STELLENBERGER
Desember 2020

Eredienste tydens die feesgety

Ons kerkgebou kan meer as 600 mense akkommodeer.  Eredienste kan dus  met die nodige sosiale distansiëring deur minstens 250 persone veilig bygewoon word.  Geen besprekings vir die bywoning van eredienste is nodig nie.  Die perseel word ook weekliks gesaniteer.  Kerkgangers moet asseblief maskers dra vir die volle duur van die erediens, ook tydens sang. Lees meer . . . 

2021 – ’n Jaar van verandering en vereenvoudiging


Deur: Ds. Marius Breytenbach

Die uitdagings wat die koronaviruspandemie meegebring het en waarmee ons land, die onmiddellike gemeenskap en die wêreld gedurende 2020 gekonfronteer is, het die gemeente se strategiekommissie en die kerkraad genoop om vernuwend te dink en te herbesin oor die gemeente se pad vorentoe. Daarmee saam gaan verskuiwings in ons predikantespan binne die volgende twee jaar plaasvind wanneer  di. Callie Visagie en Why Duvenhage aftree. Die gevolg is die vereenvoudiging van ons bestaande bedieningsmodel om die volhoubaarheid van dienslewering te verseker.  Ek deel graag die volgende besluite:
Eredienste in 2021  

Lees saam deur die Bybel 

Deur: Ds. Marius Breytenbach
Die jaar 2020 sal nog lank onthou word as ’n jaar van groot uitdagings wat ons lewens op verskeie maniere geraak en verander het. Op verskeie terreine is ons gedwing tot heroriëntering en daarom wil ons almal aanmoedig om in 2021 deel te neem aan ons Bybelleesprojek en daardeur opnuut te beleef hoe dit jou lewe op God kan rig.

Die meeste van ons het met die Bybel grootgeword en is geleer dat dit sentraal in ons geloofsvorming staan. Alhoewel ons geleer is dat ons die Bybel gereeld  moet lees, het ’n mens dit dalk nie in die praktyk toegepas nie.  Dit mag ook wees dat wanneer ons die Bybel lees, ons verkies om weer en weer die ou bekende gedeeltes na te slaan en sodoende verby die minder bekende gedeeltes blaai. Hoe loop jou eie pad met die Bybel?   Lees meer . . .

Om die oudste pelgrimstog ter wêreld aan te pak


Indien jou voete dalk reeds lankal jeuk om die bekende Camino-pelgrimstog aan te durf, lees gerus hier oor Mariette en Chris Opperman se staptog wat hulle in 2019 aangepak het.  Stellenberger het met Mariette gaan gesels om meer te wete te kom rakende hulle belewenis van dié wêreldbekende pelgrimstog en waarvoor diegene wat beplan om ook dié tog te onderneem, op hul hoede moet wees.

Jy en Chris het 35 dae lank gestap, vanaf 7 September tot 12 Oktober 2019.  Julle het dus 35 dae lank gestap.  Is dit hoe lank dit ’n mens neem om die roete te voltooi?   Sou jy sê September/Oktober is ’n goeie tyd, wat weer aanbetref, om die pelgrimstog aan te pak? 

Daar is verskeie roetes wat op verskillende plekke in Europa begin en by Santiago eindig.  Die roete wat ons gestap het, was die Camino Francés. Dit begin by St. Jean Pied de Port in die Pireneë en eindig 800 km later by Santiago de Compostela.  Volgens die Brierley-toergids se indeling stap ’n mens dit in 33 dae.  Die 33 dae verteenwoordig een dag vir elke jaar wat Jesus op aarde was.  Ons het ná Santiago nog aanhou stap tot by Finisterre aan die Spaanse kus en het dus twee dae langer as 33 dae gestap.
Lees meer . . .

Foto links: Mariette en Chris Opperman buite die pelgrimskantoor by St. Jean Pied de Port met hulle pelgrimsboekie en skulp in die hand.

Foto regs:  Chris Opperman in die Navarra-streek wat pragtig is, maar daar is heelwat steil opdraandes.

Foto links: Puenta la Reina is 'n pragtige klein dorpie in Spanje se Navarre-streek.  Koning Sancho III se vrou het tydens die Middeleeue opdrag gegee dat die brug gebou word sodat pelgrims die rivier veilig kan kruis.
Foto regs: Die uitsig oor die mooi dorpie Valcarlos.

Flesse vol lekkerte

Hierdie kleurvolle flesse stampvol gestop met lekkers en koekies gaan Kersfees vanjaar vir heelwat kindergesiggies opvrolik.  Op die foto regs is ds. Why Duvenhage en Lindy van Wyk de Vries besig om die kleurvolle flesse uit te sorteer en vir versending te verpak.  Baie dankie aan lidmate wat bygedra het tot dié vrolike Kersprojek.  

Die nuwe 2020 - Afrikaanse Bybelvertaling
Deur: Ds. Marius Breytenbach

Wanneer ’n mens al die verskillende Bybels wat in jou huis is, opstapel, sal die hopie hoog wees. Waarom dan nog ’n Afrikaanse Bybel aankoop en waarom was ’n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling nodig?

Daar bestaan baie misverstande rakende vertalings van die Bybel.  Bybelvertalings vervang nie mekaar soos met nuwe weergawes van rekenaarsagteware nie – hulle staan eerder langs mekaar. Daar is hoofsaaklik drie tegnieke om die bronteks van die Bybel, of te wel die oudste en mees algemene weergawe van die Griekse en Hebreeuse teks, te vertaal. Ons is bevoorreg om vir elkeen van die drie benaderings  ’n vertaling in Afrikaans te hê.  Lees meer . . .

*Dr. André Agenbag stel homself voor . . .

Ek is ’n boorling van Caledon en het my hoërskoolloopbaan in Port Elizabeth afgesluit, waar ek ook twee jaar as dienspligtige deurgebring het. Hierna het ek my teologiese studies aan die Universiteit van Port Elizabeth in 1989 begin en dit in 1995 aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi.  Suidkus-gemeente in Amanzimtoti was my eerste gemeente.

Tydens die fase van my lewe, in 1997, is ek en Marnel Meiring in die pragtige Moederkerk op Stellenbosch getroud. Sy is ’n Afrikaansonderwyser en die afgelope klompie jare die hoof van die Afrikaans-departement by Reddam House in Durbanville. In 1999 het ek ’n beroep na Lynnwood-gemeente in Pretoria aangeneem, waar ek verantwoordelik was vir die Engelstalige en multikulturele Andrew Murray-gemeente, wat as ’n wyk by Lynnwood ingelyf was. Lees meer . . .

Graad 8-kamp 2021

Die jaarlikse graad 8-kamp, wat fokus op die oriëntering van dié groentjies se toetrede tot die hoërskool, word in ’n aangepaste formaat aangebied en sal vanaf 21 tot 22 Januarie 2021 op die kerk- en skoolterrein plaasvind.  Ouers kan hul graad 8’s op die kerkterrein aflaai en smiddae weer oplaai.  Hulle sal saans tuis slaap.  Inskrywingsvorms en  volledige besonderhede is op www.stellenberg.co.za beskikbaar.

Met die oog op die lang skoolvakansie wat voorlê, beplan ons kinderwerker, Brenda Visser, ’n oggendvakansie-program propvol vrolike kaskenades vir laerskoolkinders, vanaf 18 tot 20 Januarie 2021 op die kerkterrein.  Almal van graad 1 tot 7 is welkom om in te skakel.  Bring jou eie pousekos.  Inskrywings by www.stellenberg.co.za/sunet@stellenberg.co.za.  Koste: R200 per kind.  

Subscribe to our email list.