Lees deur internet, klik hier >>
6 Maart 2015
Beste Leser 

Green4Christ
"Die aarde behoort aan die Here” (Ps 24:1), maar wat doen jy om die aarde te bewaar? Armoede en Sorg stel 'n opwindende nuwe projek vir 10-18 jariges bekend! Met jou kort video oor 'n GROEN projek kan jy GROOT pryse wen! Lees by SINODENUUS meer . . .
SINODENUUS
1. NG Wes-en-Suid-Kaapland Moderamen

1.1 Herbevestig Posisie
Die Moderamen het by sy vergadering hierdie week 'n besluit rakende die posisie oor die Belydenis van Belhar soos die moderamen dit verstaan, verwoord en het besluit om by die sinode aan te beveel dat die volgende besluit rakende die Belydenis van Belhar en artikel 1 se wysiging geneem word. Lees hier meer.
Nelis Janse van Rensburg
1.2 Nie in doodloop oor Belhar
“Ons herbevestig ons diepe oortuiging oor die Belydenis van Belhar,” het Nelis J van Rensburg gister op die moderamenvergadering in Bellville gesê. “Die feit is dat daar gelowiges in die kerk is wat baie sterk daaroor voel dat die Belydenis van Belhar ’n belydenisskrif moet word. Die debat móét voortgaan. “Ons sal moet kyk na verskillende moontlikhede om almal te akkommodeer en steeds eenheid in die kerk ten alle koste beskerm.” Belangstellendes kan Anika Marais se berig hier lees.
NG Wes-en-Suid-Kaapland logo
2. Hier is ons amptelike logo!
Lekker nuus! Die moderamenvergadering het hierdie week die wenontwerp in ons logo-kompetisie op aanbeveling van die moderatuur goedgekeur as amptelike nuwe logo van ons sinode! Beslis ’n pluimpie vir die ontwerper, Nico Simpson, wat netjies daarin geslaag het om die oue te behou en terselfdertyd in ’n nuwe baadjie te klee! Die simboliek van die logo word hier uiteengesit
3. Communitas: Mission Shaped Ministry-kursus
Fresh Expressions se hoofkursus, Mission Shaped Ministry (MSM) word weer gedurende 2015 in Kaapstad aangebied. Hiermee word jeugwerkers, kerkraadslede en bedieningleiers uitgenooi na die uitstekende 24-module kursus. Dit kan gemeentes help om hulle gestuurdheid na hulle gemeenskappe te ontdek, ontwikkel en uitbrei deur oa die vestiging van nuwe geloofsgemeenskappe (bedieninge). Kry die pamflet hier en lees verder. Jy kan aanlyn registreer. Navrae: philipb@sun.ac.za
4. KGA: Projekspan Afrika Ekumene!
Na jare lange pogings het 'n belangrike proses by die KGA se Taakspan Afrika Ekumene in werking getree, nl die onderlinge samewerking en vennootskapsvorming van die onderskeie leierskappe binne ons familie-ekumene in Afrika. Hierby ingesluit, is ons susterkerke in Zambië, Botswana, Malawi, Mosambiek, Zimbabwe, Nigerië en Kenia, tesame met ons NG kerkfamilie in SA. Die besluit van die Uitgebreide Moderamen van die NGK in Oktober 2014, naamlik om die vestiging van ’n projekspan vir Afrika Ekumene te steun, was ’n groot stap vorentoe. Lees gerus dié baie goeie nuus hier.
5. Green4Christ Kompetisie!
Wat doen jy om die aarde te bewaar? As jy tussen 10 en 18 is, maak ’n 3 min. video oor ’n groen projek. Laai die video op Bediening vir Armoede en Sorg se Facebook. Die sluitingsdatum is 3 Mei 2015. Wenners sal op Wêreld Omgewingsdag, 5 Junie 2015, aangekondig word. Lees hier verder - en vertel asb die tieners in jou gemeente of dorp hiervan!
ALGEMEEN
1. Met leedwese
1.1 Solly Ozrovech (17.01.1927 - 04.03.2015)

Ds Solly Ozrovech (88) is vroeg Woensdagoggend oorlede. Dié afgetrede predikant en skrywer van Christelike boeke het aan hart- en nierversaking gesterf. Sy seun, Francois, het gesê sy pa het onlangs ’n groot hartaanval gehad. Hy word deur sy eggenoot, Louise, vier kinders, agt kleinkinders en vier agterkleinkinders oorleef. Ds Ozrovech was oa predikant in die Zionskerk Paarl, Gordonsbaai, Robertson-Oos en Vishoek. 'n Dankdiens word beplan vir Saterdag om 11:00 in die NG Gemeente Strand-Noord. Ons dink met opregte simpatie aan almal hierdeur geraak.
1.2. Esther Blomerus (13.03.1943 - 28.02.2015)
VrydagNuus se innige simpatie gaan ook aan die familie van me Esther Blomerus, tot Junie 2011 administratiewe klerk vir Arbeidsbediening (KGA). Sy laat haar man, Johan, kinders en kleinkinders agter. 'n Dankdiens is op Wo 4 Maart in die Sotêr Gereformeerde Gemeente in Parow gehou. Johan Botha (PSD: KGA) se huldeblyk aan Esther is hier te lese: Op die pad wat U my aanwys. Dié wat Esther geken het, sal dit met waardering lees.
2. NG Gemeente Vishoek deel Liefde uit!
Die afgelope week se brande het net weer gewys dat mense, ongeag taal of ras, uit hulle pad sal gaan om te help. Dit maak 'n mens dankbaar. 'n Engelse gesin het by die Vishoek-kerksaal opgedaag en gesê: "We do not have anything to give, but what we have, is love to share!" Hulle het hulle tyd gegee en doodeenvoudig by die (meestal verswakte) bejaardes gesit en gesels  - en liefde betoon.  Binne 30 minute is 40 beddens geskenk toe die bejaardes in die kerksaal moes oornag! So vertel Martin Barnard van NG Vishoek. Die Burger se berig van Dinsdag is hier beskikbaar. Geloof in aksie!
3. Internasionale Studente-bediening: Seminaar oor Kruis-kulturele Bediening
Crossing cultures with the gospel-seminaar op Sa 14 Maart by die kapel van Kweekskool, Stellenbosch (09:30-12:30). Richard Weston, spreker van  Oxford,  was Direkteur van “Friends International” wat ondersteuning aan internasionale studente in Engeland bied. Hy het baie ondervinding van kruis-kulturele bediening. Onderwerpe sluit in: • Understanding culture & cultural transition; • Crossing cultures with the gospel; • Building deeper relationships with internationals students. Bespreek by Jurie Goosen voor 12 Maart (083 235 5920) of goosens@isales.co.za. Lees ook hier.
4. Rol van Godsdiens in Post-apartheid SA
Op Dinsdag 10 Maart  2015 gesels prof Johan Cilliers (Praktiese Teologie, US) by die Stellenbosch Studie- en Besprekingsgroep oor die onderwerp Die rol van Godsdiens in die post-apartheid Suid-Afrika. Die gesprek is oudergewoonte in die kerksentrum van NG Stellenbosch-Sentraal en begin om 17:00. Belangstellendes kan hier klik.
5. Watter gemeentes help in België?
Dr Mario Weyers,* leraar van die Presbiteriaanse Kerk in Nieu-Seeland, vra hulp met inligting oor Suid-Afrikaanse gemeentes wat in België betrokke is. Kyk asseblief die aanhangsel
*Dr Weyers was voorheen gemoeid met Opdrag: Mobilisasie van gemeentes in die Wes-Kaap met die oog op kerkplanting in België en was tentmaker in Hopefield.
6. Onrusrivier se Tafel van Vergiffenis
’n Oordeelsbank word omskep in ’n tafel van vergiffenis en vryspraak! Trane van berou word afgevee. Meer oor die geskiedenis agter die pragtige Nagmaaltafel (foto's hieronder) wat in die NG Gemeente Onrusrivier gebruik word en soos vertel deur Gert van Zyl (83-jarige lidmaat en knap houtwerker) is hier.
Onrusrivier se Nagmaaltafel Wilhelm Burger by die Nagmaaltafel NG Onrusrivier-logo
GEMEENTENUUS
1. NG Durbanville: Die reg om te Aanbid
Is daar perke aan vryheid van spraak? Perke aan vryheid van godsdiens? Hoe moet ‘n mens dink oor die verhouding tussen godsdienste? Hoe moet godsdienste reageer op fundamentalistiese en ekstremistiese strominge binne hul eie geloof? Wees op Do 19 Maart vanaf 19:00-21:00 in Durbanville se Gemeentesentrum (hoek van Kerkstr en Weyerslaan) as SA se ambassadeur in die VSA, Embrahim Rasool, hieroor vanuit ‘n Islamitiese perspektief praat, en Robert Vosloo (Teologie Fakulteit Stellenbosch) vanuit ‘n Christelike perspektief praat. Gelowiges vanuit verskillende geloofsgemeenskappe welkom! Kontak Tinus van Zyl by 021 975 6370 (x105) met navrae.
2. NG Stellenberg: Via Dolorosa
Jesus se lydensweg word weer vanjaar in Stellenberg se kleinsaal met die hulp van ’n kreatiewe span en kunstenaars uitgebeeld. Die Via Dolorosa is werklik ’n besoek werd. Die onderskeie stasies bied geleentheid vir gebed en oordenking en maak Jesus se lydensweg vir jong en oud ’n tasbare ervaring. Gaan word gerus van Ma 30 Maart tot So 5 April vir 'n rukkie stil - meer inligting is hier beskikbaar.
3. NG Vredelust: Ouerskapseminare
Tertius van den Berg laat weet dat die Immergroen Ouerskap-seminare van Hettie Brittz by twee geleenthede in Maart by NG Gemeente Vredelust aangebied word deur Naudine Adaimi. Lees hier en bespreek by Tertius (082 783 7107).

PREDIKANTENUUS

1. Die Strand groet Johan en Ria Steyn
Op Sondag 2
2 Maart om 09:00 word daar afskeid geneem van ds Johan en Ria Steyn na 30 jaar in NG Gemeente Die Strand. Alle ringspredikante en hul vroue is welkom by die geleentheid, asook ander belangstellendes. Almal word hartlik uitgenooi vir verversings na kerk in die saal. Kom kuier vir oulaas lekker saam met hulle. Hulle verhuis nou wel nie, maar gaan voortaan by ‘n buurgemeente inskakel, anders is hulle mos nie “afgetree” nie…Reageer asb per e-pos na ontvangs.ngkdiestrand@gmail.com.
2. KGA los voor vir Kaapstad Fietstoer!
Die KGA word Sondag tydens die Kaapstad Fietstoer (steeds as die Argus in die volksmond bekend) in sy byna volle sterkte deur drie van hul vier taakspanne verteenwoordig! Sterkte aan Kobus Odendaal, Braam Hanekom en Johan Botha (sien foto's hieronder) – Carin Brink van Taakspan Arbeidsbediening sal hulle waarskynlik aan die brand stoot met die wegtrek! Terloops, dis nou 'n korter roete agv die afgelope dae se verwoestende brande in die Suid-Skiereiland.
Kobus Odendaal
PUBLIKASIES
Kerkbode
van 6 Maart
NUUSBRIEWE
1. Bybel-Media Nuusbrief
Hierdie week is die fokus op die jongste Kerkbode (sien bo) en BM by die Woordfees! Lees hier meer.

2. CLF Nuusbrief: Maand van Gebed en Paasfees
Gratis pamflette is in beperkte hoeveelhede by CLF beskikbaar. Besoek www.clf.co.za vir meer produkte.
Gebede wat raak Kom, laat ons bid The Feast of Passover
3. Missie Japan: Nuusflits - Rampherdenking
Bid asb hierdie Sondag spesifiek vir Japan. Woensdag 11 Maart is ‘n sombere herinneringsdag aan die verwoesting vier jaar gelede daar. Weens die drie-dubbele rampgebeure van 11.03.2011, duur diep onsekerheid en worsteling vir ontelbare mense voort. Die pyn skeur steeds diep in menselewens in.  Hieronder is 'n You Tube-film oor Missie Japan se werk. Kyk spesifiek na die kort greep vanaf 34:24 tot by 39:02. Dit vertel die storie oor die rampgebeure en Missie Japan se betrokkenheid daarby. Wys dit gerus (korter as 5 minute) waar moontlik tydens die erediens of by ‘n ander gepaste geleentheid.
Video oor die rampgebeure en Missie Japan se rol
KUIER-KANS
Verskeie lekker feeste en basaars wag die volgende paar weke! KLIK op die pamflette vir meer ...
NG Velddrig Basaar
NG Velddrif Basaar
14 Maart 2015
Merweville Dankfees
NG Merweville Dankfees
1-3 Mei 2015
Franschhoek Feesmark
NG Franschhoek Feesmark
6-7 Maart 2015
VAKATURES
1. NG Kerk Algemene Sinode: PSD Algemene Sekretaris 
Uit die kantoor van die NG Algmene Sinode ontvang ons inligting oor die bekendstelling van die pos vir 'n predikant in algemene sinodale diens as Algemene Sekretaris in die kantoor van die Algemene Sinode in Pretoria. Aangeheg is meer inligting; reageer voor 30 April 2015.
2. VGKSA: PSD vir Kommissie Diakonale Dienste
Die Kommissie vir Diakonale Dienste van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (Kaapland) is op soek na ’n energieke leraar wat in ’n voltydse betrekking as Predikant in Sinodale Diens met opdrag Sinodale Kommissie Diakonale Dienste (SKDD) aangestel kan word. Meer oor die kriteria is hier. Sluitingsdatum vir aansoeke is 27 Maart en geen laat aansoeke word aanvaar nie.  
3. NG Gemeente Vasco: Tentmaker/Emeritus Leraar
Vasco gemeente is geleë in Vasco Boulevard tussen Voortrekkerweg en die N1 (Goodwood). Die gemeente het 499 belydende en 37 dooplidmate. Hier is tans 'n vakature vir 'n leraar wat ‘n verskil kan maak in die gemeenskap, en wat goeie menseverhoudinge in die visioneringsproses kan help bou en handhaaf. Reageer voor 2 April - aangeheg is meer inligting.
4. Huis PAM Brink/Esperanza: Finansiële Beampte
Huis PAM Brink/Esperanza Tehuis vir Bejaardes is ’n program van Badisa, ‘n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-en-Suid-Kaap) en VGKSA (Kaapland). Aansoeke van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone word voor 14 Maart vir die betrekking as finansiële beampte ingewag. Lees aangeheg meer oor verantwoordelikhede en vereistes.
5. Vakatures in Kerkbode
Vir die amptelike bekendmaking van vakatures in die NG Kerkfamilie, gaan na Kerkbode se webblad en klik op Meer - Vakatures.
Nadine Maletzki

TEN LAASTE ... 
Uit die Pen van ... Nadine Maletzki

Dit is weer Wêreldbiddag vir Vroue-tyd. Van kleins af onthou ek dat ons meisies apart geneem is, vertel is hoe spesiaal ons is, en dan het ons interessante stories gehoor van verskillende wêrelddele se vroue – en natuurlik vir hulle gebid. Vandag is daar al vroue in meer as 170 lande wat die eerste Vrydag in Maart saam bid.

Hierdie jaar is die tema: “Jesus sê, ‘Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?’” 

Ek begryp nie elke dag hoe ver en wyd God se liefde vir my strek en wat Hy vir my gedoen het nie. Maar ek weet my Here maak die onmoontlike sy werk! 

Got any rivers you think are uncrossable; 
Got any mountains you can't tunnel through? 
God specializes in things thought impossible; 
He does the things others cannot do.

Groete vanuit die Richtersveld!

Nadine Maletzki
Nadine is predikant in NG Alexanderbaai sedert 2012. Haar e-posadres mal777fs@hotmail.com.
Vriendelike groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.