27 November 2015

Beste Lidmaat

Die kerkraad se besluit rakende selfdegeslag verhoudinge.
Die kerkraad van Stellenberg-gemeente het op Woensdag 18 November by ’n amptelike vergadering ’n gesprek oor selfdegeslagverhoudinge gehad.  In die lig van die Algemene Sinode se onlangse besluit oor die aangeleentheid en die daaropvolgende appèl deur enkele individue, het ons verantwoordelik gevoel om binne ons gemeente konteks weer hieroor te besin.
Ons konteks is juis dat die kerkraad reeds in 2002 ’n inklusiewe standpunt formuleer het waarin alle kerklike voorregte van gay lidmate erken word. Dit is sedertdien met sensitiwiteit, maar tog openlik, gekommunikeer in prediking en toerustingsgeleenthede.
Stellenberg se visie en waardes (roepinge) was rigtinggewend in bogenoemde gesprek. Ons visie en uitgangspunt is dat Jesus ons Verlosser leef en dit is vir ons ’n werklikheid, ook in 2015. Die lewende Here verwag dat ons ons oortuigings en lewens deurlopend sal evalueer en ons standpunte en optrede teenoor alle mense in die lig van sy liefdesgebod sal ondersoek. Om uit te reik oor alle grense beteken vir ons dat ons geen onderskeid tussen mense maak nie, in teenstelling met verskillende vorme van diskriminasie (bv. ten opsigte van seksuele oriëntasie, geslag, ras) wat wel in die sekulêre wêreld aangetref word.
Ons wil nader aan God leef en die Bybel is dus vir ons die ononderhandelbare rigsnoer vir ons standpunte en besluite.  Ons erken dat daar tussen gelowiges verskille bestaan oor die manier waarop ons die Bybel lees en toepas, ook binne die gemeente.  Hierdie verskille word met respek geakkommodeer en deernisvolle dialoog daaroor word aangemoedig.
Die waarde om nader aan mekaar te leef beteken onder andere dat ons nie die eenheid van die kerk, of gemeente ter wille van onderlinge verskille, prysgee nie. Inteendeel, dit maak ons roeping om saam die Here te dien soveel meer verrykend, omdat ons vermoë om na mekaar te luister en die styl waarin ons van mekaar verskil, getoets word.
Ons is oortuig daarvan dat die verskil wat ons in die wêreld maak veral bepaal word deur ons opdrag om van God se onvoorwaardelike liefde vir alle mense te getuig en dit prakties uit te leef.
Om voortdurend te vernuwe vra van alle Stellenberg lidmate (ook die kerkraad) om in die styl en bedoeling van ons gereformeerde tradisie deurlopend te reformeer, met die evangelie as maatstaf (sola scriptura), die toepassing van ons geloof (sola fide), die uitlewing van genade (sola gratia) en die realisering van die liefde van Christus (solus Christus).  Teen hierdie agtergrond stel ons die volledige besluit van die kerkraad beskikbaar.
Mag dit ons gay lidmate oortuig van ons onvoorwaardelike aanvaarding en erkenning van hulle menswees en gepaardgaande regte. Mag dit lidmate wat verskil van die standpunt oortuig van die kerkraad se erns met Jesus Christus, die evangelie en ons belydenis dat die eenheid van die liggaam van Christus net so belangrik is as ons erkenning van die menswaardigheid van alle mense.
Daar sal in 2016 geleenthede geskep word waar gepraat sal word oor Bybel interpretasie en wat dit beteken om verantwoordelik met die Skrif om te gaan.  In 2016 fokus sowel die kerkraad as die sinode op die tema van menswaardigheid en verskeie geleenthede vir dialoog sal gereël word.
Besluit van die kerkraad:
  1. Stellenberg-gemeente herbevestig die besluite van die kerkraad in 2002 en erken die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind haarself tot die handhawing van die menswaardigheid van alle mense.

  2. Stellenberg-gemeente verklaar dat hetero- en homoseksuele persone wat in ’n verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid met die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap.

  3. Stellenberg-gemeente herbevestig die Algemene Sinode se besluite oor die huwelik van 2004, 2007 en 2013 dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ’n huwelik beskou word.

  4. Stellenberg-gemeente gee erkenning aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou – en maak voorsiening daarvoor dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hulle weg daartoe oopsien, bevestig kan word.

  5. Deur die besluit wil die kerkraad nie lidmate uitsluit wat van hierdie standpunt verskil nie. Die kerkraad is oortuig daarvan dat – te midde van ons verskille – ons as ’n gemeenskap van gelowiges, vanuit die bron van God se liefde, getrou aan mekaar en God verbind kan bly.  

Besoek gerus www.stellenberg.co.za vir skakels na verdere inligting oor selfdegeslag verhoudinge.
 
Ds. Marius Breytenbach
Voorsitter van die Kerkraad
   

Subscribe to our email list.