Lees deur internet, klik hier >>
24 April 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
DinkJeug webinare
DinkJeug, ‘n inisiatief van die Taakspan vir Jeug en Familiebediening van die Sinode van Wes-Kaapland, beplan om ‘n reeks webinare te hou oor jeugbediening in die tyd van afsondering. Predikante en jeugwerkers landswyd kan deelneem. Die eerste een handel oor “Tienerkategese in afsondering” en vind plaas op Woensdag 29 April van 10:00-11:00. Skryf in deur ‘n e-pos te stuur aan jeug@sun.ac.za
Tienerbediening
DinkJeug doen tans ‘n peiling om agter te kom hoe gemeentes tienerbediening in hierdie tyd van afsondering benader en watter platforms die beste werk. Neem asseblief deel aan die peiling deur hier te klik en help hulle hiermee sodat hulle die tendense vanuit die peiling en wenke aan gemeentes kan deurgee. Die deelname is anoniem en daar is net sewe maklike vrae.
Badisa ontvang skenking van Woodlands
As deel van hul bydrae tot die stryd teen die COVID-19 pandemie, het Woodlands Dairy hulle daartoe verbind om ondersteuning te verleen aan diegene wat swaarkry gedurende hierdie chaotiese tyd. Badisa het vandeesweek hulle skenking van meer as 10 000 Recovery drankies ontvang. Elmien Thomas, Marina Smith, Elze van der Westhuizen, Heidi Steynberg (onder van links na regs) van die Bellville Senior Sentrum by Chrismar Villas handhaaf steeds 'n veilige afstand, terwyl die donasie afgelaai word.
Nuus van ons susterskerk in Kenia
Dis in tye soos hierdie wat ons weer opnuut die waarde van ons ekumeniese verhoudings met ons susterskerke in Afrika besef. Voorsorgmaatreëls ten opsigte van die COVID-19 situasie word binne sekondes deur ons Reformed Family Forum se WhatsApp-groep versprei – iets wat van groot waarde is. Terugvoer van ons verskillende susterskerke se omstandighede kan ook binne sekondes onderling gedeel word. Lees die terugvoer wat ons Dinsdag van ons susterskerk in Kenia gekry het hier.  Op die foto is eerwaarde Jonah Lagat (regs) saam met dr. Luka Ariko, die nuwe algemene sekretaris van die Reformed Church in East Africa. 

Arbeidsbediening-nuusbrief digitaal
Arbeidsbediening bereik mense deur die kerk na die plekke van werk te bring. Tydens die COVID-19 situasie kan dit nou deur hul Let’s Talk toepassing geskied. In hul jongste nuusbrief, wat net een maal per jaar uitgegee word, kan lesers ‘n idee kry van Arbeidsbediening se fokusareas oor die afgelope 12 maande en hoe dit mense se lewens verander het. Die nuusbrief word vanaf vanjaar slegs digitaal uitgegee. Die 2020-uitgawe kan hier gelees word. Vorige uitgawes is ook nou aanlyn beskikbaar op die webwerf.

Nog 'n VBO-kursus volgende week
Volgende week gesels Nico Koopman, Robert Vosloo, Danie Veldsman en Nadia Marais oor Teologie in die Tyd van COVID-19. Klik hier vir registrasievorm. Registrasie sluit Dinsdag 28 April om 12:00. Vir navrae, kontak Bridget by bleibbrandt@sun.ac.za. Sien meer inligting onder.

EKOLOGIE
Let us talk about poverty
According to eco-correspondent David Botha, the COVID-19 challenge is forcing us to once again confront the fact that our poverty is rooted in the truth that we and the rest of creation are not in control of our existence. The pandemic is creating a global opportunity for humanity to become hospitable brothers and sisters for all of creation – an opportunity to embrace our poverty. COVID-19 is scattering our big gatherings, playing havoc with our financial institutions and markets and is sending us into isolation, thus creating the opportunity for us to find ourselves and recognise our humble place and space in the one web of life. Click here to read the rest of David’s article. 

GEBEDSVERSOEK
GEMEENTENUUS
Gemeenteverjaarsdae
Geluk aan die volgende gemeentes wat hulle herdenkingsjare in April vier. As enige van die onderstaande datums nie korrek is nie, stel asb. die Kerkargief in kennis by argief@kaapkerk.co.za.
Stellenberg help waar hulle kan
Stellenberg-gemeente het ruimte en vrywilligers gegee aan Shiloh Synergy, 'n nie-winsgewende organisasie wat 'n kontrak van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ontvang het, om kospakkies vir behoeftiges te pak. Miljoene rande se produkte was ontvang en aan gesinne in nood uitgedeel. 

Mike Maatjan is dankbaar vir sy betrokkenheid by hierdie betekenisvolle projek: "Dit was wonderlik om in hierdie verband 'n vrywilliger te kon wees."
Durbanville span saam
Die nasionale grendeltyd maak dit byna onmoontlik vir miljoene Suid-Afrikaners om toegang tot noodsaaklike goedere te kry. Dit geld spesifiek vir diegene wat staatmaak op inisiatiewe soos voedingskemas. Om hierdie krisis te bekamp, bied World United van Durbanville hulpbronne aan mense in nood deur middel van kospakkies.

World United is gevorm deur plaaslike predikante Enrique Hermanus van die El Shaddai Christian Church (links) en Wynand Breytenbach van Durbanville-gemeente (regs). Hulle het besef dat die nasionale inperking benadeelde gemeenskappe in die omgewing erg gaan beïnvloed: “Toe ons hoor dat die voedingskema van een van die plaaslike skole gestaak is vir die grendeltyd, het ons geweet dat ons betrokke moet raak,” het Enrique gesê. Hy het vir Wynand in Maart gebel en vir samewerking gevra. “Twee ure nadat hy my gebel het, het ons 'n plan gehad om geld te bekom en het met die gemeenskapsleiers begin praat om dit op die regte manier te doen. Ons wou die gemeenskap dien deur ons kennis, toeganklikheid en talente saam te voeg om te floreer," vertel Wynand. Lees die volle artikel hier
Kommunikasiehulpmiddels van Durbanville-Bergsig
Durbanville-Bergsig deel die volgende grafika vir gemeentes om gratis te gebruik. Hulle het gedink hoe hulle in die tydperk van inperking 'n konneksie met hulle gemeente kan behou. Daar is gekyk na invalshoeke vir werk en skoolgaan van die huis af, aanlynkuiers met familie en vriende, tuisoefeninge, stokperdjies en tydverdrywe, huistake van bak en brou tot grassny, troeteldiere en net stilword by die Here. As jy enige van die grafika wil gebruik vir jou gemeente se sosiale media, kontak Alida Vorster by kommunikasie@bergsigdv.co.za. Ontwerp deur www.twocreate.co.za.
PUBLIKASIES
Gratis van Bybel-Media 
In dié tyd van afsondering waarin gesinne saam is, bied Bybel-Media etlike produkte (sien onder) ideaal om almal sinvol besig te hou. Daar is aktiwiteite vir die kleinspan en Bybelstudies vir ouers en die res van die gesin. Klik hier om dit gratis af te laai.
ALGEMEEN
#Thursdays in Black
Die organisasie POWA (People Opposing Women Abuse) is bekommerd oor die toename van geweld teen vroue tydens die grendeltyd. Alhoewel daar 'n afname in moord, roof en kaping is, bly geslagsgebaseerde geweld 'n groot probleem. Mike Bolhuis van Specialised Security Services sê: "Daar was 'n toename in voorvalle van huishoudelike geweld. Mense is nie gewoond daaraan om vir so 'n lang ononderbroke tyd in beperkte ruimtes saam te wees nie." Bheki Cele, minister van polisie, staaf dat die polisie in die eerste week van die grendeltyd meer as 87 000 geslagsgerigte klagtes ontvang het.

POWA meen ook dat ten spyte van die hoë klagtesyfer daar menigte gevalle is wat nie aangemeld word nie. Probleme soos ‘n gebrek aan toegang tot selfone, lugtyd of openbare vervoer kan onder andere ‘n rol speel. Dit kan ook moeilik vir die slagoffer wees om ‘n aanmelding te maak, omdat sy saam die aanrander in isolasie is.

Vroue word steeds aangemoedig om tydens die grendeltyd geweld aan te meld. Die volgende kontakbesonderhede mag van hulp wees. 
Jou geestesgesondheid is belangrik
Menigte sielkundiges rapporteer dat hul pasiënte gevoelens van hulpeloosheid en vrese vir die toekoms ervaar tydens die Koronavirus-pandemie. Finansiële toestande, die ekonomie en bekommernisse oor geliefdes kan bydra tot verhoogde vlakke van stres en angs. Kenners meen ook dat die isolasie tydens die grendeltydperk kan ly tot depressie en in meer ernstige gevalle, tot selfdood.

Klik hier vir wenke en gedagtes (saamgestel deur die Sentrum vir Publieke Getuienis) wat kan help om jouself teen depressie te beskerm en/of hoe om dit te hanteer wanneer dit wel opduik. 
Ergonomiese riglyne vir jou tuiskantoor
Weens die inperking spandeer ons baie tyd in tuiskantore wat nie noodwendig ergonomies toegerus is nie. Gesondheidsorgkonsultante Alexander Forbes deel die volgende wenke om probleme met jou spiere en gewrigte te vermy. Gee veral aandag aan die posisionering van jou stoel, skerm en telefone. Skep 'n gemaklike werksomgewing en onthou om gereeld 'n pouse te neem. Lees meer hier
BEHOU DIE HUMOR
Met dank aan Feldmuis von Schanzen, NG Kerk in Namibië
TEN LAASTE
Ons leef tans in 'n sonderlinge tyd gevul met onsekerheid, twyfel en selfs mismoedigheid. Maar daar is ook oomblikke van hoop en seëviering in die Stories van Hoop, waar gemeenskappe saamstaan om hierdie omstandighede te oorwin. Stuur 'n e-pos aan kommunikasie@kaapkerk.co.za om julle stories van inspirasie met ons te deel. Kyk hieronder na in Harmonie se gebedsvideo met Engelse onderskrifte.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.