0830 463, verwysing: VBO naam en van.
Stuur jou bewys van betaling na Rika by excelsus@up.ac.za om die aansoek te voltooi. Rika kan ook gekontak word vir navrae. 
Klik op grafika om te registreer.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Aanbiddingskoördineerder, Somerset-Wes
Die pos van die aanbiddingskoördineerder is beskikbaar by NG Gemeente Helderberg. Die geskikte kandidaat moet beskik oor goeie menseverhoudinge, uitstekende administratiewe vaardighede en die vermoë om vrywilligers te motiveer en inspireer. Spanwerk en goeie kommunikasievaardighede is nodig en die persoon moet gemaklik wees om fleksie-ure te werk (20 ure per week).
Dit is ook belangrik dat die persoon  sal streef om die visie en waardes van die gemeente uit te leef: “Leef met ‘n passie vir God en ʼn hart vir mense en ‘n wêreld in nood.” Die sluitingsdatum vir aansoeke is 20 Augustus 2021. Klik hier vir die volledige advertensie. 
Klik op die grafika om die vakatures te besigtig.
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Lees die jongste nuus van Badisa hier.
PUBLIKASIES
BybelMedia vier Vrouemaand
Vrouwees is … om elke dag te leef, te lag en lief te hê. BybelMedia nooi jou om tydens Vrouemaand vrouwees saam met hulle te vier en jouself of 'n vriendin met 'n pragtige geskenkpak te bederf.
Daar is ‘n verskeidenheid heerlike leesstof, geskenksakke, resepteboeke, joernale en selfs Bybels om van te kies. Pak vir jouself 'n sakkie of pak een vir ‘n vriendin, gee die afleweringsadres en hulle stuur die pakkie vir jou of jou vriendin. Klik hier om jou sakkie te pak.
CLF-winkel nou in Kimberley
Die Christelike Lektuurfonds se nuwe boekwinkel in Kimberley het vandeesweek hulle deure oopgemaak in die New Park winkelsentrum.
Die winkelbestuurder is Victoria Dika en Malony Sandy is aangestel as assistent.
Kontak hulle gerus by kimbooks@clf.co.za of  072 653 3076.
ALGEMEEN
Raakgelees: Kaapse man braai al vir 500 dae in 'n ry
Toe Edwin Koen van Bothasig verlede Vrydag sy vuurtjie aangesteek het, was dit die laaste. Koen vertel aan Netwerk24 dat hy vir eers klaar gebraai is nadat hy vir 500 dae aaneen elke aand kos op die kole gaargemaak het. Hy reken dat hy meer as 15 000 stukke hout in hierdie tyd gebruik het.    
Hierdie storie begin twee dae voor die nasionale inperking verlede jaar in Maart aangekondig is. Koen het ‘n weddenskap aangegaan dat hy elke dag van die inperking kos op die vuur sal gaarmaak. Saam met vleis het hy ook mielies, sampioene, braaibroodjies en gevulde jalapeno gebraai. Sy vrou was verantwoordelik vir die bou van 'n slaai elke nou en dan. "My vrou het al baie gekla hieroor, maar ek dink sy gaan nou nog meer kla omdat dit nou bietjie haar beurt is om kos te maak!"  
Inentings: Waar staan ons?
Volgens statistieke wat Dinsdag 10 Augustus beskikbaar gestel is, is slegs 6,1% van die Suid-Afrikaanse bevolking tot op datum ingeënt (Grafika: Netwerk24). In September kan alle Suid-Afrikaners van die ouderdom 18 - 35 ook vir inenting registreer. Moedig gerus jou familie, vriende en wyer gemeenskap aan om te registreer by http://vaccine.enroll.health.gov.za/ en help waar moontlik om bejaardes by inentingsfasiliteite te kry. 
In 'n gesamentlike verklaring het die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Internasionale Koalisie van Mediese Regulatoriese Owerhede bekendgemaak dat inentings help om sterftes en ernstige siekte as gevolg van COVID-19 te verminder en ook die aansteeklikheid van die virus verlaag. In die verklaring word daar ook genoem dat die inenting van 'n beduidende hoeveelheid van 'n land se bevolking ook beskerming bied aan die mees weerbare persone en diegene wat weens onderliggende oorsake nie die inenting kan ontvang nie.
KUIERKANSE
Klik op die grafika vir meer inligting.
TEN LAASTE
Hierdie week is die twaalfde Sondag in Koninkrykstyd en Woord en Fees neem die sleutelteks uit Efesiërs 5: 15 - 20: "Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in 'n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer om te wete te kom wat die Here wil dat julle moet doen."
"Gelowiges wat hulleself onder beheer van die Gees plaas, word deur die Gees geïnspireer om mekaar op te soek en in mekaar se geselskap aan hulle gemeenskaplike geloof uiting te gee. Dit behels nederige diensbaarheid teenoor mekaar. Waar mense van hulleself af wegdraai na God toe, sal hulle ook na mekaar toe draai." Mag ons in die week ook geleenthede vind om (veilig) na mekaar toe te draai.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.