Subscribe to our email list
 26 Augustus 2016

Beste Leser
Bloeisels

"A gentle tongue is a tree of life." (ASV)
"Vriendelike woorde bring lewe." (NLV)
― Spreuke 15:4
SINODENUUS
1. Teologiese Opleiding

God roep Mense om 'n Verskil te maak

God roep mense om 'n verskil te maak. Daar is 'n misterie in God se sending na die wêreld - mense word vandag nog geroep vir dienswerk, om deel te neem aan God se sending na die wêreld. Baie dikwels hoor ons die roepstem wanneer ons nood in die wêreld sien en ons weet ons kan nie verbystap nie.
Moenie uitstel om aan die roepstem wat jy hoor, gehoorsaam te wees nie… Frederick Marais gesels in die onderstaande kort video verder.

Missionale kerk het mense nodig wat 'n verskil wil maak
Leon Venter en Grace Matlhape
Leon Venter (PSD) en Grace Matlhape (HUB, SmartStart) by die  byeenkoms Woensdag
2. Slim vennootskap vir VKO!
By die Diensgroep Armoede en Sorg se  Vroeë Kindontwikkeling (VKO)-byeen-koms op Wo 24 Augustus by die NG Gemeente Durbanville-Bergsig het die vennootgemeentes wat teenwoordig was, eenparig besluit om in vennootskap te tree met SmartStart, een van die DG Murray Trust se nie-regeringsorganisasies. Geen gemeente is onder enige verpligting om die SmartStart-strategie te implementeer nie; dit word aan elkeen se eie diskresie oorgelaat. Meer oor SmartStart is hier.
Gemeentes het Woensdag van so ver as bó in Alexanderbaai, Beaufort-Wes, George, Idasvallei, Houtbaai, Onrus, Porterville en Riversdal (en elders!) die byeenkoms kom ondersteun. Dankie, vriende! Kontak Isabella by 021 957 7113 of omgee@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
VKo-vennootskapgemeentes byeen
VKO-vennote groet vriendelik!
Sinode-logo
3. NG Wes-Kaapland Moderamen vergader
Die moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland vergader volgende week op Di 30 en Wo 31 Augustus by die NG Gemeente Vredelust in Bellville.
Die Wes-Kaapse moderamen bestaan uit die moderatuur, ringsverteenwoordigers, voorsitters van sinodale diensgroepe, voorsitters van taakspanne en predikante in sinodale diens.
Onder die sake op die agenda is 'n sentrum vir spiritualiteit, 'n strategie vir jeugbediening, sowel as enkele verslae wat hanteer sal word.
Die ringsleiersforum en die kerkraadslede ontmoet op Maandag 29 Augustus om 14:00, ook by Vredelust.
Kontak mev Sanet Gunter by die moderatuurskantoor met navrae: 021 957 7155 of skriba@kaapkerk.co.za.
Veilige reis en seën vir die vergaderings toegewens.
4. Getuienisaksie
Malawi: Eredoktorsgraad aan AnnaMarie de Klerk
Op Saterdag 20 Augustus is 'n welverdiende eredoktorsgraad deur die Universiteit Nkhoma in Malawi aan AnnaMarie de Klerk toegeken. AnnaMarie het haar hele beroepslewe aan vroue- en kinderontwikkeling in Malawi via ons susterskerk (CCAP) gewy. Ons dank die Here vir haar bydrae in diens van die gemeenskap van Malawi. Lees hier meer oor AnnaMarie. 
AnnaMarie de Klerk se aanvaardingstoespraak
AnnaMarie de Klerk besig met haar aanvaardingstoespraak
5. Arbeidsbediening
VGK Macassar se helder Sterre!
Op Sondag 21 Augustus het 18 finalejaar-katkisante van die VGK Macassar hul Bright Star-diplomas ontvang. Ds Jannie Booysen, een van Arbeidsbediening se geestelike werkers en opleiers, en ook leraar by VGK Delft, het hierdie uiters gewilde en effektiewe kursus aangebied.
Dit fokus op die ontwikkeling van die jongmens se selfbeeld, verhoudinge en leierskap. Veels geluk aan ds Charles Flaendorp en sy kerkraad wat hierdie lewensverrykende geleentheid aan hul jongmense gebied het. Mag hulle as helder sterre in jul gemeenskap skyn! 
Lees hier meer van die Bright Star-program. Op die onderstaande foto pryk die katkisante met hul diplomas.
Macassar Sterre
Willie Jonker Gedenklesing
Die Argief, in samewerking met die Ring van Kaapstad, is gasheer vir die geleentheid

Nov 2016 Imagine Ignite
Gelukkige Aftrede
8. Gelukkige Aftrede/"Retire Smart" Program
Deon Bruwer bied van 11 tot 13 Oktober 2016 vir oulaas* op Stellenbosch sy gewilde aftreewerkswinkel aan vir predikante wat beplan om binne die volgende vyf tot sewe jaar af te tree.
Die kursus is getiteld “Gelukkige aftrede deur 'n nuwe toekoms te skep” en kan kosteloos bygewoon word. Alle gades word ernstig aangemoedig om ook teenwoordig te wees.  Lees hier meer.
*Dit is Deon se laaste aanbieding as werknemer van die sinode voordat hyself in Januarie 2017 as PSD aftree.
Badisa-logo
9. Wees loslittig vir Badisa!
Loslitdag, vanjaar op 2 September, is ’n projek waardeur jy met die koop van ’n plakker mense wat met gestremdhede saamleef, kan ondersteun. Alta du Toit Nasorg en Eljada Nasorg is twee van Badisa se programme wat by hierdie projek baat.
Badisa het verskeie sentrums en personeel wat dienste aan gestremdes lewer en wat élke dag van die jaar op spesiale wyse omgaan met hierdie besonderse mense ten einde hulle hul unieke potensiaal te laat bereik.
Of jy nou ’n plakker koop of nie, oorweeg gerus hoe jy die maatskaplike werkers, hulpwerkers, skoonmakers, versorgers, personeel en bestuur- en beheerraadslede wat hierdie werk doen om die lewe vir nog een gestremde persoon die moeite werd te maak, kan ondersteun. Dalk deur ’n gebed, ’n glimlag of bemoediging, of deur as vrywilliger betrokke te raak. Badisa se mediaverklaring is hier.
Hanna Hopkins Huis
10. Bekostigbare Verblyf
Ons herinner graag aan die bekostigbare verblyf aan pasiënte en hulle familie wat enige van die hospitale of mediese sentra in Kaapstad se suidelike voorstede moet besoek. Hanna Hopkins Huis in Observatory se dienste is beskikbaar vir enige besoeker van oor die lengte en breedte van ons land en wêreld! Oorsese besoekers maak gereeld van hierdie spesiale diens gebruik en keer weer en weer terug na Hanna Hopkins met sy pragtige Victoriaanse styl en grasie. 
Kontak Hanna Hopkins Huis gerus by obskerkhuis@gmail.com of 021 448 7301.
11. NG Kerk Vrystaat Fotoboek
Na afloop van die NG Kerk Vrystaat se Jubeljaarvieringe (150 Jaar) in 2015, is 'n pragtige fotoboek, die NG Kerk Familie Vrystaat – 150 Jaar, onlangs bekend- gestel.
Die besonderse gedenkboek kan nou bestel word by gemeentes@ngkvs.co.za teen slegs R180 per eksemplaar (plus R100 vir posgeld). Indien 'n gemeente, instansie of individu tien van hierdie fotoboeke bestel, kry hulle een gratis eksemplaar.
Klik op die advertensie vir meer inligting. 
12. Struwig Eko-reservaat
Diegene wat lief is vir 'n wegbreek in die natuur, kan gerus oorweeg om die Struwig Eko-reservaat, geleë op die oewer van die Olifantsrivier en deel van die groter Kruger Nasionale Park-gebied, te besoek.
Hierdie reservaat is deels in die besit van die NG Kerk en bied uitstekende geriewe vir 'n spesiale gesinsvakansie, kampe, beplanning en meer. Lidmate van die NG Kerk-familie kry boonop 'n lekker korting op die normale akkommodasietarief. Klik hier.
13. Argief Kronieke 
Dokument in 'n Bottel
Soms word selfs diep-begraafde stories onverwags opgediep – soos tydens die sloping van die ou Nederduits Gereformeerde Sendingkerkgebou in Handstraat, Malay Kamp, Kimberley op Vrydag, 25 Oktober 1957.
Onder die hoeksteen is ʼn ou bottel, met ‘n dokument nog veilig daarin, gevind. Lees meer en sien foto's onder. Kontak die Argief by liesl@kaapkerk.co.za of telefonies by 021 882 9923.
Foto's uit Bottel
Bo van links na regs is die Sendingkerk in Recreationweg, Kimberley;  ds en mev Kestell; 'n jong ds Kestell (ongeveer 1888) en die eerste Sendingkerk in Handstraat, Kimberley
Bybelgenootskap van SA-logo
ALGEMEEN
1. Bybelsondag 28 A
ugustus 2016

Op Bybelsondag fokus verskeie kerkgenootskappe in ons land op die Bybel en die voorreg om die volledige Bybel in elkeen van ons 11 amptelike landstale te hê. Tog is daar 5,5% Christene in ons land wat glad nie 'n Bybel besit nie. 
"Ons Bybelgenootskap herdenk hierdie maand sy 196ste bestaansjaar in Suid-Afrika. Alhoewel ons die Here dankbaar is vir alles wat ons oor hierdie byna twee eeue bereik het, bly die uitdaging groot om te verseker dat elkeen wat 'n Bybel verlang, een kan kry," sê ds Dirk Gevers, uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gemeentes word gevra om Sondag asb te bid dat dit vir die Bybelgenootskap van SA moontlik sal wees om in die groot behoefte aan Bybels te voorsien. Die volledige mediaverklaring, met insiggewende statistiek, is hier beskikbaar. 
(Lees gerus ook "Ten Laaste" onderaan hierdie nuusbrief.)
Bybelgenootskap verjaar
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika vier vanjaar hul 196ste verjaarsdag

Dirk Gevers
2. Songs of Praise
Vir Bybelgenootskap van Suid-Afrika en Geletterdheid

Die Songs of Praise-konserte dra al vir die afgelope 25 jaar 'n kragtige boodskap van hoop en verlossing uit na die mense van Suid-Afrika. Onlangs is twee spesiale weergawes van hierdie konserte gehou  ten bate van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se  geletterdheidsprojek.
Aan die hoof van dié musiekbediening is die welbekende dirigent, Richard Cock. Tydens die onlangse konserte is 'n wye verskeidenheid liedere uit 'n groot aantal tradisies gesing. Die skakel na die video  is hier.
Op die foto is Dirk Gevers, 
Uitvoerende Hoof van die Bybelgenootskap van SA, met Richard Cock en van die koorlede in die agtergrond.
3. Ring van Namakwaland in Kamieskroon saam
"Die kerktoring wat jou ken lig en veral die reën wat saggies geval het toe ons byeenkom vir die nagmaal saam met Kamieskroongemeente, het die Skrifwoord van die middag gekomplementeer. Die Woord wat ons herinner het dat seën van Bo bedoel is om seën vir ander te wees. Die tema van die vergadering  was juis nadenke en gesprek oor die gestuurdheid van die kerk en wat dit prakties vir ons as ring en gemeentes onderling en na buite beteken. Ons het saam 'n entjie gevorder." So skryf Tallie van den Heever, ringsvoorsitter, oor hulle ringsitting op 21 en 22 Augustus by die NG Gemeente Kamieskroon.
Hierdie ring bestaan uit Aggeneys, Alexanderbaai, Boesmanland, Garies, Grootmist, Kamieskroon, Namakwaland, Pofadder, Port Nolloth en Simon van der Stel. Sterkte vir julle werk in Namakwaland, kollegas.

NG Gemeente Kamieskroon
Kamieskroon se kerkgebou - met dank aan Nadine Maletzki
Nelson Mandela Baai: logo
4. Ope Brief van Oos-Kaapse Kerkleiers
In die NG Kerk Sinode van Oos-Kaapland se Grens.Pos-nuusbrief berig Danie Mouton: "Senior kerkleiers in die Nelson Mandela Metropool het die nuutverkose leiers verlede week in 'n ope brief aangemoedig om kiesers se vertroue in betekenisvolle aksie om te sit. Dié metropool het vir die eerste keer in die demokratiese era 'n burgemeester van die DA, Athol Trollip, en 'n onder-burgemeester van die UDM, Mongameli Bobani, ingehuldig." Lees die ope brief hier.
Toga Konnette
5. Dankie
Konnette Louw is Sondag as predikant in Vredenburg bevestig. Haar ma, Linette van Rooyen, het (sonder patroon) vir haar 'n pragtige, unieke toga gemaak. Met liefde. Soos net 'n ma kan dink om te doen. 
So - hier is 'n DANKIE.
Vir elke ma wat vir haar kind in die bediening bid. Selfs 'n toga maak!
Vir elke pa wat kilometers plaaspad ry om sy dominee-kind se gradeplegtigheid by te woon.
Vir elke eggenoot wat saam basaar beplan en tafels beman (bevrou!) Biduur lei. Siekes besoek. Flop pannekoek bak.
Vir elke tannie wat die jong dominee af en toe (gesonde) kos gee.
Vir elke buurman wat soms net 'n hand op sy dominee se skouer kom sit.
DANKIE vir elkeen wat ons predikante ondersteun en vir hulle bid. Die kerk het “heel” dominees nodig.
Twitter Facebook YouTube
GEMEENTENUUS
Restitusie in Groote Kerk in die Fokus
In die Groote Kerk in Kaapstad het Nelis Janse van Rensburg (voorsitter van die moderamen) en sy dogter, Alet (joernalis by Media24), sowel as Franklin Sonn (voormalige ambassadeur in die VSA) en sy seun, Crispin (die Uitvoerende Direkteur van Gamiro Investment Group) op Woensdagaand 24 Augustus aan 'n insiggewende "Intergenerational Dialogue on the role of Restitution in SA" deelgeneem.
Dit is 'n gesamentelike projek van die Groote Kerk, die Restitution Foundation en ander vennote - wat almal ook betrokke is by 9 en 10 November se Restitusie Konferensie in Kaapstad. Die gespreksleier Woensdagaand was Lionel Louw.
Intergenerational Dialogue on Role of Restitution in SA
Crispin en Franklin Sonn, Lionel Louw, Alet en Nelis Janse van Rensburg
Jan Theron
PREDIKANTENUUS
1. NG Caledon-Wes groet onse Jan 

Caledon-Wes se Jan Theron het behoorlik die afgelope maand of meer ’n les in geduld geleer met die wagtydperk vir ’n werkspermit om hom by die NG Gemeente Pionierspark in Namibië te kan aansluit!
Nou is Jan se permit uiteindelik gefinaliseer. Hy vertrek op 31 Augustus na ons mooi buurland en word op So 11 September om 09:00 in die nuwe gemeente in Windhoek bevestig.
Jan, mag jy baie seën en vreugde in die nuwe omgewing vind.

2. Ceres-jeug se Aanwins!
Goeie nuus uit Ceres is dat Francois Maritz op 31 Julie in 'n jeugpos binne die Hoërskool Charlie Hofmeyr bevestig is. Hierdie pos word deur vier vennote in 'n samewerkende ooreenkoms gedra: die drie NG gemeentes: Ceres, Ceresvallei, Prince Alfred's Hamlet en die skool. 
Sy kollega, Pierre Marais, skryf hieroor: "Francois se pa
, ds Pikkie Maritz van Bloemfontein, het die rede gelewer en ekself het die bevestiging waargeneem. Dit was vir almal teenwoordig 'n aangrypende ervaring – in Ceres Moedergemeente is so iets meer as 40 jaar terug gesien! 
Francois het 'n kantoor in Charlie Hofmeyr waar hy ook Lewensoriënteringsklasse gee en alle godsdienstige en pastorale sake behartig."
Hy is gekoppel aan die NG Gemeente Ceres en is verloof aan Liesbet Munro. Die paartjie se groot dag is DV op 17 Desember 2016
. Mag hierdie 'n gese
ënde en besondere samewerking en bediening vir die hele Ceres wees. Sterkte, Francois!
Francois Martiz en Liesbet Munro
Francois Maritz en sy verloofde, Liesbet Munro
Bio-afbreekbaar
EKOLOGIE
1. Geringe dade - uit Liefde vir die Natuur
Wat is die mooiste ding wat ek vandag kan doen?
- Charles Eisenstein
Die ekologiese uitdagings wat ons moet aanspreek, lyk oorweldigend. Die goeie nuus is dat dit die klein, goeie dade is wat elkeen van ons doen wat 'n geweldig positiewe impak op dié uitdagings het. Elkeen van ons se bydrae, hoe gering ook al in ons eie oë, gaan die verskil maak wat nodig is; nie finansieel-gemotiveerd nie, maar uit liefde vir God se natuur. Een van die organisasies wat help om die ekologiese uitdagings te verstaan en praktiese raad verskaf, is WWF Suid-Afrika. Klik gerus hier vir praktiese wenke oor omgewingsvriendelike inkopies en etes - en selfs om anders oor energie te dink. (Met dank aan die Ekologie Taakspan.)
2. Eko-vriendelike boumateriaal in Nigerië
Kleurvolle huise wat koeël- en vuurvas is en selfs aardbewings kan weerstaan! Huise wat 'n gerieflike temperatuur handhaaf, geen koolstofgas vrylaat nie en deur sonkrag en metaangas van herwonne afval aangedryf word. 
Hier is 'n kreatiewe oplossing van twee nie-regeringsorganisasies in Nigerië wat huise bekostigbaar uit plastiekbottels bou! Belangstellendes kan hier meer lees. (Foto onder met erkenning aan Andreas Froese/ECOTEC)
Nigeriese plastiekhuis
3. Tutu ondersteun Seisoen van die Skepping
Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu ondersteun September se veldtog om spesifiek op die skepping en die behoud daarvan te let.
In 'n video verklaar hy "The destruction of the earth environment is the human rights challenge of our time. Over the 25 years that climate change has been on the world's agenda, global emissions have risen unchecked, while real world impacts have taken hold in earest. Time is running out." Luister onder verder. (Video met dank aan Green Anglicans.) Dalk help die eerste Ekologie-berig juis as gemeentes maniere soek om 'n verskil te maak.
Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu
PUBLIKASIES
CLF - Sê dit in isiXhosa!

• Wou jy al lankal leer Xhosa praat, maar kom net nie daarby uit nie?
• Het jou kerk ‘n ware missionêre hart om na Xhosasprekende  gemeenskappe uit te reik, maar taalgrense maak dit ingewikkeld?
• Of is jy ‘n individu wat graag vir ander in hul hartstaal van God se liefde wil vertel of sommer net wys dat jy bereid is om op grondvlak taal- en kultuurgrense in ons land te help afbreek?
Op 8 September word Internasionale Geletterd-heidsdag gevier en CLF bied met trots die nuwe publikasie Say it in isiXhosa, deur die welbekende ds JC (Koos) Oosthuysen, aan. Koos is oa bekend vir sy leidende rol in die vertaling van die 1996 Xhosa Bybel. Vir bestellings en navrae, e-pos info@clf.co.za of skakel CLF by 021 873 6964.
KUIERKANS
Dis omtrent basaarseisoen in die kerk! Klik op die verskillende pamflette vir meer inligting oor al die feeste, basaars, tee-drinke, uitstallings en plesier! Hou ook die sinode se Facebook dop. 
NG Wynberg Lente-tee
NG Wynberg Lente-tee
10 September 2016
NG Worcester-Brandwag Basaar
NG Worcester-Brandwag Basaar
26 Augustus 2016
NG Stellenbosch-Wes Basaar
NG Stellenbosch-Wes
26-27 Augustus 2016
NG Helderberg en Hannon
NG Helderberg
10 September 2016
Bellville Uitsig Basaar
NG Bellville-Uitsig
27 Augustus 2016
Saldanha Koededoor Teetuin
NG Saldanha Teetuin
3 September
Saldanha Basaar
NG Gemeente Saldanha
3 September 2016
NG Bellville-Vallei Kunsuitstalling
NG Bellville-Vallei Kuns
2 September 2016
Wellington Gospel en Country sangaand
NG Wellington
2 September 2016
NG Wellington-Noord Basaar
NG Wellington-Noord
3 September 2016
Huis Zonnekus Gholfdag
Huis Zonnekus Gholfdag
13 Oktober 2016
NG Gemeente Velddrif Basaar
NG Velddrif Basaar
3 September 2016
CLF Gholfdag 21 September
CLF Gholfdag
21 September 2016
Parow-Noord 50 j
NG Gemeente Parow-Noord: Feesnaweek!
NG Parow-Noord vier hulle 50ste bestaansjaar met groot jolyt gedurende die komende naweek van 26 tot 28 Augustus. Vrydagaand is daar 'n feeskonsert, Saterdag word basaar gehou op eg tradisionele wyse en Sondag word 'n spesiale  dankdiens gehou. Kaartjies vir Vrydagaand se konsert is vooraf by die kerkkantoor: 021 939 2395. Die naweekprogram is hier.
NG Kerk Harrismith
VAKATURES
1. NG Gemeente Harrismith: Leraarspos

NG Harrismith is een van twee NG gemeentes in hierdie dorp op die grens tussen die Vrystaat en KwaZulu-Natal. Ongeveer 920 belydende en 230 dooplidmate word deur twee leraars bedien. Dit is ‘n gevestigde en gelukkige gemeente met heelwat jonger lidmate en jong gesinne.  Meer oor die leraarsprofiel, vergoeding en aansoekproses is hier. Aansoeke sluit 14 September.  
NG Gemeente Presidentsoord
2. NG Presidentsoord: Leraar
NG Presidentsoord is geleë in Petersfield, Springs (in die Hoëveld Sinode). Hier is tans 'n vakature vir 'n leraar in 'n vastetermyn pos. Meer inligting oor die gemeente is op www.presidentsoord.co.zaBelangstellende leraars word uit-genooi om 'n volledige CV voor 10 September 2016 te stuur aan ngkpoord@absamail.co.za.
3. Huis Zonnekus: Verpleegpersoneel
Huis Zonnekus in Milnerton is ’n Badisa-tehuis vir ouer persone. Hier is tans vakatures vir ’n geregistreerde verpleegkundige (suster in bevel), sowel as ’n ingeskrewe verpleegassistent.
Aangeheg is meer inligting oor die betrekkings. Aansoeke sluit op 31 Augustus.
Huis Zonnekus Logo
Kerkbode-versameling
Vakatures op e-Kerkbode
'n Lys van vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via die nuwe e-Kerkbode elektronies versprei na predikante en gemeentes, sowel as ander intekenare.
Klik hier vir die jongste inligting oor vakatures in die NG Kerk-familie.

Quintus Heine
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Quintus Heine
My ouers het my geleer dat die Bybel die Woord van God is. As student was ek altyd krities, ondersoekend, die een wat ongemaklike vrae gevra het, vreemde geskrifte gelees het. Ek is steeds van nature iemand wat alles ondersoek en bestudeer. Deur al my jare van studie, twyfel, gesprekke met andersdenkendes en soeke na die sin van die lewe, is ek vandag meer as ooit oortuig daarvan dat die Bybel die Woord van God is. Nie omdat ek so slim is nie, maar omdat die Heilige Gees my daarvan oortuig het. 'n Europese godsdienssosioloog het eens gesê die rede waarom Suid-Afrikaners nog kerk toe gaan, is omdat kerke in SA die Bybel nog as God se Woord beskou. Vir baie mense is dit 'n interessante  boek met verhale. Vir ons as Christene is dit die Woord van God, geïnspireer deur die Heilige Gees.

Dit is ook die rede waarom Martin Luther, toe hy tot bekering gekom het, dit as sy eerste taak gesien het om die Bybel in Duits, die gewone mens se taal, te vertaal. Almal moes die Bybel in hul eie taal kon lees – sodat hulle kan glo dat Jesus die Here is!

2 Tim 3:16 “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam sodat die mens wat aan God behoort bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.” (BDV)

Dankie Here, dat u Gees vir ons die Bybel gee - in hierdie deurmekaar wêreld! 

                                                                     * * *
Quintus Heine is sedert 2015 die Bybelgenootskap van SA se streekhoof: Wes-Kaap, nadat hy in 2011 as organiserende sekretaris van die Wes-Kaap streek van die Bybelgenootskap van SA aangestel is. Hy was voorheen in Pionierspark, Sonlandpark, Falcon Ridge, Prince Alfred's Hamlet en Parke-gemeente in die bediening. Quintus is ook die aktuarius (kenner van die kerkreg) van die Sinode van Wes-Kaapland. Belangstellendes kan hom kontak by heine@biblesociety.co.za.
Mag een en almal 'n naweek vol vrede - en vriendelike woorde - geniet.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za