Lees deur internet, klik hier >>
21 Mei 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Getuienisaksie besoek jong VGK-predikante
Die afgelope week het Kobus Odendaal, diensgroepbestuurder van Getuienisaksie, ’n paar van ons VGK-predikante in die voormalige Transkei besoek. Drie van hulle was van die finalejaar teologieklas (US) van 2017. Hulle was daardie jaar ook op besoek aan Getuienisaksie om die bestuurders van ons vier taakspanne te ontmoet en te verstaan hoe hulle eendag in hulle beroepe ondersteun kan word. Hulle getuig alreeds van hoe baie Stephen Pedro se werkswinkels oor Kontekstuele Bybellees en vakante gemeentes hulle in hul bedieninge help. Lees meer van Kobus se besoek hier.
Israel en Palestina - Waarheen nou?
Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis het in 2014 na 'n besoek aan Israel en die Wes-Oewer 'n artikel geskryf wat in die Jerusalem Post gepubliseer is. Dit is vandag nog relevant en kan hier gelees word. Lees ook sy onlangse plasing op Facebook.
"Ek was genooi om Saterdag die dokumentêr Roadmap to Apartheid in die Labia Teater te gaan kyk. Dit tref die vergelyking tussen Suid-Afrika en Israel en apartheid. Ek het opnuut 'n paar dinge wys geword en is baie dankbaar vir wat in 1994 in SA gebeur het! Die reis is nie klaar nie, maar ons het die regte rigting ingeslaan. Laat niemand ooit daaraan twyfel nie.
Oor die voorgestelde oplossing: Hoe kan ons verwag dat die Palestyne die tweestaat-oplossing aanvaar as hulle feitlik heeltemal reeds deur Israel beset is. En hoe kan ons verwag dat Israel 'n eenstaat-oplossing sal aanvaar as hulle oortuig is dat hulle dan van die aarde afgevee gaan word?
Ek glo dat 'n oplossing gevind kan word met nugtere onderhandeling, waar die ekstreme groepe aan beide kante tot inkeer gebring word. Ons het die waardes van Jesus Christus en Sy Koninkryk bitter nodig."
Lees ook wat skryf Louis Jonker, ’n uitgelese professor in Ou Testament aan die Fakulteit Teologie by die Universiteit Stellenbosch, oor die kwessie in hierdie opiniestuk wat in Kerkbode gepubliseer is.
Talentvolle Wilmi
Veels geluk aan ons kommunikasiebeampte Wilmi Wheeler, wat vandeesweek met die Writers Guild of South Africa (WGSA) se Muse-prys vir Beste Radiodrama-teks bekroon is. Dit was vir Die Huisbesoek, wat verlede jaar op RSG uitgesaai is met spelleiding deur Christelle Webb-Joubert. Die rolle is deur Cindy Swanepoel, Rika Sennett, Dawid Minnaar en Ria Smit vertolk.
Die radiodrama het die prys vir Beste Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) ontvang in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie van 2019.
Bring jou stories na ons Argief
Dr. Andrew Kok, bestuurder van die NG Kerk se Argief in Stellenbosch, vertel waarom die Argief se kosbare stories nie net stof moet vergader nie, maar vertél moet word. Hulle nooi jou uit om jou eie of jou voorouers se kosbare verhale na die Argief te bring sodat dit wyd gedeel kan word en ander mense kan inspireer. Hieronder vertel hy meer.
DinkJeug Podcast - Roetemerkers
Anandie Greyling is op die Algemene Sinode se Projekspan vir Belydenisaflegging. Sy verduidelik hier wat ‘n roetemerker is en hoe dit gebruik kan word in die viering van lewensoorgange - en hoe dit ons kan beïnvloed om nuut te dink oor Belydenisaflegging.
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
Skryf nou in vir burgpredikantekursus 
Daar word vanjaar slegs een kursus vir brugpredikante aangebied. Die kursus word beperk tot 'n maksimum van 14 inskrywings. Die eerste module word van 7 - 9 September aangebied en die tweede module van 16 - 18 November.
Een van die beginsels van brugpastoraat is dat die predikant vir ʼn termyn van 6 - 18 maande in die pos bevestig word en dat die brugpredikant nie beroepbaar is vir daardie gemeente nie. Dit verseker dat brugpredikante nie proponente uit die bediening hou nie, maar eerder die weg baan vir ʼn beroep.
Kursusbywoning is gratis vir NGK en VGK predikante. Middagetes word gratis voorsien. Kursusgangers is verantwoordelik vir eie verblyf- en vervoerkostes na en van die kursus. Stuur 'n e-pos aan Mathilda du Pisanie by mdup@sun.ac.za om in te skryf voor 31 Augustus 2021. Vir navrae, skakel 021 808 3265.
Seeking for Hope webinar
The sub-discipline of pastoral care and counselling within the Department of Practical Theology and Missiology, Faculty of Theology, Stellenbosch University will be presenting a free online webinar on 26 May. Between trust and justice: Seeking for Hope will look at relational ethics, trust and justice as part of a meaningful and responsible dialogue. 
See the programme here. Click here to register. Students should note that there are sponsored data bundles available, which you can request on the registration form.
Klik op die grafika om te registreer.
Registrasie sluit 24 Mei om 13:00.
Retraites op Wellington
Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit bied die volgende retraites in Mei en Junie aan. Deernis-vol-bewus word van 24 - 27 Mei deur Jan van Zyl aangebied. Deelnemers sal blootgestel word aan verskillende vorms van meditasie en bewuswordingsoefeninge. Om te registreer, kontak vir Derine Piek per e-pos by admin@andrewmurraysentrum.co.za
Van 14 - 17 Junie vind die Vroue in die Bediening retraite plaas. Dit kos R250 per persoon en reisuitgawes is vir jou eie sak. Klik hier om te registreer teen Maandag 7 Junie.    
GEMEENTENUUS
Hemelvaart in die mis
Swellendam Moedergemeente het hierdie jaar hulle Hemelvaartdiens in die berg by Marlothpark gehou. Gawie Gouws laat weet die volgende: "Ons het saamgesing, gebid en die verhaal gelees. Dit was baie geseënd om in die mis die diens te hê. Dit het vir ons iets laat ervaar van die dissipels se oënskynlike verlatenheid, terwyl ons terselfdertyd iets beleef het van die wolk waarin Jesus opgeneem is in die hemel."
Pinkster by flitslig
Gemeentes in Beaufort-Wes het nie toegelaat dat die week se beurtkrag hulle Pinksterbidure in die wiele ry nie. Die drie gemeentes het Maandag 'n gesamentlike Pinksterbyeenkoms by Gamka-Oos gehou. Gemeentelede het gewapen met kopliggies en flitse die diens onder leiding van Albertus van Zyl bygewoon. Selfs die orrelis Laurentia Jordaan het nie 'n noot gemis nie. Jan Stadler skryf dat dit 'n belewenis so in die donker was. 
Helderberg Uitreik 
ElizaYo, 'n projek van Helderberg Uitreik, fokus op die ontwikkeling van jongmense wat nie kanse in die lewe gekry het om dit te doen nie. Relevante vaardighede word aan die individue oorgedra sodat hulle groter toegang tot werksgeleenthede en inkomste kan verkry.
"Ons doen dit met die hulp van ons Hollandse stigting, maar ons wil die projek begin en laat aangaan deur en vir Suid-Afrika. Vir die jongmanne doen ons tuinopleiding en skoling. By die projek het ons 'n kwekery vir tuinplante en 'n groentetuin. Op sekere dae doen ons tuindienste by mense tuis. Vir vrouens doen Henrien naaldwerk en kreatiewe vaardighede. Die juwele en piekniekkomberse wat ons maak, word in Holland en in Suid-Afrika verkoop."
Stuur 'n e-pos aan die projekleier, Herman Lindhout, as jy betrokke wil raak by die ElizaYo-projek of belangstel dat die jongmanne vir jou tuindienste kom lewer. Die projek het 'n behoefte aan plante, potte en tuingereedskap. Groot wit lappe, soos bedlinne is ook altyd welkom.
7 weke van gebed
Die gemeente van George-Bergsig het hierdie week afgeskop met hulle 7 Weke van Gebed. Hulle dra hierdie seisoen in gebed op aan die Here.
Klik gerus op hierdie WhatsApp-groep skakel om deel te wees daarvan. Jy sal elke weeksdag 'n gebed uit die Woord uit ontvang saam met 'n spesifieke gebedsversoek vir George-Bergsig. 
Winterhoop Pinksterprojek
NG Kerk Stellenbosch-Wes moedig jou aan om bietjie spring cleaning voor die winter te doen en hulle so te help met hulle Pinksterprojek. Dit is tyd om die items in jou kas wat jy nie meer nodig het nie (maar wat steeds in ‘n goeie toestand is) te gee vir die wat dalk niks het nie.
Die volgende items kan tydens Pinkster na die kerkkantoor gebring word: komberse (PEP CLT13 grys kombers), sokkies, kinderklere, mansklere (28-36), mansskoene (6-10) en nie-bederfbare kos.
Boeke van Attie Beetge kan ook bekom word wanneer jy ‘n donasie maak - 'n lekker geskenk vir iemand anders, terwyl jy bydra tot die Winterhoop-projek.
Alle items sal sover moontlik via organisasies in Stellenbosch versprei word. Kontak gerus die kerkkantoor vir meer inligting.
Onrusrivier gemeentebussie
NG Kerk Onrusrivier skryf in hulle nuusbrief dat hulle baie opgewonde en dankbaar is vir die aankoop van ‘n bussie genaamd Kaleb vir die doel om uit te reik, om hulle gemeentebedieninge “voete” te gee en om so doeltreffend as moontlik die Koninkryk van God op ‘n praktiese en tasbare manier te kan uitbou. 
"Kaleb gaan dien as ons reisgenoot wat die boodskap van hoop uitdra - naby en ver. Kaleb se ywerigheid is nie gekoppel aan ouderdom nie. Aan die einde van Moses se lewe het Kaleb saam met Josua op die Kanaäniete gaan spioeneer om te kyk wat die Israeliete se kanse was om hulle in oorlog te oorwin - om sodoende hulself in die land van melk en heuning te kon vestig. Ongeag sy ouderdom (hy was eintlik veels te oud om te spioeneer), was Kaleb die enigste een wat genoeg waagmoed gehad het om vir 'n tweede keer saam met Josua te gaan spioeneer. Die ander 10 spioene was te bang na hulle eerste besoek aan Kanaän.
Mag ons, soos Kaleb, genoeg waagmoed hê om nuwe terreine vir God se Koninkryk met ons bussie te bereik. Ons sê ook graag dankie vir Johan Calitz (Calitz Art) vir sy moeite met die bussie se 'branding' en aan die anonieme borg vir die finansiële bydrae om dit moontlik te maak."
EKOLOGIE
Internasionale Dag vir Biologiese Diversiteit
Die Verenigde Nasies het 22 Mei verklaar as die Internasionale Dag vir Biologiese Diversiteit. Vanjaar se tema is Ons is deel van die oplossing en daar word gekyk om bewusmaking te skep vir biodiversiteit kwessies. Lees hier meer.
Belangrike bydrae van bye erken
Donderdag 20 Mei is Internasionale Byedag. Hiermee erken die Verenigde Nasies die belangrike rol wat bye in die ekostelsel speel. Bye is van die belangrikste bestuiwers en bykans 95% van wilde blomme en 75% van landbou-oeste is afhanklik van bestuiwing deur diere. Bye maak dus 'n direkte bydrae tot voedselsekuriteit en die beskerming van bio-diversiteit. Volg gerus gesprekke oor die kwessie op sosiale media by #WorldBeeDay en #Savethebees. 
Kyk ook na die Verenigde Nasies se Food and Agricultural Organisation se video hieronder. Vir meer inligting, loer na hulle webblad
NUUS VAN ONS FAMILIE IN AFRIKA
African Public Theology in Nigerië
Die monumentale boek African Public Theology wat verlede jaar deur NetACT uitgegee is, is onlangs deur NetACT se voorsitter, professor Sunday Agang (foto links), in die Nigeriese hoofstad Abuja aan hul vise-president Yemi Osinbajo (foto regs) oorhandig. Osinbajo is ook 'n predikant, advokaat en professor in die regte. Die boek word hoog aangeslaan en is gemik om integriteit terug te bring in regerings- en ander instansies.
Dit word as ‘n belangrike handboek by teologiese en ander opleidingsinstansies beskou.
Lees hier meer. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Orrelis, Velddrif
Die NG Gemeente Velddrif adverteer graag die pos vir 'n orrelis. Die geskikte kandidaat sal verantwoordelik wees vir die sang en musiek binne gemeenteverband asook die kreatiewe uitbou van musiek en sang in die gemeente.  Ondervinding van gemeentebegeleiding met pyporrel en klavier; begeleiding van sang en musiek, nie net by eredienste nie, maar ook by spesiale geleenthede asook die afrigting van gemeente kore of sanggroepe is 'n vereiste. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 18 Junie.
Klik hier vir meer besonderhede.
Medeleraar, Bredasdorp
Die gemeente van Bredasdorp nooi alle gelegitimeerdes in die VGK en NGK om te hoor of die Here jou roep om saam met hulle die pad as medeleraar te stap.
Die gemeente lê klem op die volgende bedieningsfokusse: die bediening aan jongmense, veral skoolgaande jeug, en hul gesinne, versoening en kreatiewe missionale bediening van geregtigheid. Daar word van kandidate verwag om in ‘n sterk diverse span te kan werk. Aansoeke sluit 31 Mei. Klik hier vir meer inligting. 
Klik bo vir meer inligting.
NUUSBRIEWE
Klik bo vir Inclusive & Affirming Ministries se Mei nuusbrief.
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode
En die dood is mooi ...
Cas Wepener skryf: Dit is pandemietyd en daar is baie begrafnisse, te veel. Bied begrafnisse troos? Indien wel, hoe? Lees hier meer. 
Ma vertel wat 18 jaar lank bid dat seun nuwe longe kry 
Anna-Mart van der Merwe, maatskaplike werker en traumabera­der in die Breëriviervallei, moes in 1997 hoor haar driejarige seun­tjie het ’n oorerflike en ongeneeslike siekte. Twee en twintig jaar later het ’n tragedie sy lewe gered. Klik hier vir die verhaal.
Nuut op die rak
Die Bybel-Media spog hierdie maand met 'n keur van moet-lees boeke. Onder die top vyf is Siegfried Louw se Kolle en die gif - 'n aangrypende storie oor twee gruwelike boelies wat die lewe vir almal met hulle boeliegedraf versuur, maar Kolle dra die boodskap dat die liefde altyd sterker as bangwees vir ’n boelie sal wees.
In Bloedbruide van Christus 2 vertel Jaap Durand en Verena Schoeman met intense passie die verhale van vrouemartelaars in die Middeleeue. Volgens die omslagbeskrywing is dit nie net "hoorbare uitroepe van pyn en lyding nie, maar ook na ’n roep wat oor die eeue heen kom – die roep na geregtigheid en liefde, die verlange dat Christus se navolgers waardige getuies sal bly en dat daar met deernis opgetree sal word teenoor hulle wat verskillend glo of dink."
Mawongwa Phaphile Celesi plaas die Evangelie in 'n Afrika-konteks in sy boek With the eyes of a child. Die doel van die boek is om as hulpmiddel te dien vir almal wat betrokke is by kinder- en jeugbediening om Jesus aan kinders voor stel as held en rolmodel.
Die boeke is beskikbaar by Bybel-Media se aanlynwinkel.
ALGEMEEN
Raakgelees: Waarskuwingsligte flikker vir vroeëkindontwikkeling
Agentskappe betrokke in die vroeëkindontwikkelingsveld reken dat die wysiging op die wetsontwerp van kinderregte (die Kinderwet van 2005) 'n verdere bedreiging inhou vir VKO-programme. In 'n verklaring wat onder andere deur Business Day gepubliseer is, meen SmartStart dat die regulasies wat in die nuwe wetsontwerp aanbeveel word, dit nog moeiliker gaan maak vir die VKO-sektor. 
Statistieke wys reeds dat meer as 'n miljoen Suid-Afrikaanse kinders tussen die ouderdomme van drie en vyf geen toegang tot voorskoolse ontwikkelingsprogramme het nie. Navorsing het getoon dat dit 'n krities belangrike ontwikkelingsfase is, wat langtermyn impak op verdere onderrig het. In Suid-Afrika is die regering nie 'n direkte verskaffer van vroeëkindontwikkeling nie, maar speel eerder 'n regulatoriese rol. Subsidies kan eers ontsluit word wanneer programme registreer - 'n gekompliseerde proses wat die nuwe wetgewing na verwagting nog moeiliker gaan maak. SmartStart en ander organisasies het die Real Reform for Early Childhood Development geloods om aan te dring op 'n een-stap registrasieproses wat vir duisende meer kinders toegang tot vroeëkindontwikkeling sal gee.
Lees die volledige verklaring hier
Leer word 'n avontuur
Die Internasionale Akademie vir Leierskap deur Avontuur bied reeds sedert 2009 hierdie 40-weke brugjaarprogram aan. Die program fokus op ervaringsleer, selfstandigheid, leierskap, loopbaangereedheid en volhoubaarheid. Voormalige predikant Jan Heenop is die programleier en nooi gemeentes om kontak te maak by jan@iala.co.za as hulle van belangstellende 18 - 22 jariges weet. Vir meer inligting, besoek die webwerf https://iala.co.za.
SA Raad van Kerke loods inentingsveldtog
In 'n persverklaring uitgereik deur die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) word daar beroep gedoen op gemeentes om te help met die inentingsveldtog vir bejaardes. Etlike leiers van SARK, onder andere Frank Chikane (regs op foto) van die Apostolic Faith Mission het Maandag hulle inentings in Tembisa ontvang. As deel van die #VaxuGogo veldtog, word gemeenskappe, gemeentes en vrywilligers gevra om met die registrasie- en inentingsproses van mense bo sestig te help. Gemeenskapsleiers is ook uitgedaag om 'n voorbeeld te stel en hulle inentings te ontvang. Klik hier as jy wil betrokke raak as vrywilliger. Lees die volledige verklaring hier. Hiermee ook die skakel as jy jouself, iemand in jou familie, gemeente of wyer gemeenskap wil registreer: https://vaccine.enroll.health.gov.za/#/
BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
St. Helenabaai
Boesmanland-gemeente, Springbok
Beskikbaar by NG Kerk Tulbagh.
TEN LAASTE
Sondag is dit Pinksterfees waartydens die uitstorting van die Heilige Gees feestelik gevier word. Een van Woord & Fees se voorgestelde tekste is Psalm 104: 24 - 34.
"Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie! Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is."
Luister hier na die SingFonix Male Voice Ensemble se weergawe van Jan de Wet se Heilige Gees, wat tydens die COVID-inperking in 2020 virtueel opgeneem is.
Skildery: Holy Spirit deur Laura Sanabria.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.