navrae@stellenberg.co.za | 021 976 4519 (Kantoorure: 08:00 tot 14:00)
WhatsApp-boodskappe:  081 045 2428 

Erediens Sondag 9 November 2025

 2 Konings 2:19-21Sout vir die aarde: Reiniging

Oggenddiens 
09:00 in die kerk en aanlyn | Ds. Potgieter (2)

Kleuterkerk 09:00 in die komiteekamer

Meditatiewe diens
09:00 in die kapel en aanlyn | Ds. Dietmann

Aanddiens
18:00 in die kerk en aanlyn | Ds. Schoombie


Kategese
Annibrand Junior (alle graadgroepe) kom na die oggenddiens in die kerk byeen.

Annibrand Senior verdeel ná die aanddiens in kleingroepe.
Teetuin
Besoek gerus die teetuin met gratis tee en koffie in die tuin voor die kerkgebou na afloop van die oggenddiens. Cappuccino's sal in die Maria-restaurant se tuin te koop wees.
Deuroffer
Stellenbergmedewerkers: Deur die getuienisbediening van die gemeente ondersteun ons finansieel plaaslike en internasionale sendelinge wat almal vir die koninkryk van God werk.

Vierde kwartaal-preekreeks:  Sout vir die aarde



In Matteus 5:13 lees ons die volgende: “Julle is die sout vir die aarde.  Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout?” 

Dankbaar | Verbind | Reinig | Insig | Verander

Tiendemaandinsameling 2025:

Sout vir die aarde

In dié maand plaas ons besondere fokus op die gemeente se tiendemaandinsameling wat spesifiek bydra tot die inkomste van die onderskeie bedienings.  
Binne die gemeente is daar vier hoofbedieningsareas, en hierdie week plaas ons die fokus op die getuienisbediening.  Wanneer ons sê dat ons oor grense heen uitreik, vorm die getuienisbediening die hartklop van dit waarvoor Stellenberg-gemeente staan.

Die getuienisbediening se drie fokusprojekte buite die gemeente, is:
- Die Klipheuwel-gemeenskap, met spesifieke fokus op die kleuterskool, die Young Davids-kleingroepe vir jong seuns en al die vrouegroepe.
- Sopkombuise in Khayelitsha en Bloekombos.
- Die Degnosbediening in Namibië, wat die Boesmangemeenskap bedien.
Kyk gerus na die onderstaande video om meer oor die werksaamhede van hierdie bediening te wete te kom. Leon Kampman dien as voorsitter van die getuienisbediening, en ds. René Potgieter is saam met hom verantwoordelik om die leisels van dié bediening bymekaar te hou.

So vorder die insameling . . .

Creative Cuisine Pantry: 25 jaar se smaaklike sukses – by die feesmark begin
Alet Erasmus, eienaar van Creative Cuisine Pantry, het min bekendstelling in Stellenberg-gemeente nodig. Dié energieke donkerkopvrou — of haar produkte met die kenmerkende donkergroen etikette — is aan die meeste Stellenbergers goed bekend.

Alet vertel dat haar eerste aansoek om by die feesmark uit te stal in 1999 afgekeur is. Lees meer . . .

Die feesmark se vlytige bakker

Cornel Opperman bak 11 panne gelyk – en lewer selde ’n flater!

Soos die feesmark einde se kant toe staan, spog Cornel dat hy nou só konfyt geraak het met pannekoek bak, dat hy nie eens meer één flater begaan nie.

Die vernuftige bakker, 33 jaar oud, help die afgelope twee jaar vir Annemarie Liebenberg, organiseerder van die pannekoekstalletjie. Gedurende die feesmark bak hy daagliks tussen 700 en 800 pannekoeke – ’n ware prestasie!

Wanneer Cornel nie pannekoeke bak nie, doen hy los werkies en maak onder andere ook huise skoon.  Annemarie vertel met trots dat Cornel ook ’n voorslag is met witsous maak – ’n man van vele talente!

Feesmark: Ons het dankbare harte

Ons is opreg dankbaar vir die wonderlike ondersteuning wat die feesmark die afgelope drie weke geniet het, en ons gee alle eer aan ons Hemelse Vader wat ons in die aanbied van nóg ’n suksesvolle mark gelei het.

Dit bly ’n voorreg om, getrou aan ons leuse “oor grense heen”, aan meer as 300 uitstallers die geleentheid te kon bied om ’n inkomste te genereer.  Lees gerus die mooi getuienis van Alet Erasmus, jare lange lidmaat van die gemeente,  wie se baie suksesvolle besigheid 25 jaar gelede by die feesmark ontstaan het.

Baie geluk aan die hele feesmarkspan met die aanbied van nóg ’n suksesvolle mark! ’n Besonderse woord van dank aan Stéphan Boshoff, voorsitter van die feesmarkkomitee, die ander komiteelede, die organiseerders, Karen Visagie, Sheree-Lee Gildenhuys en Deon Maree, asook aan al die feesmarkpersoneel wat agter kasregisters en in die sale met toewyding en entoesiasme hul taak verrig het. ’n Groot dank ook aan al die lidmate wat die mark en die restaurant ondersteun het en vriende saamgenooi het – dit was heerlik om soveel bekende gesigte in die sale en tente raak te loop.
Ons wens Deon Maree en die terreinpersoneel sterkte toe met die groot opruimingswerk wat op Maandag 10 November begin.
Onthou die feesmark is nog oop tot Saterdag 8 November om 18:00!

Skaapkopete by die feesmark ’n hoogtepunt

Op Donderdagaand 6 November het Erina van Erina’s Catering feesgangers bederf met ’n egte skaapkopete. Hierdie delikatesse het heelwat aanhangers, en die eters het heerlik gesmul. Só ’n bord kos is natuurlik nie almal se smaak nie, maar diegene wat daarvan hou, beweer daar is niks lekkerder nie.  Erina, ons maak volgende jaar weer so!

Kersvreugde vir Ruyterwacht 

Ons wil graag minderbevoorregte seniors wat in huise en woonstelle wat deur die Omgeetrust ontwikkel is, woon, tydens die Kersseisoen met ’n kospakkie ondersteun.  Die omgeetrust het ’n hele aantal huise en woonstelle opgeknap sodat minderbevoorregte seniors daarin gehuisves kan word.  Klik asseblief HIER om te sien met watter niebederfbare produkte jy hulle kan ondersteun. Bring bydraes Sondae saam na eredienste toe, of gee by die kerkkantoor af.

Jy word uitgenooi om by ’n dissipelskapgroep aan te sluit


Het jy van kleins af die kerkpad geloop – maar voel dalk dat iets  steeds ontbreek in jou verhouding met die Here?  Wil jy graag by ’n punt kom waar Bybel lees en gebed ’n behoefte word, en nie net ’n plig is nie?  Skakel dan by ’n dissipelskapgroep in waar weeklikse byeenkomste ’n plek van groei, gebed en deelwees word.  Ds. Deon Loots se dissipelskapprogram sal jou in die proses begelei. Dissipelskap is nie net  ’n kursus nie, maar ’n lewensreis saam met God.  Vir meer inligting besoek: www.dissipelskap.co.za.
Indien jy graag in 2026 by ’n dissipelskapgroep wil inskakel, kontak ds. Johan Visser | johan@stellenberg.co.za | 072 603 3205.


Kerkraadbenoemings

Ons doen ’n beroep op lidmate om geskikte kandidate vir die kerkraad te nomineer.
Ons kort tans drie ouderlinge en een diaken.  Die diaken sal ook as voorsitter van die getuieniskommissie dien.

Stuur asseblief die naam en kontakbesonderhede van iemand wat jy graag vir een van bogenoemde rolle wil nomineer, na
anneke@stellenberg.co.za.

Die Bybelskoolkursus is weekliks aanlyn beskikbaar.  Jy is steeds welkom om vanaf Dinsdag 11 November by die kursus in te skakel wat om 18:30 in die kerk aangebied word.
Van Jerusalem tot Nicea – die merkwaardige storie van die vroeë kerk

In hierdie vyfweke-Bybelskoolkursus ontdek ons die merkwaardige verhaal van die eerste 300 jaar van die kerk. Ons reis begin by die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag in Jerusalem, en eindig by die geloofsbelydenis wat in 325 n.C. in Nicea geformuleer is.

Die kursus sluit by ons laaste gemeentewaarde vir die jaar aan: Om voortdurend te vernuwe. Die geskiedenis van die kerk is die verhaal van hoe die Heilige Gees gelowiges, te midde van groot uitdagings en nuwe geleenthede, voortdurend van binne verander het om betekenisvolle lewens te lei.

📖 Aanbieder: Ds. Marius Breytenbach
📅 Datums: 11, 18, 25 November en 2 Desember 2025
🕢 Tyd: 18:30 - 20:00
📍 Plek: Stellenberg-kerkgebou
💰 Koste: R30-donasie (handleiding)
📞 Inskrywings: Charlotte – ontvangs@stellenberg.co.za | 021 976 4519

VatVyf-Kersfeeskonsert

Woensdag 26 November 2025 | 10:00 | Kerk
Kersfeeskonsert met Elizabeth en Francois Fourie
Kom vier saam die feestelikheid van Kersfees met musiek, kos en geselligheid. 

Koste: R100 per persoon.
Bespreek en betaal teen 21 November by Charlotte (kerkkantoor)

 ☎️ 021 976 4519  |  WhatsApp 081 045 2428          


Die gemeentekamp se datum is op versoek verskuif na 5 tot 7 Desember.  Daar is 11 staanplekke in die pragtige Goudmyn-kampeerterrein beskikbaar teen R1 450 per staanplek vir die naweek, met maksimum ses mense en twee voertuie.

Bespreek jou plek aanlyn met die onderstaande skakel of kontak Madeleine by maddyleine@gmail.com

Bespreek kampeerplek

Graad 8-kamp 2026


9 tot 11 Januarie 2026
Inskrywings is nou oop!  Leiers en graad 8's kan aanlyn inskryf deur op die onderstaande skakels te klik.
Inskrywings sluit op 26 November om 12:00.
Inskrywings vir graad 8's
Inskrywings vir leiers

Vroue-retraite

Die Vroue-retraite word in 2026 vanaf 13 tot 15 Maart by die Andrew Murray Spiritualiteitsentrum aangebied.  Koste: R1 500 per persoon vir verblyf en etes.  Bespreek jou plek by ontvangs@stellenberg.co.za.
Sluitingsdatum:  27 Februarie 2026.

Gebedsversoeke

Gee gebedsversoeke deur aan ds. René Potgieter by rene@stellenberg.co.za of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 079 893 8104.

Dankie vir jou finansiële bydrae

- Bydraes kan elektronies oorbetaal word  na  ABSA-tjekrekening 145 058 0011,  takkode 632005.
- Gebruik gerus die SnapScan QR-kode indien jy die SnapScan-toep gebruik om ’n bydrae te maak. Klik HIER om ’n betaling deur SnapScan te maak. 
- Vir jou gerief kan jy ’n debietordervorm hier aflaai, voltooi en aan finansies@stellenberg.co.za stuur. 

Elektroniese kommunikasie

  • Op jou rekenaar:
    Jy kan gemeentenuus weekliks deur middel van die Stellenberg-weekliks per e-pos ontvang.  Stuur jou e-posadres aan sanel@stellenberg.co.za.
  • Op jou selfoon:
    Skandeer enige van die QR-kodes met jou slimfoon se kamera om by die WhatsApp-groep van jou keuse aan te sluit en toegang tot gerieflike elektroniese kommunikasie te ontvang. Jy kan die Stellenberg-weekliks, geestelike dagstukke en algemene nuus op jou selfoon ontvang.

- Advertensies - 

Jy kan hier adverteer

Plaas gerus ’n advertensie in die Stellenberg-weekliks.  Die nuusblad word tans weekliks elektronies aan 2 500 persone gestuur en is ook op die gemeente se webwerf beskikbaar.  Advertensies sal slegs aanlyn beskikbaar wees en word nie in gedrukte formaat uitgegee nie. Lees meer . . .

- Bellair-pendeldiens: Bied vervoer vanaf R300 na die lughawe asook besoeke aan winkels, dokters en hospitale.  Kontak Marius Brink by 079 968 5486 of 079 590 1070.
- Matskoonmaakdiens: Kontak Leon Ritter by 082 448 2438 vir ’n gratis kwotasie.

- Stellenbeertjies-dagsorg: Vir babas tot tweejariges. Kontak Minette 069 179 5279.
- Tuisversorgingsdiens:  Ek voorsien 'n inwonende diens aan eensame bejaardes wat ondersteuning benodig.  Dienste sluit die voorbereiding van maaltye, aankope, ligte skoonmaakdiens en vervoer na afsprake (indien die persoon 'n voertuig het).  Geen persone met demensie en Alzheimer se siekte nie.  WhatsApp gerus vir Helma Zeelie by 082 326 6660.
- Tuinwoonstel dringend benodig: Ek benodig dringend ’n diervriendelike tuinwoonstel of kamer in ’n huis met ’n privaat badkamer. Ek is 62 jaar oud, sonder enige afhanklikes en werksaam by Solidariteit Helpende Hand. Ek kan R6 500 per maand huur betaal. Kontak my, Annelize van der Merwe, asseblief by 076 023 0522. 
- Eenslaapkamerwoonstel benodig:  Ek is op soek na ’n eenslaapkamerwoonstel of tuinwoonstel te huur in Stellenberg/Eversdal/Durbanville-omgewing.  Ek kan vanaf 1 Des. 2025 of 1 Jan. 2026 die woonstel betrek.  Kontak Marlene Lerm  084 588 5002.
- Eenslaapkamerwoonstel te huur in Eversdal. Die woonstel is vanaf 1 Januarie 2026 beskikbaar en geskik vir ’n jong werkende persoon of student. Geen troeteldiere. Veilige parkering. Kontak mev. Visser 076 4599 658.

- Luukse drieslaapkamer-vakansiehuis te huur in Eastford Country Estate Langs Simola, Knysna.  Die huis bied ’n pragtige uitsig oor Knysna, kan ses persone akkommodeer en is vanaf 24 -28 November 2025 beskikbaar.  Kontak Leana Nieuwoudt  082 88 77 347.

- Toesluitmotorhuis en afdak benodig: Kontak asseblief vir Pierre van Zyl 084 533 9976 of Elaine van Zyl 083 225 8880 indien jy ’n enkel- of dubbelmotorhuis het om te verhuur waarin antieke voertuie en ’n sleepwa gestoor kan word, of ’n afdak vir die stoor van ’n karavaan en boot.
- Woonhuis in Bettysbaai benodig: ’n Huisoppasser is op soek na ’n rolstoelvriendelike huis in Bettysbaai.  Sy sal huur en elektrisiteit betaal en die huis is steeds beskikbaar indien die huiseienaar dit vir vakansies wil benut, mits dit vooraf met die huurder onderhandel word.  Kontak Hanlie du Plessis by 072 766 9917.
- Au Pair-pos beskikbaar vir 2026: Ons gesin is op soek na ’n betroubare en verantwoordelike au pair om te help met ons drie kinders (ouderdomme 6, 8 en 11 jaar) gedurende die skoolkwartale van 2026.Werksure: Maandag tot Vrydag, 13:00 – 16:00 (ure kan effens buigbaar wees, indien nodig). Klik HIER vir ’n volledige posomskrywing.
Oorweeg u om u huis te verkoop?  Milieu-eiendomme is al die afgelope 38 jaar werksaam in die gemeente se onmiddellike omgewing.  Ons benodig voorraad vir kopers wat graag in ons area wil koop. Die agentskap doen ’n in-diepte vergelykende markanalise van die markprys van u eiendom en verseker u te alle tye van die beste diens met baie ondervinding.  Skakel JP vd Poel 082 878 5582 vir ’n gratis kwotasie, markanalise van u eiendom – dit is aan geen verpligting onderhewig nie. U tevredenheid is ons prioriteit. 
Eversdal Orthodontics
Ons huislike, familie-vriendelike praktyk bied al meer as 30 jaar lank ortodontiese sorg van uitnemendheid. Skakel ons gerus by 021 975 2610 om 'n afspraak te maak by Dr Seugnet Berndt – die eerste stap na jou mooiste glimlag!

📍 51 Amandelweg, Eversdal  manager@eversdalortho.co.za

Subscribe to our email list.