Lees deur internet, klik hier >>
18 Junie 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Reaksie op PEPUDA wetgewing
"Ons sal alles moontlik moet doen om die voorgestelde PEPUDA wetgewing teen te staan. Dit is 'n radikale bedreiging vir godsdiensvryheid, demokrasie en is 'n vergryp aan mag," sê Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die NG Kerk. Dit volg op 'n verklaring wat uitgereik is deur Gustav Claassen, algemene sekretaris van die Algemene Sinode.
Kerkbode berig as volg oor die kwessie: "Die konsepwysigingswet oor gelykheid en ongeregverdigde diskriminasie verteenwoordig ’n wesenlike bedreiging vir demokrasie en vryheid in Suid-Afrika en moet op daardie gronde teengestaan word. Pepuda (kort vir Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act) sal ’n dubbelstandaard handhaaf deur diskriminasie deur die staat toe te laat, terwyl daar aansienlik hoër eise aan “gewone Suid-Afrikaners” gestel sal word, lui die verslag." Lees die volledige verklaring hier.
Vlak 3 beperkings - so raak dit jou!
President Cyril Ramaphosa het Dinsdagaand aangepaste Vlak 3-inperkings aangekondig en dit is onmiddellik van krag. Kortliks word byeenkomste van enige aard beperk tot 50 mense binnenshuis (50% van die kapasiteit van die lokaal mag nie oorskry word nie) en 100 mense in die buitelug. Dit geld vir eredienste, sowel as troues en begrafnisse. Die aandkloktye is aangepas van 22:00 tot 04:00. Dit beteken dat onder andere restaurante, kroeë en fiksheidsfasiliteite om 21:00 moet sluit sodat hulle personeel en kliënte betyds tuis kan wees. Drankwinkels mag ook net van Maandag tot Donderdag handel dryf. Die dra van maskers in enige openbare spasie is verpligtend. Vir meer inligting, sien die nuutste wysigings in die Staatskoerant hier.
Nuwe PSD beroep vir Getuienisaksie
Die Sinode van Wes-Kaapland het pas vir dr. Daniël de Wet van NG Gemeente Stellenbosch-Wes beroep as Predikant in Sinodale Diens (PSD) Getuienisaksie. Die pos se fokus val op die missionale begeleiding van gemeentes en Afrika ekumene. Daar is ook ’n aantal bestuursverantwoordelikhede aan die pos gekoppel. Die droom van die moderamen is dat die onderskeie diensgroepe voortaan ‘n meer geïntegreerde ondersteuningsdiens aan gemeentes sal lewer. Die PSD sal dus ten nouste saamwerk met Diaconia, Familie en Jeug en Gemeentebegeleiding.
Daniël het voorheen gedien as predikant by gemeentes in Suider-Paarl, Durbanville-Bergsig en Knysna. Hy is sedert 2016 ’n leraar by NG Kerk Stellenbosch-Wes. Hy het sy doktorsgraad behaal in Ou Testament en sy doktorstesis was getiteld: Wisdom and Ubuntu:  A close reading of Proverbs 1-9 in dialogue with African Ubuntu.
Daniël is getroud met Elmien en hulle het drie kinders Lisa, Daniël en Ami.
#GROEI-terugvoer van Gugulethu
Weens voedselonsekerheid het talle mense gedurende die COVID-19-pandemie begin om groentetuine te plant. Om gemeenskappe toe te rus om hierdie volhoubare leefstyl na te streef, het die Hoop en Versoening Trust deur middel van hul #GROEI-projek hand bygesit. 
Rachel Mass van Gugulethu vertel dat hulle #GROEI-tuin ‘n reusesuksus is as gevolg van die bystand wat hulle gemeenskap ontvang het. “St Columba's Church, in samewerking met Green Anglicans, het 'n kursus van tien sessies vir die gemeenskap aangebied oor hoe om hul eie voedseltuin te begin en te onderhou. Mense is toegerus met die vaardighede wat hulle benodig om nie net hul gesin te voed nie, maar ook om groente aan die gemeenskap te voorsien. Kom reën, kom son, die gemeenskapslede was baie gretig om die tuinkursus by te woon!”
Op die laaste dag is ‘n gradeplegtigheid gehou en almal het nagedink oor die verskil wat die kursus in hul lewens gemaak het. “Hulle het nuwe vriende gemaak, nuwe vaardighede aangeleer en was opgewonde om hul kennis met ander te deel. Hulle sal nie net groente plant nie, maar ook die gemeenskap aanspoor om volhoubaar te lewe deur saailinge aan hulle te verkoop,” sê Rachel.  
Die Hoop en Versoening Trust het aan elkeen wat die kursus voltooi het ‘n boksie saad geskenk om in hulle tuine te gebruik. Klik hier vir meer foto's.   
Hugenote Kollege  
Fanie Heroldt van Hugenote Kollege nooi lesers uit om meer te wete te kom oor die kollege, wat vanjaar 70 jaar oud is:
  • Hoekom word gesê dat Hugenote Kollege op die nalatenskap van Andrew Murray bou?
  • Wie is die rektor. . . en hoekom?
  • Hoekom is Hugenote Kollege se Teologiese Skool goed geposisioneer vir die nuwe bedeling in die NGK? Klik hier vir die antwoorde, interessante statistieke en geskiedenisbrokkies.
Tuinroete spog nou met First Light-fasiliteerders
Die waarde van die lewensvaardigheidsprogram BrightStar is nou al dubbeld en dwars as ’n uitstekende bemagtigingsinstrument bewys.
Die program wat dit voorafgaan, First Light on BrightStar, is ’n groot bonus as fondasie vir die aanbieding en/of bywoning van BrightStar. Daarom is Arbeidsbediening baie in hul skik dat twee persone betrokke by hul tak in George, Floors Meyer en Joel Plaatjies, in Mei as First Light-fasiliteerders opgelei is. Lees meer hiervan
Vadersdagplanne deur DinkJeug
Op Sondag 20 Junie word Vadersdag gevier. Kyk hier na DinkJeug se hulpbronne en idees.
Ons weet egter dat nie alle gesinne ‘n pa het nie, dat alle pa’s nie positiewe rolmodelle is nie en dat alle pa’s nie “sterk” is of dieselfde take in die huis doen nie.
Hier is ‘n hulpbron om verskillende manspersone wat ‘n positiewe rol in kinders se lewens speel, te eer en te bedank. Laai die PDF-bladsy hier af. 
Die ystervrou agter Andrew Murray Junior
Daar word dikwels gesê dat daar agter elke suksesvolle man ’n vrou staan. In die geval van Andrew Murray was dit dan inderdaad ook so. Pascal Pienaar wat tans met haar PhD aan die Universiteit van Stellenbosch besig is, doen navorsing oor die Hugenote Seminarium en die vroue-sendelinge wat daar opgelei is. In die video onder deel sy met ons die juweel van ’n storie oor Emma Rutherfoord, die formidabele vrou wat met Andrew Murray getroud was. 
GEMEENTENUUS
Anker van Hoop
Toe Vredelust Worship hulle album Anker van Hoop met ‘n vertoning in Vredelust-gemeente se ouditorium op 9 Junie bekend gestel het, het die gemeente en hul aanhangers niks minder van hierdie energieke groep verwag as die wow-faktor nie. Nie eers beurtkrag kon dié feesgeleentheid in die wiele ry nie!   
Op hierdie album word vyf splinternuwe liedere, wat self deur lede van Vredelust Worship geskryf is, ten toon gestel: The Anchor of my soul, Lig jou hande, Wolke, To hold my hand en Verlore sonder U. Die musiekgroep het vir maande hard gewerk om hierdie droom 'n werklikheid te maak. “Van die begin af was die droom om in hierdie deurmekaar tyd mense se lewens te verander met vars nuwe aanbiddingsliedere wat weer hoop en 'n glimlag kan bring." 
Die groep is ontsettend dankbaar vir elke persoon wat die bekendstelling moontlik gemaak het. “Ons wil net dankie sê aan ons Vader wat vir ons die gawes gegee het om musiek te kan maak. Baie dankie aan elke gemeentelid en persoon wat die musiekbediening heelhartig ondersteun. Ook aan al ons musikante en tegniese personeel."
Die liedjies is beskikbaar op al die groot digitale platforms soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music. Volg hulle gerus ook op Facebook en Instagram om op hoogte te bly van hierdie aanbiddingsgroep se jongste treffers. Kyk hier na Lig jou hande se amptelike musiekvideo wat verlede Saterdag vrygestel is.  
Koue keer nie Winterfees
Die Graaff-Reinet Advertiser berig dat selfs nie eens die bibberkoue die Graaff-Reinetters verlede Saterdagoggend kon weghou van NG Kerk Graaff-Reinet se jaarlikse Winterfees nie.
"Mens sou dink met die termometer wat op minus 6 grade gebewe het, sou die meeste mense nog ingelê het, maar stiptelik om negeuur het die eerste voete hul opwagting gemaak. En van daar af het 'n konstante stroom mense opgedaag om die kostafels leeg te koop. Allerhande vleisprodukte, gaar en voorberei, pannekoek, gebak, vetplante en Chinese roerbraai is opgeraap. 
Vrywilligers, boere uit die distrik en ander weldoeners het saamgespan en die kerk kon met vanjaar se Winterfees 'n stywe R123 000 insamel vir sy werksaamhede vorentoe." Klik hier vir meer foto's.
Durbanville-gemeente sê dankie
Durbanville-gemeente het Saterdag dankie-sê geskenkies (pakkies gevul met fudge en brownies) by Durbanville MediClinic afgegee om op 'n spesiale wyse hulle waardering vir die gesondheidswerkers se hulle harde werk en toewyding tydens die COVID-19-pandemie te wys. 
PREDIKANTENUUS
Kraaifontein groet die Bothas
Op Sondag 27 Junie groet die NG Gemeente Kraaifontein vir Banus Botha en sy vrou Marietjie. Banus het die beroep na NG Gemeente Swartruggens aanvaar en lewer sy afskeidspreek om 09:30.
Weens COVID-19-regulasies word getalle beperk en daar word gevra dat protokolle soos sosiale afstand en maskers asseblief gehandhaaf word.  
Kontak gerus die kerkkantoor by 021 988 7290 vir navrae.
EKOLOGIE
Wêreld Kameelperddag - 21 Junie
Wêreld Kameelperddag is 'n opwindende jaarlikse geleentheid wat deur die Giraffe Conservation Foundation (GCF) geïnisieer word om die langste dier jaarliks op die langste nag van die jaar (in Suid-Afrika - 21 Junie) te vier.
Hierdie spesiale dag is nie net 'n wêreldwye viering van hierdie wonderlike en geliefde diere nie, maar 'n jaarlikse geleentheid om ondersteuning te werf en bewusmaking te verhoog oor die uitdagings wat kameelperde tans in die gesig staar. Deur World Giraffe Day (WGD) te ondersteun, help jy om kameelperde in Afrika te red.
GCF vertel dat omdat daar altesaam minder as 100 000 kameelperde in die natuur oor is, is kameelperde in 2016 op die IUCN Rooi Lys van bedreigde spesies as Kwesbaar vir Uitwissing gelys. Wêreld Kameelperddag 2021 is spesifiek gewy aan die redding van die laaste Wes-Afrikaanse kameelperd, waarvan daar nog net 600 in die wêreld oor is, en hulle almal woon in Niger - een van die armste lande ter wêreld. Klik hier om te lees hoe jy hierdie dag kan vier of klik hier om ‘n donasie te maak. Die WGD 2021-fondsinsamelingsdoelwit is $250 000, om 'n toekoms vir Wes-Afrikaanse kameelperde in die natuur te verseker.
TOERUSTINGGELEENTHEDE
Skrywerslypskool groot sukses
Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit was onlangs die tuiste vir die drie-dag skrywerslypskool wat deur Taakspan Navorsing van die Algemene Sinode aangebied is. Predikante van regoor die land het saamgekom om onder leiding van Kerkbode-redakteur Le Roux Schoeman die kuns van skryf met 'n joernalistieke oog te ontdek. Daar is ondermeer gekyk hoe om die data vervat in navorsingverslae te omskep in nuuswaardige stories, wat terselfdertyd die uitdagende narratiewe omvat.
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Ons juig saam oor proponente in Malawi 
“We have more than 40 congregations without church ministers and each year we establish an average of six new congregations.” So sê die algemene sekretaris, ds. Vasco Kachipapa, van ons susterskerk in Malawi, die Church in Central Africa Presbyterian (CCAP). Ons juig dus hierdie maand saam met hulle oor die legitimering en ordening van tien nuwe predikante in gemeentes. Lees meer hiervan 
Foto: Die CCAP-proponente en hul vroue nadat hulle gelegitimeer is.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Maatskaplike hulpwerker, Villiersdorp
Badisa Villiersdorp adverteer die posisie van maatskaplike hulpwerker om individuele sorg en ondersteuningsdienste aan kinders en gesinne onder toesig van die maatskaplike werker te lewer. Kwalifikasie as maatskaplike hulpwerker en registrasie by die Raad op Maatskaplike Diensprofessies (SACSSP) met 'n registrasiesertifikaat en kwitansie vir 2021/2022 is ‘n vereiste. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 28 Junie. Klik hier vir volledige posbeskrywing. 
Orrelis, Velddrif
Die NG Gemeente Velddrif adverteer graag die pos vir 'n orrelis. Die geskikte kandidaat sal verantwoordelik wees vir die sang en musiek binne gemeenteverband asook die kreatiewe uitbou van musiek en sang in die gemeente.  Ondervinding van gemeentebegeleiding met pyporrel en klavier; begeleiding van sang en musiek, nie net by eredienste nie, maar ook by spesiale geleenthede asook die afrigting van gemeentekore of sanggroepe is 'n vereiste. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 18 Junie. Klik hier vir meer besonderhede.
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo vir die jongste nuus van Inclusive & Affirming Ministries.
Lees hierbo meer van MES se 35ste verjaarsdagvieringe.
PUBLIKASIES
Vadersdagaanbod van CLF
Die Christelike Lektuurfonds brei hulle promosie vir Vadersdag uit om die hele maand van Junie geldig te wees.
Kies 'n CLF-boek om jou pa te bederf en te inspireer, sy geloof en geestelike wandel met God te verdiep of hom bloot te laat ontspan met Christelike lewensverhale en meer.
Bestel aanlyn of stuur 'n e-pos na order@clf.co.za met die promosiekode DAD21 om vir die afslag in aanmerking te kom.
ALGEMEEN
NID word 140!
Die Nasionale Instituut vir Dowes het vandeesweek hulle 140ste bestaansjaar gevier en skryf as volg: "Dit was ‘n klein begin met groot geloof toe ds. William Murray en ds. Chris Rabie die behoefte vir opleiding en bediening aan Dowes raakgesien het en die stigting van die “Doofstommen Instituut” op 15 Junie 1881 daaruit voortgespruit het. Vandag, 140 jaar later het NID as ‘n instelling gegroei wat ver buite die landsgrense bekend is vir omvattende dienste aan Dowes en persone met gehoorverlies. NID se visie is die ontwikkeling van die volle potensiaal van persone met gehoorverlies in Suid-Afrika deur noodsaaklike kwaliteit-dienste aan hulle te lewer. 
Hierdie besondere mylpaal is egter nie moontlik sonder die oop harte en hande van mense nie. NID as nie-winsgewende organisasie is die afgelope 140 jaar gedra deur die geloof en omgee van besonderse vennote en vriende en daardeur was ons in staat om volhoubare dienslewering aan ons Dowe begunstigdes te laat realiseer. Dit is ‘n absolute seën en voorreg om ‘n verskil te kan maak in die lewens van Dowes en persone met gehoorverlies deur die werk wat ons doen en met die hulp van omgee-mense wat bereid is om ‘n belegging in hul lewens te maak."
Lees die volledige brief van dankbaarheid hier.
Raakgelees: Walvis sluk man in
Michael Packard, ‘n kommersiële kreefduiker in Amerika, vertel dat hy verlede week in die bek van ‘n boggelrugwalvis vasgevang was. “Ek het net skielik ‘n groot stamp gevoel en die volgende oomblik was dit pikdonker.” Hy was sowat 10 meter onder die water en het eers gewonder of hy dalk deur ‘n haai aangeval is. Die gebrek aan tande het hom egter laat besef dat hy in die bek van ‘n walvis is. “Ek het vir myself gesê: ‘Daar is geen manier dat ek hier uitkom nie. Ek is klaar, ek is dood.’ Al waaraan ek kon dink, is my seuns."
Michael was vir sowat 30 tot 40 sekondes in die soogdier se mond voor dit na die oppervlak gekom en hom uitgespoeg het. Hy het baie kneusplekke opgedoen, maar het geen gebreekte bene nie. 
Jooke Robbins, direkteur van boggelrugwalvisstudies aan die Center for Coastal Studies, glo dat Michael se storie waar is. “Ek glo absoluut dat dit wat hulle sê die waarheid is. Wanneer ‘n walvis wil vreet, jaag hy vorentoe, maak sy bek oop en sluk die vis en water baie vinnig.  Hulle het baie groot bekke, maar hulle keel is te nou om ‘n mens te kan insluk,” vertel sy. 
Bejaardes dans vir Badisa veldtog
Die bewusmakingsveldtog Go Turquoise for the Elderly was vanjaar van 15 Mei (Internasionale Gesinsdag) tot 15 Junie (Wêreldbewusmakingsdag vir bejaardes). Badisa het tans 46 tehuise, drie bystandsbehuisingsprogramme en 22 dienssentrums met programme vir ouer persone en het die veldtog heelhartig ondersteun.
Die veldtog is daarop gemik om bewusmaking te kweek oor bejaardes in ons gemeenskappe, veral diegene wat nie in residensiële fasiliteite gehuisves word nie en dus meer kwesbaar is. Lees meer hier.

Christelle Klopper (koördineerder: bejaarde- en gestremdesorg by Badisa Bestuursprogram) het ‘n konferensie bygewoon waar die belangrikheid van beweging vir ouer persone uitgelig is. Dit was 'n guldige geleentheid om die ouer persone van Badisa aan die wikkel te kry. Badisa het die programme vir ouer persone uitgedaag om deel te neem aan 'n dans-kompetisie. Die program met die beste dansvideo sal die apparaat wen. Die maatskappy ArjoHuntleigh het groot pryse geskenk vir die top drie en ander donateurs het verseker dat elke deelnemer ‘n troosprys sal ontvang. Volgens Badisa was die terugvoer oorweldigend en die programme het baie moeite gedoen, persone van 60 tot 90 jaar oud het deelgeneem!

Die wenner van die dans-kompetisie word deur ArjoHuntleigh gekies en sal op 25 Junie op die Badisa Facebook-blad aangewys word. Kyk ook gerus na die videos van die veertien inskrywings wat ontvang is.
Raakgeluister: Nightbirde
'n Jong vrou met terminale kanker, Jane Marczewski, het die beoordelaars op America's Got Talent betower nadat sy aan die wêreldbekende talentkompetisie deelgeneem het. Sy vertel dat dokters haar net ‘n twee persent kans op oorlewing gegee het en dat daar steeds kanker in haar ruggraat, longe en lewer is. 
Marczewski, wat die verhoognaam Nightbirde het, het die beoordeelaars beïndruk met haar oorspronklike liedjie It's Okay, waarin sy meer oor haar kankerstryd vertel met lirieke wat uiteensit waarom dit goed is om soms 'n bietjie verlore te voel. Sy het die gesogte Golden Buzzer by Simon Cowell daarvoor verower. 
KUIERKANSE
Potjiekos by Worcester Moedergemeente
Net betyds vir die winter, laat Worcester Moedergemeente op Vrydag 25 Junie die potte prut met heerlike skaapkerrie- en ryspotjie en malvapoeding.  Bestel voor of op 23 Junie om 11:00 deur die kerkkantoor te skakel by 023 347 0165 of stuur 'n e-pos na willemburger@ymail.com. Vooraf bestellings is noodsaaklik.
TEN LAASTE
Woord & Fees gebruik 1 Samuel 17 met die bekende verhaal van David en Goliat as sleutelteks vir die vierdie Sondag in Koninkrykstyd en Psalm 9 as een van die sleuteltekste. Geeneen van hierdie tekste ontken die werklikheid van die bedreiging, die gevaar, die krisis of die nood nie, maar elke verhaal beklemtoon die besonderse teenwoordigheid van die lewende Here in al hierdie situasies. 
Dit resoneer beslis met die situasie waarin ons as Suid-Afrikaners en gemeentes ons tans bevind. Mag ons egter berusting vind in die volgende: "Ook ons kan God vertrou. Ons kan daarom ook ons vaardighede en vernuf ontwikkel – veral wanneer dit voel asof ons moedeloos raak. Ons kan weet dat God beter uitkomste bewerk – of vind! – al het ons nie in onsself of in ons omstandighede sekerheid en hoop nie."
Kunswerk: Eric Citerne
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.