Lees deur internet, klik hier >>
25 Maart 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Nuwe COVID-regulasies
President Cyril Ramaphosa het Dinsdagaand nuwe COVID-maatreëls aangekondig. Klik hier vir die nuutste uitgawe van die Staatskoerant wat op 22 Maart gepubliseer is. Sien opsommende grafika hieronder. Daar is sprake dat die ramptoestand wat in Maart 2020 ingestel is binnekort deur gesondheidsregulasies vervang gaan word.
Van die belangrikste veranderinge is:
  • maskers is nie meer verpligtend in die buitelug nie - binnenshuis en op enige openbare vervoer moet maskers steeds gedra word.
  • sosiale afstand word verklein na een meter - dit geld egter nie meer vir skole nie.
  • 200 mense mag 'n begrafnis bywoon indien die kapasiteit van die lokaal dit toelaat; geen nagwake voor of funksies na begrafnisse word egter toegelaat nie.
  • groot byeenkomste kan tot 50% van die kapasiteit van 'n lokaal/stadion vul op voorwaarde dat mense inentingsertifikate of negatiewe COVID-toetse kan toon.
Murray Jubileum
In die aanloop tot hierdie geskiedkundige feesviering wat van 6-8 Mei vanjaar gehou word, lewer die Argief weeklikse bydraes oor die Murray-familie in VrydagNuus.
Andrew Murray is op 26 Mei 1794 in Clatt, Aberdeenshire, Skotland gebore. Hy deurloop sy teologiese studies aan die Universiteit van Aberdeen en nadat hy agt maande in Utrecht deurgebring het om Nederlands te leer, kom hy in Julie 1822 in Suid-Afrika aan. Op 13 April 1825 tree hy te Kaapstad in die huwelik met Maria Susanna Magdalena Stegmann. Uit die huwelik is 16 kinders gebore, waarvan vyf seuns predikante sou word en vier van sy dogters met predikante sou trou. Sy eerste en enigste gemeente sou Graaff-Reinet wees. Andrew Murray sterf op 24 Junie 1866 te Graaff-Reinet.
Belangstellendes kan die dagkonferensie oor die Murray-familie bywoon, 'n boekbekendstelling geniet of die naweek oorbly vir ‘n Murray Retraite. In een van die referate sal Retief Müller gesels oor die invloed wat die traumatiese ervarings gedurende die Boere-oorlog (1899-1902) gehad het op die Murrays se identifisering met die Afrikaners. Hy wys ook hoe hulle ervaringe in Njassaland hulle daarvan weerhou het om die Afrikaner nasionalisme in die loop van die 20ste eeu te omhels. 
Klik hier vir die volledige program. Lees volgende keer meer oor hierdie merkwaardige familie, wanneer John onder die soeklig kom. 
Klimaatsverandering en ons kinders se toekoms
Die Sentrum vir Publieke Getuienis skryf dat ons moet weet dat ons of 'n groen toekoms binnegaan of geen toekoms gaan hê nie. "Van al die uitdagings wat ons sou nalaat om behoorlik aan aandag te gee, is ons omgewing waarskynlik die een wat die grootste op ons kinders en kleinkinders kan impakteer. Dit is dié een waarvoor hulle ons die meeste sou verwyt sou ons nie behoorlik hieraan aandag gee nie. Dit gaan nie net ons welsyn raak nie, maar veroorsaak reeds die uitwissing van talle spesies op die planeet. Die uiteindelike uitwissing van die mens is nie 'n onmoontlikheid nie.  
Regoor die wêreld gaan stemme op wat waarsku dat ons in die moeilikheid is en ons sien ook nou dat dit veral die kinders en jongmense is wat 'n aktivistiese rol begin speel. Wanneer ons oor die ekologie begin dink, is dit baie belangrik om te verstaan wat ons bydrae kan wees en veral hoe ons oor die situasie behoort te dink.
Nie een van ons kan die wêreld red nie, maar wat ons wel kan doen, is om in die regte verhouding met God, ons naaste en die skepping te staan. Dit gaan met ander woorde nie in die eerste plek oor ons 'reddingspogings' nie, maar oor 'n lewensingesteldheid en 'n lewenstyl wat ons voor God lewe. Wie nie sensitief met die omgewing kan omgaan nie, sal na alle waarskynlikheid ook nie sensitief met ander en met God omgaan nie. Ons diskonneksie met ons omgewing kan ook lei na 'n diskonneksie met mekaar én God. Ons moet dus nie hierdie uitdaging net as 'n krisis sien nie, maar ook as 'n geleentheid wat ons sou kon help om momente in ons verhoudingslewe te herstel." Klik hier om die volledige skrywe te lees. 
Arbeidsbediening Tuinroete vind baat by BrightStar-program
Die reeds bekende BrightStar-programme is een van die gewildste persoonlike vaardigheids-ontwikkelingsprogramme wat gereeld deur Arbeidsbediening aangebied word. Dit gee nie net nuwe insigte nie, maar bemagtig deelnemers aan hierdie program op vele terreine – persoonlik en in hul werksplekke. Lees gerus van die jongste aanbieding wat in George plaasgevind het en deur Floors Meyer aangebied is hier.
Foto: Die groep dames wat onlangs BrightStar Life Core-sertifikate ontvang het.
EKOLOGIE
Aarde-uur: 26 Maart
Aarde-uur is 'n jaarlikse geleentheid wat internasionaal op die laaste Saterdag in Maart om 20:30 gevier word. Dit vind vanjaar op Saterdag 26 Maart plaas. Rumarque Cowen van ons Groenspan verskaf vandeesweek inligting oor hoe jy tydens Aarde-uur kan bydra om van die Aarde 'n beter plek te help maak. Aarde-uur is meer as net 'n uur ten bate van ons wonderlike planeet - dis 'n beweging tot voordeel van ons eie toekoms. Dis nie net 'n simbool van solidariteit nie, maar ook 'n oproep tot lewenstylverandering wat die saamstaan van massas mense inspan. Kyk gerus na ons Groenspan se video daaroor onder.
PREDIKANTENUUS
Durbanville-Bergsig verwelkom Tait-gesin
Leon Tait van NG Kerk Rietfontein-Suid in Pretoria sluit op 1 April by Durbanville-Bergsig aan in ‘n voltydse pos as medeleraar. Rietfontein-Suid is in die Moot-area van Pretoria. Leon was vir 27 jaar ‘n predikant by die gemeente. Hy sal sy intreepreke op 10 April tydens die oggenddiens om 09:00 asook die aanddiens om 18:00 lewer. Hy word dan ook die oggend bevestig. 
Foto: Leon, sy vrou Monique en hulle twee seuns, Stephan en Ruan.
Bloubergstrand bevestig Stefan de Klerk
Stefan de Klerk is ‘n boorling van Namibië wat in 2020 sy prakties as teologiese student in die gemeente van Bloubergstrand gedoen het. In 2021 het hy in ‘n kontrakpos vir die gemeente as proponent bedien. Stefan is op 16 Februarie deur die kerkraad beroep en op 13 Maart tydens die 10:00 diens word hy bevestig as leraar in die derde predikantspos. NG Kerk Bloubergstrand is dankbaar en opgewonde oor die pad vorentoe. 
GEMEENTENUUS
Helderberg ondersteun Oekraïne
Pia Nänny van Helderberg-gemeente vertel dat Helderberg Uitreik se rampverligtingfonds kontak gemaak het met ’n Suid-Afrikaanse sendelinggesin in die Oekraïne. "Michele Potgieter en haar gesin woon al 26 jaar in Reni, naby die grens met Moldawië en Roemenië, waar sy en haar man ’n kerk geplant het. Hulle sien steeds om na kwesbare persone in hul dorp en daar kom baie vlugtelinge verby.
Michele-hulle kook kos en neem dit na mense wat tot drie dae wag om die grens oor te steek. Hulle deel ook pakkies uit met basiese produkte soos meel, olie, pasta, blikkieskos, suiker, tee, kondensmelk, brood en botter soos hulle produkte in die hande kan kry. Die waarde van só ’n pakkie is ongeveer R180. Hulle gee ook babakos en doeke waar nodig. Sy vra dat ons die dorp en mense van Reni in ons gebede sal hou.
Die rampverligtingfonds het reeds ’n skenking gemaak om die kerk in Reni met hul bediening aan kwesbares en vlugtelinge by te staan. As iemand finansieel wil bydra, kan hulle dit by Helderberg Uitreik inbetaal met die verwysing OEKRAINE." 
Luister na ’n onderhoud met Michele op Radio Kansel. Die volle berig kan op die gemeente se webblad gelees word. 
VGK Kraaifontein kuier by die Dowes
NG Kerk De La Bat in Bellville laat weet dat VGK Kraaifontein se belydenisklas verlede Sondag 'n erediens saam met die Dowes bygewoon het. Mike Maatjan wou graag vir sy klas die geleentheid gegee het om iets van die Dowes se wêreld te ervaar. "Ek is verheug dat die Dowes gemaklik was om hulle ruimte met ons te deel en dat ons gemaklik was om die Dowes se ruimte te betree. Dit was een wonderlike ervaring, onvergeetlik." Chris Wheeler, predikant by De La Bat, dink dit is belangrik om bewustheid oor die Dowebediening te verhoog, solank dit met die regte gesindheid gedoen word. "Dit was 'n voorreg om mense te ontmoet wat die Dowes wou leer ken nie net uit blote nuuskierigheid nie, maar om regtig iets van hulle wêreld te leer." Stuur gerus vir Chris 'n e-pos indien jy ook 'n erediens vir Dowes saam met jou gemeente wil bywoon. 
Divorce care by Proteahoogte
Egskeiding is een van die moeilikste ervarings wat jy kan beleef. DivorceCare verskaf ondersteuning, antwoorde en rus jou toe om jou emosies te hanteer en om weer heel te word. Die 13 week-kursus word in ‘n ondersteuningsgroep aangebied en handel oor emosionele genesing, hoe om verhoudingstruikelblokke te hanteer en praktiese maniere om uitdagings te oorkom.
Die groep begin op 11 April vanaf 18:30-19:30 by Proteahoogte-gemeente. Kry meer inligting hier.
NUUS UIT ONS RINGE
Ring van Tulbagh retraite
Die gesamentlike ring van Tulbagh (VGK en NGK) het vanaf 13 tot 15 Maart ‘n retraite gehou. Die retraite het behels dat hulle die eerste twee skofte van die Pelgrimstog van Hoop vanaf Robertson stap. Rudolph Scharneck vertel vir ons meer van hierdie geleentheid.
"Sondagaand het almal by die Robertson Backpackers oorgeslaap waar heerlik saamgekuier is om ‘n braaivleisvuur. Maandagoggend is die groep bederf met ‘n stewige ontbyt by Wimpy om krag te kry vir die 22 km van die eerste dag. Die pad was redelik gelyk tot by McGregor en die groep het ses ure geneem om die skof te voltooi. Daar is uiteraard gereeld gestop om van die gewig in die rugsakke na die mae oor te dra. Die aand het ons by McGregor Backpackers oorgeslaap waar die vuur weer aangesteek is, terwyl die moeë voete en bene herstel het. Dinsdag is die stywe klim na Die Galg aangepak. Dit was ‘n tog van 16 km wat in net meer as vier ure voltooi is.
Na die oorblywende padkos weggepak is, het almal na hulle huise teruggekeer, liggame uitgeput, maar siele totaal verfris. Almal is dit eens dat dit ‘n fantastiese twee dae saam was waar verhoudings baie verdiep het. Daar is tussen die saamstappery baie saamgeëet, saamgebid, saamgekuier en veral gelag. Iemand het gesê dat as ‘n familie nie gereeld saam lag nie, sal hulle een of ander tyd alleen huil. Dit geld waarskynlik vir alle verhoudings. En enige persoon wat selfs net vir 'n kilometer saam sou stap, sou kon getuig dat die groep beslis nie sommer alleen sal huil nie. Dis ‘n heerlike voorreg om deel van ‘n ring soos die Ring van Tulbagh te kan wees." Marco Koch het 'n video met meer beeldmateriaal oor die retraite saamgestel wat onder gekyk kan word. 
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Deeltydse leraarspos, Goodwoodpark
Die gemeente van Goodwoodpark maak in biddende afhanklikheid die bogemelde vakature bekend met die voorneme om die pos vanaf 1 Mei 2022 te vul. NG Kerk Goodwoodpark is ’n voorstedelike gemeente in Goodwood, met ongeveer 550 lidmate waarvan byna 60% van die belydende lidmate bo 60 jaar is. Daar is ook aftree-oorde binne die gemeentegrense. 
Die suksesvolle aansoeker moet verkieslik ‘n emeritusleraar van die NG Kerk wees, of ‘n gelegitimeerde NG leraar ouer as 55 jaar. Verder is dit belangrik vir die predikant om passie en liefde te hê vir die geestelike versorging van ouerwordende lidmate om hulle met optimale waardigheid te laat leef. Sluitingsdatum vir aansoeke: 6 April 2022. Klik hier om die volledige advertensie te lees. 
Medeleraar (Jeug), Stellenberg
NG Gemeente Stellenberg is ’n makrogemeente op die grens tussen Bellville en Durbanville. Die gemeente bestaan uit die volle spektrum van ouderdomsgroepe en het 'n dinamiese jeugbediening.
Die suksesvolle kandidaat moet kan leiding neem om die jeugbediening tot nuwe hoogtes te voer.  Hy/sy moet onder andere ’n span vrywilligers identifiseer en as gids optree om hulle te motiveer en te inspireer. Die span moet deur die bou van verhoudinge en geestelike begeleiding die jongmense in die gemeente kan lei en ondersteun om in ’n verhouding met die Here te leef.  Die suksesvolle kandidaat sal ook as lid van die leraarspan bereid en in staat moet wees om die groter gemeente, soos nodig, te bedien.
Aansoeke sluit 31 Maart. Klik hier vir meer inligting. 
Klik op die grafika vir meer inligting.
NUUSBRIEWE 
Lees die jongste nuus van Missie Japan deur op die boonste grafika te klik.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Nuut op die rak
Prof. Ian Nell se publikasie Saam in God se Teater – Praktiese Teologie in Afrika konteks is nou beskikbaar in Afrikaans, Engels, IsiXhoas en as 'n digitale publikasie.
Hierdie boek open ‘n nuwe hoofstuk in Praktiese Teologie. Dit benader dié belangrike dissipline vanuit die (Suid) Afrikaanse konteks. Dit neem die geloofspraktyke van die Afrika Onafhanklike (Geïnisieerde) Kerke ernstig op, terwyl dit gelykertyd ook in verband gebring word met die hoofstroomkerke en tradisionele dissipline van Praktiese Teologie. Dit word sterk aanbeveel vir teologiese studente, leraars en vakkundiges en dit kan handig te pas kom in instansies vir teologiese onderrig regoor Afrika en selfs wêreldwyd.  
Koop die boek aanlyn of stuur ‘n e-pos na order@clf.co.za om 'n bestelling te plaas.
Hoogtepunte uit Kerkbode
Diaconia se stapgroep op die Stargazing Camino hoor en sien op hierdie 108 km staptog tussen Sutherland en Merweville die impak wat agt jaar van droogte op hierdie Karoo-gemeenskappe het, maar hoor ook stories van hoop en geloof. Lees Helene Meissenheimer, wat die staptog meegemaak het, se storie hier
Twee Afrikaanse sendelinge vertel hoe hulle geraak word deur die groeiende humanitêre krisis in die Oekraïne weens die Russiese invalsmagte in hierdie Oos-Europese land en hoe hulle vlugtelinge probeer help. Klik hier vir die artikel.
KUIERKANSE
Klik bo vir meer inligting.
ALGEMEEN
Raakgelees: Die Amasone-reënwoud is in die moeilikheid 
Die Amasone-reënwoud beweeg na 'n kantelpunt waar bome in massas kan afsterf, vertel navorsers. ’n Studie dui daarop dat die wêreld se grootste reënwoud besig is om sy vermoë om terug te bons van skade te verloor. Dit beteken dat groot dele van die florerende reënwoud kan verander na yl beboste savannas.
Die bevindings, gebaseer op drie dekades se satellietdata, toon kommerwekkende neigings in die gesondheid van die Amasone-reënwoud. Daar is tekens van 'n verlies aan veerkragtigheid in meer as 75% van die woud, met bome wat langer neem om te herstel van die gevolge van droogtes wat grootliks gedryf word deur klimaatsverandering sowel as menslike impakte soos ontbossing en brande.
Hoewel dit nie duidelik is wanneer daardie kritieke punt bereik sal word nie, sal die implikasies vir klimaatsverandering, biodiversiteit en die plaaslike gemeenskap verwoestend wees. Bome is van kardinale belang vir 'n gesonde omgewing en sedert die begin van die menslike beskawing het ons reeds 46% van bome wêreldwyd uitgewis. Kyk dié video om te sien hoe woude regoor die wêreld oor die afgelope dertig jaar verander het. Klik op die skakel onder om te sien watter groot impak gemaak kan word indien elke persoon op aarde een boom plant. 
SAFCEI regional interfaith dialogue
What does your faith say about treating all creatures and the planet as you would like to be treated? SAFCEI (Southern African Faith Communities' Environment Institute) is calling all faith leaders in Southern Africa to be part of this important discussion!⠀
This discussion will commence on 6 April to mark Golden Rule Day. The Golden Rule “to do to others what you would have them do to you” is a fundamental underpinning truth that is central to all the world’s major faith traditions. Click here for more information.  ⠀
TEN LAASTE
Op die vierde Sondag in Lydenstyd val die fokus baie sterk op God se groot genade. Woord en Fees se sleutelteks is Josua 5 en beklemtoon hoe God ons skuld wegneem. Die ondersteunende tekste kyk na vergifnis van ons skuld (Psalm 32), ons versoening met God (2 Kor. 5) en hoe wegloopkinders met oop arms ontmoet word (Lukas 15).
Mag ons in hierdie tyd weereens van sy genade bewus word. Luister gerus hier na AKApêlle se weergawe van Genade Onbeskryflik Groot.
VrydagNuus neem volgende week 'n vinnige breuk. Weens die skoolvakansie sal daar dus nie op Vrydag 1 April 'n uitgawe verskyn nie. Ons is weer terug op Vrydag 8 April.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.