Lees deur internet, klik hier >>
2 Maart 2018
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
Is jy bewus van die FOKUSAREAS wat gemeentes tydens 2015 se sinodesitting op die agenda van die Sinode van Wes-Kaapland geplaas het?
Hou hierdie sake gerus in gedagte as jy deur hierdie VrydagNuus kyk,  
en sien hoe die nuus inpas by - én getuig van - daardie fokus.

SINODENUUS
1. Menswaardigheid in ons visier
Hieronder is ’n groepfoto van die Seisoen van Menswaardigheid se jaarlikse nasionale taakspanvergadering, wat die afgelope week in Kempton Park plaasgevind het. 
Elize Morkel is weer aangewys as voorsitter. Lourens Bosman, algemene bestuurder van die NG Kerk se Algemene Sinode, het as fasiliteerder van die diepgaande gesprekke opgetree. Die rolspelers van die Seisoen van Menswaardigheid gaan ook ’n unieke rol in die kerkherenigingsproses speel. Van die Sinode van Wes-Kaapland was Nioma Venter teenwoordig, en Nelis Janse van Rensburg (met beide 'n Algemene Sinode en Wes-Kaapse hoed). Baie seën vir julle uitdagende taak, kollegas.

Groepfoto
Logo
2. Badisa beheerrade
Wees deel van iets groter as jyself!

Een van die groot uitdagings wat Badisa – en ander organisasies wat maatskaplike en soortgelyke versorgingsdienste aanbied – deesdae ondervind, is om die vlak van kundigheid van beheerraadslede by tehuise en inrigtings te behou en te verhoog.
Met 51% van die lede van Badisa se beheerraad wat uit die NG Kerk en VG Kerk moet kom, wil ons ’n ernstige beroep op gemeentes doen om hiermee te help. Moedig asb. lidmate met kundigheid op die vlak van bestuur, leierskap, regsgeleerdheid, finansies, eiendomme en menslike hulpbronne aan om hulleself beskikbaar te stel om op beheerrade te dien.
Die impak van kundige mense kan 'n deurslaggewende rol speel in die sukses van Badisa se programme. Hierdie programme lewer dienste aan meer as 800 000 persone -  beslis ’n merkwaardige plek om by iets groter as jyself betrokke te raak! Klik hier en deel gerus die onderstaande video oor Badisa se beheerrade met kundiges wat betrokke wil raak.

Badisa beheerrade video
Agtergrond oor Badisa se beheerrade
3. "Watermomente"
- vir Lydenstyd

In hierdie watermoment vir eerskomende Sondag se liturgie verbind ons ons op 'n baie praktiese manier  tot rentmeesterskap. Die verantwoordelikheid om te sorg vir God se skepping bring ons op 'n  besondere manier as gemeenskap saam. Die reeks watermoment video's is hier beskikbaar.
Interaksie
4. Vrouebediening: Interaksie!
Die Vrouebediening: Wes-Kaap se Interaksie is nou beskikbaar.
“In ons kwartaalblad gesels ons met vroue oor sake wat vrouens se harte raak. Ons fokus is om gelowige vroue te bemagtig om hul plek in die lewe te vind, vroue te versorg en toe te rus en om mekaar geestelik te begelei. Ons deel ook gemeentes se nuus en aktiwiteite en adverteer ons besoeke aan ringe en gemeentes,” vertel Ankia du Plooÿ. 
Word deel van die netwerk; skryf gerus teen slegs R60 per jaar in vir Interaksie, wat drie maal per jaar verskyn. Kontak Ankia by ngkvroue@sun.ac.za of 021 882 8286 om in te skryf..

5. Sentrum vir Publieke Getuienis
"Courageous conversations" in die Oos-Kaap

Die Sentrum vir Publieke Getuienis (SPG) het onlangs drie gesprekke saam met Call42 in die Oos-Kaap aangebied. PE, Oos-Londen en Mthatha is besoek. Verteenwoordigers van NRO’s en die onderwys, sakelui, kerkleiers, kleinboere en verteenwoordigers van plaaslike regering is byeengebring om oor die toekoms van die streek en die drie stede te praat.
Die uitdagings is legio, maar met die hulp van boere uit die Loeriesfontein-distrik is 'n vyfjaarkontrak met kleinboere in die Mthatha-omgewing gesluit om landbou op 200 ha grond te hervestig. Meer inligting volg. Op die foto onder verskyn afgevaardigdes van die Oos-Londen-vergadering.

Courageous conversation
6. Getuienisaksie
Gee jou hart vir Zithulele, Oos-Kaap
’n Groot vuur brand net as daar ’n lekker klomp hout op ’n hoop saam vlamvat. Daarom is vennootskappe so belangrik. Hier is ’n gulde geleentheid vir gemeentes om by hierdie opwindende inisiatief betrokke te raak: lees hier meer.
Op die foto onder is Sam van der Merwe (NG Dias – seun van wyle prof. Van der Merwe van Sendingwetenskap by US), Siyavuya (jeug- en gemeentewerker by Zithulele) en Phillip Venter (voorsitter: Dias Trust).
Zithulele
Deon Bruwer
7. Gelukkige aftrede - met Deon Bruwer
Deon Bruwer, afgetrede PPF-lid en nou konsultant, bied van 17 tot 19 April 2018 weer die gewilde "Gelukkige aftrede deur 'n nuwe toekoms te skep" (vir predikante wat beplan om binne die volgende 5 tot 7 jaar af te tree), by Communitas op Stellenbosch aan.
Lees hier verder en kontak Wilma le Roux by 021 808 3624 of wler@sun.ac.za om te bespreek vir hierdie gratis werkswinkel.
Maartje
8. Taakspan Jeug- en Familiebegeleiding
Ouerleiding oor huisgeloof
Die Wes Kaap Familie Netwerk nooi alle predikante en jeugwerkers uit na ‘n informele gesprek oor ouerleiding. Dit vind op Donderdag 8 Maart in Wellington plaas, waar Maartje van der Westhuizen (van NG Elarduspark in die Oostelike Sinode) die gesprek sal inlei. Lees hier meer en laat weet  teen Dinsdag 6 Maart vir Ronelle by die Jeugkantoor (jeug@sun.ac.za of 021 808 9050) indien jy die geleentheid wil bywoon.
Andrew Kok e.a.
9. Vriend van die Argief terug op spore van Tiv-sending 
Diegene wat die spesiale geskiedenis van Suid-Afrikaanse sendelinge se betrokken-heid in die Sending in Soedan (en meer spesifiek in Tivland) waardeer en onthou, kan gerus hier lees hoe ds. Du Toit van der Merwe d.m.v. die dagboeke van mnr. AS Judd (wat ook op Salatu gewerk het) as Vriend van die Argief meegewerk het om hierdie stukkie kosbare geskiedenis behoue te laat bly. Op die foto regs is Andrew Kok van die kerkargief saam met Hilda en ds. Du Toit van der Merwe.
65 j.
GEMEENTENUUS
1. Parowvallei-Oos vier 65 jaar!

Op 25 Maart 2018 is NG Gemeente Parowvallei-Oos (vroeër Tiervlei-Oos) sowaar 65 jaar oud! Hulle nooi lidmate en oudlidmate om die erediens om 09:30 daardie oggend by te woon en die mylpaal saam met hulle te vier. Antwoord asb. voor 5 Maart: skakel 021 931 6410 of stuur 'n e-pos na ngpvoos@telkomsa.net.

2. Die seën van reën mildelik gedeel!
Op Sondag 25 Februarie het Frederick Marais (PSD: Toerusting en assessor van die Sinode van Wes-Kaapland) die erediens in die NG Gemeente Grabouw gelei (foto onder).
Tydens hierdie geleentheid het hy onder meer die lede van die Groenland-waterverbruikersvereniging (GWUA) bedank vir die water wat hulle in die geloof met die Wes-Kaapse metropool deel. Lees gerus e-Kerkbode se berig hieroor.
Groenland Waterraad
V.l.n.r.: Josias Beukes (boer en raadslid), Frederick Marais, Antoinette Lötter (Waterraad),  Ryk Joubert (boer en raadslid), Johan Groenewald (bestuurder:  Groenland Waterraad),  Albert Pontac (Waterraad)  
NG Gemeente Merweville
3. Dankfees se veiling het jou hulp nodig!
Die bekende dankfeesbasaar wat jaarliks op Merweville plaasvind (vanjaar 27-29 April 2018), het geen bekendstelling nodig nie.
Ons herinner net: weens die droogte in daardie omgewing, word gemeentes in die omgewing, sowel as alle ander feesbesoekers, vriendelik gevra om die gemeente se groot veiling van oortollige bates te ondersteun deur self ook artikels te bring om te verkoop. Kallie le Roux (voorheen op Darling) is die organiseerder van hierdie veiling, wat die Saterdagmiddag aangebied word met die vriendelike samewerking van BKB Paarl. 
As jy 'n hart vir Merweville het, lees hier hoe jy en jou oortollige ware hulle kan help.

UIT ONS RINGE
Skribas kuier rondom ontbyt
Die borrelede Elrona la Grange (skriba van NG Laaiplek) stuur 'n pragtige foto van die ontbyt van hulle verenigde ring se skribas/kosters wat op 3 Februarie by hul plaaslike koffiewinkel, Die Emmertjie, in Laaiplek gehou is.
"Hester, Sanet en Anzel by Emmertjie het dit vir ons so pragtig gemaak en ons het heerlik ontbyt, natuurlik sommer tot by die verleidelike koek!" vertel sy. Dankie dat julle julle gemeenskaplike werk ook op hierdie manier vier, kollegas. Julle verdien beslis die bederf!  

Skribas ontbyt
V.l.n.r.: Charmaine Retief (koster, NG Moedergemeente Vredenburg); Linda Brink (skriba, NG Velddrif); Elrona la Grange (skriba, NG Laaiplek); Hester Reyneke (skriba, NG St Helenabaai);
Sandra Rossouw (finansiële beampte, NG Laaiplek); Marlene Basson (skriba, NG Moedergemeente Vredenburg); Suselna Theart (administratiewe beampte, NG Moedergemeente Vredenburg)
Gebedsversoeke 2 Maart 2018
Gebedsversoeke is welkom. Lees gerus hier verder
De Kock gesin
PREDIKANTENUUS
1. Seënwense aan Hennie en Angelique de Kock
Hennie de Kock, wat vanaf 1 Mei 2014 saam met sy vrou en hul seuntjie, Wessel, deel van die NG Gemeente Leipoldtville was, het die gemeente aan die einde van Februarie 2018 gegroet.
Gedurende sy bediening was Hennie o.a. ook in Northam, Nuwekerk (Graaff-Reinet), Hoopstad en Maclear betrokke. Hy het sy afskeidspreek op Sondag 18 Februarie gelewer. Ons bid die De Kocks die oorvloedige vrede en genade toe waarmee die Here sy kinders so getrou seën.

Luané en Bruce
2. Proteahoogte verwelkom Luané en Bruce Buys
Vanaf 1 Maart 2018 verwelkom NG Brackenfell-Proteahoogte  vir Luané Buys in 'n internskappos, gesekondeer vir #imagine. Die gemeente en Communitas (Taakspan Jeug en Familie) het ooreengekom dat ’n gedeelte van haar kapasiteit vir ’n #imagine-fokus benut sal word.
Luané het haar praktiese jaar by Proteahoogte gedoen en is geen vreemdeling vir die gemeentelede nie. Haar bevestiging is op 18 Maart en om die geleentheid meer spesiaal te maak, val dit saam met Luané se pa (wat al die pad van Sondagsrivier af kom vir die bevestiging) se verjaardag. Lees hier meer hoe Luané vertel van die nuwe fase in haar en haar man, Bruce, se lewe. 

Ruan
3. Welkom, Ruan, by Brackenfell-Wes!
Die NG Gemeente Brackenfell-Wes het Ruan Nieuwenhuizen as deel van die internskapprogram beroep vanaf 1 Maart 2018. Ruan het in 2017 sy prakties by die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen voltooi en was betrokke by die argief en veral hulle Familiebybel-projek.
Volgens Ruan was hy op 'n spesiale wyse deel van Stellenbosch-Noord se storie en het Lambert Jacobs hom uitgedaag en geïnspireer om altyd die ekstra myl te stap.
Ruan se intreepreek is op Sondag 4 Maart om 09:00 en hy word bevestig deur kollega Guillaume Smit. Benewens sy ouers en ander familie, sal sy broer, Johan Righardt (predikant in King William's Town), ook in die spesiale dag deel. 
Lees hier verder. Seën op die pad vorentoe!
Eddie Orsmond
4. Eddie Orsmond as PSD in die NG Gemeente Wellington-Oos bevestig
Baie seën aan kollega Eddie Orsmond, wat op Sondag 4 Maart in die NG Gemeente Wellington-Oos as Predikant in Sinodale Diens (PSD): Seminarium bevestig word. Die diens begin om 09:00 en die prediker is Hannes Theron (voorsitter van die Kuratorium).
Elna Mouton
ALGEMEEN
1. Dankdiens vir Elna Mouton

Fakulteit Teologie op Stellenbosch nooi studente, kollegas, vriende en belangstel-lendes om by hulle aan te sluit vir 'n dankdiens ter viering van prof. Elna Mouton se besonderse bydrae tot die verhaal van Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch.
Dit vind plaas op Do. 17 Maart om 17:30 in die NG Moedergemeente Stellenbosch. Die prediker is Janine Williams, met Liena Hoffman as liturg. Meer oor hierdie spesiale geleentheid is hier.

2. ’n Getuienis uit Tokyo: Johann Symington vertel
As deel van ons missionale fokus, is dit goed om blootgestel te word aan bedieninge oor grense heen. Die NG Kerk is oor jare heen nou betrokke by die kerk van Japan; ’n bediening wat bepaalde uitdagings aan ons sendelinge stel. Johann Symington, wat tot 2013 by die NG Gemeente Welgemoed in die bediening was, deel iets van sy en Hennie (sy vrou) se ervaring in Tokyo, waar hulle tot Augustus 2019 sal bedien..
“Om in 'n metropool van plus-minus 45 miljoen mense te woon, met minder as twee persent Christene, kan oorweldigend wees. Maar nie as jy deel is van Tokyo Union Church nie. Dis ‘n onafhanklike, interkerklike Engelssprekende kerk (begin deur sendelinge van verskillende denominasies amper 150 jaar gelede) wat fokus op die duisende buitelanders wat van oor die wêreld kom om hier te werk, asook Japannese wat Engels magtig is.” Lees verder.

Kinderkerk
Kinderkerk met Hennie Symington wat die wapenrusting nuwe lewe gee!
Musa Dube
3. Konferensie: Teaching Gender and Health in Africa 22-23 Maart 2018
Ons herinner graag aan die Universiteit Stellenbosch se Gender-eenheid wat 'n konferensie aanbied oor die onderrig van Gender en Gesondheid in Afrika in samewerking met die "Circle for Concerned African Women Theologians". 
Die konferensie val saam met 'n eredoktorsgraad wat aan prof. Musa Dube (Universiteit van Botswana) toegeken sal word, asook 'n vieringsgeleentheid ter ere van prof. Elna Mouton (sien berig elders) wat aan die einde van 2017 afgetree het. 

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 15 Maart. Klik hier om meer te lees en die volledige program en inskrywingsvorm af te laai.
Vir navrae, kontak Marita Snyman by maritasnyman@sun.ac.za.

Boekrak
4. Boeke gesoek!
Vir almal wat afskaal of verhuis en wonder waar hulle geliefde boeke ’n veilige hawe kan kry: die studente op Stellenbosch benodig asb. daardie boeke! 
Die bekende Stofgang-boekrakke is in 2017 opgegradeer en het tans heelwat plek beskikbaar soos die studente daar ’n draai maak. Kontak asb. vir Amanda van Niekerk (K 1009, Fakulteit Teologie) by 021 808 9138 of by toerusting@sun.ac.za indien jy kan help met hierdie verdienstelike projek. Dit sluit enige boeke in, nie net teologiese publikasies nie.

5. WCC: African perspectives on world mission & evangelism
As the World Council of Churches (WCC) prepares to hold its next Conference on World Mission and Evangelism (CWME) from 8 to 13 March in Arusha, Tanzania, a special online “virtual” issue of the International Review of Mission (IRM) gathers articles dealing with African perspectives on mission.
Africa, writes editor Benjamin Simon in an introduction to the collection, “is home to some of the most vibrant and inculturated forms of World Christianity, dealing with all sorts of theological issues and topics.” One of the articles is written by well-known SA theologian Ernst M. Conradie, and is titled "Justice, Peace and Care for Creation: What is at stake? Some South African perspectives." Click here.

Padpredikant
PADPREDIKANT
In die eerste uitgawe van elke maand publiseer ons vanjaar bydraes vir die "Padpredikant"-rubriek*. Ons stel deur die jaar die skrywers wat ingewillig het om hieraan deel te neem, bekend. Hulle dink saam met ons na oor ons pad as geloofsmense onderweg om God beter te ken en volg.
*Padpredikant is 'n sinoniem vir 'n padteken. Soms wys dit die pad, soms dui dit 'n heel nuwe perspektief aan. Mag hierdie bydraes 'n klein kolletjie lig op jou pad skyn, nooit prekerig of beterweterig klink nie, maar liefs lafenis soos padkos onder 'n skaduboom bied.

'n Herontdekte skat
Nadat prof. Willie Jonker destyds in 'n Dogmatiekklas dit reggekry het om hom opgewonde oor die Kategismus te maak, het Hannes Burger onlangs die einste Heidelbergse Kategismus afgestof - en die waarheid van "ons enigste troos in lewe en dood" wat daarin ter sprake kom, slaan toe opnuut na al die jare sy asem weg! Lees verder ... 

Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 1
Hannes Burger
Oor die skrywer
Hannes Burger is sedert 1992 predikant in die NG Gemeente Kuilsrivier-De Eike. Voorheen was hy ook in Mosselbaai-Suid in die bediening.
Hy is 'n gesoute skrywer, van wie daar reeds etlike geestelike boeke die lig gesien het. 
Meer inligting oor die NG Gemeente Kuilsrivier-De Eike is hier.

NUUSBRIEWE
Hans Steyn
1. Bybel-Media: Nuusbrief
Sien jy angstig uit om te hoor wie vanjaar die wenners van die Bybel-Media-Cordis Trust-pryse is? Dan moet jy hier verder lees!
In 'n geskiedkundige nuusbrief, die laaste uit die pen van Hans Steyn voor sy aftrede aan die einde van Maart, berig hy oor hierdie pryswenners, oor die jongste Kerkbode (wat berig oor die boere van Grabouw se waterskenking aan Kaapstad) en verskillende publikasies (sien onder). Altyd waardevolle nuus vir diegene in die bediening.
(En dankie by voorbaat vir ondersteuning aan Strydom Bruwer, wat voortaan vir die nuusbrief verantwoordelik sal wees as hy vanaf 1 Maart amptelik as ontwikkelingsbestuurder: BM fondse aantree!)
Die volledige nuusbrief met inligting oor die nuwe Kerkbode, sowel as die publikasies en produkte onderaan, is hier beskikbaar.
Vind jou hoed - leiersgids Brandstof 5 Nagmaalkelkies
Logo
2. Missie Japan: nuusflits
In hulle jongste nuusbrief vertel Stéphan van der Watt die verhaal van radikale ommekeer; van 'n lewe wat ingrypend verander het. Van 'n kollega wat al meer as 20 jaar lank 'n toegewyde leraar en gerespekteerde leier in die RCJ is, maar as jongman 'n ateïs was wat glad nie in God of die kerk belang gestel het nie. Sedert sy bekering klop sy hart sterk vir gebrokenes en randfigure. "Want hy wéét hoe diép die Here hom uit die put van sinloosheid getrek het." Lees die volledige nuusbrief hier.
3. VGK Kokstad: Die Woodings skryf
"Die Lig van die Evangelie het die Meth-gesin en hul nageslagte se lewens en toekoms totaal verander".  Uit dankbaarheid teenoor die Here, die kerk en die sendelinge het hierdie gesin die pragtige kerkie op Camsholo gebou wat op 6 Januarie vanjaar geopen is op hierdie buitepos naby Lusikisiki (foto's onder). Die Meth-gesin se ouers was in die laat 1950`s van die eerste bekeerlinge van die Lusikisiki gemeente. Hier is Christo Wooding se volledige nuusbrief.
Dankie aan soveel van ons gemeentes wat die Woodings se werk in Transkei ondersteun. Daarsonder kan hulle nie voortgaan om die evangelie te bring nie.
Chamsholo kerkie Kerkie van binne
PUBLIKASIES
CLF: jongste publikasie
Waarom beweeg, en selfs manipuleer, predikers met min of geen eksegetiese inhoud, ʼn hele gemeente? Waarom is daar ander, met die beste bedoelings en inhoud denkbaar, wat net nie kontak maak met baie (soms die meeste) van die gelowiges in die erediens nie?
In Ek is die verskil gee Malan Nel 'n praktiese ontleding van die verhouding tussen persoon, persoonlikheid en prediking. Hy wys daarop dat waar daar ook al 'n doeltreffende/effektiewe (gemeet aan Reformatoriese norme) en gewoonlik groeiende gemeente is, daar ʼn goeie kommunikeerder op die preekstoel is. Twee konsepte blyk prominent te wees by die prediking: persoonlikheid en kommunikasie.
Kontak CLF by 021 873 0396 of e-pos order@clf.co.za om Ek is die verskil te bestel.
See
EKOLOGIE
1. WWF SA: Wednesday Water File
So you also thought that desalination has to be the easy solution to all of Cape Town’s water challenges? “Desalination can provide an important additional source of water for Cape Town as our existing freshwater sources become more stressed under conditions of drought and climate change. But removing salt from seawater is no silver bullet. Here’s why.”
Witstinkhoutboom
2. Bome: groen katedrale waar ons God ontmoet
David Botha van die Projekspan Ekologie het onlangs in die skadu van hul jong witstinkhoutboom diep onder die indruk van ons wedersydse betekenis vir en afhanklikheid van mekaar gekom: dit wat ons vir die natuur beteken en die natuur vir ons; die grootste geskenk van God aan ons. Lees hier meer.

Gebou in Taipei, Taiwan
3. Groen argitektuur gaan groot!
Om argitektuur en die natuur in harmonie te laat bestaan, is so oud soos die Hangende Tuine van Babilon. Meer alledaags is toegerankte universiteitsgeboue en daktuine. Maar moderne argitekte is besig om nuwe metodes te ontdek om plante in die lug op te stuur - hetsy in hemelhoë terrasse of vertikale tuine wat teen geboue se mure groei. Hierdie grasgroen ontwerpe daag nie net swaartekrag uit nie, maar sorg vir ekovriendelike voordele deur suurstof te voorsien, koolstofdioksied op te neem en ruimtes natuurlik te verkoel. Lees hier meer oor nege sulke geboue in groot wêreldstede.  
Bron: www.architecturaldigest.com.
BEHOU DIE HUMOR
Humor
KUIERKANS
Kuierkans
Logo
VAKATURE
Vakatures in Kerkbode
Die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode, het die jongste nuus oor vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies. Dit word ook op e-Kerkbode bekendgemaak.
Die volgende uitgawe van Kerkbode verskyn op 2 Maart.

Logo
1.  Programkoördineerder:
Joey's Babies, George

Aansoeke van entoesiastiese persone met ’n deeglike kennis van voorskoolse versorging word vir hierdie betrekking ingewag. Aansoeke sluit 6 Maart. Lees meer hier.

2. Bestuurder: Maatskaplike Dienste 

Badisa beskik tans oor bogenoemde vakature in die Boland/Drakenstein-area (standplaas onderhandelbaar). Lees meer oor die vereistes en verantwoordelikhede en doen aansoek voor 6 Maart. 

3. Badisa Citrusdal: maatskaplike werker 
Aansoekers moet oor die volgende beskik: 'n diploma of graad in Maatskaplike Werk, 'n geldige bestuurderslisensie, registrasie by die Raad op Maatskaplike Diensprofessies en kennis en vaardighede met betrekking tot Kinder- en Gesinsorg, statutêre prosedures en wetgewing in al drie metodes van Maatskaplike Werk.  Stuur 'n volledige CV teen 31 Maart  na  asmith@badisa.org.za .

Pieter Grove
TEN LAASTE
Uit die pen van ... Pieter Grove
'n Paar dae gelede besin ek met leraars in die Wes-Kaap Ekumeniese Netwerk (WCEN) oor die bydrae van die kerke tot dieper verandering in die land. Ek deel met hulle die uitdagende omstandighede in 'n gebied van Kuilsrivier met die naam van Kalkfontein.

Mense trek van oral in die area in. Die strate is vol klippe en verspoelde sand. Die kinders het nêrens  om te speel nie. Daar is geen park in hierdie digbewoonde gebied nie. Die HOP-huisies loop oor van mense en vele het nog bewoners agter op die perseel. In die nag hoor die inwoners hoe die skote klap.

In hierdie situasie het ons gemeente, in vennootskap met Getuienisaksie, 'n bouprojek begin. Ons hoop om 'n veilige ruimte vir kinders, jongmense en lidmate te gee, 'n oase waar voeding, lering, lewensvaardighede, hoop, kan wortel skiet. Wanneer die leierskap van land en kerk 'n sigbare verskil maak in Kalkfontein, kan ons begin glo dat Suid-Afrika op die pad van herstel is.
                                                                    - - - - - 
Pieter Grove was 19 jaar leraar van die VGKSA Komaggas in Namakwaland en is sedert 1998 betrokke by die leierskap van die VGKSA Kaapland, waarvan hy tans moderator is.
Hy is ook
in die bediening by die VGK Gemeente Sarepta en kan hier via e-pos gekontak word. 
Lent cross
"When Jesus came to Birmingham, they simply passed Him by. 
They would not hurt a hair of Him, they only let Him die; 
For men had grown more tender,
and they would not give Him pain, 
They only just passed down the street, and left Him in the rain."

- extract from "Indifference" by Studdert Kennedy


VrydagNuus-groete
Marieta Visagie en Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.