Lees deur internet, klik hier >>
4 Augustus 2017
kommunikasie@kaapkerk.co.za

Beste Leser
The Church exists by mission, just as a fire exists by burning. - Emil Brunner 
SINODENUUS
1. Susters en broers in Christus
Nelis Janse Van Rensburg (voorsitter van die moderamen, Sinode Wes-Kaapland), Jan Grobbelaar (mede-voorsitter, Diensgroep Getuienisaksie) en Kobus Odendaal (bestuurder, Diensgroep Getuienisaksie) was op Woensdag 2 Aug in gesprek met broer Peter Azuana (algemene sekretaris/skriba van ons susterkerk in Nigerië, die NKST) wat tans in Suid-Afrika op besoek is.
Daar is veral gesels oor die stand van die NKST, die effek van Boko Haram op hul gemeenskappe, en hoe ons mekaar as kerke kan ondersteun en versterk. Die NKST is ook aangemoedig om meer nagraadse teologiese studente na die Universiteit van Stellenbosch te stuur, sodat ons mekaar as kerke wedersyds kan inspireer. Kontak Kobus Odendaal by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
Nelis JvRensburg, Peter Azuana, Jan Grobbelaar, Kobus Odendaal
Vlnr Nelis Janse van Rensburg, Peter Azuana, Jan Grobbelaar, Kobus Odendaal
1.1 Het jy geweet?
Die NKST is 'n onafhanklike kerk en het ontstaan agv sendingwerk wat in 1909 deur ds George Botha (wyle dr Johan Botha van Getuienisaksie se oupa) in Nigerië begin is. Hulle was in die 1970’s die vinnig-groeiendste kerk ter wêreld en bestaan vandag uit ongeveer een miljoen mense.   
1.2. Ons behoort aan een groot familie in Afrika
Dit was ’n aangrypende gesig om te sien hoe kerkleiers uit dertien verskillende kerke in Afrika mekaar omarm met hul blye weersiens tydens die Reformed Family Forum-vergadering op Benoni die afgelope naweek. Óns kerk se mense – wat meer as sewe miljoen lede in Afrika verteenwoordig! Lees meer
RFF Benoni Julie 2017
Verteenwoordigers van 13 kerke in Afrika tydens die Reformed Family Forum-vergadering
Benoni, 28-30 Julie 2017
Barmhartigheidsmaand
2. Barmhartigheidsmaand!
Beide die NG en die VG Kerk staan in ’n tradisie waarin diens van barmhartig-heid (diakonale diens) as onontbeerlike deel van die kerk se opdrag beskou word.
Die maatskaplike diensprogramme van die kerk verteenwoordig ook 'n lang geskiedenis van omgee en sorg aan mense in nood.
Hierdie maand fokus VrydagNuus graag met ’n weeklikse rubriek op dié aktuele tema. Predikante en gemeentes kan onder meer uitsien na 'n spesiale pakket met praktiese riglyne en meer met die oog op Barmhartigheidsondag (27 Augustus), soos saamgestel deur ons kollegas van Badisa en Diaconia.
Willie vd Merwe
2.1 Diakonaat deel van missionale kerkwees
"Wanneer diakonaat in die dampkring van God se missie verstaan word, skuif die fokus van die kerk se diakonaat na die herstel van God Drie-enig se heerskappy in die wêreld. Missionale diakonaat behels dan dat die verskillende gestaltes van die kerk as verteenwoordigers van God betrokke raak by die voorkoming en bestryding van lyding." So skryf Willie van der Merwe oor die diakonaat van die kerk as deel van missionale kerkwees. Lees gerus hier verder.
Eugene de Vis
2.2 Badisa verander gemeenskappe
Badisa bereik jaarliks meer as 700 000 mense deur 'n verskeidenheid dienste. Die kern van hulle dienslewering is die werk van 160 maatskaplike werkers, toegewyde hulpwerkers en gemeenskapsontwikkelaars sowel as meer as 2000 ander vrywilligers. Merkwaardig!
Enigeen wat nou nog meen "die kerk" doen te min, kan gerus hierdie twee verhale lees, een oor die "uitkyktannies" van Kuilsrivier en die ander oor Thys de Coning, agent vir verandering.
Nog iets om wyd te deel: Eugene de Vis (foto), gemeenskapsontwikkelingswerker by Badisa Kuilsrivier, vertel sy werk is om mense te bemagtig. Hy glo een persoon kan 'n gesin verander, 'n gesin kan 'n gemeenskap verander en 'n gemeenskap kan 'n land verander. Luister gerus na sy inspirerende getuienis - klik hier vir die video.
Logo
3. Sentrum Publieke Getuienis: Evangelisasiegesprek
Stel jy belang in 'n gesprek oor evangelisasie? 
Kan, mag en moet ons nog oor die Evangelie van Christus in ’n sekulêre staat praat?
Op Woensdag 23 Augustus van 10:00 tot 12:00 vind daar ’n rondetafelgesprek oor evangelisasie plaas by die sinodale kantore (De Langestraat 5, Bellville). Bywoning is gratis.
As basis vir die gesprek sal die Lausanne Covenant en die verklaring van die Lausanne 2010-konferensie in Kaapstad gebruik word. Belangstellendes kan vir Danelle kontak by 021 957 7202 of spg@kaapkerk.co.za.Vir meer inligting klik hier.
Nicola
 4. Diaconia se SmartStart-sterre skitter!
Ons is baie trots op die sukses van die Diensgroep Diaconia se SmartStart-projek! Tydens 'n onlangse glansgeleentheid is twee gesogte toekennings deur SmartStart se HUB, Grace Matlhape, aan Diaconia toegeken.
Die sg "Rising Star"-toekenning gaan aan die franchisor oor wie die organisasie besonder opgewonde is tov ontwikkeling en vooruitsigte om die saak van vroeëkindontwikkeling dinamies verder te neem. Die wenner? Diaconia!
Die tweede toekenning, die "Special Star Award", is aan ons inspirerende kollega, Nicola Vermeulen, toegeken vir haar insette rondom innoverende programontwikkeling. Nioma Venter (PSD: Diaconia) vertel meer. Ons vier hierdie erkenning van jul entoesiasme en harde werk saam met julle, Diaconia! 
Logo
5. GRATIS! Pakket met preeksketse en kindermateriaal
Faani Engelbrecht (FLAM) laat weet dat die NOUS-span een week se pakket gratis vir alle predikante en gemeentes aanbied.
Die week fokus op Rom 10:5-15: daar is eksegetiese opmerkings, preekvoorstelle en illustrasies, PowerPoint-voorstelle, liedvoorstelle, ’n familie-moment en twee poppe-"clips” (een fokus op kleiner kinders en een op groter kinders). Lees hier verder en maak gerus gebruik van dié lekker aanbod!
SA vingerafdruk
6. VBO: Loop saam, onderweg na menswaardigheid
Die volgende VBO-kursus vind plaas op 23-24 Augustus by Communitas:
Loop Saam – aangebied deur Hannes Theron en Collin Goeiman.
Wat 'n voorreg om in 'n land soos Suid-Afrika te leef met 'n verskeidenheid van kulture en tale. Tog beleef ons hoe mense verby mekaar leef, wanpersepsies oor mekaar het en mekaar glad nie ken nie. 
Hierdie kursus, of eerder proses, glo hulle, sal bydra tot die herstel van die menswaardigheid van ons land se mense. Hulle wil 'n kultuur skep waarin ons in mekaar se skoene gaan staan en nie oor mekaar praat nie, maar met mekaar. 
Vir meer inligting, kontak Wilma by 021 808 3624/ wler@sun.ac.za.
7. Western Cape Religious Leaders Forum - vir ekumene
Richard Holloway, lid van die Sinodale Taakspan vir Ekumene en ons koördinering-span, skryf: “Die Western Cape Religious Leaders Forum het weer op Donderdag 20 Julie vergader.
Dit is 'n forum waar verteenwoordigers van verskeie geloofsgemeenskappe vergader met die oog op gemeenskaplike sake. Sake wat hanteer is, sluit in die onlangse hofsaak teen die ontwikkeling van kernkragsentrales, 'n Vrouedag-byeenkoms in die St Georges katedraal teen gendergeweld en ondersteuning vir die geheime stemming teen die president. Die watertekort in die Wes-Kaap en die onlangse brande het ook aandag geniet.
Op die foto onder is verteenwoordigers van die Rooms-Katolieke kerk, die NG Kerk, die Metodiste, Anglikane, die Joodse, Hindu- en die Moslem-gemeenskap, asook verteenwoordigers van die Baha’i en die Kwakers-gemeenskappe.
Groepfoto
8. Murray-nasate besoek kerkargief
Op 2 Augustus het byna 30 Murray-nasate (ook bekend as die “Murray Cousins”) die argief besoek. Hulle is veral geïnteresseerd in die totstandkoming van die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington, ’n projek waaroor Willie van der Merwe inligting verskaf het. Isabel Murray, argiefbeampte, kon allerlei inligting deel oor die dokumente en argivalia van die groter Murray-clan wat daar bewaar word, met ’n spesiale “Murray-nasaat” uitstalling op die koop toe.
Tydens ’n vorige samekoms is onderstaande groepfoto geneem. (Kyk gerus mooi – jy sal dalk verbaas wees om ’n hele paar bekendes daar raak te sien!) Die volgende byeenkoms word beplan vir 25-26 Augustus in Pretoria – en is oop vir nie net die “vleeslike” nasate van die Murrays nie, maar veral ook vir diegene wat ’n “geestelike” konneksie met dr Andrew Murray het.
Vir meer inligting en Woensdag se foto's, klik hier!
Murray clan
Voor van links na regs: Marianna De Jager, Else Fouche, Wena van Wyk, Carol van Wyk, Murray van Wyk, Francois Carr, Stephan du Toit, Hester Combrinck, Elizabeth du Toit, Hardus Vosloo, Hardus Vosloo Jnr.
Middel: Leon Louw, Attie van Wyk, Lizette Bissett, Derek Bissett, Charles Robertson, Susan, Andree-Jeanne Totemeyer, Marieke Brand, Isabel Murray, Cecile Louw, Sanri Vosloo.
Agter: Rita Robertson, Isabel Murray, Kleinjan du Toit, Kerneels Combrinck.
Logo
9. NG Kerk Skittervroue by Kovsiekerk
Aangeheg die inskrywingsvorm vir bywoning van die Skittervroue-konferensie op 8-9 September 2017 by die Kovsiekerk in Bloemfontein. 
Die spreker is die bekende Jannie le Roux (NG Gordonsbaai) oor die tema “Die Wonder-werk van Vreugde!” Meer oor die byeenkoms is hier en besoek hulle Facebook vir meer inligting. 
Ds Enslin
ALGEMEEN
1. Met medelye

1.1 Ds Gerrie (GSM) Enslin (04.11.1932 - 28.07.2017)
Ons betuig graag ons opregte medelye aan die familie van ds Gerrie (GSM) Enslin, wat op Vrydag 28 Julie in Moorreesburg oorlede is. Hy was predikant in Keetmanshoop (1978 - 1984) en in Moorreesburg (1984 - 1998), maar dien ook as saakgelastigde en sekretaris van die SKDB in die destydse SWA gedurende 1981. 
Ds Enslin se drie seuns, Ensie, Johan en Gerhard is na verneem word ook aldrie op verskillende plekke in die bediening - voorwaar 'n uitsonderlike geval. Ons dink aan mevrou Jolene Enslin en die ander kinders, sowel as die uitgebreide familie in hierdie tyd.
Klik hier om te lees hoe Roy Thorne, kollega in Moorreesburg, skryf. 'n Begrafnisdiens word op Vr 4 Aug  om 11:00 in die NG Gemeente Moorreesburg gehou.
1.2 Jeandré Boll (24.06.1991- 27.07.2017)
Ons deel in die groot verlies van Ferdi Boll en sy familie: sy vrou, Jeandré, is op 27 Julie aan kanker oorlede. Mag die getuienis van die spesiale pad wat die NG Gemeente Blanco met Ferdi en Jeandré deur haar siekte kon stap, aanhou om 'n boodskap van hoop uit te dra. 
'n Viering van Jeandré se lewe het op Woensdag 2 Augustus in George by Blancogemeente plaasgevind, met 'n verdere "celebration" (soos Jeandré dit gereël het en wou hê) op Sa 5 Aug om 10:00 by De Eike Gastehuis in Rawsonville.

Jeandre Boll Ferdi en Jeandre Boll
2. Hugenote Kollege
Nuwe Gemeenskapspionierkursus!

Hugenote Kollege het aan die begin van 2017 ’n nuwe fase betree met ’n kursus vir die leiers (pioniers) betrokke by die ontwikkeling en die vestiging van nuwe geloofsgemeenskappe.
Die kursus, gemik op gewone lidmate wat voltyds werk, maar by die ontwikkeling van nuwe geloofsgemeenskappe betrokke wil wees, bied die basiese kennis en vaardighede om binne spanverband uit te reik na nie-Christene en buitekerklikes, hulle op ’n kultuursensitiewe wyse aan die evangelie bloot te stel en deel te maak van ’n dissipelmakende geloofsgemeenskap.
As jy belangstel om die kursus te volg, sal onderstaande video waarin Ryk van Velden met drie studente gesels, goeie agtergrond bied. Doen nou reeds aansoek - skakel 021 873 1181. Lees die mediaverklaring hier.
Hugenote Kollege - Nuwe Geloofsgemeenskapkursus
3. Oor ekumene nagedink
3.1 Ek glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk

Is jy effe in die duister oor wat presies “ekumene” beteken en wonder jy waarom ons hoegenaamd hiermee gemoeid moet wees?
Dalk wil jy oorweeg om tyd te maak om te lees hoe in e-Kerkbode hieroor berig word. In die redaksionele kommentaar word ons herinner aan die artikel uit die Apostoliese Geloofsbelydenis wat lui "Ek glo aan ’n heilige, algemene Christelike kerk ..." Deel van die NG Kerk se identiteit. Klik hier.

Ekumene
3.2 WGGK en ekumene, eenheid, getuienis
As terugblik op die onlangse Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) se Algemene Vergadering in Duitsland, skryf Nelus Niemandt: “Daar is baie gedoen om die teologie van ekumene en eenheid te versterk. Die besprekings hieroor het gebou op die Ryk van God en hoe dit die beste gedien word as die noue band tussen eenheid en geregtigheid vasgehou word. Lees verder ...
Nelis Janse van Rensburg voeg in sy nadenke oor die WGGK by dat "dit getuig van ’n groeiende besef dat gelowiges mekaar nodig het. Dit getuig van die wêreldkerk se erns met sy getuienis. Eenheid en getuienis het immers alles met mekaar te doen.” Klik hier.
eKerkbode gee ook Johan vd Merwe (aktuarius van die NG Algemene Sinode) se blik op die belang van die ondertekening van die ekumeniese verklaring. Ons behoort deeglik hiervan kennis te neem. (Met erkenning aan eKerkbode)
Nelis en Nelus
Trauma
4. Pastorale beradingskursus: Traumabande
Hierdie inligting is spesifiek gerig op ons lesers vanuit die Noord-Kaapland. Wentzel Coetzer stuur inligting oor ’n VBO-geakkrediteerde kursus wat handel oor ongesonde verbintenisse met destruktiewe persone. Dit vind plaas op Saterdag 9 September in Potchefstroom en meer inligting is hier.
Johann Mostert en Gert Kok
5. Gert getuig: God voorsien!
Predikante vertel van uiteenlopende paaie voordat hulle in die bediening beland. Vir sommige is dié roeping ’n uitgemaakte saak, terwyl ander eers ander draaie loop voordat hulle teologie studeer. Van Gert Kok (regs op die foto), sedert 2015 in Eendekuil en voorheen in verskillende gemeentes in KwaZulu-Natal, ontvang ons ’n mooi getuienis hoe die Here deur die ondersteuning van dr Johann Mostert, ’n mediese dokter in die Kalahari, sy roeping om predikant te word laat realiseer het. Klik hier.
Het jy ook so ’n getuienis van iemand wat jou pad in die bediening moontlik gemaak het? Laat hoor gerus van jou en onthou ’n foto!
St Thomas kerkgebou
6. Raakgelees: 
6.1 Hoop vir klein gemeentes
“Klein gemeentes worstel met eiesoortige uitdagings en sukkel dikwels om ’n gesonde identiteit te vestig en handhaaf. ’n Verhaal van ’n klein gemeente in Wyoming in die VSA bied insiggewende perspektief op die impak van ’n klein gemeente op hulle gemeenskap. Hoewel die denominasie en konteks verskil, is sekere beginsels universeel geldig.
Let ook op die vrae wat onderaan gestel word; dit kan as basis vir toerustingsgeleenthede en strategiese beplanning dien.” Klik hier. (Met dank aan die Hervormde Kerk se "Blitspos" van 27 Julie.)
EKerk-tendens Kleurblind
6. Raakgelees: 
6.2 Kleurblind - Rasseverhoudinge in SA
In nog een van hulle baie aktuele tendensverslae gee Ekerk 'n Christelike perspektief op die stand van rasseverhoudinge in SA. 
"Ons is Jesus-volgelinge wat onsself bevind in 'n land met uiterste etniese en rassediversiteit. Met die verslag wil Ekerk voorstelle doen hoe ons as Jesus-gemeenskap hieroor moet nadink en veral moet reageer op die huidige perspektief van spanning, geweld en misdaad. Kry dit gratis hier.
GEMEENTENUUS
1. NG Clanwilliam vakansie-uitreik

Nico Lochner, jeugwerker by NG Clanwilliam, vertel hoe leerders van Augsburg Landbougimnasium gedurende die wintervakansie deel was van 'n uitreik na Wupperthal. Hulle het saam met die plaaslike Morawiese Kerk se konfirmande (belydenisklas) die kinders van die gemeenskap bedien. Die kinderbediening het gefokus op hoe die kinders moet saamwerk om Jesus se liefde uit te leef deur Joh 13:35 in gedagte te hou: "As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is." Lees hier meer.
Groepfoto
Agter vlnr: Conrad Kluyts, Lara Strydom en Elzette van Schalkwyk; middel: Esther-Ané Kluyts en Julanda Theron en
voor Nico Lochner
Durbanville-Bergsig Kruis/Kuns
NG Durbanville-Bergsig 
Durbanville-Bergsig Evite
Kuns- en Kruisbyeenkoms 18 Aug
40 Dae toepassing - NG Ceres
3. NG Gemeente Ceres: 40 Dae met Reformasie
Ceres Moedergemeente se feesviering van die 500- jarige herdenking van die Reformasie bereik vanaf Maandag 7 Augustus 'n besondere hoogtepunt!
Hulle het in aansluiting by hul jaartema aan die begin van die jaar vir hul lidmate gevra vir hul geliefde Bybeltekste. Die ongeveer 40 gewildste tekste is verwerk in 'n 40 Dae-Bybelleesprogram met 'n dagstukkie vir elke dag.
Die boekie is via hulle Facebook, die Bible-app en by die kerkkantoor beskikbaar.
Enigeen wat dalk 'n bepaalde verbintenis met Ceres het, is welkom om hierby in te skakel, nooi Pierre Marais.
Lees hier verder.
Besoek NG Ceres se Facebook - klik hier.
4. NG Merweville Dankfeesnuus 2017/2018
Neem kennis! NG Merweville se volgende dankfees is 27-29 April 2018. Gesoute feesgangers weet dat vooraf bespreking noodsaaklik is! Kontak die kerkkantoor se Esther Fourie by 023 501 4061 en maak nou reeds 'n nota van hierdie datum - so nie, mis jy een van die lekkerste Karoo-geleenthede van 2018!
Terloops, vanjaar het Merweville so in die omgewing van R702 000 as netto wins gemaak. Hulle loof en dank die Here vir soveel genade en is dankbaar teenoor elke getroue ondersteuner vanoor die hele land! Hier is Esther se
brief met nog foto's.
Dankfeesfoto's
Bereken waterverbruik
EKOLOGIE
1.1 Hoeveel water gebruik JY?
Sedert vlak 4B-waterbeperkings aan die begin van Julie in die Kaap-omgewing van krag geword het, hoor verbruikers gereeld dat hulle minder as 87 liter water per dag moet gebruik. Maar hoe weet jy hoeveel jy gebruik? Klik hier om vinnig en maklik self die som te maak.
1.2 Planne? Voorstelle?
Vir mense in dele van SA waar daar genoeg water is, is dit dalk vervelig om telkens van die voortdurende droogte te lees, maar vir die gebiede wat die skaarste ondervind, bly dit 'n ongemaklike en kommerwekkende realiteit. 'n Ligpunt is dat Stad Kaapstad, na aanleiding van hulle RFI (Request for Information/Ideas)-proses, meer as 100 voorstelle uit die privaatsektor ontvang het wat ondersoek kan word om die waterprobleem aan te spreek. Lees hier meer.
Gebed en ekologie
2. Ekologiese-omgee het alles met gebed te doen
"Ons in die Protestantse tradisie (veral Gereformeerdes) het die Benedikteinse lewensreël, Ora et Labora (Bid en werk), oorgeneem en ons eie gemaak. Ongelukkig het ons dit in die proses ook skeef getrek en vermink.  Sodoende het ons bygedra tot die ekologiese krisis waarin die wêreld nou gedompel is. Ons kan egter leer uit ons foute." Aldus David Botha (Eko-taakspan). Lees hier verder.
Geen petrol
3. Franse Revolusie mbt voertuigbedryf
Kort op die hakke van die nuus dat pres Donald Trump die VSA op 1 Junie aan die Parys-klimaatooreenkoms onttrek het, volg verblydende nuus uit Frankryk.
In 'n aankondiging deur Nicholas Hulot, die nuwe Franse minister van Omgewingsake, word Frankryk en die nuutverkose pres Emmanuel Macron se ernstige verbintenis tot die omgewing onderstreep. Hulot, 'n veteraan omgewingskampvegter, het aangekondig dat Frankryk beoog om die verkoop van alle petrol- en dieselaangedrewe voertuie teen 2040 te staak. Frankryk is die tuiste van Europa se tweedegrootste motorbedryf en domineer die mark van elektriese voertuie. Lees meer hier. Bron: www.pri.org.

BEHOU DIE HUMOR
Humor
Richard Harvey
NUUSBRIEWE
Was Luther anti-semities?
In September 2017 besoek Richard Harvey, bekende Messiaans-Joodse teoloog, die Kaap. Hy lei 'n seminaar, gereël deur die Lausanne Consultation for Jewish Evangelism (LCJE) op Vrydag 1 September om 10:00 oor "Luther & Antisemitism" in die Gardens Presbiteriaanse Kerk. Verder tree hy Vrydagaand 1 September op by Beit Ariel Messiaans-Joodse gemeente en lei Saterdag 2 September 'n Yeshiva oor "Messianic Jewish Theology".
Vir bespreking en navrae, kontak Cecilia Burger by sel 083 232 0628 of per e-pos by simchaministry@gmail.com. Lees gerus 'n uittreksel uit die jongste L'Chaim-nuusbrief van Simcha Bediening aan Jode hier.
REFO 500
PUBLIKASIES
1.1 CLF: REFO 500-pamfletreeks en meer
CLF Reformasie 500-pamflette word maandeliks gratis beskikbaar gestel in Afrikaans en Engels, so hou gerus ook Engelssprekende buurgemeentes en ander denominasies in jul omgewing in gedagte en seën hulle met 'n bestelling pamflette. Hierdie pamflet-onderwerpe word ook maandeliks op CLF se gratis slimfoon toep (App) gelaai, indien jy verkies om dit elektronies aan jou gemeentelede of belangstellendes beskikbaar te stel. Augustus se tema is "Vrygemaak".

Lees ook hoe CLF se materiaal handig te pas kom as jy by die jeug in jou omgewing betrokke wil raak. Hier is meer.
1.2 WEN vir Vrouemaand met CLF!
Christelike Lektuurfonds (CLF) het onlangs 'n pragboek oor die rol van vroue in sending, Die Hart van God, uitgegee en wil graag drie vroue met hierdie boek seën.
Om in aanmerking te kom om 'n kopie van hierdie boek te wen, deel met ons die storie van 'n hedendaagse vrou wat onbaatsugtig en sonder om eer te ontvang, God se liefde aan ander uitleef. Aangeheg is meer; reageer voor 31 Augustus.
CLF-materiaal
KUIERKANS
Klik onder vir meer inligting - en ondersteun gerus!

Kuierkans 4 Aug
Kerkbode-logo
VAKATURES
Vakatures op e-Kerkbode

Vakatures in ons NG Kerk-familie vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via e-Kerkbode elektronies versprei. Klik hier vir die jongste vakatures. Die volgende uitgawe van Kerkbode verskyn op 11 Augustus 2017.
Logo
Badisa
1. Toevlugsentrum vir substansafhanklikheid

Toevlug, Badisa se sentrum vir alkohol- en dwelmafhanklikheid in Worcester, stuur inligting oor twee vakatures. Gemotiveerde en dinamiese persone kan aansoek doen om ’n vakature as arbeidsterapeut vir hulle jeugprogram, sowel as kinder- en jeugsorgwerker. Die sluitingsdatum is 11 Augustus. Lees hier meer.
2. Badisa
2.1 Breedevallei: Maatskaplike werker

Badisa Maatskaplike Dienste, Breedevallei (Rawsonville) wag aansoeke in vir 'n 8/8 maatskaplike werker. Die posvereistes en meer inligting is hier. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 18 Augustus. 
2.2 Koue Bokkeveld (Op-die-Berg-Witzenberg): Maatskaplike werker
By hierdie program van Badisa is ook 'n vakature vir 'n 8/8 maatskaplike werker, wat diens op 2 Oktober moet aanvaar. Lees meer en reageer voor 18 Augustus.

Sieg Louw
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Siegfried Louw

Veerkragtigheid: Op die wipmat van speel en openheid
Wys vir kinders iets interessant en hulle vergeet sommer wat pla. Grootmense het ook hierdie vermoë: om nie op pyn gefokus te bly nie, maar om te blaai na ʼn nuwe hoofstuk.

Veerkragtigheid is iets wat my na die lewe terugbring - om met energie terug te bons na teleurstelling. Twee goed help my hiermee: Openheid en speelsheid. Openheid is een van die sogenaamde “Big Five” van persoonlikheid. Dit stel jou in staat om uit elke ervaring te leer. Dit nooi jou om te onderskei wat God doen en weg te draai van jouself.

Speelsheid help my om nie myself te ernstig te vat nie. Ek kan met ligtheid teenwoordig wees. En as ek weer sien, het ek teruggebons na die lewe.

Klaagl 3:23 "(God se liefde en ontferming) is elke môre nuut."

                                                                      ***

Siegfried is tans leraar by Proteahoogte in Brackenfell. Sy eerste gemeente was Ottery en daarna was hy vir agt jaar in Mosselbaai gemeente. Kontak hom by siegfried@proteahoogte.co.za.
“Vulnerability is the birthplace of innovation, creativity and change.” 
Brené Brown 
Vriendelike groete

Marieta Visagie en Salomi Steenkamp
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.