Hoe ondersteun ons matrieks?
Hoe ondersteun ons matrieks?
Lees deur internet, klik hier >>
31 Julie 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Ondersteun ons matrieks so!
Matrikulante van 2020 is baie ontwrig. Dinge waarna hulle uitgesien het soos interskole, matriekafskeid en sporttoere vind nie  meer plaas nie.  Daar heers ook nog baie onsekerheid oor die res van die akademiese jaar en die eindeksamen. Wil jy graag matrieks ondersteun? Die Jeug en Familie Taakspan het die volgende hulpmiddels bymekaar gesit om jou te help.
* Inligtingsgrafika (klik hier vir 'n handige feitebeeld met 7-stap riglyne)
* Klik op skakels vir podcasts vir ouers en kategete oor ondersteuning en "debriefing"
* Gebruik die ses onderstaande sosiale media blokkies om aan matrieks te stuur
Waarom het ons ‘n publieke getuienis nodig?
Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis skryf dat daar ‘n paar dinge is wat veronderstel is om baie hoog op ons agendas te wees as ons enigsins oor ‘n gelukkige toekoms wil praat en droom. Hierdie dinge sluit in: groeiende armoede, ‘n stukkende ekonomie, onderwys, grond en behuising sowel as groeiende verwydering en polarisasie.
“Daar is meer, maar dié is sekerlik vir eers genoeg. Dit is in so ‘n wêreld en land waar ek aan ‘n paar dinge vashou. Die lig wat nie onder ‘n maatemmer moet staan nie, maar in die duisternis moet skyn. Die duisternis sal dit nie oorweldig nie. Ons moet egter daar wees!
Die krag van die Evangelie. Ons hoef nie die wêreld te verander nie en ons kan dit nie verander nie, maar ons word geroep en bemagtig om die Evanglie na die wêreld te bring. Met woord en daad. Die Evangelie verander die wêreld. As ons stil raak, verdwyn die hoop.
Het die Here dalk ons kansels vir ‘n oomblik gesluit sodat ons in die wêreld werksaam kan word?” 
Besoek gerus die sentrum se webblad vir meer relevante kommunikasie gedurende die tyd van inperking. 
Erediensriglyne vir Vrouedag
Die Taakspan Gender Geregtigheid stuur vir ons die volgende riglyne vir eredienste op Vrouedag volgende Sondag.  
Hulle skryf: "Op hierdie dag kyk ons vroue vol in die oë en bevestig – jy as vrou is volkome mens. In jou menswees verteenwoordig jy God na wie se beeld ook jy geskep is. 
Dit is ook die dag waarop ons mans en kinders vol in die oë wil kyk en hulle wil herinner:
Ook vroue, meisies en dogtertjies is die werk van God se vingers.
Ook vroue, meisies en dogtertjies se name is in God se handpalm gegraveer.
En word met aansien en eer gekroon.
Ook vroue, meisies en dogtertjies behoort met respek en waardigheid behandel te word.

Lees die volledige riglyne met liturgiese voorstelle hier.
DinkJeug Webinaar: Kategese en die tussen-tyd
Grendeltyd het kategese (soos ons dit ken) opgeskort en dit mag dalk nog ‘n paar maande so voortduur. Intussen het ‘n hele aantal gemeentes met kreatiewe idees na vore gekom soos inrydienste, blitsbesoeke, ouertoerusting en interaktiewe aanlynbyeenkomste. Kom luister na stories van gemeentes wat buite die boks dink om aan te hou om geloof te vorm en kry ‘n plan vir kinder- en tienerbediening in jou konteks vir die “tussen-tyd” waarin ons tans verkeer.
Inskrywings is gratis, maar plekke vir die Zoom webinaar is beperk - so registreer asseblief vroegtydig hier. Predikante kan vyf VBO punte verdien vir hierdie webinar.
GROEI-projek versprei saad 
Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis het Saterdag 25 Julie besoek afgelê by Bottelary Transformasie op die plaas Welgevonden. Saadbokse is versprei aan 30 gesinne met die hoop dat hulle groentetuine kan begin wat ‘n volhoubare bron van voedsel vir hierdie lede van die gemeenskap kan wees.
Hierdie saadboksies bevat genoeg saad om ‘n gesin vir ‘n jaar met vars groente te voorsien.
As jy enige navrae het of belangstelling in hierdie volhoubare projek toon, kontak gerus vir Annelie by spg@kaapkerk.co.za.
Volg gerus vir die Hoop en Versoening Trust op Facebook vir meer wenke en raad oor tuinmaak. 
Oordenkings vir Vrouemaand
Kom neem deel aan die reeks oordenkings Leef as God se geliefde ter viering van Vrouemaand in Augustus. Klik hier om elke weeksdag 'n kort videoboodskap te kyk. 
Verlies tydens COVID
Die COVID-19-pandemie het lidmate op verskeie vlakke geraak en almal ervaar een of ander vorm van emosionele verlies. Die uitgerekte grendeltyd, die onsekerheid oor die toekoms, verlies aan inkomste, groter wordende werksloosheid in gemeenskappe, skole se aanpassings met nuwe regulasies en nog baie meer, het bygedra tot mense se ervarings van spanning en verlies. Hierdie is die eerste van ‘n reeks van drie webinare.  Communitas nooi lidmate en predikante uit om te kom luister na ’n paneel wat in hulle daaglikse werk met lidmate, kollegas en werknemers hiermee moet omgaan.
Deelname is gratis, maar skryf asseblief so gou moontlik in, aangesien daar ‘n beperking in getalle is vir die Zoom webinaar. Predikante kan vyf VBO punte verdien per webinar.
Klik hier om te registeer. Sien meer inligting in grafika hieronder.
Online theological training workshop
Two of NetACT’s associate members, the Oxford Centre for Religion and Public Life and the Barnabas Fund invited 200 members of NetACT to attend a free Zoom workshop from 27 to 29 July. Themed Online Theological Education – a unique opportunity!  the workshop attracted more than 500 registrations. This kind of training is crucial in these times of making creative plans in order to keep going during and post-COVID-19.
Click here to read more about this workshop.
Merk jou dagboek!
Maak solank 'n aantekening op jou kalender dat die Lentekonferensie 2020 van 14 - 18 September plaasvind. Dit word aangebied deur Excelsus in samewerking met die VBO-forum. Die konferensie sal volledig aanlyn gebeur.
Rig navrae aan excelsus@up.ac.za. Registrasiebesonderhede sal binnekort beskikbaar wees.
EKOLOGIE
Cura da Terra - Genesers van die Aarde
"Ons is besig om agteruit te boer,” laat weet ons eko-korrespondent David Botha. “Wat ook duidelik is, is die feit dat statistieke en vooruitskattings nie die groot rolspelers op die wêreld se verhoog motiveer om die drastiese stappe te neem wat nodig is om 'n ekologiese ramp af te weer nie.”
Hy deel met ons bevindinge soos vertel deur prof. Francois Engelbrecht, 'n Suid-Afrikaanse klimaatoloog met internasionale erkenning, wat ook onder andere dien op die IPCC (Intergovernmental Panel on Climate Change) van die Verenigde Nasies. Is daar iets wat die nodige aansporing en motivering kan gee? Klik hier om die volledige artikel te lees. 
Haai wat loop in Australië ontdek
'n Nuwe haai is onlangs in Australië ontdek en wat kenmerklik van hierdie nuwe spesie is, is dat hulle hul vinne gebruik om te loop!
Hierdie haaie loop op die seebodem in waters buite Noord-Australië. In plaas daarvan om te swem, help dié nuwe tegniek hulle om te jag en navorsers het bevind dat hierdie vaardigheid van geboorte af aan hul nageslag oorgedra word.
Mark Erdmann, medeskrywer van die studie wat in die vaktydskrif Marine & Freshwater Research gepubliseer is, sê dat hierdie 'n indrukwekkende ontdekking is. “In plaas daarvan om rond te swem, loop hierdie klein haaie op die bodem eintlik met behulp van hul bors- en bekkenvinne, wat dit vir hulle makliker maak om hul koppe onder koraal en rotse te steek terwyl hulle op soek is na klein visse, slakke en krappe om te eet."
Navorsing het ook getoon dat die meeste wandelende haaie hul hele lewe sal deurbring op dieselfde rif waar hulle uitgebroei het en nooit meer as 'n kilometer uit hierdie radius beweeg nie. Omdat daar nog min inligting oor hierdie nuwe spesie beskikbaar is, het Erdmann en sy span voorgeneem om hierdie wandelende haaie verder te bestudeer en meer oor hulle gewoontes te leer. 
Kyk gerus die video (onder) om te sien hoe hierdie haai op die seebodem rondbeweeg. 
GEMEENTENUUS
Gemeenteverjaarsdae in Augustus
Baie geluk aan die volgende gemeentes wat in Augustus hulle bestaansjaar vier. Indien enige van die onderstaande datums nie korrek is nie, stel asseblief die Kerkargief in kennis by argief@kaapkerk.co.za.
'n Veilige hawe in Citrusdal
Citrusdal-gemeente in samewerking met ACT (Action for Community Transformation
probeer om ‘n veilige hawe te skep vir slagoffers van misdaad wat nie dadelik kan terugkeer na hulle wonings, terwyl die polisie besig is met ‘n ondersoek nie. Maar hierdie inisiatief sal nie moontlik wees sonder die getroue ondersteuning van die gemeenskap of publiek nie.
Daarom doen hulle ‘n beroep op barmhartige Samaritane daar buite wat bereid is om hulle projek finansieel of deur middel van skenkings te steun. Die grafika (onder) bevat meer inligting oor hulle benodighede en kontakbesonderhede.  
Helderberg-gemeente skep besigheidsnetwerk
In hierdie ekonomies moeilike tyd wil Helderberg-gemeente se gasvryheidbediening ‘n poging aanwend om die gemeenskap te ondersteun. Daarom het hulle ‘n platform geskep waar lidmate hulle besighede, dienste en produkte gratis kan adverteer.
Die gemeente wil so help dat die gemeenskap kennis neem van wat hul bied, die diensverskaffers in hul gemeente ondersteun en terselfdertyd verhoudings bou en mekaar leer ken. Navrae kan aan Corneille Barnard gerig word of besoek gerus die gemeente se Facebook-blad vir meer inligting. 
Lourensrivier bied webinaar
Lourensrivier-gemeente se Lifeline jeugkerk rig 'n ope uitnodiging aan enige persoon wat graag hulle webinaar MAG (meisies agter God) Vroue bied Hoop wil bywoon.
Hierdie aanlyngeleentheid vind plaas op 12 September via Zoom. Diegene wat nou al hulle plek bespreek, kwalifiseer vir die Early Bird Special en betaal dan slegs R30. Stuur gerus 'n e-pos aan lifelinejeugkerk@gmail.com vir meer inligting. 
Plettenberg-Noorderkruin hou nagmaal
Die gemeente van Plettenberg-Noorderkruin in Wittedrift het vandeesweek hulle eerste “teenwoordige” nagmaal gedurende die tyd van inperking gehou. Weens COVID-19 het die nagmaal geskied met sosiale afstand, maskers en alle moontlike voorsorg.
Lidmate was gevra om hulle eie brood en druiwesap van die huis af saam te bring om moontlike verspreiding van die virus te vermy. Die gemeente het ekstra voorraad van individueel-verpakte druiwesap en beskuitjies byderhand gehad sodat diegene wat nie brood of druiwesap saamgebring het nie steeds veilig saam met die res van die gemeente hierdie vorm van kerkwees kon vier. 
“Dit was lekker om elkeen te sien aankom met sy piekniekmandjie van brood en wyn. Baie dankie ook aan almal wat via Live Streaming saam nagmaal gebruik het!” skryf die gemeente op hulle Facebook-blad. 
Klik hier om ‘n voorbeeld te sien van die gemeente se individueel-verpakte sap en brood wat hulle vir lidmate beskikbaar gestel het.  
Kinderkerk-ouma brei 150 wolballe vir Diaconia se wolbalprojek 
Twee dooplidmate van die gemeente van Strand-Noord is baie trots op hul ouma Milly van der Merwe wat 150 wolballe vir Diaconia se wolbalprojek gebrei het. Haar aanvanklike mikpunt was om 100 balle te brei, maar toe sy dit bereik het, was sy nog nie tevrede met die resultaat nie! Sy het toe besluit om aan te hou brei en eers gestop nadat sy 150 wolballe in totaal gebrei het!
Volgens Milly kan haar hande nie “niks” doen nie en sy brei baie graag. Dit is vir haar lekker om iets te kan doen wat vir ander tot nut kan wees en hulle ook bly maak. Sy is elke jaar ook deel van NG Kerk Somerset-Wes se breiprojek (mussies of serpe) en het dus altyd wol in die huis.
Besoek Strand-Noord se webblad om meer te lees oor Diaconia se wolbalprojek en om die breipatroon en instruksies vir die wolballe te kry. 
George-Bergsig se breiprojek
Jy kan steeds deelneem aan hierdie breiprojek om truie en mussies vir behoeftige kinders te brei of om kleurvolle wol vir die projek te skenk. Skakel die kerkkantoor by 044 871 1338 of stuur 'n e-pos  aan kantoor@george-bergsig.co.za.
UIT ONS RINGE
Ringe gesels oor jeugbediening
Anriëtte de Ridder (PSD: Jeug en Familiebediening) gesels tans deur middel van Zoom- gesprekke met al die Ringe in die sinodale streek oor kategese, jeugbediening en families. Sy vertel dat die gesprekke opbouend is, want idees word gedeel in die Ringe en planne word saam beraam vir die pad vorentoe. “Gemeentes het kreatief te werk gegaan om in hierdie tyd jeugbediening aanlyn te laat voortleef sowel as om vir ouers te bemagtig om ‘n groter rol te speel." Die Ringe wat reeds gesprekke gehad het, sluit in Swartland, Piketberg, Caledon, Swellendam, Kaap die Goeie Hoop, Durbanville en Paarl. 
Kontak gerus vir Anriëtte by anriette@sun.ac.za om seker te maak dat jou Ring ook by hierdie belangrike gesprekke betrokke raak.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo om meer te lees oor Ysterplaat-gemeente se kospakkieprojek wat  bykans 6500 kospakkies in vier maande versprei het.
Klik bo vir die jongste nuusbrief van Bybel-Media.
PUBLIKASIES
Jeugfokus vir Bybel-Media
Bybel-Media is tans besig om hulle uitgebreide reeks kategeseprodukte te hersien. Die eerste katalogus vir voorskoolse kategese 2021 is reeds beskikbaar en kan hier deurgeblaai word. Dit bestaan uit 'n verskeidenheid speel- en doenboeke, aktiwiteitsgidse, werkboeke en aanbiedersriglyne vir kleuterkerk of voorskoolse kategese. Plaas bestellings by bestel@bmedia.co.za of koop die boeke aanlyn by www.bybelmedia.org.za. 
Hoogtepunte uit Kerkbode
Gedagtes oor kerkwees: Ons leer nou vinnig
Nelis Janse van Rensburg skryf dat ons ’n nuwe era in die geskiedenis betree. "Daaroor kan daar geen twyfel wees nie. Daarvan getuig die leerkurwe waarin ons onsself die afgelope maande bevind het." Lees hier meer.
Oor stereotipes en energie
Ter viering van dertig jaar van die vrou in die amp in die NG Kerk, het Jacobie M Helena ses dominees ’n paar vrae gevra. Klik hier vir hulle antwoorde.
Die prof in die ongemakstoel
Heelwat van haar studente is ouer, vertel prof Charlene van der Walt. “Dis mense wat sê, jô, ek kom agter as ’n mens gender en sexuality navigate is religion nogal ’n groot component. Practitioners voel hulle kan nie regtig mense help as hulle nie gedink het oor religion nie,” vertel sy. So waarmee help hierdie oud-gemeentedominee sielkundiges, wou Kerkbode in dié profielonderhoud weet. 
ALGEMEEN
Pandemie verander selfs modes
Dit is geen verrassing dat die COVID-19-pandemie die modebedryf beïnvloed het nie. Sosiale afstand en mense wat meer van die huis af begin werk het, het die manier waarop hulle aantrek daadwerklik verander.

Hayley Elsaesser, mode-ontwerper in Toronto, sê dat mense tans op die uitkyk is vir klere wat gemaklik en prakties is, terwyl aantrekliker of meer stylvolle uitrustings agter in mense se kaste gedruk word.

Dit kan vir sommiges skrikwekkend wees om van maande lank se sweetpak dra skielik weer super gestruktureerde kledingstukke aan te trek. Daarom voorspel Elsaesser dat briesige en gemaklike klere as modieus gesien gaan word.

Daar is bewys dat belangrike historiese gebeure, insluitend pandemies, resessies en oorloë die manier waarop mense aantrek, verander. Elsaesser noem dat COVID-19 se kenmerkendste kledingstuk die gesigsmasker is. Soortgelyk aan die Spaanse griep van 1918, het chirurgiese maskers staple-items geword wat ten alle tye gedra moet word as gevolg van hul noodsaaklike beskerming. Maar Elsaesser voorspel dat maskers steeds na die pandemie gedra sal word. “Ek dink maskers sal nog 'n geruime tyd gedra word, selfs nadat dit nie meer noodsaaklik is nie. Ek sien al mense wat maskers gebruik as 'n manier om hul persoonlike styl uit te druk, so ek dink dit sal uiteindelik meer 'n modestuk word, soos om maskers by ‘n uitrusting te laat pas.” 
Sien in video (onder) hoe maskers 'n mode-item geword het.
VIRTUELE KUIERKANSE
Wegneemete Sondag vir Helderberg
Helderberg-gemeente het die volgende inisiatief geneem om lidmate in die gasvryheidsbedryf te ondersteun en blootstelling vir hul te gee in plaas daarvan om 'n gewone basaar te doen. 
"Goeie nuus vir die wat nie lus is vir kook nie. Op 2 Augustus het ons ‘n wegneemete- Sondag. Ons gebruik spyseniers in ons gemeente om jul die geleentheid te gee om hul heerlike kos te proe. Daar sal iets vir elke smaak en prysklas wees. Kom ondersteun hulle gerus."
Bestellings en betalings moet voor 30 Julie gedoen word. Geen verkope sal op die dag gebeur nie. Kosbestellings kan op Sondag 2 Augustus van 11:00-12:30 afgehaal word by die kerk – iemand sal die bestelling na jou motor bring. Niemand sal toegelaat word om hul motors te verlaat nie en maskers is verpligtend. Streng COVID-veiligheidsmaatreëls sal geld met die hantering van die kos.  
Sien die spyskaart onder. 
Stellenbosch-Welgelegen hou Vrydae mini-basaar
Dié gemeente in Stellenbosch moedig die kosmakers in families aan om Vrydae 'n blaaskans te vat en eerder hulle mini-basaar te ondersteun. 'n Mini-basaar word elke Vrydag aangebied en daar is elke week 'n nuwe spyskaart beskikbaar. 
Bestellings moet elke week voor Woensdagmiddag by die kerkkantoor gemaak word by skriba@stelwel.co.za. Hou gerus hulle Facebook-blad dop vir die nuutste spyskaarte. 
Bellville-Wes se Wasikosi
Die gemeente in Bellville-Wes gaan voort met die deurry fondsinsamelingsprojek, Wasikosi, wat hulle verlede maand bekendgestel het. ‘n Verskeidenheid van smullekker kosse soos 

kerrie vetkoeke, gevulde hoenderpannekoeke en braaipakkette
is vir die verloop van Augustus elke Vrydag beskikbaar vir bestelling. Jy het ook die opsie om ‘n nagereg saam elke ete te koop. Loer gerus na die verskeie opsies in die spyskaart (foto onder).
As jy nie lus is vir kosmaak op Vrydagaande nie kan jy gerus so 'n voedsame ete by die gemeente bestel.  Die bestelling moet voor Donderdag om 17:00 by 0813164086 of by navrae@bellvillewes.ng.org.za gemaak word. 
TEN LAASTE
Daar sal volgende week geen VrydagNuus verskyn nie. Die gebruik is dat die nuusbrief nie tydens skoolvakansies verskyn nie, maar aangesien die skoolkalender tans redelik onvoorspelbaar is, sal ons op 14 Augustus terug wees.
Spesiaal vir Vrouedag op 9 Augustus dra ons al ons vroulike lesers in ons gebede aan die Here op. Toon gerus julle waardering vir die ongelooflike vroue in ons families en gemeenskappe.
Ons wens al ons matrikulante wat volgende week teruggaan skool toe alle voorspoed toe. Ons dink in besonder aan julle en julle families asook die hele skoolgemeenskap. 
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.