Subscribe to our email list
 5 Februarie 2016

Beste Leser
“Toe alle dinge
in diepe swye gewag het,”
sê die Woord,
“het van die goddelike troon,
o Here, u almagtige woord gekom.”

Ek wil stil wees
en my daaroor verwonder
dat U vir my ’n woord het.
(Uittreksel uit 
gedig van Jorg Zink)
SINODENUUS
1. Anriëtte, ons nuwe PSD: Jeug- en Familiebediening!

Dit is aangenaam om bekend te maak dat ds Anriëtte de Ridder (NG Stellenberg) die benoeming na die NG Kerk in SA (Wes-en-Suid-Kaapland Sinode) as Predikant in Sinodale Diens (PSD) vir Jeug- en Familiebediening aanvaar het.
Ons sien opgewonde uit na 1 April 2016 wanneer sy by die Communitas-span aansluit. Meer besonderhede oor haar bevestiging sal volg. Intussen wens ons Anriëtte en haar man, Koos, saam met hulle drie kinders ’n sinryke en vreugdevolle nuwe seisoen toe.
Sover ons kennis strek, is Anriëtte die eerste vroulike PSD in die NG Kerk-familie - 'n lekker stukkie geskiedenis wat met hierdie aanstelling gemaak word!
Anriette, Koos en gesin
Anriëtte en Koos, met Ciné, Daniël en Jan-Carel.
Anriëtte skryf ...
Ek sien baie uit daarna om as PSD vir Jeug- en Familiebediening te werk en is dankbaar vir die geleentheid. Ek glo dat die jeug en gesinne 'n belangrike fokusarea is, en sien daarna uit om behulpsaam te wees om effektiewe bediening en nadenke te fasiliteer. Ek wil graag saamwerk met gemeentes en spanne saamstel om kreatief en praktykgerig oor die toekoms na te dink. 
#imagine experience
Industrial Ministry in SA-logo
3. Arbeidsbediening 
Helderberg-kom hou geseënde Vrugtemark

Op 29 Januarie is daar met hierdie  groot gebeurtenis R25 000,00 ingesamel ten bate van dié groot werk wat Arbeidsbediening in die Helderberg-kom doen. Hulle bedien 60 verskillende besighede/werkplekke (besoekpunte), wat deur 42 vrywilligers besoek word en sodoende  in die onontbeerlike geestelike behoeftes van beide werkgewers en werknemers voorsien.
Dankie vir elke vrywilliger, asook die gemeentelede  betrokke, wat gehelp het om van hierdie dag 'n groot sukses te kon maak. Indien jy 'n hart het vir die bediening  en/of graag jou besigheid wil oopstel vir hierdie bediening, doen dit vandag!  Ons het alle hulp nodig… Kontak Carin Brink by cbrink@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
Willemien Appel
ALGEMEEN
1. Met Innige Simpatie
1.1 Willemien Appel 

Willemien Appel, tot haar aftrede in 1987 in diens van die Vrouediens van die Sinode van Oos-Kaapland se NG Kerk, is op Maandag 1 Februarie (2016) oorlede.
Ons as NG Kerk-familie wil graag haar ryk geskakeerde lewe in diens van die Here met groot dank en verwondering vier. 'n Dankdiens word Vrydagoggend 5 Februarie 2016 (môre) om 10:00 in die NG Kerk Heidekoppie gehou.
Lees 'n huldeblyk deur Ben du Toit hier.

Anthony Salie
1.2 NG De la Bat groet Anthony Salie
Van Andri Eloff (NG De la Bat, Worcester) ontvang ons die hartseer nuus van Anthony Salie se dood.
Anthony was sedert 2006 Jeugwerker by Nuwe Hoop Skool vir Gehoorgestremdes en was ook betrokke by De la Batskool en in die Dowe en horende gemeenskap geliefd.
Anthony se begrafnis is op Saterdag 6 Feb om 11:00 in die NG Moedergemeente in Kerkstraat, Worcester. (Besigtiging van 10:00). Verversings na die diens is by Nuwe Hoop Skool.
Louie Giglio
2. Publieke Getuienis
2.1 Passion Cape Town

Die Sentrum vir Publieke Getuienis (SPG) bring graag die volgende byeenkoms onder lidmate se aandag: 
"Die PASSION CAPE TOWN byeenkoms met Louie Giglio, op Sa 13 Februarie in die Kaapstad Stadion in Groenpunt.
Die SPG beveel dit graag om die volgende redes aan:
Die inhoud van Louie se aanbiedinge is uitstekend en help werklik om die evangelie op 'n vars manier na 'n nuwe geslag te kommunikeer. Passion se musiek praat met 'n nuwe geslag.
Dit is altyd goed om saam met duisende ander medegelowiges, ook van ander denominasies, 'n gemeenskaplike geloofservaring te hê. Jyself en Kaapstad kan net daarby baat."
Klik hier om aanlyn te bespreek. Sien ook die uitnodiging in die meegaande video.
3. Raakgelees ... 
3.1 Een van die mooiste dinge ... Watertenks by Kerk

Dana Snyman, besig met opnames vir 'n nuwe reisprogram, ry onlangs by die NG kerk op Winburg verby, op soek na nuwe stories - " stories van mense wat dinge in hul omgewing maak werk. Al is dit op 'n klein manier ..."
"En toe ry ek by die NG kerk op Winburg verby, en by die saal langs die kerk is mense, en ek hou stil en klim uit, en oral is bottels vol water – honderde, duisende bottels water wat die saal vol staan. Op Winburg het die NG kerk ’n plek geword waarheen mense van oraloor water stuur en waar die plaaslike mense, ook mense uit die township, water kom haal.
Op die kerkterrein staan drie, vier vyf tamaai watertenks. Ek het meer as een foto daarvan geneem (sien onder). Dis vir my een van die mooiste dinge wat ek nog gesien het, daardie watertenks by die kerk.” Lees Dana se volledige Facebook-inskrywing hier. (Artikel en foto met erkenning aan Dana Snyman)
NG Winburg
Carey Nieuwhof
3.2 Nagedink oor Kerk van die Toekoms
Onlangse navorsing wys dat die getal mense met geen bande met 'n kerk nie (kerkloos of kerklos) binnekort dié wat wel op die een of ander manier aan 'n kerk verbind is, sal verbysteek. 48% van die sg "Millenials" (gebore tussen 1984 en 2002) kan as post-Christelik beskryf word in terme van hulle geloof, denke en kyk na die wêreld.
Op grond hiervan deel Carey Nieuwhof 10 gedagtes oor die kerk van die toekoms in ChristianWeek van 25 Januarie. Iets om op te let - klik hier.
Palmkruisie
4. Aswoensdag ... Inkeer onderweg na Lydenstyd
Mense reageer verskillend op die tradisie van Aswoensdag. Prof Yolanda Dreyer skryf treffend: "Eintlik is ek ’n stil-liggaam, binnetoe-mens uit ’n verstand-tradisie. En tog ...
Daar is die behoefte aan die voelbare stilte waarin ’n mens diep kan asemhaal. Asem en Gees.
Daar is die behoefte aan eenvoudige meditatiewe musiek wat die siel skoon was en tot rus bring.
Daar is behoefte aan kleur wat die oomblikke in die Groot Verhaal merk. Die pers-tyd vir nadink en stilword wat vandag met Aswoensdag begin. Uitsien na die wit-tyd van opstanding en nuwe lewe.
En ja, daar is die behoefte aan ’n as-teken op die voorkop. Aan die soberheid van 40 dae. Om herinner te word dat die daaglikse gejaag na wind nie alles is waaroor die lewe gaan nie. Goddank. Aswoensdag met die teken wat herinner." Die volledige artikel is hier.
5. Kruisgewys: Lydenstyd en Paasfees
Die viering van die kerklike jaar geniet al hoe meer aandag soos gemeentes die waarde hiervan in hulle geestelike groei ontdek en waardeer.
Paasfees is die groot hoogtepunt in ons kerklike jaar - met Lydenstyd as noodsaaklike voorbereiding op die viering van Paasfees.
Kruisgewys van Februarie 2011 het 'n verskeidenheid artikels hieroor. Laai die tydskrif in pdf-formaat hier af. Kruisgewys is elektronies hier beskikbaar. 
Kruisgewys is 'n gratis tydskrif wat kwartaalliks verskyn. Dit word in samewerking met GDN deur Bybel-Media uitgegee en versprei en aan alle leraars van die NG Kerk, VGK Kaapland en die NH Kerk gestuur. Leraars en proponente kan Jeanette Swart kontak om in te teken: jswart@bmedia.co.za.

Beursskema
6. Aandag: Beursskema!
Vir Gr 12-leerders en Eerstejaarstudente 

Die NG Wes-en-Suid-Kaap Sinode het onlangs inligting ontvang oor 'n omvattende beursskema wat die Allan Gray Orbis Foundation (lees hier) aan kwalifiserende Gr 12-leerders en eerstejaar-universiteitstudente bied.
Volledige kriteria, vereistes en ander detail word in die brosjure verskaf. Neem kennis van die sluitingsdatums vir aansoeke:
Gr 12-aansoeke: 29 April 2016
Eerstejaarstudente: 31 Augustus 2016.
Deel hierdie stukkie goeie nuus gerus met diegene wat met die jeug werk!
7. Gmail werk jou E-pos se Sake!
Na aanleiding van 'n navraag of drie oor hoe Gmail e-pos hanteer, waar nuusbriewe soos VrydagNuus heen "verdwyn" en hoe om jou e-pos te verstel dat jy meer beheer hieroor het, het ons by Lenois Stander, Bybel-Media se Inhoudsbestuurder: Digitale Media, gaan kers opsteek.
Hy skryf: "Gmail is eintlik baie kragtig in die sin dat dit goed daarin slaag om e-pos te prioritiseer. Dit bied ook baie moontlikhede vir gevorderde gebruikers om prosesse te outomatiseer (spesifiek filters en labels). Die nadeel is dat mens soms eers bietjie moet gaan lees hoe dit werk, en die moontlikhede uittoets."
Gelukkig is daar raad - jy kan self Gmail se verskillende kategorieë verwyder sodat daar slegs een "inbox" met al die e-pos is, óf jy kan die kategorieë behou, maar Gmail leer om (bv) VrydagNuus na jou "Primary" lêer te neem. As jy jou Gmail beter wil organiseer, klik gerus hier.
PREDIKANTENUUS
1. Durbanville-Bergsig groet Schalk en Marieke van Wyk
Schalk en Marieke van Wyk is welbekend by Durbanville-Bergsig se seniorbediening, waar hy die afgelope drie jaar bedien het. "Die gemeente het groot waardering vir Schalk se bydrae en is opgewonde oor sy nuwe koninkryksroeping na Pakistan.  Ons gaan hulle baie mis en wens hulle die Here se seën toe. Alle voorspoed!" laat weet Alida Vorster, kommunikasiebeampte. Lees hier meer.
Schalk en Marieke van Wyk
2.1 Balans, Eenvoud en Matigheid vir Oud-moderator
Vir een van die NG Kerk se voormalige moderators, ds Freek Swanepoel, is die mooie Gordonsbaai al die afgelope tien jaar huis.
Min jarelange getroue VrydagNuus-lesers sal nie bewus wees van hierdie gerespekteerde man se rol in ons kerk se geskiedenis nie. Hy was onder meer van 1994 tot 1998 moderator van die NG Algemene Sinode. Ds Freek en sy vrou Marié het vier kinders en nege kleinkinders. Hy was predikant in Salisbury, Burgerspark, PSD: N-Tvl (Opdrag: Jong Belydende Lidmate), Ermelo-Oos en Skuilkrans-Pretoria, waar hy in 2004 emeriteer. In sy eie woorde: "Ons bly rustig besig met drie woorde wat ons rig, nl balans, eenvoud en matigheid."
Wat 'n voorreg om onlangs met hom te gesels oor die publieke getuienis-rol van die kerk, die rol van plaaslike gemeentes en meer. Luister gerus na die inspirerende video-opname hieronder.
Ds Freek Swanepoel
2.2 Vir Vrede en Versoening ...
Op 28 April 2015 tydens ‘n gradeplegtigheid waar studente van die Fakulteit Teologie graad ontvang het, is kanseliersmedaljes deur die Universiteit van Pretoria aan ds Freek Swanepoel en aartsbiskop dr Thabo Cecil Makgoba toegeken.
Waardering is uitgespreek vir die besondere bydrae wat hulle tot vrede en versoening in Suid-Afrika gelewer het. Die UP se berig hieroor is hier, terwyl die toespraak wat ds Swanepoel tydens die geleentheid gelewer het, hier gelees kan word.
Freek Swanepoel Kanseliersmedalje Kanseliersmedalje Aartsbiskop Thabo Makgoba
Dion Forster
GEMEENTENUUS
1. Helderberg
1.1 Helderberg Uitreikfees

Helderberg Gemeente se Uitreikfees vind plaas op Sondag 7 Februarie tydens die 08:00, 09:30 en 19:00 dienste. Dr Dion Forster van US Fakulteit Teologie is die prediker en die 30 uitreikprojekte stal hulle werk uit.
Almal welkom. Navrae: Louise Theron by louise@nghelder.co.za.
Nepal-vlag
1.2 Terugvoering uit Nepal
Hom Adhikari en Tuk Shreemal van Nepal getuig op 10 Februarie om 19:45 by die Helderberg Gemeente (Kapel). Hulle is van Sahodar Nepal, die organisasie wat die begunsigde was van die rampfonds na die verwoestende aardebewing in Nepal verlede jaar.
Almal welkom. Navrae: Louise Theron by louise@nghelder.co.za.
NG La Rochelle Vrouegeleentheid
Annelene Tier
3. NG Gemeente Kraaifontein
Kassier/Skriba groet na 19 Jaar!

Elna van Schalkwyk was vir die afgelope 19 jaar die gesig en stem van die NG Moedergemeente Kraaifontein! Sy het op 31 Januarie vanjaar afgetree en verhuis na Hermanus waar sy haar dogter in haar praktyk sal bystaan.
Die nuwe dame in hierdie gemeente se kantoor is Annelene Tier, wat vanaf Maandag 1 Februarie 2016 haar talente daar ingooi.
Aan beide Elna en Annelene: baie dankie dat julle julself beskikbaar gestel het vir hierdie spesiale werk. Kontak Annelene by 021 988 7290 of per e-pos by ngk.kraaifontein@vodamail.co.za.
Barbara von Solms
4. Het NG Oostersee Oudste Ouderling?!
Barbara von Solms, die NG Gemeente Oostersee se oudste ouderling, het verlede Saterdag (30 Januarie 2016) die wonderlike ouderdom van 90 jaar gevier!
"Sy is in vele opsigte ‘n merkwaardige mens. Op haar dag matrone by Tygerberg hospitaal," skryf Jampie Nel. Meer oor hierdie besondere dame is hier te lese.
Wat sê ons gemeentes? Is daar iewers nog 'n gemeente waar daar ouderlinge van so ʼn hoë ouderdom is wat nog as kerkraadslede dien?
Vertel ons gerus daarvan: stuur 'n e-pos en foto na kommunikasie@kaapkerk.co.za.
NUUSBRIEWE
1. Bybel-Media Nuusbrief
By Bybel-Media is die fokus op die jongste Kerkbode, twee nuwe publikasies en die elektroniese weergawe van die 2016-Jaarboek. Lees in die aanhangsel meer daaroor, klik op die grafika hieronder of besoek www.bybelmedia.org.za.  
Kerkbode 5 Februarie 2016 Kleurmeditasies vir Lydenstyd en Pase Loskerf
PUBLIKASIES
1. CLF: Spesiale Aanbod op Kinderliteratuur

Hier is lekker nuus oor die Christelike Lektuurfonds (CLF) se spesiale aanbiedinge op kinderliteratuur. Boeke maak wonderlike geskenke ... 
1.1 God se kinders - verhale uit die Bybel
God se kinders - Verhale uit die Bybel is ’n samestelling van Aartsbiskop Desmond Tutu se gunsteling verhale uit die Ou en Nuwe Testamente.
Die visuele kunswerke vul die lieflike en besielende teks aan. Elke storie illustreer God se karakter in en deur die geskiedenis en word met ’n kort gebed afgesluit. Gevolglik word die boodskap in die kleinding se eie lewe tuisgebring.
Bestel by orders@clf.co.za of klik op die grafika langsaan. Die boek is in sewe tale beskikbaar.  
1.2. Vertel my meer Bybel
Die Vertel my meer Bybel deur Susan Goosen bestaan uit 50 gunsteling Bybelverhale wat op ’n skrifgetroue en beeldryke manier oorgedra word. Dit word aangevul deur Vertel my meer-gedeeltes wat jou kind in die dieper betekenis van die boodskap inlei sodat dit op die alledaagse lewe toegepas kan word. Bestel by orders@clf.co.za! Hierdie Kinderbybel is nou ook benewens Afrikaans en Engels, in Sotho, Xhosa en Zoeloe beskikbaar. As deel van die Een miljoen Bybels vir een miljoen kinders-projek kan u twee Kinderbybels van enige taalkombinasie vir slegs R120.00 plus R30.00 posgeld aankoop. 
Vertel my meer Bybel
Ramot Basaar
KUIERKANS
1. Ramot Basaar is om die draai!

Dit is weer tyd vir Ramot se jaarlikse basaar wat plaasvind op Saterdag 27 Februarie - altyd 'n feestelike geleentheid!  
Ons weet dat daar altyd mense is wat graag wil help of betrokke raak by so 'n projek.  As enigiemand graag wil weet hoe hulle kan help of bydra om die geleentheid weer 'n groot sukses te maak, kontak asb vir Stella by 072 532 0144.
Teken gerus solank ook die datum aan - sien jou by Tonerstraat 54, Parow!
(Meer oor Ramot se werk is hier te lese. Ramot, 'n program van Badisa, is 'n behandelingsentrum vir substansafhanklikheid.)
Heidekoppie Gholfdag Klaagliedere van Tienie Benade Alta du Toit Rugby Afskop
Badisa Skiereiland Maatskaplike Dienste-logo
VAKATURES
1. Badisa -
Skiereiland Maatskaplike Dienste:
Maatskaplike Werk Poste

Badisa is die NG Kerk (Wes-en-Suid-Kaap) en VGKSA (Kaapland) se gesamentlike bedieningsaksie. Badisa Skiereiland Maatskaplike Dienste (in Elsiesrivier) het tans vakatures vir maatskaplike werkers.
Belangstellendes kan aangeheg meer lees.   
Badisa-logo
2. Badisa Trio Kraaifontein, Scottsdene, Bellville en Môresterretjies Speelskool in Bellville
Die Beheerraad van Badisa Trio Kraaifontein, Scottsdene en Bellville, en Môresterretjies Speelskool wag aansoeke in van geskikte kandidate vir die volgende vakatures:
- Opvoeder by Môresterretjies Speelskool (6/8 pos)
- Administratiewe Beampte
- Maatskaplike Werker
Die sluitingsdatum vir aansoeke is 12 Februarie 2016. Meer inligting is aangeheg.
Mnr FW de Klerk
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Mnr FW de Klerk
VrydagNuus is so bevoorreg dat mnr FW de Klerk, staatspresident van die vorige bedeling, ingestem het om 'n boodskap vir ons lesers te stuur. Hy skryf:
"Daar kan geen twyfel wees dat Suid-Afrika tydens 2015 ’n nuwe laagtepunt bereik het nie. Daar is ’n nuwe bitsigheid in die nasionale debat, aangevuur deur onder andere politieke opportunisme. 
Gelukkig is daar ’n ander weg: Ons moet ’n gebalanseerde siening van ons verlede ontwikkel. As Christene moet ons ons oortredings erken en vergifnis soek. Dit word egter nie van ons verwag om in sak en as te gaan sit nie. Ons het ’n konstruktiewe rol om te vervul."
Lees gerus hier verder.
 
***
Mnr FW de Klerk is toegewyd aan die instandhouding van die grondwet en die waardes wat daarin vergestalt is.  Hy het gewis geen bekendstelling nodig nie, maar belangstellendes kan meer inligting oor hom hier lees.
Ek wil kom stil word, hier aan u voete,
Ek wi kom hoor wat U vir my sê.

Maak my 'n beeld van Jesus se liefde
om in my w
êreld u hande te wees.
Ek gee myself aan U as 'n offer
onder beheer van die Heilige Gees.

(Uittreksel uit Flam lied 39)
Vriendelike groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za