Lees deur internet, klik hier >>
3 Julie 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Wanneer tuisbly nie veilig is nie
Die VBO-forum bied op Woensdag 8 Julie 'n aanlynseminaar Gendergebaseerde geweld en COVID-19 aan. Klik op onderstaande grafika om teen 12:00 Dinsdag 7 Julie te registreer.
Religious communities respond to gender-based violence
Ekklesia and the Unit for Religion and Development Research will be hosting the second webinar in the series Healthy Households with a panel discussion on the topic Gender-based violence, religious communities and COVID-19. The webinar is scheduled for 7 July from 13:00 – 14:30. Please RSVP via e-mail to Divine Robertson. See more information on the panel of experts below.
Finale episodes van Andrew Murray reeks
Kyk gerus hier na die finale episodes van die Andrew Murray videoreeks Celebration of Family: Letters to his children. Tydens ‘n eksistensiële krisis vra Andrew en Emma Murray se jongste seun Charlie: “Why is one so indifferent to responsibility and glorious opportunity?”  Andrew antwoord: “It is in the power of the divine life, in the power of God’s love and His holiness, in the power of His presence actually working in us day by day, as we humbly and wholeheartedly trust in His Spirit to maintain the divine life, that our opportunities and our possibilities will quietly but effectually exercise their true influence.”
Aan sy mede-studente was Charles H Murray (foto regs) bekend as Bonnie  Prince Charlie. Hy was gewild, sjarmant, eerste voorsitter van die CSV, hoof van die Normaalskool in Nyasaland, predikant te Rossville en kapelaan in Duits-Wes-Afrika gedurende WW1, maar tog ervaar hy dikwels dieptes, soos sy vrou  se vroeë sterfte.
GROEI-projek kyk nou na saailinge
Dié groentesaadprojek vorder fluks met groeiende belangstelling ook buite die NG en VG kerkfamilie. Dinsdag het lede van die taakspan die Radical Seedlings kwekery by Joostenbergvlakte besoek, waar miljoene saailinge gekweek word. Die gedagte is om ook gemeentes aan te moedig om met die hulp van vrywilligers te begin saailinge kweek. Saad en veral hulp en advies word voorsien en dis ‘n heerlike projek om in hierdie COVID-tyd sinvol besig te bly. Jy hoef ook nie ‘n plaas se grond te hê nie en kan dit selfs in ‘n woonstel doen.
Vir meer inligting, gaan na www.hopetrusts.org of kontak Annelie by spg@kaapkerk.co.za.
Koos Lamont en Marius Langenhoven by ‘n plantmasjien.
Phumlani Dlongwana, Marius Langenhoven, Koos Lamont en Pieter Jooste aan die praat oor die beste strategieë vir die pad vorentoe. 
GEMEENTENUUS
Gemeenteverjaarsdae in Julie
Baie geluk aan die onderstaande gemeentes wat hulle verjaarsdae in Julie vier. As enige van die onderstaande datums nie korrek is nie, laat weet asseblief die Kerkargief  by argief@kaapkerk.co.za.
Huwelikskursus by Durbanville
Durbanville-gemeente bied Donderdae huwelikskursusse op Zoom aan. Die kursus is gratis. Kursusse begin op 30 Julie. Registreer asseblief teen 27 Julie per e-pos by  ontvangs@durbanville.gemeente.co.za
Voornemende kursusgangers wat nog nie 'n Meyers & Briggs toets gedoen het nie, moet dit met die kerkkantoor organiseer. Daar is wel 'n koste van R450 per persoon hieraan verbonde. 
Kyk na die video (onder) vir meer besonderhede oor die kursus en onderwerpe wat behandel word.
Gemeentes maak geleidelik oop
President Ramaphosa het in einde Mei aangekondig dat godsdiensinstellings vanaf 1 Junie weer hulle deure mag open, mits gehoor gegee word aan streng regulasies. Sommige gemeentes het hulle deure vir die eerste keer in maande weer oopgemaak. Plettenberg-Noorderkruis is een van hierdie gemeentes en Chris du Preez sien dit as 'n groot voorreg om weer gelowiges in die kerkgebou teenwoordig te hê. Hy skryf die volgende inligting op die gemeente se Facebook-blad in verband met die veiligheidsmaatreëls wat hulle in plek gestel het:  
“Die kerkgebou word op Vrydae deur ‘n professionele firma ontsmet, deur ‘n “rook” oor elke oppervlakte en in elke ruimte te blaas. Daarna word die gebou gesluit en eers weer Sondag oopgemaak.
By jou aankoms word jy gevra om ‘n stel plastiese handskoene aan te trek. Daarna word die buitekant van die handskoene met ‘n reinigingsmiddel gespuit.
Vervolgens word jou temperatuur met ‘n kontaklose elektroniese termometer geneem. Daardie syfer, tesame met jou kontakbesonderhede, word op ‘n vorm ingevul. Daar is vier vrae wat jy moet antwoord - dit staan as “screening” bekend. 
In die kerk is elke tweede bank afgesper. Ons help jou dus om sosiale afstand van 1,5m te handhaaf. Terwyl jou gesinslede by jou sit, sal ander gelowiges nie die 1,5m binnedring nie.
Die erediens is ook korter as gewoonlik, sodat jy nie onnodig lank in ander mense se geselskap hoef te spandeer nie.
Ek bid dat die Here ons sal help in hierdie proses van leer om met die virus saam te leef en met wysheid op te tree. Mag Hy jou elke dag met hoop en vrede begenadig.” 
Bywoning van die eredienste by die kerkgebou is opsioneel en daar word steeds voorsiening gemaak vir lidmate wat verkies om die eredienste aanlyn te kyk.
Uitsig reik uit na gemeenskap
Uitsig-gemeente het vandeesweek uitgereik na Merweville om kos en ander noodsaaklikhede aan behoeftiges in die gemeenskap te voorsien. Hulle skryf die volgende op hulle Facebook-blad: 
“Die afgelope naweek het ‘n paar lede van die Merweville-span asook van ons gemeentelede deurgery om al die skenkings wat ons ontvang het vir die gemeenskap te neem. Graag wil ons vir elkeen wat voor en agter die skerms 'n bydrae gelewer het, baie dankie sê. Dit was 'n vinnige, maar baie geseënde uitreik gewees.”
Klik hier om die foto’s van die uitreik te besigtig. 
Bellville-Wes se Wasikosi "Drive thru"
Die gemeente in Bellville-Wes stel hierdie maand hulle deurry-fondsinsamelingsprojek, Wasikosi, bekend. ‘n Verskeidenheid smullekker kosse soos kerrie-en-rys, lasagne, hoendergeregte en bobotie is vir die verloop van die maand elke Vrydag beskikbaar vir bestelling. Jy het ook die opsie om ‘n nagereg saam met elke ete te koop.
Bellville-Wes nooi elke persoon wat nie lus is vir kosmaak op Vrydagaande nie om hulle projek te ondersteun. Bestellings moet voor Donderdae om 17:00 by 081 316 4086 of by navrae@bellvillewes.ng.org.za gemaak word. Vir meer inligting, kyk gerus na die onderstaande advertensie. 
PREDIKANTENUUS
Tulbagh groet die Eksteens
Na 39 jaar het die Tulbagh-gemeente verlede week afskeid geneem van Chris en Rietha Eksteen.
Hulle laat weet: "Die afskeid was om verskeie redes baie sleg. Vanweë COVID-19-inperkings moes dit gebeur met minder as 50 mense, almal gemasker, sonder sang en sonder afskeidsetes of selfs tee. Sonder drukkies. Dit was supersleg en het baie plastiekerig gevoel, asof elkeen op sy eie eiland was. Die Heilige Gees was egter voelbaar teenwoordig. Dit was asof Hy elkeen vasgehou het. Omdat ons nie aan mekaar mag raak nie, het Hy aan ons geraak." Lees die volledige afskeidsboodskap en 'n spesiale gedig vir Rietha hier.

Ons wens julle 'n heerlike aftrede toe.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Deeltydse rekenkundige beampte - Bellville
Die NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode van Wes-Kaapland) het 'n vakante posisie beskikbaar vir 'n deeltydse rekenkundige beampte by die Predikante Pensioenfonds in die sinodale kantoor in Bellville. Toepaslike tersiêre kwalifikasies, bewese rekenaarvaardighede, insluitend kennis en ervaring van die Sage Evolution boekhouprogram sal ‘n aanbeveling wees. Aansoeke sluit 28 Julie. Klik hier vir meer inligting.
Bestuurder: Finansies & Menslike Hulpbronne
Durbanville Kinderhuis adverteer tans die pos vir bestuurder: finansies en menslike hulpbronne. Bestuursondervinding in menslike hulpbronne, goeie syferkundige en rekenaarvaardighede is onder meer posvereistes. Aansoeke sluit 10 Julie. Klik hier vir meer inligting.
Klik bo vir meer inligting.
EKOLOGIE
Alternatief vir wegneemkoffie?
Janneke Marais, jeug- en maatskaplike werker van die NG Toringkerk in die Paarl, praat 'n bietjie oor wegneemkoffie en meer eko-vriendelike alternatiewe.

Selfs God besit nie die aarde nie
Volgens ons eko-korrespondent David Botha besit God die aarde. "Hy oefen eienaarskap daaroor uit op só 'n manier dat ons eintlik moet sê dat die aarde ook nie God se besitting is nie. Alhoewel die aarde aan God behoort (Ps. 24), hanteer God glad nie die aarde as 'n besitting nie. God wedywer met niemand en niks oor die eienaarskap van die aarde nie. God se eienaarskap is soewerein en nooit in gedrang nie. God se verhouding met die aarde is 'n liefdesverhouding. En God se liefde ken glad nie so iets soos besitlikheid nie. Inteendeel, God se liefde is eerder spandabel. Dit is 'n ewig vloeiende stroom van versorging en onderhouding. En dit ten spyte daarvan dat homo sapiens God se eienaarskap betwis met kaart en transport. God se omgee en versorgende liefde is genadig en konstant goed teenoor “slegtes en goeies” en teenoor “dié wat reg doen en dié wat verkeerd doen” (Matt. 5:43-48). Lees David se volledige artikel hier saam met gepaste uittreksels van Thomas Merton.
Plastiekvry in Julie?
Plastic Free July is 'n beweging wat miljoene mense regoor die wêreld inspireer om deel te word van die oplossing vir plastiekbesoedeling. Die mikpunt van hierdie beweging is om te verseker dat ons oor die lang termyn skoner strate, oseane en pragtige gemeenskappe kan hê. So, Julie is die maand om jouself, jou kollegas, jou vriende en familie uit te daag om plastiekvry te wees of ten minste plastiekgebruik vir die maand te verminder.
Klik hier om die uitdaging te aanvaar en deel te raak van die beweging. Jy kan self besluit of jy jouself wil uitdaag vir ‘n dag, 'n week of 'n maand. Hierdie beweging word tans deur 170 lande ondersteun en spog met meer as 250 miljoen deelnemers!
Hier is ‘n paar maklike wenke oor hoe om plastiek op te gee:
- Daag jouself uit om hierdie maand nie plastieksakke te gebruik of te koop nie. Gebruik eerder materiaalsakke wanneer jy inkopies doen. 
- Hergebruik jou waterbottel of belê in ‘n bottel gemaak uit glas of metaal wat jy oor en oor kan gebruik.
- Weier plastiek strooitjies. Gebruik eerder strooitjies gemaak uit bamboes, glas of metaal.

- Moenie kleefplastiek, ritssakke (ziplock sakkies) en ander onherwinbare plastiek gebruik nie. Gebruik net plastiek wat herwin kan word.  
Besoek Plastic Free July se amptelike webblad hier vir meer idees.    
Kyk gerus die video (onder) vir meer inligting oor die beweging.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Jongste nuusbrief van CAVA in Harare, Zimbabwe
CAVA (Christian Audio-Visual Action) is ‘n bediening wat in die 1970's in Zimbabwe ontstaan het toe sendelinge die nood van die Zimbabwe-plaaswerkers raakgesien het. Stelletjies literatuur, oudio-kassette en prenteboeke is aan boere beskikbaar gestel met ’n bandspeler wat met die hand gedraai is en dus sonder elektrisiteit of batterye werk. Tye het sedertdien aansienlik verander en CAVA het besef dat hulle daarby sal moet aanpas. Hulle is nou voltyds toegespits op leierskapsopleiding deur middel van die NBI-kursusse.  Lees hul jongste nuusbrief hier
PUBLIKASIES
Op Bybel-Media se boekrak
Die derde uitgawe in Bybel-Media se reeks oor huisgeloof is nou beskikbaar. Ons huis onthou bemagtig ouers om saam met hulle kinders verskillende maniere te ontdek om in hulle geloof te groei. 

Hierdie boek vertel vir gesinne meer oor die agtergrond, betekenis, kleure en simbole van elke seisoen of fees wat deel van die kerkjaar vorm. Die nege aktiwiteite help gesinne om ’n ritme aan hulle geloofsvorming te gee en bewus te bly van God se nabyheid. 

Klik hier om die boek by hulle aanlynwinkel te bestel.

Hoogtepunte uit Kerkbode
FW de Klerk bring hulde aan geliefde ‘pastor’
“As my predikant in die Kaapstad-gemeente het hy naby my en my gesin geleef en was hy ’n besonderse pastor,” het oud-pres. FW de Klerk vandeesweek gesê oor Pieter Bingle, wat na ’n lang siekbed oorlede is. Lees meer hier.

LUISTER: Miskien is dít genade … 
Sy het ’n virtuele gedenkdiens vir haar oorlede oupa saamgestel deur huldeblyke via WhatsApp “voice notes” te versamel, asook ’n boodskap van Frik Smit van die NG Gemeente Albertinia, vertel dié leser vir ons uit Duitsland. Luister gerus na die diens by dié skakel.  
ALGEMEEN
#BlackLivesMatter terugvoer
Durbanville-gemeente stuur terugvoer na aanleiding van hulle gespreksessie rondom die #BlackLivesMatter kwessie. Die sessie is deur Tinus van Zyl gelei met insette deur Wilhelm Verwoerd en Nadine Bowers-Du Toit. In sy inleiding haal Tinus die sosioloog Brené Brown se stelling aan wat sy gemaak het oor soortgelyke gesprekke: "I am not here to be right, I am here to get it right." Kyk na die volledige gespreksessie in die video hieronder.
Raakgelees: Teddiebere op pretparkritte
Met die grendeltyd wat wêreldwyd sosiale afstand afdwing het, het Walibi Holland, 'n pretpark in Nederland, geen menslike proefpersone gehad om hulle nuwe ritte op die proef te stel nie. Daarom het die pretpark eerder reuse-teddiebere gehuur om hulle nuwe tuimeltrein (rollercoaster) en skoppelmaai uit te toets.
Kyk na die video (onder) om die bere in aksie te sien.
La Belle aanvaar weer aansoeke 
Alet Swart van La Belle ACVV Dienstak, Labiance in Bellville laat weet dat hulle die nodige toestemming ontvang het om nuwe inwoners by La Belle te verwelkom.  La Belle voorsien akkommodasie aan bejaarde inwoners en beskik oor enkel- en dubbelwoonstelle asook wooneenhede.  Vir enige navrae kontak asseblief 021 948 2019 of stuur 'n e-pos na hooflb@acvv.org.za
VIRTUELE KUIERKANSE
Helderberg-gemeente se virtuele kunsuitstalling
Helderberg-gemeente nooi kreatiewe lidmate uit om deel te neem aan hulle bekende virtuele kunsuitstalling. Die kunswerke sal van hierdie maand af op die gemeente se sosiale media te sien wees. Daar is geen spesifieke tema nie en enige kunsmedium soos skilderye, beeldhouwerk, fotografie en dies meer is welkom. Jy hoef ook nie ‘n professionele kunstenaar te wees nie - as jy 'n beeldjie kan maak, 'n foto kan neem of 'n verfkwas kan optel, is hierdie uitstalling vir jou.
Vir meer inligting oor praktiese reëlings, kostes en inskrywingsvorms, kontak Corneille Barnard by events@nghelder.co.za of besoek hulle Facebook-blad hier
TEN LAASTE
Stadig maar seker is ons besig om uit die grendeltyd te sluip. Alhoewel die infeksiekoers konstant styg en die kruin volgens deskundiges nog vir ons wag, keer ons terug werk toe en volgende week gaan baie van ons kinders terug skool toe. Dit bly 'n tyd van vrae wat onbeantwoord bly, vrese en 'n sin van magteloosheid.
Mag ons krag vind in die belofte van die Koning van die Konings dat Hy met liefde ewig sal heers. Luister hier na die roerende weergawe deur Oase-gemeente se kreatiewe span.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.