Lees deur internet, klik hier >>
22 Februarie 2019
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
1. Getuienisaksie: Arbeidsbediening
“Sonder Pastor is ons vissersgemeenskap verlore”
So vertel een van die vissers verlede week in die hawe van Kalkbaai, waar Marvin Petersen die geestelike werker van Biblia is. Hy werk ook as predikant van die Community Church in Kalkbaai. Hierdie jaar wil hy nie net op die vissers fokus nie, maar ook op die jeug. Danksy ‘n ruim donasie van ‘n donateur kon die klein Biblia-kiosk ook verlede jaar opgeknap word en bied dit ‘n gesellige en veilige ruimte vir mense in geestelike nood. Hier word na hulle behoeftes geluister, vir hulle gebid en kry hulle sommer ‘n beker lekker (soet) koffie op die koop toe! In die video onder vertel Marvin (op die foto saam met 'n visser) meer. 
Video
Afgetrede paartjie
 2. Op pad na 65 ... of dalk 90+?
Hoe lyk jou aftreebeplanning?
Dit is verbasend hoe ongeërg baie mense oor aftreebeplanning is. Omdat mense se aftreegeld waarskynlik uiteindelik die grootste bate in hul boedel sal wees, sou ’n mens verwag het dat dit met groter sorg en beplanning hanteer word. Op 4 April word 'n gratis eendagwerkswinkel oor aftreebeplanning op Stellenbosch aangebied vir alle predikante en hul gades. Die aanbieder is Kenny Raats. Klik hier om meer te lees en die inskrywingsvorm af te laai. Belangstellendes moet die vorm stuur na Wilma voor 18 Maart. 
 3. Nuus oor Jesus vir Japan
Stéphan van der Watt laat weet uit Japan:  "Missie Japan is baie dankbaar vir die inisiatief wat KiX in 2018 geneem het met die 'Jesus vir Japan' projek. ’n Nuwe brug is gebou tussen die kinders van Japan en SA. Ons kon meer leer van mekaar se kulture en omstandighede. Al verskil dit wêreldwyd, is ons een liggaam van Christus. Die ywer van soveel kinders in die Wes-Kaap, wat gelei het tot die gesamentlike bydrae van R55 342, is regtig inspirerend! Ons gesin is betrokke by ’n klein gemeente genaamd RCJ Kita Kobe met ongeveer 20 lidmate. Ons het gebid en gewonder hoe ons 'n nuwe kinderbediening hier kan begin. Die meeste van hulle het nog nooit in ’n kerk of erediens gekom nie, en het nie ’n idee waaroor Christen-wees gaan nie. Die bydraes van die gemeentes gaan DV hieraan ’n groot verskil maak. Bid asb. saam met ons vir helder leiding hierin". Gaan loer gerus hier vir meer. 
GEMEENTENUUS
1. Ysterplaat  floreer
Scherlize Hayes van Ysterplaat-Suid gemeente stuur vir ons hierdie inspirerende video van watter verskil die kerk in ’n gemeenskap kan maak en hoe gemeentelede se ondersteuning lewens kan verander. As gevolg van ’n dringende behoefte in die gemeenskap is ’n nasorgprojek verlede jaar by die kerk geloods om ’n veilige ruimte vir leerders te skep.  Daar is ook onlangs ’n Echo huis op die verhoogsaal geskep. Gemeenskapslede soos die 77-jarige tannie Madge het ingespring om ’n helpende hand te gee en kook elke dag ’n maaltyd vir die bykans 20 kinders.

Uitnodiging
Advertensie
NG La Rochelle Vrouebediening 4 Maart - klik bo vir meer
Stellenbosch-Welgelegen aanbyeenkomste
5. ’n Dilemma met slotte
Die Moorreesburg gemeente vra raad by ander gemeentes om hulle gedenktuin te beveilig.  Die tradisionele gebruik van slotte met sleutels of kombinasieslotte werk nie meer nie en toegang tot hierdie spesiale deel van hulle kerk word nou bemoeilik. Hoe beskerm ander gemeentes hulle gedenkmure en gedenktuine teen vandalisme en ongeoorloofde toegang?  E-pos gerus vir Carin Crous as julle slim voorstelle of werkbare oplossings het.  
Grondvraagstuk
6. NG Williston: kerklike grondberaad 18-19 Maart
Muller Oosthuizen, predikant in die NG Gemeente Williston in die Noord-Kaap, stuur inligting oor ’n kerklike grondberaad wat op 18 en 19 Maart in Williston gehou word. Hy skryf: "Dis boonop ontstellend hoe min die kerke in SA in die openbaar oor grondonteiening en die toekoms van die land en landbou praat. Die behoefte aan kerklike leiding word baie sterk uitgespreek. Die taak van die kerk is immers om die draer te wees van hoop en versoening." Sprekers sluit in Coenie Burger, Anton van Niekerk, Renier Lourens, Ntozakhe Cezula en Danie Brink. Muller versoek kerkkantore om hiervan kennis te neem – lees gerus hier meer
PREDIKANTENUUS
Barnards
1. Eugene Barnard groet NG Knysna
Aan die einde van Februarie emeriteer Eugene Barnard, wat sedert 2016 by die NG Gemeente Knysna bedien het. Voorheen was Eugene vir 27 jaar leraar by NG Pellissier, Bloemfontein. Hy lewer om 09:00 op Sondag 24 Feb. sy afskeidspreek waar Anton Louw die Akte van Demissie sal oorhandig. Eugene en Stephanie beplan om buite Knysna op hul plasie naby Rheenendal aan te bly. Lees hier hoe Eugene groet.
Seënwense aan julle! 

Meyers
2. NG George-Suid groet Floors en Madeleine Meyer
Om 09:00 op 24 Feb. lewer Floors Meyer van George-Suid sy afskeidspreek. Steve van der Walt gaan die Akte van Emeritaat  tydens hierdie geleentheid oorhandig.
Na 34 jaar in die gemeente, tree Floors op 28 Feb. af. Hy skryf oor sy aftrede: "Ek verstaan dit nie só dat die getal 65 'n sell-by date is waarteen mens vinnig van iemand moet ontslae raak nie. Ek verkies om op hierdie stadium van my lewe my flikker aan te sit en oor te beweeg na die linkerbaan." Lees  meer hier, asook kollega Johann Winterbach se skryweBeste wense, Floors en Madeleine

O'Kennedys
3. NG Goudini neem afskeid van André en Jean O'Kennedy
"Ons sou self net so graag Psalm 16 kon skryf: 'Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. 'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi'. Op die ou end was dit nie die berge en die kerkgebou wat ons sal onthou nie, maar die mense. Goudini se mense is ongelooflik gasvry". So skryf André namens homself en Jean O'Kennedy in 'n groetboodskap aan die NG Gemeente Goudini. André het in 1987 hier begin bedien en op 28 Februarie, na 32 jaar, emeriteer hy. André en Jean is besig om te verhuis na Sandbaai. Sy afskeidspreek het hy reeds op 10 Februarie gelewer. 
Seën op hierdie nuwe fase!

4. HoutbaaiGemeente verwelkom Hendrik Saayman
Tasja White van HoutbaaiGemeente se kerkkantoor stuur die goeie nuus dat Hendrik Saayman (foto onder) die beroep as tentmaker na hierdie gemeente aanvaar het. Hendrik was vantevore by Windhoek-Noord (nou Windhoek-Noordland) en Moreletapark in die bediening. Sy bevestiging in die gemeente is Sondag 24 Februarie om 09:30 - almal welkom!
Saayman gesin
V.l.n.r. is Charlotte, Sulani, Hendrik, Jute en Jurita
Wilco
5. Wilco Roberts beskikbaar vir aflos
Wilco Roberts laat weet: "Ek is beskikbaar vir preekbeurte in die hele Wes-Kaap. (Vervoertariewe geld vir optredes buite Kaapstad of verder as 'n 20 km radius vanaf Durbanville.)" Gemeentes kan hom kontak by wilco.roberts@gmail.com of 079 743 2148.
Inligting oor aflospredikers is ook op ons webwerf.

GEBEDSVERSOEKE
“Kom – alles is gereed!”
Vanjaar se tema is uit Slowenië.  Vroue in meer as 170 lande verenig om te bid vir vrede en regverdigheid.  Die internasionale logo is in 1982 deur Ierse vroue ontwerp en bestaan uit pyle wat vanuit die vier kompasrigtings bymekaarkom, biddende figure, die Keltiese kruis en ’n sirkel wat die wêreld en ons eenheid deur diversiteit verteenwoordig.
ALGEMEEN
1. In Memoriam
Lukas Antonie (Anton) Schoonees
17.10.1932 - 13.02.2019

Ons het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van ds. Anton Schoonees. Ds. Schoonees is in 1959 georden waarna hy in NG gemeentes in Walvisbaai, Kalkrand, Goodwood en Upington bedien het.  

Van 1975 was hy in die bediening in Caledon totdat hy in 1990 geëmeriteer het. Die Schoonees egpaar het afgetree in De Water-kant, Kaapstad. Die roudiens is op 20 Feb. by NG Tafelberg gehou 
Ds. Schoonees laat sy gade, Helene, twee kinders en drie kleinkinders agter. Ons meegevoel aan die familie.
2. Nasionale Instituut vir Dowes loods boksieprojek
Die Nasionale Instituut vir Dowes doen ’n beroep op gemeentes in die Wes-Kaap om hulle "Change for Change"-boksieprojek te ondersteun.  Die projek word in Maart geloods ten bate van Dowes en persone met gehoorverlies.  Gemeentelede word versoek om ’n klein NID boksie huis toe te neem en tot Augustus oortollige kleingeld in die boksies te sit.  Die boksies word dan op Sondag 1 September tydens die Nasionale Biddag vir Dowes ingesamel.  September is Maand vir Dowes.  Om deelname aan die projek te bevestig en ‘n aantal boksies te bestel, kontak Chriszelda Veldsman by 023 342 5555 of stuur 'n e-pos.

4. Fakulteit Teologie
4.1 Winterskool 2019

Die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch se WINTERSKOOL 2019 strek oor drie dae van 16 tot 18 Julie 2019. Die tema is "Reflecting on 25 years of democracy - in dialogue with religion". Die hoofsprekers is Allan Boesak, Melanie Verwoerd en Pali Lehohla. Reserveer solank die datum – die program en inskrywingsvorm is binnekort beskikbaar.

Logo's
4.2 Beyers Naudé Centre Conference
You are hereby invited to a conference hosted by the Gender Unit of the Beyers Naudé Centre for Public Theology of the Faculty of Theology, Stellenbosch University, in collaboration with The Center for Theology, Women, and Gender of Princeton Theological Seminary on "Transgression and transformation: The role of feminist, postcolonial and queer Biblical interpretation in fostering communities of justice". Date: 13-15 March 2019. 
Click here for the registration form, program and information on accommodation and transport. For inquiries email Juliana Claassens. The closing date for registration is 6 March - send an email to maritasnyman@sun.ac.za.

4.3  Teologiese Dag
Prof. Tinyiko Maluleke was onlangs die spreker by die jaarlikse Teologiese Dag van die Fakulteit Teologie. Die fakulteit vier vanjaar 160 jaar van teologiese opleiding. Die tema van die dag was: "Teologie van en vir Afrika: Ons klaagliedere, stryd en hoop". Prof. Maluleke het in sy toespraak verwys na belangrike stemme van teologie in Afrika en erkening gegee vir die hoop wat hulle vir wêreldteologie gebring het. Sien die foto onder.

Teologiese Dag 2019
V.l.n.r.:  Jurgens Hendriks, Wilhelm Verwoerd, Teddy Sakupapa, Lorenzo Gollia, Zimkhita Ludonga, Annemari Booysen, Shantelle Weber, Peter Nagel, Robert Vosloo, Jayson Gribble, Tinyiko Maluleke en Reggie Nel (dekaan).
Le Roux
5. Raakgelees 
5.1 "Ons wil nie die NG Kerk brand nie"

In 'n Netwerk 24-onderhoud met Murray la Vita, sê Le Roux Schoeman (nuwe Kerkbode-redakteur) dat hy Kerkbode nie as 'n kansel beskou nie, "maar eerder as 'n aansteekbord". Hy sê ook: "Ek dink dit is belangrik om my te bepaal by my rol, en die rol is om die bes moontlike nuusblad vir die kerk uit te bou. Wesenlik het ons  die kerk se beswil op die hart. Ons is nie 'n inwonende Vrye Weekblad wat die kerk wil bránd om elke hoek en draai, en expose nie. Ons is inherent lojaal teenoor die kerk". Lees die volledige berig hier. Berig en foto met erkenning aan Netwerk 24.

Vlag
5.2 Wêreldmoedertaaldag
’n Eerste taal, of moedertaal, is die taal waaraan ’n mens blootgestel word sedert geboorte of binne die primêre taalverwerwingsperiode. Wêreldmoedertaaldag, wat sedert 2000 jaarliks op 21 Februarie herdenk word, het ten doel om vrede en veeltaligheid wêreldwyd te bevorder en alle moedertale te beskerm. ’n Kind se eerste taal is deel van sy persoonlike, sosiale en kulturele identiteit. Alhoewel Suid-Afrika een van die lande is met die meeste amptelike tale, spog Zimbabwe sedert 2013 met 16!

PUBLIKASIES
Berei voor vir Lydenstyd met Bybel-Media
Bybel-Media se nuwe publikasie Sewe fokus elke week op een van Jesus se kruiswoorde. Hierdie gids is geskryf deur Ewald van Rensburg, Siegfried Louw en Faani Engelbrecht en bring vir Jesus se volgelinge ʼn betekenisvolle ervaring, terwyl hulle saam na Goeie Vrydag reis. Die opsomming lui: "Jesus se laaste woorde was die kroningsmomente van sy lewe. Dit was nie wanhopige uitroepe nie, maar oorwinningsverklarings. Vir ons as Jesus se volgelinge is hierdie woorde soos rigtingwysers vir die lewe. Dit wys vir ons hoe die lewe werk en begelei ons om die oorwinning van die kruis te vier." Dit is 
aanlyn beskikbaar teen R80.
EKOLOGIE
1.Water laat ons hande vat
Die Stad Kaapstad het groot waardering uitgespreek vir geloofsgemeenskappe se deelname in die hantering van verlede jaar se waterkrisis. Uit die krisis is daar 'n waterstrategie met die oog op die toekoms opgestel. Die strategie is gebaseer op vyf ondernemings en 'n agpuntplan om verbeterde watersekuriteit in die stad te behaal oor die volgende tien jaar. Die strategie is ook daarop gemik om die Stad Kaapstad meer watersensitief te maak teen 2040. As vennote nooi die munisipaliteit geloofsgemeenskappe uit om dié konsepstrategie te bestudeer en kommentaar te lewer. Wat 'n voorreg om as Christene ook hieraan te kan deelneem. Lees meer hier en klik op die skakel om meer te wete te kom oor die strategie en kommentaar te lewer. 
Met dank ontvang van Projekspan Ekologie.
3.Damvlakke daal
In ’n verwante storie berig Netwerk24 dat damvlakke tans daal, maar dat Kapenaars steeds hulle watergebruik inperk. Die hoofopgaardamme se vlakke staan vandeesweek op 55.5%, maar met nog ’n paar maande voor die verwagte reënseisoen word inwoners aangemoedig om steeds spaarsamig met water te werk.  Kapenaars se daaglikse gebruik is tans onder die vereiste 650 miljoen liter per dag, maar vlak 5 waterbeperkings is steeds geldig.
BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
Kuierkans
VAKATURES
Logo
1. NG Durbanville: jeugwerker
Hierdie gemeente adverteer 'n 5/8-pos vir 'n jeugwerker, met 'n spesifieke fokus op kinderbediening. Klik hier om meer te lees oor die verlangde profiel, pligte en verantwoordelikhede. Doen aansoek teen 26 Februarie; diens-aanvaarding so gou as moontlik.
Kerkgebou
2. NG Gemeente Melkbosstrand: voltydse leraar
Die NG Gemeente Melkbosstrand is 'n kultureel en spiritueel gediversifiseerde plattelandse gemeente met ongeveer 1 350 belydende en 374 dooplidmate. Hier is 'n vakature vir ’n voltydse leraar. Kry meer inligting oor die gemeente, die leraarsprofiel, vergoeding en aansoekproses hier. Aansoeke sluit 15 Maart 2019.
Logo
3. Vakatures: Administratiewe beampte/ boekhouer
Huis AA Tomlinson op Swellendam beskik oor 'n 5/8-pos vir 'n administratiewe beampte/boekhouer. Doen aansoek voor 27 Feb. - klik hier vir meer.
Huis Zenobia du Toit wag aansoeke in vir 'n pos as administratiewe beampte/boekhouer by hierdie Badisa tehuis op Heidelberg. Klik hier om meer te lees. Aansoeke sluit 2 Maart.
Logo
4. ACVV: Nasionale Bestuurder ECD
Aansoeke word ingewag vir die pos van Nasionale Bestuurder: VKO (vroeëkindontwikkeling) van die ACVV-hoofbestuur in die hoofkan-toor in Zonnebloem, Kaapstad. Diensaanvaarding  is 1 April. Stuur 'n volledige CV teen 28 Februarie aan info-hk@acvv.org.za. Hier is meer oor die vereistes van die pos.
TEN LAASTE
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.