Spesiale Jeugdaguitgawe
Spesiale Jeugdaguitgawe
Lees deur internet, klik hier >>
17 Junie 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Jeugdag - Ons het die jeug se drome nodig
Anriëtte de Ridder skryf: "Ons het die jeug se profetiese drome nodig. Ek het in Caledon Pinkster gehou en het een aand gepreek oor Petrus se aanhaling uit Joël (Hand. 2:17): “julle seuns en julle dogters sal as profete optree.” Ek het toe vir die jongmense gevra oor hulle drome vir hulle skool, die dorp, die land en die kerk en ek was verras oor hulle helder en hoopvolle antwoorde.
Hierdie week vier ons Jeugdag in Suid-Afrika, waar ons bid vir die uitdagings wat kinders in Suid-Afrika beleef. Ons dink ook terug aan die gebeure in Soweto in 1976. Op hierdie dag, soos op baie ander geleenthede in die loop van die geskiedenis, was dit juis jongmense wat hulle stem laat hoor het oor ongeregtigheid. Generasie Z en Millenniërs gebruik vandag veral die internet om hulle stem te laat hoor en 57% van hulle glo dat hulle só ‘n verskil kan maak. Verder het 42% van jongmense ook hulle eie hashtag (#) oor ‘n saak waaroor hulle sterk voel en hulle gebruik onder andere die krag van TikTok om mense bewus te maak van ongeregtigheid. Hulle post oor menseregte, klimaatsverandering, rassisme, geestesgesondheid, wapengeweld, oorlog, politieke verandering, immigrasie en nog baie meer. Hulle droom van ‘n beter wêreld en hulle laat hulle stem hoor om verandering te bring.
Kom ons luister weer opnuut na hulle drome en word geïnspireer om God se Koninkryk aktief na te streef. Ons het die jeug se eerlikheid nodig om ons apatie uit te wys. Ons het die jeug se verbeelding nodig om nuut te dink oor oplossings. Ons het die jeug se kinderlike geloof nodig om te glo ons kan ‘n verskil maak. Ons het hulle afhanklikheid nodig om te weet ons kan dit net doen as ons saamwerk. En ons het ook hulle gebede nodig. Kom ons bid op hierdie Jeugdag nie net vir die jeug nie, maar ook saam met hulle!" Klik hier om haar volledige skrywe te lees. 
Sinodale Biddag vir Blindes
Innovation for the Blind (voorheen bekend as Instituut vir Blindes) voorsien reeds sedert 1881 in die allesomvattende behoeftes van blinde, swaksiende en meervoudiggestremde volwassenes, deur die voorsiening van vaardigheidsopleiding, gespesialiseerde versorging, terapeutiese ondersteuning en werkskepping. Hulle vier vandeesmaand hulle 141ste verjaarsdag en oorkom steeds verskeie uitdagings, danksy die getroue ondersteuning van hartsmense. Hulle streef ook elke dag hulle visie na - om ’n meetbare verskil in die lewensgehalte van siggestremdes te maak. "Hierdie prestasie sou onmoontlik gewees het sonder die meelewende betrokkenheid van donateursvriende en vennote. U voorbidding vir ons organisasie en ons inwoners is vir ons baie kosbaar."
Vir navrae, kontak 023 347 2745 of e-pos info@innovationfortheblind.org. Lees gerus hierdie inligtingstuk Hoe pak mens dan die lewe aan sonder sig. Daar is ook 'n handige PowerPoint beskikbaar.
Vadersdag
Loer gerus na die Vadersdagkaartjie wat Annelet Slazus van NG Kerk Namakwaland gemaak het. Laai die PDF met 8 kaartjies per bladsy hier af.
Speltegnieke in kinderpastoraat
Hierdie VBO-kursus besoek speltegnieke in kinderpastoraat op ʼn vars manier. Al het jy voorheen ʼn kursus in speltegnieke bygewoon, sal hierdie kursus jou vaardighede opskerp en ʼn paar nuwes byvoeg. Dis ʼn kursus vir eenvoudige spelterapie-tegnieke met skoolgaande kinders (tieners ingesluit). Die kursus word deur Siegfried Louw aangebied (19-21 Julie by Communitas in Stellenbosch) en kos slegs R200.
Registrasies kan hier aanlyn gedoen word. Kontak jeug@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
Opleiding van CBR-fasiliteerders
Een van Gemeentegetuienis se mees effektiewe aanbiedinge aan gemeentes is die Kontekstuele Bybellees of CBR-opleiding (Contextual Bible Reading). Vanaf 8 tot 10 Junie het 'n baie belangrike opleidingswerkswinkel by die Carmel Retreat Centre, George plaasgevind. Die doel van die werkswinkel was om die eerste groep VGK-proponente en ’n brugpredikant op te lei in hoe om CBR te fasiliteer. Die opleiding is aangebied deur ds. Moses Baartman, ondersteun deur ds. Stephen Pedro, taakspanbestuurder van Gemeentegetuienis. Lees hier verder.
Foto van links na regs: Proponente Pieter Windvogel, Zolani None, ds. Willa Mckay, proponente Noxolo Fihla, Don-marco Jonaan, ds. Moses Baartman, ds. Stephen Pedro. Voor: proponente Ntsika Tyityi en Randow Jantjies.
Is julle Kerkspieël-opname ingedien?
Die Algemene Sinode herinner gemeentes aan die belangrike Kerkspieël-opname. Kennisgewings met meer besonderhede is reeds aan die einde van Mei aan alle NG-gemeentes gestuur.
"Kerkspieël is die groot sensusopname wat elke vier jaar gedoen word en verskaf belangrike inligting oor hoe dit met die kerk gaan en hoe die bediening lyk. Vanjaar se opname is besonder belangrik omdat dit ná die COVID-19-inperkings van 2020-2022 plaasvind. ’n Vergelyking van vanjaar se syfers met dié van 2018 sal ’n prentjie gee van die impak van COVID-19 op die kerk. 
Die grootste waarde van Kerkspieël lê egter in die prentjie wat oor jare ontvou. Vanjaar se opname is reeds die twaalfde wat gedoen word. Dit gee ’n beeld van die groter tendense in die werkkragte, finansies, erediensbywoning, ouderdomsprofiel en bedieninge van gemeentes. Uit hierdie tendense kan die kerk se leierskap beplanning doen sodat die NG Kerk volhoubaar kan voortbestaan en dien. 
Dit is eintlik verpligtend dat alle gemeentes die opname sal voltooi. ’n Gemeente mag dalk dink hulle inligting verdwyn in die groot poel data van meer as duisend gemeentes. Onthou egter dat die streeksinodes ook hierdie inligting gebruik en vir hulle is elke gemeente se data belangrik.
Indien ‘n gemeente nie die e-pos met julle toegangskode gekry het nie, gaan asseblief julle junk mail-vouers na. Die briewe is op 25 Mei 2022 uitgestuur en kom van Kerkspieël. As julle dit nie kan opspoor nie, kontak asseblief vir Ester Steyn by kerkspieel@ngkerk.org.za of 082 325 4088. Sy help ook graag met enige navrae oor die invul van die vorm."
Elke pa is 'n superpa
Little Seeds stuur vir ons die volgende bydrae spesiaal vir Vadersdag: "Met Vadersdag om die draai vier ons graag elke pa en pa-figuur wat hul bes doen om hul kinders en gesinne te versorg, ongeag die omstandighede waarin hul hulself bevind. Kyk gerus na die volgende video, wat vertel hoe die Sudanese pa Idro moeite doen om ‘n vlugtelingkamp in Uganda soos huis te laat voel vir sy kinders en seker te maak dat hulle weet hulle is geliefd. 
EKOLOGIE
Help verbeter ons kwaliteit lug
Op 18 Maart vanjaar het ons Hooggeregshof verklaar dat elke Suid-Afrikaner die reg tot skoon lug het. Lugbesoedeling sal egter nog lank 'n probleem in Suid-Afrika bly as gevolg van ons afhanklikheid van fossielbrandstowwe vir die opwekking van energie. Rudolph Scharneck van ons Groenspan verduidelik hoe ons elkeen wel 'n verskil kan help maak. Kyk na sy video hieronder. 
Staan saam teen droogtes - 17 Junie
Volgens die Verenigde Nasies is droogtes een van die ernstigste natuurrampe. Hulle voorspel dat knellende droogtes teen 2050 na raming 'n driekwart van die wêreld se bevolking sal affekteer. As 'n sinode is ons baie bewus van die verwoestende effek van droogtes in gemeenskappe met baie streke in en buite ons sinodale gebied wat vir jare knellende droogtes ervaar het en tans nog die nagevolge daarvan moet oorleef.
Daarom is bewusmakingsdae soos die Internasionale Dag teen Woestynvorming en Droogte op 17 Junie uiters belangrik. Vanjaar beklemtoon die tema Rising up from drought together die noodsaaklikheid van aksie om rampspoedige gevolge vir die mensdom en die planetêre ekosisteme te vermy. Kry al die nodige inligting en materiaal om bewusmaking te verhoog hier.
GEMEENTENUUS
Spesiale aanddiens by Heidekoppie
Heidekoppie het elke tweede Sondagaand om 19:00 ‘n Engelse diens Open Door Sundays. "Kom geniet gerus gratis koffie en wonderlike worship! Ons gas by eerskomende Sondagaand 19 Junie se diens is Ryan Fernandez. Ryan was ‘n pastoor, is ‘n opgeleide bemarker en is reeds die afgelope 15 jaar betrokke by coaching, opleiding en mentorskap by kerke, skole en in die korporatiewe wêreld. Maar bo alles is hy ‘n gesinsman en ‘n pa."
Vir navrae, kontak asseblief vir Adam by 074 172 9187.
Raak kreatief by Proteahoogte
Proteahoogte-gemeente is vir die afgelope 20 jaar reeds bekend vir hulle markte wat as die grootste fondsinsamelings vir hulle gemeentebedieninge dien. Nie net word die mark gebruik om fondse te werf nie, maar dit ondersteun ook plaaslike entrepreneurs. 
Vanjaar sien 'n nuwe toevoeging tot die mark met spesiale kunswerkwinkels. Kontak vir Bianca Louw by 073 753 8950 om so gou as moontlik te bespreek.
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Mobiele Kliniek in Mosambiek sterk op dreef
Getuienisaksie streef daarna om getuies van Christus in en deur Afrika te wees. Daarom is ons ekumeniese verhoudinge met ons susterskerke in Afrika vir ons van groot belang. Dr. Daniël de Wet, taakspanbestuurder van Getuienisaksie se Ekumeniese Vennootskappe in Afrika: VGK Streeksinode Kaapland en NG Kerk Wes-Kaapland, ag hierdie vennootskappe van groot belang en was onlangs op besoek aan die Mobiele Kliniek van ons susterskerk, die IRM, op Vila Ulónguè in Noordwes-Mosambiek. Dr. Pim de Lijster, mediese dokter van Portugal, en voorheen in diens van Getuienisaksie in Malawi en Mosambiek, het by Daniël aangesluit. Lees hier meer van dié besondere besoek.
Foto: Dr. Daniël de Wet kyk toe terwyl Dausi Ntenga die besonderhede van ’n baba neerskryf.
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Voltydse leraar, Agter-Paarl
NG Kerk Agter-Paarl (geleë tussen Wellington en Paarl) stel hiermee die vakature van voltydse leraar by hulle gemeente bekend. Aansoekers word nie beperk tot Kerkorde Artikel 9 se pligstaat nie. Die gemeente nooi jou om op jou unieke wyse hulle verder te help om God se vreugde oor sy gemeente te vermeerder.
Die ideale kandidaat is iemand wat die plaaslike gemeente en gemeenskap eerste prioriteit maak en iemand met 'n goeie teologie wat dit entoesiasties en verstaanbaar kan vertaal vir die daaglikse uitdagings van die lidmate. Klik hier om die gemeente se profiel te lees. Aansoeke sluit 19 Julie om 12:00. Lees die volledige advertensie hier.   
Gemeenteleraar, Suider-Paarl
NG Kerk Suider-Paarl nooi predikante wat resoneer met die gemeente se belydenisverklaring en geroepe voel om hulle inligting voor te lê vir oorweging vir hierdie pos. Die ideale kandidaat word beskryf as iemand jonger as 45 wat die Here liefhet en ’n roeping het om in sy diens te staan en wat hom/haar gemaklik kan uitleef binne Suider-Paarl se gemeentekonteks.    
Aansoekers moet ’n gelegitimeerde van die NG Kerk wees, met ’n gesonde waardering vir die gereformeerde tradisie. Kandidate moet Skrifgetrou en dinamies preek met 'n aanvoeling vir liturgie en aanbidding asook gemaklik wees daarmee om alle ouderdomme te bedien. Aansoeke sluit 29 Julie om 12:00. Lees die volledige advertensie op Kerkbode se webblad
Medeleraar/diensleraar, Montagu
Die kerkraad wag in biddende afhanklikheid van die Here aansoeke in vir die pos van bedienaar van die Woord vir die gemeente van Montagu.
Montagu-gemeente is 168 jaar oud en is in die Ring van Swellendam. Die gemeente bedien die dorp en omliggende plase se lidmate asook die breër gemeenskap.
Gewone predikantspligte volgens Artikel 9 van die Kerkorde, met spesifieke fokus op families en jeug is van besondere belang met die oog op ’n beroep. Die ideale kandidaat is iemand wat oortuig is dat hy/sy geroep is deur God om in die bediening te wees en sy/haar verhouding met God sigbaar uitleef. Die leraar moet ’n persoon wees met kreatiewe en vernuwende denke (met respek vir tradisies) en ’n  passie vir die diversiteit van ’n plattelandse gemeente. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 17 Junie 2022. Klik hier om die volledige advertensie te besigtig. 
Voltydse predikant, VGK Huguenot
Die gemeente VGK Huguenot wag in biddende afhanklikheid aansoeke van gelegitimeerde predikante of proponente van die VGKSA in, vir  die permanente pos van voltydse leraar. VGK Huguenot is 'n gevestigde geloofsgemeenskap geleë in die Paarl-Vallei met 3860 belydende lidmate en 770 dooplidmate.
Die gemeente plaas 'n hoë premie op spanwerk en samewerking binne die gemeente en breër gemeenskap. Die ideale kandidaat moet 'n intense belangstelling toon in die sieleheil en vereningingswese van die gemeente. Kennis en deernis vir die bejaardes, siekes en noodlydendes asook begrip vir en belangstelling in die jongmense word vereis. Ervaring van kerkadministrasie, gemeentefondsinsameling en leierseienskappe is voordelig. Die gemeente vereis dat kandidate die Belydenis van Belhar 1986 onderteken het. Bewys van ondertekening kan aangevra word. Indien nie, moet kandidaat inwillig tot ’n gesprek wat sal lei tot ondertekening. Aansoeke sluit 24 Junie. Lees meer hier
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode
Tydens Pinkster 2022 het Proteahoogte-gemeente in Brackenfell hulle sesde kindergefokusde Pinksterreeks aangebied. Die boek Jona is op ’n kreatiewe manier deur ’n dramaspan op vier aande oorvertel, met ’n bondige boodskap deur Christo Botha na elke aand se oorvertelling. Lees hier meer.
Nadia Muller is die voltydse dominee by Simondium Familiekerk en haar man DJ is onlangs aangestel as pastor en bemarker (storieverteller in sy woorde) by ’n plaaslike nie-regeringsorganisasie wat uitreik na veral jongmense in nood. "Nie jou tipiese pastoriepaartjie nie – as daar vandag nog so iets bestaan," skryf Jaco Strydom in sy jongste Kerkbode-rubriek
NUUSBRIEWE
Klik bo vir meer nuus van Badisa Trio.
ALGEMEEN
Raakgelees: Maak 'n emoji van jouself!
Emoji's het oor die jare 'n belangrike deel geword van hoe ons kommunikeer. Alhoewel die regte emoji jou help om sekere emosies uit te druk, is hulle nie altyd perfek nie. Daarom het Bitmoji dit goedgedink om mense te help om gepersonaliseerde emoji's te skep.
Bitmoji is eenvoudig 'n prettige manier waarop jy meer persoonlikheid aan jou gesprekke kan heg. Eerder as generiese tekenprentgesiggies, kan jy jouself self in die uitdrukkings plaas wat jy wil oordra. Basies pas jy 'n karikatuur van jouself aan wat jy in teksboodskappe kan gebruik.
Jy kan jou eie Bitmoji maak op hulle amptelike toepassing vir iPhone of Android. Klik hier vir ‘n stap vir stap verduideliking oor hoe om jou eie Bitmoji te maak en dit op jou selfoon te gebruik. Nadat jy aangeteken het, kan jy selfs Bitmoji op jou Chrome-webblaaier gebruik.  
NID vier 141 jaar
Die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) op Worcester vier op 15 Junie 141 jaar se dienste aan Dowes en persone met gehoorverlies. Hulle laat weet:
"Ons vier behoorlik fees! ‘n Fees van groot dankbaarheid! By NID glo ons in konneksie en gemeenskap en dat ons Dowes en persone met gehoorverlies kan ondersteun en help om kommunikasiehindernisse af te breek sodat hulle ook hul volle potensiaal kan bereik en 'n voorspoedige lewe kan lei. Ons is passievol gedryf om te verseker dat Dowes dieselfde geleenthede in die lewe as enigiemand anders kry. Ons glo heelhartig dat die Dowe gemeenskap en persone met gehoorverlies werklik bemagtig kan voel met genoegsame ondersteuning, liefde en geduld." Lees hulle volledige skrywe hier.
Course in trauma counselling
With its experience in trauma units at hospitals, HospiVision is ideally placed to provide training and practical experience in trauma counselling for lay and professional caregivers. Their next short course in trauma counselling is scheduled for 27-29 June. The course will be facilitated by dr Francois Swart. According to Francois, it is certainly not an overstatement to say that we live in a traumatized society. "South Africa has some of the highest violent crime, abuse and rape statistics in the world. Caregivers and counsellors in society are overburdened by the psychosocial and spiritual impact of this situation."
For more information and registration, please contact June Kriel on 084 405 0447; send an e-mail to friend@hospivision.org.za or click here to register online. 
KUIERKANSE
Klik bo vir meer inligting.
TEN LAASTE
Volgende Vrydag is ons laaste uitgawe van die kwartaal. VrydagNuus neem dan 'n lekker winterbreek saam met die skoolvakansie. Die volgende uitgawe sal op Vrydag 22 Julie verskyn.
Ons wens al ons oupas, pa's en vaderfigure 'n geseënde Vadersdag toe. Ons dra graag die Cape Town Youth Choir se Onse Vader aan julle op.
Foto: Liane Metzler/Unsplash
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.