Lees deur internet, klik hier >>
17 Maart 2017
kommunikasie@kaapkerk.co.za

Beste Leser

"Forgiveness is the greatest healer."   ~ M Williamson
SINODENUUS
1. Seisoen van Menswaardigheid
Die taakspan van die Seisoen van Menswaardigheid het vandeeseek hulle jaarlikse vergadering by Le Chateau in Kempton Park gehad. Die klem het geval op 'n terugskouing op die werk in die verskillende sinodes van die vier susterkerke, 'n gefasiliteerde gesprek oor seksualiteit (met dr Kobus Gerber as fasiliteerder) en opleiding in oor-grens vriendskappe deur ds Collin Goeiman. Die nuwe pamflette-reeks deur CLF oor die temas van die Seisoen van Menswaardigheid is met groot entoesiasme in ontvangs geneem.
Seisoen van Menswaardigheid-taakspan
Agter: Victor Pillay, Barnard Steyn, Andries Hoffman, Rudolph Scharneck,
Collin Goeiman, Anton Mieny, Pule Sejake, Evert Bergh
Voor: Elizabeth Pico, Elize Morkel, Barnarbas Ngqozela, Tshedi Masiki,
Rethie van Niekerk, Meshack Sibeko 
1.1 Menswaardigheid - Human Dignity
Die tema van menswaardigheid vleg soos 'n goue draad deur hierdie VrydagNuus - en met reg ook, as een van die Sinode van Wes-Kaapland se fokusareas. Let gerus daarop soos jy lees. Dalk wil jy nadink hoe jy in hierdie Lydenstyd iemand se menswaardigheid op 'n persoonlike vlak kan erken en uitbou.
2. #imagine Experience 2017
Ons vra graag voorbidding vir hierdie naweek se #imagine experience, wat van 18-20 Maart by Bredasdorp plaasvind. Met soveel jongmense wat van oral vervoer word, en soveel voorbereidings wat reeds getref is, is ons gebed dat elkeen wat betrokke is, die Here se hand van sorg en voorsiening op 'n besondere wyse sal ervaar. Dankie vir elkeen wat hierdie (en die twee ander byeenkomste) aan die Here opdra. Seën aan Anriëtte de Ridder en elke spanlid!
#imagine You Version App
Download the Youversion app and follow this https://www.bible.com/events/186095 to get to the #imagine experience event. Make sure to save the event to receive all information
Imagine laat registrasies
Hoewel aanlyn registrasies vir die naweek se #imagine experience gesluit het, is kaartjies steeds beskikbaar by suide@imaginemovement.co.za.
Borg iemand of kry joune nou!
3. Algemene Taakspan Argief byeen
Die Algmene Taakspan Argief (ATA) se vergadering het op 14 en 15 Maart by die Argief op Stellenbosch plaasgevind. Saam met hulle vergader verteenwoordigers van die NG Kerk-sinodes en ander kerkargiewe. Lees meer hier.
ATA
Op die bostaande foto verskyn van links na regs:
Francois Muller (Geref Kerk in SA en professor in Kerkgeskiedenis, NWU); Bertus Koorts (Gesamentlike Sinodale Kommissie van die NGK van Transvaal en voorsitter van ATA); Adriaan de Ruiter (NGK Argief, Bloemfontein); Nándor Sarkady (Neder-duitsche Hervormde Kerk van Afrika); Clem Marais (NGK Sinode van Namibië en NGK Argief, Windhoek); Elize de Villiers (NGK Argief, Pietermaritzburg); Gideon du Toit (NGK Oostelike Sinode); Mandi Prinsloo (Evangelies Gereformeerde Kerk in SA); Bossie Minnaar (Inligtingsbeampte); Liesl Rabie (Hoofbeampte, NGK in SA Argief, Stellenbosch); Ralph du Toit (Christelike Gereformeerde Kerk); Lee Greyling (Afrikaanse Protestantse Kerk); Barry Tolmay (NGK Kwazulu-Natal Sinode); Nico Dicks (NGK Vrystaat Sinode). Retief Müller (kundige lid, US) en Lysander Prins (VGKSA) was ongelukkig nie teenwoordig toe die foto geneem is nie. 
3.1 Versoek aan Huweliksbevestigers
Van die ATA se kant word 'n beroep op predikante wat huwelike bevestig, gedoen om afskrifte van die huweliksregister by die betrokke kerkargief in te lewer. Die ervaring is dat lidmate wat na jare 'n bewys van die huwelik soek, dit problematies vind om so 'n bewys te bekom. Dit is hier waar die kerkargief 'n waardevolle diens kan lewer. Dink net: as die predikant wat destyds die huwelik bevestig het, intussen verhuis (of gesterf) het, raak dit 'n uitdaging.
Daarom die vriendelike versoek: e-pos asb na elke troue 'n duidelike afskrif van die huweliksregister aan die toepaslike kerkargief. Amptelike kommunikasie hieroor volg binnekort, laat weet Bossie Minnaar (Inligtingsbeampte van die Kerkargief).
Nelis Janse van Rensburg en Albie Sachs
4. Openbare Getuienis in Kollig
Die NG Algemene Sinode neem aktief deel aan gesprekke met statutêre liggame en regeringslui oor 'n verskeidenheid aktuele kwessies, dikwels saam met ekumeniese liggame soos die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK). Daar is egter ook geleenthede waar die Kerk sy eie stem enkelvoudig wil laat hoor. 
Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Algemene Sinode, en Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen, het op 14 Maart twee baie suksesvolle besoeke gebring aan onderskeidelik regter Albie Sachs en adjunk-minister John Jeffery (Justisie). Die gesprek het oa gehandel oor konstitusionele aangeleenthede soos die voorgestelde wetgewing wat haatspraak wil kriminaliseer. Lees gerus hier meer.
Grondhervorming
4.1 Kerk en Grondhervorming
"Dis ’n gepaste tyd vir die kerk om betrokke te raak by die grondher-vormingsproses, meen Nelis Janse van Rensburg, voorsitter, NG Kerk Algemene Sinode Moderamen (ASM).
Hy was op Woensdag 15 Maart een van die sprekers tydens ’n gesprek oor alternatiewe vorme van grond-eienaar-skap wat deur die Catholic Parliamentary Liaison Office (CPLO) in Kaapstad aangebied is. 'Kerke moet veilige ruimtes skep vir die gesprekke wat nodig is oor grondhervorming,'" het hy gesê. Netwerk24 se berig is hier. (Met dank oorgeneem.)
Pierre Goosen
5. NG Sinode van Wes-Kaapland Moderamen
5.1 Pierre oor Predikantebegeleiding

Pierre Goosen* (PSD: Predikantebegeleiding) het tydens die moderamenvergadering van 7-8 Maart 2017 by Vredelust oor die begeleiding en welstand van ons predikante gesels.
Hy merk onder meer op: "Die vraag vir predikante is na my mening in hoe 'n mate hulle daarin slaag om werklik hulle roeping as veranderingsagente, wat gemeentes kan lei en begelei tot groter missionaliteit, uit te leef. Wat soos en saam met ander dienende geestelike leiers in die gemeentes en gemeenskappe mense kan toerus en bemagtig op die pad van groter missionaliteit.” Lees hier meer.
*Pierre tree DV op 31 Mei 2017 af; dit was sy laaste moderamenvergadering.
SGV
5.2 Moderamen besin oor Selfdegeslagverhoudings
Die moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland is bewus van uiteenlopende standpunte van gemeentes en lidmate tov die debat oor selfdegeslagverhoudings. Die moderamen is ook sensitief vir die gevoelens van mense wat op watter wyse ook al deur besluite hieroor ontwrig word. In die voortgaande gesprek sal die uiteenlopende standpunte gerespekteer word en sal daar nie van gemeentes verwag word om standpunte in te neem en reëlings te tref waarvan die Heilige Gees hulle nie oortuig het nie. Dit geld vir gemeentes aan beide kante van die gesprek. In die lig hiervan het die moderamen (wat op 7 en 8 Maart vergader het) die volgende besluit geneem: lees hier.
Moderamen Maart 2017
Moderamen - Maart 2017, Vredelust
Veiligheidsgesprek
6. Sentrum vir Publieke Getuienis
6.1 Die Veiligheidsituasie in SA –
Hoe lyk die Toekoms?

Die SPG berei tans 'n verslag voor vir die Instituut vir Toekomsnavorsing oor die veiligheidsituasie in SA. Daar word gekyk na internasionale en plaaslike verwikke-linge asook moontlike scenario’s en modelle.
Op Woensdag 23 Maart 2017 van 10:00 – 12:00 word die voorlopige verslag by die sinodale kantore in Bellville bespreek.

Hierdie is 'n OOP gesprek en enigeen wat wil, kan kom insit, luister en deelneem. Daar is geen koste nie. Bevestig jou bywoning by Salomi by 021 957 7202 of spg@kaapkerk.co.za.

Kom luister na die groter prentjie en dink saam hoe dit jou gemeenskap plaaslik kan raak. Met ons fokus op publieke getuienis verwelkom ons so 'n aktuele geleentheid.
David Kinnaman
6.2 Verstaan Kerklos mense en Kerklike tendense
Die Sentrum vir Publieke Getuienis is bevoorreg om die volgende geleentheid bekend te stel: die bekende skrywer en president van die toonaangewende Amerikaanse Barna-navorsingsgroep, David Kinnaman tree op by in Harmonie, Franschhoek, op 19 Mei om 08:30 vir 09:00 tot 13:00. Hy gee waardevolle insigte oor kerklike tendense. In sy aandag aan faktore wat die lewenswyse van gelowiges beïnvloed, kyk hy na merkers wat vandag reeds vir kerke en andere ’n aanduiding van die toekoms gee. Twee VBO-punte word hieraan toegeken en die koste is R80 pp. Belangstellendes kan die kantoor by 021 957 7202 of spg@kaapkerk.co.za kontak of  hier klik om te registreer. Die program en meer oor die spreker is hier.
Communitas logo
7. Werkswinkel in Effektiewe Kommunikasie
Jy kan: 'n nog meer dinamiese prediker wees (en steeds getrou aan jouself bly); 'n nog beter instrument in die Here se hand op die preekstoel wees; mense boei sonder truuks of foefies. 
Die VBO-kantoor nooi: “Kom woon die Werkwinkel in Effektiewe Kommunikasie by wat plaasvind op 24-26 April by Communitas.”

Daar is plek vir slegs 12 persone
. Meer inligting is hier. Reageer voor 20 April.
8. VBO: Saamgedink oor Fokustekste in Lydenstyd
Hier is nuus oor ’n wonderlike nuwe diens vanuit die sinode se Taakspan vir Verdere Bedieningsontwikkeling (VBO). Hulle het onlangs begin met 'n ekumeniese groep wat saamgesels en -dink oor die fokusteks van die week. Dié informele gesprek word op You Tube beskikbaar gestel vir diegene wat dit as deel van hul eie nadenke vir die Lydenstyd wil benut. Drie video’s is reeds beskikbaar (onder) en in die eerste een gesels Marius Nel, Frederick Marais en Peet Bester byvoorbeeld om die tafel. Die volgende video’s sal telkens agt dae voor die betrokke Lydensondag gelaai word. Lees meer. 
Sondag 1 Sondag 2 Sondag 3
9. VrydagNuus-kompetisie! Wenners!
Hartlik geluk aan die twee wenners in die VrydagNuus-kompetisie wat na aanleiding van die uitgawe van 24 Februarie aangebied is. Die prys, met die vriendelike ondersteuning van Lux Verbi, is Ronell Bezuidenhout se jongste publikasie, 40 Dae tot Hoop. Douw Prinsloo van Doornpoort en Betsie Fourie van George, mag julle hier in die Lydenstyd besondere waarde uit hierdie boek put. (Betsie is die vriendelike skriba wat Pieter van Santen en George-Tuinedal se lewens verlig. Douw hardloop vanjaar sy vierde Comrades – en hy doen dit vanjaar saam met ’n dowe vriend vir Bybels.)
Nogmaals dankie aan almal wat ons kommunikasie ook deur deelname aan die kompetisie ondersteun. Volgende keer maak ons weer so!
Kompetisiewenners
Mochudi Samaritaan
10. Wandelende vergadering: Mossie notuleer!
Op 10 Maart 2017 het ’n skakelvergadering tussen taakspan Botswana (Noord-Kaapland) en die Dutch Reformed Church in Botswana (DRCB) by Mochudi in Botswana plaasgevind. Die vergadering het laat begin. Toe hulle uiteindelik begin, moes interne sake eers uitgeklaar word en het hulle verder gewag. ’n Gedeelte van dié lang wag het Mossie buitekant spandeer.
Enigeen met bande met Mochudi in Botswana sal dit geniet om te lees hoe hy al wandelende verslag doen oor die ou “sendingstasie”: die koshuise, Home Craft Centre, sloot, woonhuise, enjinkamer, sinodale kantoor, Town House en hospitaal.

US Fakulteit Teologie logo
ALGEMEEN
1. Faculty of Theology, US
Crying for Life: Reformation Today

As part of the worldwide commemoration of the 500th anniversary of the Reformation, the Faculty of Theology at Stellenbosch University, South Africa will host a conference on the theme “Crying for Life:  Reformation today.”
The conference will be held at the Faculty of Theology from 11-13 October 2017.  Speakers who have confirmed their participation include Michael Welker, Isabel Phiri, Pascal Batarinyaya, Dirkie Smit, Piet Naudé, John de Gruchy and Nadia Marais.  Read more.
Dr Carike Noeth en prof Dirkie Smit
2. US Gradeplegtigheid
Fakulteit Teologie skitter!

Tydens die Universiteit van Stellenbosch se Maart 2017-gradeplegtigheid vandees-week het die Fakulteit Teologie groot rede vir dankbare trots gehad toe verskeie studente se harde werk beloon is. Die diversiteit van soveel as nege verskillende nasionaliteite onder hulle dertien PhD-studente was rede vir spesiale vermelding!
Die volledige lys graduandi is hier - kyk gerus, jy sal 'n hele paar bekende name sien. Ons hartlike gelukwense aan elkeen! Op die foto regs is dr Carike Noeth saam met haar promotor, prof Dirkie Smit.
David Fergusson en Norman Hamilton
3. Stellenbosch-Glasgow Videokonferensie
Dealing with Conflict and Change

'n Video-konferensie vind op Vrydag 24 Maart tussen 12:00 en 17:00 (SA-tyd) plaas as deel van 'n gesamentlike Stellenbosch-Glasgow konferensiereeks.
Onder die sprekers is Stellenbosch se prof Dirkie Smit en dr Nadia Marais, met prof David Fergusson van Edinburgh en dr Norman Hamilton van die Presbyterian Church in Ireland ook aan die woord.
Die tema van die konferensie is "Reformed Communities in Changing Societies - Dealing with Conflict and Change."
Klik hier en kontak Helette van der Westhuizen by hvdwest@sun.ac.za of 021 808 9560.
ARNSA logo
4. ARNSA: Teen Rassisme
Die Anti-Racism Network South Africa (ARNSA) loods vanaf 14-21 Maart 'n teen-rassisme veldtog. Die hoogtepunt is 21 Maart, as ons Menseregtedag vier, maar die dag is ook "International Day for the Elimination of Racial Discrimination."
Alle Suid-Afrikaners word uitgedaag om rassisme aan te spreek op alle vlakke van die samelewing - in skole, die werkplek, in geloofsgemeenskappe en elders.

Ons as geloofsgemeenskappe kan meedoen hieraan deur 'n verenigde front teen rassisme in te neem. Individue word aangemoedig tot groter bewustheid van rassisme. Sien ook onder, met dank aan die Seisoen van Menswaardigheid-span.
4.1 Rassisme: hier is Hulp
Dink na hoe jy in jou omgewing en gemeente die #TakeOnRacism boodskap op 'n praktiese vlak gestalte kan gee.
Kyk gerus weer na die splinternuwe pamflet van die Seisoen van Menswaardigheid, waarin die aktuele tema van rassisme aangespreek word.
Klik hier vir Afrikaans en hier vir Engels.
5. 60 Sekonde Waarhede: Gebed
Dis Lydenstyd. Dalk sukkel jy, soos die meerderheid van ons, om af te skakel, rustiger te leef, die tyd te hê om te fokus op God. Jy kan oorweeg om vir twee minute te luister hoe Roelof Botha in die jongste 60 sekonde-waarhede video’s van ekerk oor gebed en gejaagdheid nadink. Klik op die gloeilamp vir die video.
6. Gender Unit Conference, Launch
Die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie se Gendereenheid is verbind tot die bevestiging van alle mense se menswaardigheid (ongeag gender, ras, klas, seksuele oriëntasie, geloof, fisiese of verstandelike vermoë) en 'n etos van 'n strewe na gender-geregtigheid en 'n getransformeerde gemeenskap.
Ons herinner: gaan sluit gerus by hulle konferensie oor CULTIVATING CHANGE AGENTS: MAINSTREAMING GENDER AND HEALTH IN AFRICA op 28 en 29 Maart by die Fakulteit Teologie, Dorpstraat 171, Stellenbosch aan. Kontak Marita Snyman: maritasnyman@sun.ac.za

RampUp
7. Hoe sigbaar is Gestremdes in die Kerk?
Een van ons sinode se fokusareas is menswaardigheid. ’n Ander is missionaliteit. Daarom is dit gepas om ook aandag te gee aan die belewing van gestremdes in ons eredienste. Ramp Up is 'n organisasie wat hulle beywer vir die verwelkoming van gestremdes in die kerk. Dit is mense wat maklik onsigbaar en fisies uitgesluit in die samelewing raak. Gesonde mense is nie bewus van die wyse waarop ander uitgesluit raak nie. Van 5-9 Junie word belangrike toerusting aangebied vir persone wat insluiting wil fasiliteer. Klik hier en reageer voor 19 Mei.
8. Sondagjoernaal: Aktuele temas oor Geloof
Sondagjoernaal is 'n godsdiens-leefstylprogram met die fokus op aktuele temas wat die geloof uitbeeld. Hierdie program, met die gesoute Lizelle de Bruin en Johan van Lill agter die mikrofoon (foto's onder), word Sondagoggende tussen 07:00 en 07:45 op RSG (100-104 FM) uitgesaai.
Dit is telkens goed om te hoor hoeveel van die NG Kerk-familie se verhale van hoop deur hierdie program verdere blootstelling geniet. 
Op Sondag 19 Maart word onder meer met Hans Steyn gesels oor die kerk se werk op die gebied van vroeë kindontwikkeling. Ons waardeer die ondersteuning van ons kommunikasie en getuienis, Sondagjoernaal!
Sondagjoernaal aanbieders
UP-hek
9. UP Fakulteit Teologie:
Oopmaak van die Hekke

Vir oud-Tukkies en andere wat belang-stel in die Eeufeesviering (met die tema “Oopmaak van die hekke”) van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria: die Wydingsdiens van 6 Maart is nou op You Tube beskikbaar. Klik hier. Die boodskap van die dekaan, prof Johan Buitendag, is hier te lees en 'n Teologie Eeufees-tydlyn hier
Immanuel van Tonder skryf soos volg oor die hekke:  "Deel van die eeufeesvieringe was die 'Oopmaak van die Hekke'. Hierdie hekke, wat destyds die hoofhekke van UP was, is nou permanent aangebring voor die Fakulteit Teologie. Wat dit besonders maak, is dat die hekke nie kan toemaak nie! Dis permanent oop vir almal en almal wat toegerus is, kan vry uitgaan om die wêreld te bedien".
NG Graaff-Reinet
10.1 Raakgelees ... Loof Hom met die Kerkklokke!
As simbool van ’n gemeenskaplike getuienis is die “Loof Hom met al die kerkklokke”-projek verlede week in Graaff-Reinet bekendgestel. Volgens Ben van Tonder, predikant in die NG Grootkerk (Moedergemeente) in die dorp, is dit ’n simbool van ’n gemeen-skap wat hande vat en reageer op die Here se roepstem. Vir hulle gemeente skakel die klokke se gelui soggens om 08:00 ook met die tyd in ons kerklike jaar wanneer ons vir 40 dae fokus op die lydenstyd. Hierdie is dalk 'n gedagte wat meer kerke in dorpe wil oorweeg as uitdrukking van ons gesamentlike getuienis en ekumene.
Generasie Y
10.2 Wat trek Millennials na Kerke?
In ’n artikel deur Frank Powell op faithit.com noem hy Generasie Y (die sg “Millennials”) se potensiaal om die wêreld ten goede te verander. Terself-dertyd is dit so dat baie kerke en (kerk)leiers pessimisties oor hierdie generasie is, dalk bloot omdat hulle Generasie Y nie altyd ewe goed ken of verstaan nie. Frank haal Winston Churchill aan en beskryf hulle as “a riddle wrapped in a mystery inside an enigma.” Wat is dit dus wat veroorsaak dat sommige kerkkulture Generasie Y aantrek, terwyl ander hulle afstoot?  Lees meer hier.
Forest man
10.3 The man who Made a Forest
Kollega Mossie Mostert (Noord-Kaapland eNuus) deel ’n besondere verhaal wat aansluit by die missionale aard en aktiwiteite van die kerk. Jadav Payeng, vertel hy, het eiehandig sedert 1979 begin om ’n woud groter as Central Park in New York in die noorde van Indië aan te plant. Hy was destyds geraak deur honderde slange wat weens ’n gebrek aan skaduwee in die son verskroei het en het besluit om self iets daaraan te doen. 
En vandag is hierdie woud onder meer die woonplek van olifante en Bengaalse tiers! “I never thought that my small initiative would make such a difference one day.” Lees hier meer.
Waar maak die kerk (jou gemeente!) ’n verskil? Hierdie verhaal is terselfdertyd stof tot nadenke in die lig van ons sinode se fokus op die ekologie. Dankie, Mossie!
You are not secondhand
GEMEENTENUUS
1. NG Gemeente Durbanville-Bergsig vier 35 Jaar!
Op 12 Maart het daar 'n feestelike atmosfeer by Durbanville-Bergsig geheers, want die kerk se 35ste verjaarsdag is vreugdevol gevier. Alida Vorster, hulle kommunikasie-beampte, skryf: “Ook was die opwinding van die vorige dag se Durbanville Plaasfees (waarvan die kerk die tiende jaar die organiseerders is) nog duidelik te bespeur. Die kerk was vol lidmate van alle ouderdomme. ‘n Familiediens is gehou en Roché Heyns, die eerste predikant van Durbanville-Bergsig, het die boodskap by die diens gebring.” Lees gerus hier verder.
Durbanville-Bergsig leraars
Onder die geestelike leiers was (vlnr) Kobus de Jager, Philip Scholtz, Johan Els,
Arno Mattheus, Mizelle Prinsloo en Wynand Breytenbach
2. NG Moedergemeente George: Omgee-Sondag
Moedergemeente George hou jaarliks op die eerste Sondag in Maart hulle "Omgee-Sondag" wanneer lidmate blikkieskos, klere en hul "verjaardag-offerkoevertjies" met kontant vir die gemeente se hulpverleningsaksie kerk toe bring.
Onder links is die hulpverleningspan met trollies vol kos en klere. Van die lidmate wat gehelp het, is op die foto regs. 
Dankie aan elke gemeente wat op plaaslike vlak betrokke is by hulpverlenging om aan Matt 25:40 gestalte te gee, want "sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het ..."
Omgee Sondag se span
Voor vlnr: VonElza van Wyk, Sandra Potgieter, Frieda Nienaber, Rieta Janse van Rensburg. Agter: Chris Hattingh, Piet Steyn en Callie J van Rensburg
Omgee lidmate
Elize Calitz en Gloria Rabie is onder die wat gehelp het
3. Omgeeharte vir Imizamo Yethu - dis Kerkwees!
Imizamo Yethu is 'n informele nedersetting teen die hange van die berg bokant Houtbaai. Die NG Gemeente Stellenberg is al jare hier betrokke met uitreike, kampe vir minderbevoorregtes en met die JAM-span wat op ’n gereelde basis bedieninge het. Verskeie kere in die verlede het daar al woonplekke afgebrand. Maar nog nooit het ’n brand duisende huise verwoes en 15 000 mense dakloos gelaat nie.
Why Duvenage getuig oor NG Stellenberg se betrokkenheid by hulpverlening daar. Dankie aan sovele gemeentes en individue wat ook betrokke was en steeds hulp verleen. Die skade is groot en sal nie binne 'n week of twee iets van die verlede wees nie. Oorweeg gerus voortgesette betrokkenheid waar moontlik. Lees hier.
IY brande woed IY verwoes
WOW-vrouekonferensie
4. WOW-Vrouekonferensie by
NG Swartland-Noord
Op 5 en 6 Mei bied NG Swartland-Noord 'n Wow (women of wonder)-vroue-konferensie aan. Navrae kan via  WhatsApp aan Gwendoline gerig word by 072 368 1565, of stuur 'n e-pos na wowkonferensie@gmail.com. Meer hier
5. NG Laingsburg Leraar kook by Gemeentefees!
Mias Nortier van NG Laingsburg skryf soos volg oor hulle gemeentekuier van 11 Maart: "Die hoofdoel van die byeenkoms was om ‘n geleentheid te skep waar gemeentelede kon saam kuier en bedank word vir hulle meelewing in die gemeente, sowel as om ook saam fees te vier oor die genade van die Here en die nuwe roete waarin die gemeente beweeg."
'n Heerlike viergangmaaltyd is geniet en die aand is verder spesiaal gemaak deur 'n kookdemonstrasies deur Mias self. Onder is 'n paar foto's van die geleentheid.
Laingsburg Kuier
Varswaterkrap
EKOLOGIE
1. Kreatiewe Waterbesparing ... 
en Omgee vir 'n Varswaterkrap!
Kom ons leer by ’n klein groepie mense in Wellington wat met verstandelike gestremdheid leef oor waterbesparing en omgee. Lees meer hier.
Gloeilamp
2. Koolstof-vas vir Lydenstyd
As ons uit liefde die aarde koester, sal ons meer en meer seën daarin ontdek. Ons verskaf, met dank aan Estelle Botha, hierdie week se riglyne wat fokus op elektrisiteit en ons gebruik daarvan. Estelle het die koolstofvas vir Lydenstyd, gebaseer op die Anglikaanse Kerk se "Carbon fast for Lent", vertaal en verwerk. 22 Maart se riglyn:  Moenie jou selfoonlaaier ingeprop hou nie. Dit gebruik elektrisiteit selfs al is dit nie besig om te laai nie.
Ekologiegrafika
3. WCC Seven Weeks for Water
The third reflection of the Lenten Campaign: Seven Weeks for Water 2017 of the Word Council of Churches’ (WCC) Ecumenical Water Network is by Rev O Kolade Fadahunsi, the Executive Director of Nigeria’s Kairos Foundation and pro-gramme associate for the national food security project of the Christian Council of Nigeria.  In his reflection he underlines the inter-dependency of water and food security. Click here.
Pastor on vacation
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Bybel-Media berig oor die jongste Kerkbode en LiG
In Bybel-Media se jongste nuusbrief is alles wat jy moet weet van die Kerkbode van 17 Maart en April se uitgawe van LiG. Propvol nuus vir vandag se kerkmense en met hope interessanthede vir jou en jou mense. Dankie, Hans Steyn en jou Bybel-Media-span! Lees die volledige nuusbrief hier. 
Kerkbode LiG April 2017
Vrygemaak
2. CLF: Reformasie 500 - April se pamflet
Die Reformasie het ons losgemaak van ʼn lewe waarin jy letterlik vir jou sondes moes gaan betaal/boet.  Ons is vrygemaak om eerlik in ons gebrokenheid voor God te kan staan en ons gebrokenheid te bely.
Ons moderne mense het verleer en vergeet om te bely en daarom kyk ons in hierdie pamflet na hoe ʼn eerlik en opregte belydenis lyk.

Bestel gerus vir julle gemeente en loop saam met CLF die Reformasie-pad van vrymaking gedurende 2017. V
ir bestellings en navrae skakel 021 873 6964 of stuur ʼn e-pos na order@clf.co.za. Die pamfletreeks is ook aflaaibaar op www.clf.co.za of deur CLF se gratis slimfoon-toep.
KUIERKANS
Ondersteun gerus jou plaaslike gemeente met hulle projekte en fondsinsamelings. Klik asb op die advertensies vir meer inligting. 
1. NG Helderberg: Kunsuitstalling
‘n Kunsuitstalling met ‘n gesellige kaas-en-wyn geleentheid vind op Woensdag 29 Maart 2017 om 18:30 in die NG Gemeente Helderberg (Firmountstraat 82, Somerset-Wes) plaas. Kaartjies kos R50 pp en is te koop by die kerkkantoor tussen 08:00 en 19:00 (021 851 5582).
Tema:  LIG/duisternis - God se Liefde en Skoonheid seëvier oor die aaklige dade van duisternis.
Die opbrengs is ten bate van Stop’it!, 'n uitreikprojek wat aktief gekant is teen alle vorms van mensehandel en saam met STOP (Stop Trafficking of People) werk. Kontak Isabel Vroon met navrae by bella.vroon@gmail.com. Die skildery is van Ohna Mouton Marais met die titel “Arise”.
Caledon Gemeentefees
Caledon Moedergemeente Fees
25 Maart 2017
NG Wynberg Feesmark
Wynberg Feesmark
25 Maart
NG Swartland-Noord Paas- en Blommefees 23 - 26 Maart
NG Swartland-Noord Paas- en Blommefees 23-26 Maart
NG Bellville-Uitsig Markdag 25 Maart
NG Bellville-Uitsig Markdag
25 Maart
NG Bellville-Oos Omgeefees 25 Maart
NG Bellville-Oos Omgeefees 25 Maart
VAKATURES
Vakatures op e-Kerkbode

Vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via e-Kerkbode elektronies versprei na predikante en gemeentes, sowel as ander intekenare. Klik hier vir die jongste vakatures in die NG Kerk-familie.

Badisa logo
Badisa: Maatskaplike Werker 
Badisa, in samewerking met Leeuwenkuil Family Vineyards, het 'n vakature vir 'n voldag maatskaplike werker in die Paarl/Wellington-omgewing. Die suksesvolle kandidaat moet waardegedrewe, kultuur-sensitief en buigsaam wees, en onafhanklik kan werk. Aansoeke sluit 24 Maart. Lees meer hier.
Francis Petersen
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Francis Petersen
Mense is in die algemeen inherent goed, en wil goed doen - dit is egter keuses en eksterne omstandighede wat hierdie stelling uitdaag. Leiers en persone in leierskapposisies het 'n verantwoordelikheid om omgewings te skep wat hierdie inherente goedheid en potensiaal om goed te doen, binne mense ontsluit.  Dit is hoe ek my plig en visie, beide in 'n werksopset en gemeenskapsopset sien, en dit gee my daardie passie en energie om my doelwitte effektief uit te voer. Dit is die basis wat ek sal gebruik om my rol as Visekanselier en Rektor van die Universiteit van die Vrystaat te vervul - om altyd bewus te wees van die feit dat ek met mense (en veral jongmense) interaksie sal hê, en dat aspekte soos bydrae tot die samelewing, 'n kultuur van inklusiwiteit, verdraagsaamheid en sensitiwiteit vir mekaar, belangrik is om uit te lig en verantwoordelik aan studente en personeel oor te dra - waardes en maniere van interaksie wat gerugsteun is in wat ek glo ons Hemelse Vader van ons verwag.

                                                              ******
Prof Francis Petersen, Visekanselier en Rektor, Universiteit van die Vrystaat (vanaf 1 April 2017) is gebore in Oudtshoorn, het gematrikuleer in Malmesbury en studies (in ingenieurswese) voltooi aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy is getroud en het twee seuns (prokureur en 'n rekenkundige), en is tans die Vise-Rektor aan die Universiteit van Kaapstad. Se
ën vir u nuwe verantwoordelikhede toegewens, Prof!

Hier is 'n vroegtydige kennisgewing: weens die vakansie en langnaweke in April, sal daar SLEGS EEN uitgawe van VrydagNuus vir die hele April-maand verskyn: die uitgawe van 21 April. Hou dit asb in gedagte in die beplanning van advertensies en nuus vir daardie tyd.
Vriendelike groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.