GEMEENTEBULLETIN

20 tot 27 Oktober 2023
navrae@stellenberg.co.za | 021 976 4519 (Kantoorure: 08:00 tot 14:00)
WhatsApp-boodskappe:  081 045 2428 
Sondag 22 Oktober 2023
Eredienste ook aanlyn op www.stellenberg.co.za of op  YouTube.
Markus 4:26-29 | God laat dit groei

Oggenddiens om 09:00 in die kerk en aanlyn | Ds.  Potgieter (1)

Meditatiewe diens om 09:00 in die kapel en aanlyn | Ds. Dietmann

Aanddiens om 18:00 in die kerk en aanlyn | Ds. Breytenbach

       Annibrand Junior en Senior
Kleuterkerk om 09:00 in die koffiewinkeltuin.           
Graad 1 tot 6 in die kerk
Graad 7 tot 11 verdeel na die aanddiens in kleingroepe.  
Deuroffer 
Durbanville Kinderhuis.   Die kinderhuis is ’n projek van BADISA en bied verblyf aan 144 kinders wie se ouderdomme wissel tussen twee tot 18 jaar oud.

Gesamentlike diens

Ons gesamentlike dienste vir die vierde kwartaal het verlede Sondag begin.  Wat 'n wonderlike baken van HOOP – saamwerk, saamstaan en saam ons Hemelse vader aanbid.

Hoop vir ons gemeente, ons gemeenskap, ons omgewing. Almal is welkom in hierdie kerkbanke.

Sondagoggende 09:00
Sondagaande 18:00

Tiendemaandinsameling 2023

Ons gemeente se jaarlikse tiendemaandinsameling begin op  29 Oktober.  Tiendemaandkoeverte waarin bydraes geplaas kan word, sal by die eredienste uitgedeel word en in die koevert sal jy ook saadjies van die Kaapse gousblom (African Daisy) ontvang.  Saai gerus die saadjies in ’n blombak of saadbakkies sodat dit kan ontkiem en verplant dit dan in jou tuin om jou aan God se sorgsaamheid te herinner.  Ons gee dan ook uit dankbaarheid, omdat God vir ons sorg.

Bydraes vir die tiendemaandinsameling word gebruik om die gemeente se werksaamhede finansieel te ondersteun en bydraes kan kontant, per debietorder, elektroniese oorbetaling of met SnapScan gegee word.


Interaktiewe pret by junior kategese

Ons nooi alle ouers en kinders (graad 1 tot 6) om na die oggenddiens deel te neem aan ons interaktiewe familieverrykingsessies in die kerk.  Dis groot pret vir almal en jy kan boonop iets leer.
Daar is ook 'n lekker verrassing – kom raai: What's in the box?

Feesmark | 23 Okt - 11 Nov 

Neem asseblief kennis dat die feesmark vanjaar ’n week later as vorige jare begin.  Die mark word vanaf 23 Oktober tot 11 November aangebied.  Inkopietye is steeds vanaf 10:00 tot 20:00 op weeksdae en vanaf 09:00 tot 18:00 op Saterdae.  Die restaurant sal op dieselfde tye as die mark oop wees.  Ondersteun asseblief die groot fondsinsamelingsprojek van die gemeente en nooi ook vriende en familie daarheen uit.

Omgeegroep vir vroue

Sluit gerus op Donderdagaande om 18:00 by ons omgeegroep vir vroue aan.  Kontak vir ds. René Potgieter by 079 893 8104 om meer oor die groep te wete te kom.

VatVyf-byeenkomste in die vierde kwartaal

Ons nooi alle senior lidmate na die volgende byeenkomste:

25 Oktober om 10:00: ’n Feesmarkkuier in die restauranttent. Elkeen betaal vir hom/haarself en geen vooraf besprekings is nodig nie.

15 November: ’n Bootrit in die Kaapse Waterfront op die Spirit of  Victoria.  Koste R150 per persoon.  Die bootrit is reeds vol bespreek.

29 November: Kersete in die ou kafeteria teen R100 per persoon.   Bespreek by Charlotte, kerkkantoor.

Vroue-retraite in Stellenbosch

Kom evaar vrede en vreugde tydens die  Vroue-retraite op die Stillebosch Retraite-plaas in Stellenbosch.

Datum: 16-18 Februarie 2024

Koste : R1 400. Dit sluit verblyf, alle etes en vervoer in.

Bespreek jou plek voor 2 Februarie 2024 by Charlotte,                             charlotte@stellenberg.co.za/021 976 4519.


Jars of hope vir sopkombuise
Ons voorsien droësopmengsel aan verskeie sopkombuise deur middel van die Jars of hope-projek.   Ons benodig die volgende bestanddele om die flesse te vul: rys; droësopmengsel;  droëlensies;  pakkies soppoeier en aftrekselblokkies. 
Bestanddele kan by die kerkkantoor afgegee word.
Baie dankie
Ons is baie dankbaar teenoor al die sopkokers wat getrou gedurende die winter sop gekook het en dit vir ons moontlik gemaak het om gereeld sop aan sopkombuise te voorsien.  Ons gaan vir eers nie voort met die kook van sop nie, maar samel steeds sopbestanddele in wat aan die sopkombuise verskaf sal word.

 

Die koffiewinkel

Die koffiewinkel heropen Maandag 23 Oktober tot 11 November onder die bestuur van die Evert Opstal-restaurant.  Op 15 Januarie 2024 sal die koffiewinkel onder dieselfde bestuur, maar met ’n nuwe naam Maria, dogter van Evert heropen.  Ons is opgewonde om Willi en Ronèl Botha van die Evert Opstal-restaurant op die terrein te verwelkom. 

Twee Bybelskoolkursusse in die vierde kwartaal

Kursus 2 |  Opvolgkursus oor die Babiloniese ballingskap

In die vierde kwartaal word ’n opvolgkursus van die Babiloniese ballingskap aangebied.  In die jaar 538 v.C. het onverwagte politieke omstandighede Jode die geleentheid gebied om na 70 jaar van ballingskap na Jerusalem terug te keer.  Die tuiskoms was egter nie so rooskleurig soos wat hulle verwag het nie. Hoe herbou ons te midde van ’n wêreld wat baie verander het, tuistes wat vernietig is? Ons reis saam met gelowiges in Esra, Nehemia, Haggai, Sagaria en Maleagi.

Datums: Maandag 6, 13, 20 en 27 November om 19:00 tot 20:30.
Aanbieder: Ds. Marius Breytenbach
Besprekings: charlotte@stellenberg.co.za.
Koste: R40-donasie om die koste van die handleiding te dek. 

Helpers by die teetuin

Ons het dringend helpers nodig wat op Sondae bereid sal wees om by die teetuin behulpsaam te wees.  Dit behels slegs die skink van tee en wegpak van skottelgoed. Geen opwaswerk nie.
Kontak asb. vir Chartlotte by  021 976 4519 of charlotte@stellenberg.co.za indien jy kan help.

Gemeentebraai | 1 Desember
Die volgende gemeentebraai sal vanweë voorbereidings rakende en die aanbied van die feesmark eers weer op  Vrydag 1 Desember gehou word.  Dan sluit ons die jaar saam op ’n gesellige wyse af.

Gebedsversoeke

Gebedsversoeke kan aan ds. René Potgieter by 079 893 8104 gestuur word.

Breigroep

Die breigroep ontmoet weer op Maandag  6 November om 09:30 by Edelweiss.  Tydens die feesmark kom die groep by Edelweiss byeen.

Bybelstudiegroep vir vroue

Die Bybelstudiegroep vir vroue kom elke Maandag om 10:00 (slegs tydens skoolkwartale) in die ou kafeteria-area byeen.  ’n Biduurbyeenkoms om 09:15 in die gebedskamer langs die kapel word voor die  Bybelstudie aangebied.
Finansiële bydraes

Baie dankie vir jou finansiële bydrae wat dit vir ons moontlik maak om voort te gaan met die gemeente se werksaamhede.
- Gebruik gerus die SnapScan-toepassing om jou bydrae te maak.
- Elektroniese  bydraes na: ABSA-tjekrekening 145 058 0011, takkode 632005.
- Kontantbydraes: Kan by die kerkkantoor inbetaal word, of in die beveiligde posbus op die kerkkantoor se stoep gegooi word. 
- Debietorders: Laai gerus die debietordervorm af, voltooi en e-pos na stellenberg@stellenberg.co.za.

Elektroniese kommunikasie

  • Op jou rekenaar:
    Jy kan die bulletin en Stellenberger per e-pos ontvang.  Stuur jou e-posadres aan sanel@stellenberg.co.za.
  • Op jou selfoon:
    Skandeer enige van die QR-kodes met jou slimfoon se kamera om by die WhatsApp-groep van jou keuse aan te sluit en toegang tot gerieflike elektroniese kommunikasie te ontvang. Jy kan die bulletin, geestelike dagstukke en algemene nuus op jou selfoon ontvang.

Stellenberg Terapiesentrum

Die sentrum bied terapie, berading en  mediasiedienste deur professionele persone aan.  Spraak- en arbeidsterapeute, asook ’n besigheids- en lewensafrigter se dienste is  beskikbaar. Maak gerus ’n afspraak by 021 976 4519  (09:00 tot 13:00), of  stuur ’n  e-pos na therapy@stellenberg.co.za.  Na-ure skakel 083 519 0602. 

In die omgewing . . .

  • Edelweiss Dienssentrum se waglys vir opnames is oop.  Rig asb. aansoeke per e-pos aan mev. A. Nigrini by edelweisshoof@acvv.org.za.
Subscribe to our email list.