|
|
|
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland |
| 16 Dae van Aktivisme en Wêreldvigsdag Met die oog op 16 Dae van Aktivisme teen Geslagsgebaseerde Geweld wat vanaf 25 November tot 10 Desember die aandag fokus op ‘n verskeidenheid uitdagings waaronder ons gemeenskappe gebuk gaan, word daar ‘n ernstige pleidooi aan gemeentes gerig om maniere te vind om gestalte te gee aan die rol wat ons as kerk in hierdie tyd kan speel.
Namens die Diensgroep Diaconia se Vigstaakgroep, Diensgroep Navorsing en Toerusting se Gendergeregtigheid Taakspan en CABSA wil ons gemeentes aanmoedig om in hierdie tyd ook ruimte te maak vir bewusmaking tydens eredienste. Erediensriglyne vir Wêreldvigsdag wat op Sondag 28 November of 5 Desember gebruik kan word, kan hier afgelaai word. Die Afrikaanse vertaling sal Maandag 22 November beskikbaar wees op CABSA se webblad by www.cabsa.org.za.
| |
| Geloofsvorming in 'n tyd soos hierdie Anriëtte de Ridder, ondervoorsitter van die Algemene Sinode se Taakspan vir Geloofsvorming Jeug, gesels oor hoe ons in vandag se tyd oor die geloofsvorming van ons kinders en jongmense dink. Sy verduidelik hoe daar erns gemaak word met Bybelkennis, belydenisskrifte en geloofbelydenis terwyl die leefwêreld van ons jongmense terselfdertyd in ag geneem word. Kyk gerus na die video hieronder. Dit vorm deel van die voortgaande reeks So glo, leer en getuig ons... oor die NG Kerk se oortuigings, praktyke en prosedures.
| |
| Pastorale sorg in die soeklig HospiVision het hospitaalpastoraat onlangs hoog op die agenda geplaas tydens hulle eerste opedag in die Wes-Kaap. Na ‘n vennootskap van ses jaar, het HospiVision en Diaconia (namens die Sinode van Wes-Kaapland en die VGK Kaapland) op Donderdag 11 November ‘n opedag gehou om die werksaamhede van HospiVision bekend te stel en ‘n in-diepte gesprek oor die belang van pastoraat langs die siekbed te voer.
Die geleentheid by NG Gemeente Uitsig het wye ekumeniese ondersteuning geniet en is onder andere ook deur verteenwoordigers van Arbeidsbediening bygewoon. Hospivision is uitstekend geposisioneer om pastorale toegang tot staats- en privaathospitale te beding sodat die sorgsame teenwoordigheid van God Drie-Enig langs elke siekbed in ons land verseker word.
“Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid is die enigste provinsie wat wetgewing van krag gemaak het ingevolge waarvan pastorale sorg as deel van ‘n holistiese benadering tot mediese sorg aanvaar word,” noem ds. Thabiso Mashiloane, hoof uitvoerende beampte van HospiVision SA, tydens die openingsrede.
Klik hier om meer oor die dag se gesprekspunte te lees.
| |
| Dapper gesprekke vir 'n beter samelewing Die Sentrum vir Publieke Getuienis saam met Gregory Modungwa van Unashamedly Ethical het verlede Donderdag nog ‘n Courageous Conversation op Klerksdorp gefasiliteer. Dertig persone van diverse agtergronde en sektore het die geleentheid bygewoon. Braam Hanekom van SPG is dankbaar vir elkeen wat deel van hierdie gesprek gevorm het. Hy glo dat die persone wat hulle tyd hieraan gewy het reeds ‘n diens aan Suid-Afrika gelewer het.
"Gedurende hierdie Courageous Conversation het die gemeenskap saam gesels oor die pad vorentoe vir die dorp en die land. Dit is teen hierdie tyd duidelik dat Suid-Afrika tans met enorme uitdagings gekonfronteer word. Daar is tot die besef gekom dat Suid-Afrikaners hulle denkwyses sal moet verander. Ons hou aan om dieselfde ou narratiewe oor 'die ander' in ons verskillende gemeenskappe te versterk. Die belangrikheid van blootstelling aan mense vanuit verskillende rasse, kulture en agtergronde mag nie onderskat word nie. Deelnemers aan hierdie gesprek het ook verklap dat hulle voel dat Suid-Afrikaners ‘n gebrek aan respek vir mekaar het en daarmee gaan gebrekkige etiek en waardes gepaard. Die mense in ons land lewe met die onregverdige verwagting dat iemand anders die probleme kan en moet herstel. Maar hoekom vra ons nie: wat kan ek en my gemeenskap doen om te help nie?" Klik hier om die volledige terugvoer te lees.
| |
| Werkswinkel kyk na koshuisbediening ‘n Groep leraars van regoor die Wes-Kaapse sinodale streek het onlangs deelgeneem aan die werkswinkel oor koshuisbediening wat deur Anriëtte de Ridder (PSD Jeug en Familie) by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit aangebied is. Sommige van die leraars het koshuise op die dorpe waar hulle bedien en ander het gemeentekinders wat in ander dorpe in koshuise woonagtig is. Die gesprek het vier rolspelers uitgewys – die sturende tuisgemeentes, die ouers, die ontvangende gemeente waar die koshuis geleë is en die koshuisgangers self. Al hierdie rolspelers het ‘n verantwoordelikheid ten opsigte van geloofsvorming. Van die uitdagings is egter die kommunikasie tussen tuisgemeentes en die predikante wat koshuise bedien, asook koshuisbedienings wat interkerklik en soms beperk is. Die groep het weer gekyk na hoe huisgeloof in die motor, Bybelstudies aanlyn, die viering van lewensoorgange, mentorskap en gepaste inhoud ‘n rol kan speel om koshuiskinders beter te ondersteun. ‘n Kleiner groep gaan verder werk aan ‘n strategie vir koshuisbediening. Laat weet vir Maryke by jeug@kaapkerk.co.za as jy wil deel wees van die span.
Agter van links na regs is: Anriëtte de Ridder (PSD Jeug en Familie), Miga Coetsee (De Doorns), Marietjie Steyn (Kaapstad), Annelet Slazus (Springbok), André Jordaan (Riversdal), Jacobus Maass (Malmesbury), Ruan Nieuwenhuizen (Sutherland), Jakkie du Preez (Bonnievale), Driaan Pretorius (Piketberg), Jan Steyn (Malmesbury), Stefaans Burden (Worcester).
Voor van links na regs is: Gawie Gouws (Swellendam), Jandré Viljoen (Ceres), Vikus Ellis (Montagu), Lionel Hutton (Stellenbosch).
| |
| Sekretariële pos by Diaconia Die NG Kerk in Suid-Afrika beskik tans oor ’n vakature vir ’n sekretaresse by die Diensgroep Diaconia (Diens van Barmhartigheid van die NG Kerk in SA en die VGK Kaapland). Die kantoor is by die NG Kerksentrum in Bellville. Dit is ’n 5/8ste pos (08:00 tot 13:00). Die ideale kandidaat beskik oor ’n toepaslike kwalifikasie en ervaring waarin administratiewe kundigheid en organisasievermoë bewys is. Goeie kommunikasievermoë in beide Afrikaans en Engels en uitstekende menseverhoudinge word vereis, asook die vermoë om geskrewe stukke taalkundig te versorg. Die aanstelling verg gevorderde kennis van woordverwerkingsprogramme, sigblaaie, asook e-pos en webwerf aangeleenthede. Basiese finansiële vaardigheid sal die aansoek versterk. Klik hier vir die posbeskrywing en meer inligting.
Sluitingsdatum vir aansoeke is Donderdag 25 November om 12:00.
| |
| Hoe word ek GROEN? Het jy ’n passie om GROEN te leef, maar jy weet nie hoe en waar om te begin en betrokke te raak nie? Die GROENSPAN kan jou help. Daar is wêreldwyd verskeie aksies aan die gang wat poog om van ons planeet ’n groener plek te maak. Al voel dit vir jou asof jou klein bydrae nie werklik enige verskil gaan maak nie, word die hele wêreld ’n beter plek sodra net een persoon begin om groener te leef. Gemeenskappe verander net omdat daar mense is wat leiding neem en influencers is. Jy doen dit nie net vir jouself nie, maar veral ook vir die volgende geslag. Kyk gerus na die video onder met inligting.
| |
| In gesprek met ons susterskerk in Zambië Getuienisaksie se Taakspan Ekumeniese Vennootskappe in Afrika en die Sinode Vrystaat se Vennote in Getuienis werk baie nou saam. Daniël de Wet en Nico Mostert is juis komende naweek op pad na Kenia vir ’n besoek aan ons susterskerk daar, die Reformed Church in East Africa. Op 3 November het Nico Mostert, direkteur van Vennote in Getuienis, met die moderatuur van die Reformed Church in Zambia vergader. Lees meer oor sy besoek hier.
Foto van links na regs: Ds. John Phiri (aktuarius), ds. Ackson Banda (moderator), dr. Nico Mostert (direkteur Vennote in Getuienis), dr. Clement Mwanza (assessor) en dr. William Zulu (algemene sekretaris).
| |
| Mosselbaai groet Van Deventers Gerrie van Deventer het sy afskeidspreek, met die tema Genade, op 24 Oktober gelewer. Hy was sedert 2006 by Mosselbaai Moedergemeente en sy bediening is geken deur sy passie om by mense se lewens betrokke te wees, met die pastoraal-narratiewe terapie as uitgangspunt.
"Die roeping van gemeentes as gestuurdes van God, Bybelskole en Bybelstudies, ontwikkeling van kleingroepe en kommunikasie was sy fokusse. Sy hart was vol deernis vir bejaardes en siekes. Op die vraag - met ‘n terugblik, wat was die hart van jou bediening? – is sy antwoord GENADE. Genade wat hy met dankbaarheid ontvang en met ander deel." Lees hier meer oor sy roeping en bediening.
Ons wens vir Gerrie en Irma voorspoed toe vir hierdie nuwe hoofstuk op hulle lewensreis.
| |
| Vakansie en aflos? Martin Steyn (NG Kerk Citrusdal) soek 'n persoon/gesin wat gedurende hierdie Kersseisoen vanaf Donderdag 23 Desember tot Sondag 2 Januarie 2022 in sy huis wil vakansie hou en daarmee saam ook drie preke wil behartig.
Martin skryf: "Vir die ouens wat wil vakansie hou, maar nie noodwendig te veel geld wil spandeer nie, die is vir jou! Kom kuier vir so elf dae in die plaaspastorie! Hier is 'n ruim huis wat uitkyk na die sonsondergang op Piekenierskloofpas. Twintig meter van 'n groot dam waarin jy/julle kan swem, bass vang en kajak roei. Hier is ook hoenders (vars eiers), honde (vriendelik) en katte wat saamkuier. Die huis is so 3km buite die dorp. Kom skakel af, haal jou "canned fruit" uit vir Kersfees en Nuwe Jaar en herlaai. Daar is drie preekgeleenthede waarvoor jy vergoed sal word, Saterdag 25 Desember, Sondag 26 Desember en Sondag 2 Januarie. Geen Oujaarsaanddiens word gehou nie en daar word ook geen ander pligte verwag nie."
Kontak gerus vir Martin op 083 321 8130 indien jy belangstel.
| |
| Gemeenteverjaarsdae Baie geluk aan die volgende gemeentes wat in November hulle bestaansjare vier. Indien enige inligting nie korrek is nie, laat weet asseblief die Argief by argief@kaapkerk.co.za.
| |
| Wat 'n wonderlike Kersfees vandag Die gemeente van Stellenbosch-Wes het deur middel van 'n aanbieding, musiek en gesellige aktiwiteite die kosbare verhaal van Kersfees met hulle jeug gedeel.
"Ons ontvang die boodskap van Jesus se hele lewe op aarde, as geskenk van lewe en hoop. Tussendeur sing almal saam. Daarna het ons as teken van betrokkenheid vandag, kersversierings met elkeen se naam op mooigemaak en aan die boom gehang. Ter afsluiting geniet ons koekies en sap saam: die grootste geskenk: liefde en samesyn, om uit te deel en te ontvang." Die gemeente is ook tans besig met 'n Kersfeesboks-projek vir bejaardes. Hulle wil graag die bejaarde persone spesiaal en “onthou” laat voel. Enige persoon is welkom om deel te neem aan hierdie barmhartigheidsprojek. 'n Skoenboks werk lekker. Persone kan self kies manlik of vroulik (merk boks asb. duidelik). Klik hier vir idees van wat om in die bokse te pak.
Bring asb. jou boks/e na die Kerssangdiens op 21 November of na die kerkkantoor voor 1 Desember 2021.
| |
| Groote Kerk Adventsangdiens Dit is tyd vir die jaarlikse Groote Kerk Kaapstad Adventsangdiens. Maak seker dat jy dit nie misloop nie!
Datum: 5 Desember 2021 Plek: Groote Kerk Kaapstad Tyd: 17:00 Toegang: Gratis
Bespreek jou plek vroegtydig om teleurstelling te voorkom. Volg hierdie skakel om jou plek aanlyn te bespreek.
| |
| Feestelike koekiebokse Omdat NG Gemeente Knysna se koekieboks-projek van 2020 ‘n hoogtepunt van die jaar was, het hulle besluit om die projek voort te sit vir hierdie Kersfees! Hulle nooi bakkers uit om hulle te help om weer ‘n groot sukses van hierdie projek te maak.
Die gemeente benodig verder die hulp van pakkers en bemarkers vir hulle feestelike koekiebokse. Wil jy graag betrokke raak? Kontak gerus vir Larindie by 081 270 1506 of klik hier om jou naam aanlyn op te skryf.
Die grafika bevat meer inligting oor die gebakte items wat aangevra word.
| |
| Klik op die grafika hieronder vir meer inligting oor die beskikbare vakatures.
| |
| Jeugpos, Ceres 'n Wonderlike en opwindende geleentheid vir diens by NG Kerk Ceres! Die pragtige vallei van vrugbaarheid nooi 'n jong gelowige persoon om 'n tyd van sy/haar lewe te kom wy aan die jongmense van die streek. Oorweeg biddend en kontak die gemeente so gou moontlik. Die jeugpos staan onder die geestelike sorg van drie NG gemeentes.
Doelstellings van pos: om die jeug van die gemeentes en dorp op 'n eietydse manier met die evangelie te bedien sodat 'n Christelike leefstyl gevestig kan word en lei die pastorale begeleiding en versorging van die jeug. Die ideale persoon is volwasse en gebalanseerd, beskik oor 'n toepaslike kwalifikasie, besit die vermoë om individue sowel as groepe te hanteer en is in voeling met die leefwêreld van jongmense. Maatskaplike agtergrond en vaardighede sal die aansoek versterk. Aansoeke sluit 22 November. Lees die volle advertensie hier.
| |
| Nuwe hulpbronne van CLF CLF deel die nuutste gratis hulpbronne wat vir alle gemeentes, predikante en gemeentelede beskikbaar gemaak is. Dit sluit in 'n bundel met getuienisse So glo ons nou en refleksies oor die pandemie What are we learning from Covid for the future of our church. Hierdie hulpbronne kan hier afgelaai word.
Dan is daar ook Vrede vir julle, Peace be with you wat ter viering van professor Piet Meiring se 80ste verjaarsdag gepubliseer is as blyk van erkenning vir sy groot bydrae in ons land, in die kerk en teologie en ook sy verbintenis met CLF. Die boek bevat ‘n aantal deurdagte Skrifoordenkings rondom die temas van geregtigheid, versoening en eenheid – kernsake wat baie relevant vir vandag is en met vrug in die bediening gebruik kan word. Klik hier om die boek in die aanlynwinkel te bestel. Kyk ook hier na drie gespreksvideo's wat met prof. Piet gemaak is en wat deel vorm van die VBO-program.
| |
| Hoogtepunte uit Kerkbode Daar was opvallend ruim tyd vir gesprek oor veral teologiese opleiding asook riglyne vir debatvoering via sosiale media toe kerkleiers uit al tien die NG Kerk se streeksinodes van vandeesmaand in Benoni saamgetrek het vir ’n vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen. Lees hier meer.
“FW de Klerk sal onthou word vir die groot besluit wat hy geneem het om die Nasionale Party te oortuig om apartheid te beëindig...” begin die huldeblyk aan die afgestorwe oud-president in ‘n onlangse persverklaring uitgereik deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Kerke.
Dr. Gerdrie van der Merwe skryf oor die afsterwe van Mario Small (52) op 6 November dat die NG Kerk en by name Kerkbode en Bybel-Media, ’n besondere medewerker en iemand wat die kerklike tydskrifte-leer van onder tot bo met hardwerkende grasie geklim het, verloor het. Lees die volledige berig hier.
| |
| LiG se Kersuitgawe nou op die rak In LiG se Kersuitgawe vertel voorbladvrou Clare Wiese-Wentzel van Mooimaak van haar passie om mense te laat blom.
Twaalf predikante beskryf hulle reis tydens die COVID-pandemie en hoe hulle kop bo water gehou het. Lees meer oor die Olimpiese kampioen Tatjana Schoenmaker en van bekendes se onthou-Kersfeeste.
Daar is ook interessante planeetvriendelike geskenkidees en inspirasie vir laatontbyte vir die vakansie. Kry jou someruitgawe nou landswyd.
| |
| Raakgelees: Booker-prys vir SA Suid-Afrika kan nou spog met drie wenners van die gesogte Booker-prys nadat Damon Galgut onlangs met die louere weggestap het vir sy boek The Promise. Dit was Galgut, wie se debuutwerk op 17-jarige ouderdom gepubliseer is, se derde nominasie vir die toonaangewende toekenning. 'n BBC-oorsig beskryf die boek as 'n aangrypende sage van 'n familie se ervarings oor vier dekades in Suid-Afrika verweef met die dinamika van die land se oorgang van apartheidstaat tot multi-kulturele demokrasie. Nadine Gordimer en JM Coetzee was die enigste ander Suid-Afrikaners wat die toekenning ingepalm het sedert die ontstaan van die kompetisie in 1969.
Foto: Getty Images
| |
| Bybelgenootskap stel foontoepassings bekend Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het onlangs 13 Bybellees-apps bekendgestel wat mense toelaat om die Bybel in al elf amptelike tale van Suid-Afrika te lees. Die apps bevat onderskeidelik een of meer volledige Bybelvertalings in ’n betrokke taal en kan gratis van Google Play afgelaai word - soek Bible Society of South Africa en laai die taal van jou keuse af. Dit sal later ook op iOS en Huawei App Gallery beskikbaar wees. Hierdie Bybellees-apps maak dit moontlik om die volledige Bybelteks op jou selfoon te lees sonder ’n dataverbinding. Verder kan verskillende vertalings met mekaar vergelyk word, die lees-ervaring kan volgens behoeftes aangepas word en Bybelverse kan ook met ander gedeel word.
| |
|
Klik bo vir meer inligting.
| |
| | |
| Ons vier hierdie naweek die laaste Sondag van Koninkrykstyd met die Christus is Koning-fees. Volgens Woord & Fees is dit tyd vir besinning oor wat dit beteken om 'n navolger van Christus te wees. "In aanloop tot Advent besef ons opnuut die belofte van Christus en hoe sy geboorte die begin van ʼn nuwe era vir die hele mensdom is. Die belofte van Christus se koms het ’n lang aanloop gehad, deur die eeue heen verwag. Net soos Dawid vooruit gekyk het na die ware Verlosser van Israel, kyk ons ook vooruit in afwagting op ons Redder om die werklikheid van die koninkryk van God op hierdie aarde vir ewig tot stand te bring. Tot dan is dit ons elkeen se verantwoordelikheid om die goeie nuus van hierdie belofte en hierdie koninkryk mee te deel aan elkeen wat ons teëkom."
Luister gerus hier na Retief Burger se weergawe van Koning van my hart. Mag Hy in die komende weke 'n ware roepstem in jou lewe wees.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler
| |
|
|
kommunikasie@kaapkerk.co.za |
|
|
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za |
|
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za |
|