Plaasaanvalle en geweld in SA
Plaasaanvalle en geweld in SA
Lees deur internet, klik hier >>
 9 Oktober 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Plaasaanvalle en geweld in Suid-Afrika 
Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Moderamen van die NG Kerk in Wes-Kaapland, skryf as volg: "Die NG Kerk is diep besorgd oor die onberekenbare impak van plaasmoorde op ons landbougemeenskap. Die wreedheid waarmee weerlose mense vermoor word, is skrikwekkend. Die impak op gesinne, uitgebreide families en totale gemeenskappe is vernietigend vir vertroue en vrede. 
Op ‘n tweede vlak het dit ook buitengewone gevolge vir die moraal van ons nasie, voedselsekuriteit en die herstel van die menswaardigheid van alle mense in ons land. Ons was bemoedig deur die onlangse aanduidings dat die regering met beter planne vorendag sal kom.
Die hoop op ‘n gekoӧrdineerde verset van die gemeenskap en die veiligheidsliggame in ons land het opgevlam. Landbou-organisasies en selfs politieke partye het hierdie hoop versterk met hulle positiewe reaksie op die regering se planne en inisiatiewe.  Hierdie planne moet nou geaktiveer word. Dit is ‘n saak van dringendheid. 
Intussen duur die vlaag van moorde op ons plase egter voort. Ons verstaan dat plaasaanvalle in die eerste plek ‘n misdaadverskynsel is. Dit tref immers ook landbouers en werkers van alle rasse. Daar is egter ook aanduidings dat daar op plekke rassewoede in spel is. Oor beide verskynsels moet nou in elke dorp en plek gesprek gevoer word. Alle Suid-Afrikaners behoort saam te staan teen moord en geweld. Daar is geen regverdiging daarvoor nie. Dit is nie net die taak van die polisie om mense te beveilig nie. Alle Suid-Afrikaners sal moet opstaan en saamstaan om mekaar te beveilig. Die bou van verhoudings oor alle grense, die deel in mekaar se broosheid en nood, die afbreek van ontmenslikende stereotipes, die bou van brûe en ordelike sosiale druk met die oog op ‘n gedissiplineerde en ordelike samelewing is nou ons almal se opgaaf. Gelowiges en geestelike leiers behoort hierin die voortou te neem. 
Die ongekende hoeveelheid moorde en geslagsgeweld in ander gemeenskapsverbande is net so sorgwekkend. Selfs kinders beland dikwels in die spervuur en word misbruik. Ons is ‘n beter land en samelewing aan mekaar verskuldig. Wanneer geweld met geweld bestry word, ontstaan spirale van geweld. Niemand kan dit bekostig nie. Ons het dit al in Suid-Afrika beleef. Ons behoort van beter te weet. Ons moet juis bou aan dissipline, orde en vrede."
Braam Hanekom in gesprek met André le Roux
Die Sentrum vir Publieke Getuienis se Braam Hanekom was onlangs in gesprek met prof. André le Roux van die Instituut vir Toekomsnavorsing oor sosiale kapitaal. Hierdie twee kundiges gesels oor wat sosiale kapitaal vir Suid-Afrikaners beteken en hoekom dit belangrik is. 
Braam definieer sosiale kapitaal as die netwerk van verhoudings onder mense wat in ‘n sekere samelewing (mikro en makro) leef en werk en sodoende die samelewing in staat stel om effektief te funksioneer. Hierdie potgooi is beslis ‘n luister werd.  
Hoop en Versoening Trust se webblad lyk nou so
Weens die groeiende sukses van die Hoop en Versoening Trust se groentesaadprojek, GROEI, het hulle onlangs ‘n nuwe baadjie vir hulle webblad aangetrek. 'n Blog en 'n interaktiewe platform waarop nuttige wenke vir tuinmaak gedeel kan word, is van die nuwe funksies beskikbaar op hierdie webblad.
Klik gerus hier om hulle webtuiste te besoek.  
EKOLOGIE
Wêreldhabitatdag
Dewald Hoffmann van ons Groen Span skryf die volgende oor Wêreldhabitatdag wat hierdie jaar op Maandag 5 Oktober gevier was.
"Sedert sy ontstaan in 1985, is die eerste Maandag van Oktober aangewys deur die Verenigde Nasies as Wêreldhabitatdag. Die tema vanjaar was: Behuising vir Almal – ‘n Beter Stedelike Toekoms. Wanneer mens nadink oor behuising, spring mens se gedagtes so maklik na die behoefte van soveel Suid-Afrikaners wat steeds geen toegang tot basiese behuising of sanitasie het nie. Hierdie krisis word verder beklemtoon deur die ongeregtigheid van ekonomiese sisteme en die wanbalans tussen ryk en arm wêreldwyd.
As Christene word ons geroep om ‘n alternatiewe visie en hoop te beliggaam. Hierdie visie gee agentskap aan die stemloses en bemagtig randfigure. Dit is in die verlossing van Jesus Christus dat ons hierdie alternatiewe narratief ontvang. Dit is ‘n narratief wat die hele skepping insluit by God se verhaal. Ons verantwoordelikheid as mense (en gelowiges) sluit ook die habitat van ons nie-menslike burgers in. Ons vergeet so vinnig dat al die aarde se bewoners aan mekaar verbind is en vir die mensdom om te floreer, so ook moet die skepping. Soos die mensdom ontwikkel het om ‘n beter habitat vir hulself te skep, het ons die habitat van soveel ander vernietig.
So, mag ons (as gelowiges) besef dat ons die potensiaal het om ‘n meer volhoubare toekoms vir almal te skep. Mag ons tot die besef kom dat die impak wat ons aksies het verreikende gevolge het vir die hele aarde-gemeenskap. En mag ons besef dat vir die mensdom om te floreer, so ook moet die hele skepping." 
Nasionale Marineweek: 7-11 Oktober
Suid-Afrika se Nasionale Marineweek word jaarliks gedurende die tweede week van Oktober gevier. Die doel van hierdie week is om bewustheid te skep oor ons land se see- en kusomgewing. Die volhoubare gebruik en bewaring van hulpbronne wat in die see te vinde is, word ook tydens hierdie week aangemoedig, sodat huidige en toekomstige geslagte daarby kan baatvind.
Ons oseane staar tans talle bedreigings in die gesig, naamlik besoedeling, oorbevissing, indringerspesies en stygende vlakke van suur in die waters weens die uitgebreide gebruik van fossielbrandstowwe. Die probleme is skrikwekkend, maar daar is eenvoudige stappe wat gevolg kan word om die oseaan te beskerm – jy kan ook help!
Herwin en gebruik altyd herbruikbare waterbottels en kruideniersakke om plastiekbesoedeling te verminder. Jy kan ook jou koolstofvoetspoor verminder deur ligte en ander toestelle af te skakel wanneer dit nie gebruik word nie. Die keuse van volhoubare seekos is ook een van die belangrikste dinge wat jy kan doen om die seelewe te beskerm. Klik hier vir die volhoubare seekosgids van Suid-Afrika. 
Kyk gerus ook na die onderstaande feitblad vir meer inligting oor hoekom jy ook hierdie week moet herdenk. 
GEMEENTENUUS
Touwsrivier vier eenwording
Andrew Esterhuizen van Touwsrivier-gemeente laat weet dat die proses om een nuwe saamgevoegde gemeente in Touwsrivier te vorm ’n belangrike mylpaal bereik het. "Na drie jaar van saamloop en -praat, saam Bybellees en bid, word die NG Gemeente Touwsrivier en die VGK Touwsrivier op 25 Oktober 2020 amptelik een nuwe saamgevoegde gemeente in terme van die Tussenorde. 
Die taakspan op Touwsrivier (foto onder) wat hierdie proses begelei het, is baie dankbaar dat ons sover kon kom. Al die eer kom die Here toe."
Hierdie geleentheid word gevier met ’n erediens wat om 10:00 begin by die NG Kerk in Janestraat, Touwsrivier. Die moderator van die VGK, dr. Llewellyn MacMaster, sal die erediens waarneem, terwyl ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die NG Kerk Wes-Kaapland, die nagmaalviering sal lei. Groeteboodskappe sal deur verskillende persone oorgedra word.
Weens inperkingsregulasies word bywoning tot 250 persone beperk. Daar word egter tans aan 'n plan gewerk om bywoning te verdubbel deur die aangrensende kerksaal ook te benut. Belangstellendes kan die skriba Marlene van der Bank kontak by ngktouws@gmail.com of by 083 272 2114 skakel.
George deel in dankbaarheidsprojek 
Die Blanco Family Worship Church was nog 'n begunstigde van CLF se Woord en Brood-projek. Petro Goeieman skryf dat hulle danksy CLF se skenking kospakkies aan 21 gesinne kon verskaf het en sodoende 85 mense, onder andere 'n pleegmoeder, gehelp het. 
"Mag ons hemelse Vader u, u kollegas, u familie en diegene met wie u in aanraking kom, seën. Mag almal wie u help, die hand van die Here sien en ervaar.
Laingsburg deel kospakkies by plase uit
Die gemeenskap van Laingsburg het vandeesweek kospakkies by boere in die Laingsburg-distrik, kerkkantoor en ouetehuis uitgedeel as deel van gemeenskapslede, Manie Spamer en Kobus Wiese, se projek om veral boere en plaaswerkers wat in nood verkeer te help. Predikant op die dorp, Mias Nortier (foto links onder), het die uitdeel gekoördineer. Verdere hulp word ook vir die nabye toekoms beplan.
Die skenker van die kospakkies was Rossouw Cilliers, megaboer van die plaas Laastedrif by Ceres.
Kerssangdienste op die kalender
Ons herinner gemeentes om asseblief besonderhede oor hulle Kerssangdienste vir ons te stuur na kommunikasie@kaapkerk.co.za. Maak ook van die geleentheid gebruik om lidmate in te lig watter regulasies van toepassing is en hoe om vir hierdie spesiale dienste te bespreek.
PREDIKANTENUUS
Helderberg groet die Therons
Hannes Theron ontvang op Sondag 8 November sy emeritaat. Hy skryf: "Soos die boer in die gelykenis van die Here Jesus (Markus 4:26-29) maak ek na bykans 20 jaar klaar met my bediening as predikant in Helderberg-gemeente: Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei – hóé weet hy self nie. Vanself bring die aarde die graan voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die vol koringaar. En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.
Dit was pure plesier om die Woord in al sy gestaltes te kon bedien (net te kon saai), maar terselfdertyd ook te kon sien en beleef hoe hierdie saad ontkiem en groei - hóé weet ek self nie. Dit is God wat laat groei. Ek bly staan in verwondering oor God se betrokkenheid by mense, die kerk en samelewing. Dit bly vir my ‘n wonderlike misterie. Ek was bevoorreg om as saaier deur God gebruik te word in Windhoek-Noord, Wynberg-Militêr, Rondebosch, Montagu en Helderberg. Ek was ook bevoorreg om vir jare binne die sinode van Wes-Kaapland betrokke te wees veral by die Kuratorium, die Taakspan vir Regte, as aktuarius vir ag jaar en by baie ander prosesse, kommissies en taakspanne. Nou sien ek uit na die voorreg om op ‘n ander manier ‘n gestuurde van die Here Jesus Christus te bly."
Ons wens vir Hannes en Louise 'n geseënde aftrede toe.
NUUS VAN ONS FAMILIE UIT AFRIKA
Terreurkrisis in Noordoos-Mosambiek
Dis nou al 'n geruime tyd dat ons verneem van die een krisis op die ander in die natuurlike hulpbronryke areas in die noordooste van Mosambiek – iets wat geweldige militaristiese konflik en terreur-aanvalle tot gevolg het. Dit, tesame met die COVID-19-pandemie, laat ons geloofsfamilie in daardie area uitgelewer aan onmenslike omstandighede.
Danie Murray, die bestuurder van die Handevat-projek van die NG Kerk Proteahoogte wat voorheen jarelank daar predikant was en Portugees magtig is, besoek dié areas gereeld en is in hierdie tyd in noue kontak met ons sendelinge daar, asook die leierskap van die Tumbine Sinode van ons susterskerk (die IRM) in die sentrale gedeelte van Mosambiek. Hy vertel meer hier van waarmee ons medegelowiges daar te kampe het en hoe ons hulle kan bystaan.  
Van ons ondersteuners op besoek aan een van diegemeentes in die Tumbine Sinode in Maart vanjaar.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Leraarspos: Helderberg
Helderberg-gemeente adverteer in biddende afhanklikheid van die Here die pos van voltydse leraar. Die ideale kandidaat moet jonger as 35 jaar wees met 5 - 10 jaar se bedieningservaring en die visie en waardes van die gemeente kan uitleef. Lees hier meer oor die posvereistes. Aansoeke is aanlyn beskikbaar op die webblad www.nghelder.co.za of deur hier te klik. Sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Oktober.

Ingeskrewe verpleegkundige: Huis Martina, Parow
Hierdie tehuis vir bejaardes en gestremdes het tans 'n vakature vir 'n ingeskrewe verpleegster. Die aangewese kandidaat sal onder andere verantwoordelik wees vir die bestuur van kwaliteit mediese dienste en die verpleegpersoneel. Klik hier vir meer inligting. Aansoeke sluit 15 Oktober.

Maatskaplike werker: Tulbagh
Badisa Tulbagh het 'n pos beskikbaar vir 'n geregistreerde maatskaplike werker. Die geskikte kandidaat moet oor 'n toepaslike tersiêre kwalifikasie en ervaring met die implentering van die Kinderwet beskik. Klik hier vir verdere posvereistes. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 16 Oktober.
Klik bo vir meer inligting.
PUBLIKASIES
Hoogtepunte uit Kerkbode
Die diep belang van werkskepping
Statistiek Suid-Afrika het op 29 September 2020 aangekondig dat 2,2 miljoen meer mense in die tweede kwartaal van 2020 nie werk gehad het nie. Mense wat ekonomies onaktief is, het met 5,2 miljoen toegeneem. Lees die volledige berig hier.
COVID-19: Twee sterf in 'n week
Die NG Kerkfamilie in Suid-­Afrika het bin­ne ’n week twee ge­lief­de predikante aan COVID-19 afge­staan. Dr. Nico Kritzinger (63), mediese dok­ter en tentma­ker­pre­dikant van NG Gemeente Klerksdorp-Oos, is na ’n maand in die hoësorgeenheid van Milpark-hospitaal in Jo­hannesburg oorlede. Ds. Donovan (Donnie) Koordom van VGKSA Klawer in die Wes-Kaap is op 19 Sep­tember na ’n kort siekbed oorlede. Lees hier meer.
Bybel-Media 
Klik hier vir Bybel-Media se nuutste katalogus van uitgesoekte Bybels, Studiebybels, Familiebybels en Kinderbybels.
Besoek hulle aanlynwinkel en bestel 'n spesiale Kersgeskenk vir iemand besonders. Bestellings kan ook by bestel@bmedia.co.za of telefonies by 021 864 8211 geplaas word.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Lees meer oor Missie Japan deur hierbo te klik.
Click on the graphic above to read the latest news from The South African Depression and Anxiety Group.
VIRTUELE KUIERKANSE
Kuberkermis by Aliwal-Noord
Die gemeente van Aliwal-Noord se kuberkermis het hierdie week amptelik afgeskop! Hulle voorraad is gereed, so die publiek is welkom om te bestel, te betaal en te kom haal! 
Die gemeente vertel dat daar twee swart houers by die kerk geplaas is. Die een houer bevat inligtingsvorms en bestelvorms vir die kermis, terwyl die ander houer daar is vir die voltooide bestelvorms. Die rede? Indien daar persone is wat graag hulle kermis wil ondersteun, maar hulle wil enige vorm van sosiale kontak vermy, kan hulle ook op die manier die gemeente ondersteun.
Besoek NG Aliwal-Noord se Facebook-blad vir meer inligting. Bestellings kan geplaas word by Corrie van die kerkkantoor by 051 633 2632 of 'n Whatsapp kan aan 072 715 7445 gestuur word.  
Heidekoppie verkoop gevriesde pasteie
Die gemeente van Heidekoppie nooi die publiek uit om heerlike gevriesde pasteie hierdie maand by hulle te bestel. Elke pastei bevat ruim porsies vir vier mense en daar is 'n verskeidenheid van opsies om van te kies: wildsvleis, bees, bobotie en hoender.
Die sluitingsdatum vir bestellings is 15 Oktober en persone kan hulle bestelling by die kerkgebou kom afhaal op Vrydag 29 Oktober tussen 16:00 en 18:00. Daar is ook 'n opsie vir aflewering. 
Bestellings kan by die kerkkantoor (021 981 2690/ontvangs@heidekoppie.com) of deur  Google Forms geplaas word. Betalings kan by die kerkkantoor en deur middel van EFT of SnapScan gedoen word. 
Maresa kan gekontak word vir navrae by maresaf@elsenburg.com of 079 513 6904 (WhatsApp).
Smul saam met Melkbosstrand
Melkbosstrand-gemeente se feesmarkkomitee bied tans Smul Wegneemetes aan. Bestellings kan geplaas word vir die volgende geleentheid op Donderdag 15 Oktober, wanneer 'n snoek-ete bedien sal word.
Bestel asseblief per WhatsApp by Juanita van Zyl: 082 5520301. Die onderstaande grafika bevat meer inligting. 
ALGEMEEN
Belangrike datums vir 2021
Die departement van basiese onderwys het vandeesweek die skoolkalender vir 2021 bekendgemaak. Klik ook hier vir belangrike datums soos biddae en feesdae op die kerkkalender.
Verstaan die taal van emosies
Annette de la Porte, maatskaplike werker en emosionele logika-afrigter, bied op 31 Oktober van 08:30 tot 16:00 'n webinaar Inleiding tot Emosionele Logika aan. Die aanbieding en handleiding is in Engels.
Volgens Annette is ons emosies "boodskappers wat ons aandag probeer trek wanneer ons waardes in gedrang kom.  Emosionele Logika bied ‘n raamwerk om die logika agter jou emosies te begryp.  Wanneer jy die nuttige doel van jou emosies leer verstaan, kan jy nuwe keuses maak en dit as ‘n uitnodiging vir groei benut."
Registreer teen 23 Oktober om 12:00. Vir meer inligting en die registrasievorm, besoek die webblad of kontak annette@growwithannette.co.za  of 083 794 3537. VBO en CPSC punte kan verdien word.
Kaapse behuisingskrisis - Reguit met Robinson
Nege wonings op ’n agterplaas in Stellenbosch. Een toilet. Een kraan. Een buitetoilet vir sewe families. Om ’n buitetoilet te gebruik, is lewensgevaarlik vir vrouens. 
In die Kaap wag honderdduisende mense vir huise. Dié wat al dekades op waglyste is, word laer afgeskuif.
’n Opvoedkundige sielkundige Quinton Adams (The Shackbuilder) maak dit sy missie om waardigheid te herstel en lewens te herbou. Hy vertel vir Freek Robinson van LitNet meer oor The Shackbuilder-projek in die video onder.
Raakgelees: 'n Nuwe emoji op pad
Vir baie persone is dit moeilik om te sê: "Ek is jammer," maar vir baie ander is dit nog moeiliker om te sê: "Ek vergewe jou." As 'n koalisie van Finse vredemakers hulle sin kry, kan dié proses egter baie makliker gemaak word - vergifnis kry dalk net sy eie emoji! 
Die #forgivemoji-veldtog vind sy oorsprong by die Evangelies-Lutherse Kerk van Finland. "In ons moderne digitale kommunikasiekultuur is emoji's 'n belangrike manier waarop menslike gevoelens buite woorde uitgedruk word," vertel Tuomo Pesonen, woordvoerder van die kerk.
Terwyl sommige meen dat emoji's ligsinnig van aard is, dink ‘n taalkundige van Harvard, Steven Pinker, anders. Emoji's dra 'n persoon se emosie en toon aan iemand anders oor op 'n manier wat eenvoudige teks bloot nie kan nie. “Soos met 'n vraagteken of 'n uitroepteken, is emoji’s daar om 'n kommunikatiewe krag oor te dra wat nie net duidelik sal blyk uit die rangskikking van woorde op die bladsy nie,' verduidelik Pinker.
"Ons moet dringend leer hoe om beter te versoen," het Antti Pentikäinen van die nie-winsgewende organisasie Deaconess Foundation en 'n stigterslid van die #forgivemoji-veldtog, bygevoeg. “Hierdie vaardighede is oral nodig. Verskillende maniere om verskoning en vergifnis te vra, is 'n wesenlike deel daarvan. Dit sluit ook die sosiale media-omgewing in.”
Die voorgestelde ontwerp vir die emoji beeld twee arms uit wat 'n hart omvou (foto bo).
Kyk die video (onder) vir ‘n kort uiteensetting van die geskiedenis van emoji’s. 
TEN LAASTE
10 Oktober is wêreldgeestesgesondheiddag en dit lui 'n maandlange bewusmakingsveldtog in. Kenners erken dat die COVID-19-pandemie ook hier 'n ongelooflike impak gemaak het en reuse-uitdagings in terme van geestesgesondheid gestel het. Indien jy of iemand in jou gemeenskap sukkel om hierdie sonderlinge omstandighede te hanteer, klop by jou gemeente of organisasies soos The South African Depression and Anxiety Group aan wat hiermee kan help.
SADAG bied gereeld #FacebookFriday sessies aan waartydens deskundiges raad gee. Klik op grafika langsaan vir die skakel.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.