navrae@stellenberg.co.za | 021 976 4519 (Kantoorure: 08:00 tot 14:00)
WhatsApp-boodskappe:  081 045 2428 

Erediens: Sondag 14 Julie 2024


Op ons knieë voor God | 2 Samuel 6 en 15  
Oggenddiens om 09:00 in die kerk en aanlyn | Ds. Breytenbach (4)

Familiediens om 09:00 in die kleinsaal en aanlyn | Ds. Visser

Meditatiewe diens om 09:00 in die kapel en aanlyn | Ds. Dietmann

Kleuterkerk om 09:00 in die kleuterkerklokaal (grootsaal)

Aanddiens om 18:00 in die kerk en aanlyn | Ds. Schoombie

Die verkiesing is verby . . . Wat nou?

Dr. Braam Hanekom het onlangs as voorsitter van die SAFCEI-raad die inhuldiging van die president bygewoon. Hier gee hy enkele indrukke van die historiese gebeurtenis, asook van wat ons nou kan verwag.

Sonder enige twyfel was die aanloop tot vanjaar se verkiesing deurspek met hewige debat, voorspellings en ontevredenheid met die regering. Nog in geen vorige verkiesing sedert 1994 het ek dit so intens beleef nie. Die opkoms en aktiewe werksaamhede van burgerlike samelewingsorganisasies soos Defend our Democracy en Convergence4SA het dit onderstreep. Die uitslag het bevestig dat die breë samelewing keelvol was vir die bestaande politieke orde.  Lees meer . . .


Suid Afrika: Hoe staan sake nou?

’n Gesprek saam met dr. Hanekom en prof. Schwella


Woensdag 24 Julie om 18:30 in die kerk

Dr. Braam Hanekom, direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis en prof. Erwin Schwella, politieke kommentator gaan ’n gesprek lei oor hoe Suid-Afrika se toekoms na die verkiesing lyk.  Die 2024-verkiesing het vir verbasing en opgewondenheid asook ’n tikkie onsekerheid oor die toekoms van die land gesorg.  Kom luister na hulle perspektiewe oor waar ons tans staan asook moontlike scenarios vir die toekoms.  Dit sluit ook in wat die rol van die kerk en gelowiges in hierdie oorgangstyd moet wees.  Registreer asseblief by spg@kaapkerk.co.za/skakel 021 957 7202, of ontvangs@stellenberg.co.za/021 976 4519 om aan te dui dat jy die bespreking gaan bywoon.  Toegang is gratis.

Klouterkerk | Sondag 4 Augustus

Ds. Philipp Dietmann nooi alle ouers met kinders van drie jaar oud en jonger om op Sondag 4 Augustus vanaf 09:00 tot 09:30 by ons klouterkerkbyeenkoms in die kafeteria aan te sluit.  Dit is ’n informele byeenkoms waar kinders en ouers gemaklik en ontspanne kan saam wees en ons die geleentheid gebruik om met mekaar oor ons geloof te gesels.  Die kaggel sal aangesteek word en na die byeenkoms kuier ons saam oor ’n koppie tee en ligte versnaperinge.  Geen vooraf besprekings is nodig nie.

Winterhulp - help asseblief

Baie dankie aan elkeen wat gereeld op verskeie maniere ons hande versterk om ander te help.  Danksy dié bydraes kon ons tydens die afgelope week se stormweer warm klere en komberse aan mense in geteisterde areas uitdeel, kos versprei en vir mense ’n warm koppie sop aanbied. Die nood is veral wintermaande baie groot en ons sal enige verdere bydraes van klere, komberse of bevrore sop baie waardeer.  Kontantbydraes na ons Noot-vir-noodfonds is ook welkom.  EFT bydraes na ABSA-tjekrekening 145 058 0011,  takkode 632005. Gebruik “winterhulp” as verwysing.  Kontak gerus vir ds. René Potgieter by rene@stellenberg.co.za met enige navrae.
LIGREISIGERS! 'n Kamp vir graad 4's tot 5's.  Kom hoor hoe jy jou lig helder in jou wêreld kan laat skyn deur Jesus se voorbeeld te volg.

Wanneer:  2 - 3 Augustus, vanaf Vrydag 17:00 tot  Saterdagoggend 10:00.

Waar:  Stellenberg-gemeente se salekompleks  Koste: R150 per kind

Inskrywings sluit: Woensdag 31 Julie 2024 om 12:00, sodat ons betyds pizzas kan bestel.  Klik HIER om aanlyn in te skryf.

Politici – ons en die waarheid

Deur: Ds. Schalk van Wyk

Die wêreld en sy vrou het in die laaste tyd verkiesing gehou. Gevolglik is enige iemand wat op hoogte wou bly van die nuus, blootgestel aan eindelose politieke toesprake. Vir die Britte is die hemel belowe, vir die Franse ʼn gesuiwerde bevolking, vir Amerika – wel vir Amerika is niks belowe nie, hulle is te besig om mekaar te verkleineer om hulle nog aan beloftes te steur. Hier by ons lyk dinge meer belowend, maar ons sal tog moet sien, want wie kan ʼn politikus glo? Dit alles het my aan Oupa Hugo laat dink. Lees meer . . .

’n Bingo-oggend te midde van die storm
Lede van die VatVyf-groep het op Woensdag 10 Julie te midde van vlak 6-stromweer waarskuwings die slegte weer getrotseer en aan 'n heerlike gesellige bingo-oggend deelgeneem.  Daar was sommer baie pryse op die spel en niemand is leë hande huis toe nie. Dit was die groep se eerste bingo-oggend, maar sal beslis weer aangebied word.

VatVyf-program

- 24 Julie 10:30 in die kleinsaal: Kom luister na Piet Smit, die gewilde gospelsanger.  Kaartjies teen R100 per persoon is by die kerkkantoorontvangs te koop, of skakel Charlotte by 021 976 4519.  Nooi gerus vriende saam na die besondere geleentheid.
14 Augustus: Ons bersoek die Dassiesfonteinpadstal  naby Caledon.  Ons gaan tussen die oudhede snuffel en saam ontbyt eet – elkeen betaal vir homself.  Vertrek om 09:00 en behoort 15:00 weer terug te wees.  Besprekings by Charlotte 021 976 4519 voor 8 Augustus. 

Date night - vir egpare

Date night is ’n geleentheid waar ons doelbewus ’n ruimte skep om tyd aan ons verhoudings te bestee.  Paartjies geniet ’n ete saam in ’n romantiese en privaat atmosfeer en benut die tyd ook om oor hulle verhouding te gesels.   Materiaal van die  Alpha-huwelikskursus word gebruik vir die fasilitering van gesprekke.  Daar is sewe geleenthede, elke Woensdag vanaf 17 Julie tot 28 Augustus om 18:00 tot 20:00.  Elke week word ’n ander tema bespreek. Koste beloop R180 per aand per paartjie.  ’n Oppasdiens vir kinders word aangebied en peuselhappies sal aan kinders bedien word, maar bring gerus ook vir kinders ’n kosblik met versnaperinge saam. Bespreek jou plek aanlyn deur op die skakel te klik.

Daar is nog plek beskikbaar!

Ons bied op Vrydagaand 26 Julie dié gewilde produksie saam met Johan Rademan, omroeper van RSG en Christo Snyman van die Broers-musiekgroep aan.  ’n Heerlike driegangmaaltyd asook ’n wynproe deur Beyers Truter word aangebied.  Kaartjies teen R500 per persoon is by die kerkkantoor te koop. 

Die projek se opbrengs word aan die gemeente se getuienisprojekte geskenk.
Stuur ’n e-pos aan ontvangs@stellenberg.co.za om jou plek te  bespreek.

Kontreikuier saam met Sutherland-gemeente | 30 Aug.

Kom geniet ’n heerlik basaar met braaivleis, pannekoek, poeding en ander lekkernye saam met Sutherland-gemeente op Vrydag 30 Augustus om 16:00. Ons reik uit oor grense heen deur egte Kaapse gasvryheid aan die vriendelike mense van dié pragtige Karoodorp te betoon.  Die fondsinsameling is ten bate van NG kerk Sutherland. 

Stellenberg Bybelskool

Na afloop van die Paas- en Pinksterfeeste vier ons Koninkrykstyd waartydens ons fokus skuif na die maniere waarop God in ons hede heers en regeer.  In die baie bekende Onse Vader gebed leer Jesus ons bid: "Laat u koninkryk kom, laat u wil op aarde geskied net soos in die hemel".  Dit is nie net ’n gebed waarin ons ons vertroue vir die hede en toekoms in die hande van God plaas nie, maar 'n gebed wat ons prakties tot gehoorsaamheid wil lei. In die volgende Bybelskool kursus gaan ons hierdie gedagte verder verken. Wat sou dit beteken om ons vir die Koninkryk van God te beywer soos wat Jesus ons in Matteus 6:33 versoek het? 

Datums: Maandag 12,19, 26 Augustus asook 2 en 9 September 2024

Inskrywings: Skakel die kerkkantoor by 021 976 4519 of e-pos Charlotte by ontvangs@stellenberg.co.za om plek te bespreek.

Tyd en plek: 19:00 tot 20:30 in die kerkgebou.

Koste: R 40 donasie vir 'n gedrukte handleiding.

Aanbieder: Ds. Marius Breytenbach.

Maria Eatery

Maria Eatery spog met ’n splinternuwe spyskaart met sakpaspryse.  Die restaurant is Maandag tot Vrydag vanaf 07:00 tot 16:00 oop en Saterdag vanaf 08:00 tot 13:00, maar is op Sondae gesluit.  Laai gerus die spyskaart HIER af met verskeie opsies vir ontbyt wat heeldag bedien word, asook ander ligte en bekostigbare etes. 

Tassies-vir-tjokkers

Ons wil graag elke leerder by Shiloh se preprimêre skool met ’n skooltassie en skryfbehoeftes toerus sodat hulle die leerproses met oorgawe kan aanpak.  Borg asseblief ’n tassie of skryfbehoeftes deur ’n kaartjie wat aan die boomtak in die voorportaal van die kerk/kleinsaal hang, te neem en die instruksies te volg. 

Breigroep

Die breigroep ontmoet weer op Maandag 5 Augustus om 09:30 in die markplein.  Bring jou breiwerk saam.  Nuwe lede is baie welkom.

Voorstelle@stellenberg.co.za

Die kommunikasiekommissie het dit goedgedink om aan lidmate geleentheid te bied om voorstelle op ’n vinnige en gerieflike wyse te kommunikeer.  Gebruik gerus die kanaal, voorstelle@stellenberg.co.za vir opbouende voorstelle of kommentaar. 

Gebedsversoeke

Indien jy bewus is van iemand wat siek, of in die hospitaal is, of self ’n gebedsversoek het, gee dit asseblief deur aan ontvangs@stellenberg.co.za/021 976 4519.
Ons doen voorbidding vir Dolf du Pisani wat siek is.

Jy kan hier adverteer

Plaas gerus ’n advertensie in die Stellenberg-weekliks.  Die nuusblad word tans weekliks elektronies aan 2 500 persone gestuur en is ook op die gemeente se webwerf beskikbaar.  Advertensies sal slegs aanlyn beskikbaar wees en word nie in gedrukte formaat uitgegee nie. Lees meer . . .
- Bellair-pendeldiens: Bied vervoer vanaf die R320 na die lughawe asook besoeke aan winkels, dokters en hospitale.  Kontak Marius Brink by 079 968 5486/ 079 590 1070.
- Karringmelk- en All-Bran-karringmelkbeskuit te koop:
Tuisgebakte beskuit verpak in 400 gram-pakkies teen R65 elk.  Bestanddele: bruismeel / semelryke-bruismeel, karringmelk, margarien, eiers, suiker en sout.  Beskuit word afgehaal by Rheazichtstraat 27, Ridgeworth (Estate), naby NG kerk Bellville Uitsig.
Betaling geskied kontant of met elektroniese oordrag.
Skakel of WhatsApp vir Willie 082 853 5652.  
- Huiswerker soek werk vir Vrydae. Martha (082 732 9194) is op soek na huiswerk op Vrydae in die Stellenberg-omgewing.  Kontak Estelle Ochse by 082 444 3069 vir ’n verwysing. 
Finansiële bydraes

Baie dankie vir jou finansiële bydrae wat dit vir ons moontlik maak om voort te gaan met die gemeente se werksaamhede.
- Gebruik gerus die SnapScan-toepassing om jou bydrae te maak.
- Elektroniese  bydraes na: ABSA-tjekrekening 145 058 0011, takkode 632005.
- Kontantbydraes: Kan by die kerkkantoor inbetaal word, of in die beveiligde posbus op die kerkkantoor se stoep gegooi word. 
- Debietorders: Laai gerus die debietordervorm af, voltooi en e-pos na stellenberg@stellenberg.co.za.

Elektroniese kommunikasie

  • Op jou rekenaar:
    Jy kan gemeentenuus weekliks deur middel van die Stellenberg-weekliks per e-pos ontvang.  Stuur jou e-posadres aan sanel@stellenberg.co.za.
  • Op jou selfoon:
    Skandeer enige van die QR-kodes met jou slimfoon se kamera om by die WhatsApp-groep van jou keuse aan te sluit en toegang tot gerieflike elektroniese kommunikasie te ontvang. Jy kan die Stellenberg-weekliks, geestelike dagstukke en algemene nuus op jou selfoon ontvang.

Stellenberg Terapiesentrum

 Die sentrum bied terapie, berading en mediasie deur professionele persone aan.  Spraak- en arbeidsterapeute, asook  ’n besigheids- en lewensafrigter se dienste is  beskikbaar.   Vir noodgevalle of afsprake skakel Rudolph van Schoor 066 546 6375/ therapy@stellenberg.co.za.  

In die omgewing . . .

NG kerk Welgemoed bied aan ’n Kunskafee met praktiese werksessies. Geen voorafervaring is nodig nie.  Alle materiaal is by die koste ingesluit en jy kan jou kunswerk na afloop van die klas huis toe neem.
27 Aug. 09:00 - 12:00: Mosaïek (R700)

28 Aug. 09:00 - 12:00 Skilder (R450)

29 Aug. 09:00 - 12:00 Terapeutiese kuns (R400). 
Kaartjies beskikbaar by NG kerk Welgemoed se kerkkantoor.
  • Chrismar Villas het ’n vakature vir ’n geregistreerde vepleegkundige.  Klik HIER om die volledige posbeskrywing af te laai.

  • Edelweiss bak pannekoek op Vrydag 26 Julie.  Plaas asseblief bestellings voor 24 Julie telefonies by Christa Cilliers 021 976 1150.
Subscribe to our email list.