Lees deur internet, klik hier >>
23 November 2018
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
God is Ewig
SINODENUUS
1. Gesamentlike legitimasie: 25 November 2018
Ons vier graag by voorbaat ’n wonderlike mylpaal in die lewens van die kandidate wat hulle teologiese studies aan die Fakulteit Teologie, Universiteit van Stellenbosch, suksesvol voltooi het.
Die legitimasie van hierdie suksesvolle kandidate, 'n hoogtepunt op die kalender van die kerkjaar, vind vanjaar op Sondag 25 November om 15:00 in die VGK Lwandle plaas.
Die liturg is dr. Natie Philander, terwyl die plaaslike leraar, ds. Elbie Vinqi, die verwelkoming sal hanteer. Dr. Llewellyn MacMaster, moderator van die VGK Kaapstreek, is die prediker. Kry die letigimasieprogram en meer oor die kandidate hier. Baie seën elkeen toegebid.
Legitimasie
Predikantebegeleiding
2. Predikantebegeleiding: winskoop-belegging in jou en jou bediening!
Predikante Begeleidingsentrum – ’n plek waar kollegas nader kom en ontmoet en vertoef ... ’n veilige ruimte met eerlike begrip en meeleef, want die terrein is gelyk en bekend … Inoefening en rolspel in die teenwoordigheid van kollegas wat hulleself toewy aan ’n proses van terugvoer en reflekteer … ’n leerproses in bewussyn en na binne kyk en raaksien en hoor … en die uitkoms: ’n selfinsig en verstaan in en van bedieningskapasiteit en daarom ’n gelukkige dominee!
Dis ons PSD Theunis Botha se spesiale aanbod aan predikante! Die sentrums vind in Februarie, April, Augustus en Oktober 2019 plaas – lees hier verder en kontak Adrienne Bester by bestera@sun.ac.za - beperkte plek beskikbaar.
Verkiesing en sinode
3. Sinode 2019 en nasionale algemene verkiesing
Die vasstelling van die datum van 'n sinode word gebruiklik 'n jaar voor die tyd deur die moderamen bepaal en aan gemeentes bekendgemaak. Dit stel almal, maar veral die taakspan wat die sinode beplan, in staat om betyds met sy werksaamhede te begin en 'n plek te bespreek. Goudini Spa is alreeds in September 2017 bespreek vir die sinodesitting.
Die taakspan het onlangs bewus geraak van die moontlikheid dat die algemene verkiesing van 2019 dalk in Mei 2019 kan plaasvind en dus kan saamval met die sinode. In die lig van 'n reeks praktiese en logistiese faktore, is die verskuiwing van die datum onmoontlik. Gevolglik gaan daar gehou word by die datum waarop die moderamen besluit het, naamlik 13 tot 17 Mei 2019. Lees hier verder.
Leierskap en huwelikseminaar
4. Getuienisaksie 
Ons susterkerke help mekaar

Dit is groot nuus dat ons susterskerk in Malawi, die CCAP (Church in Central Africa Presbyterian) weer hierdie jaar ’n leierskap- en huwelikseminaar aan die predikante van ons susterskerk in Mosambiek, die IRM (Igreja Reformada em Moçambique) Sinode Mphatso aangebied het.
Dit het verlede week in Vila Ulóngùe, Noordwes-Mosambiek plaasgevind. Ds. Bosman Chitheka en sy vrou, asook drr. Davidson en Phoebe Chifungo, het die seminaar gefasiliteer - lees meer hier. Op die foto links is die IRM-predikantspaartjies wat die seminaar bygewoon het.

5. Jeug- en Familiebegeleiding 
5.1 Taizé broers deel die visie

Die vierde Taizé-ete, gereël deur die Taakspan vir Jeug en Familie, is onlangs in Observatory gehou. Verteenwoordigers van gemeentes is uitgenooi om by die Taizé-leiers te eet en saam te bid. Brother Luc het gedeel oor die "Pilgramage of Hope"-byeenkoms vir jong volwassenes wat volgende jaar in September in Kaapstad gehou word. Brother Luc het ook verlede week gemeentes in George en Oudtshoorn besoek. Op die foto onder is v.l.n.r. Luané McLachlan (Proteahoogte), Brother Luc, Helgard Pretorius (Pinelands), Bianca Botha (Kaapstad), Brother Paulo, Dewald Louw (Zwaanswyk) en Lourens Bester (Parke).
Taizé-broers e.a.
5.2 Jeugbedienaars herlaai hul batterye
Die afgelope week het 'n groepie jeugbedienaars vir twee dae 'n retraite in Volmoed, Hermanus bygewoon. Hulle het die "organic scorecard" deurloop, stilgeword en mekaar bemoedig. Goeie wenke oor jeugbediening is ook uitgeruil.
Op die foto onder is agter: Johan Botes, Stefan Human, Miga Coetzee, Christi Thirion, Johan Dorfling, Chris Groenewald en Adam Barker. Voor is: Elzanne van der Westhuizen, Nicola Alberts, Anriëtte de Ridder (PSD: Jeug- en Familiebediening), Lizl Botha, Irenke Berko, Ruan Niewenhuizen, en Luané McLachlan. Navrae: jeug@sun.ac.za.
Jeugbedienaars retraite
Braam Hanekom
6. Publieke Getuienis
Kerk in 'n land wat brand

Braam Hanekom (Sentrum vir Publieke Getuienis) gee sy perspektief op van die grootste krisisse in die land en die kerk se konstruktiewe bydrae. “Die kerk is nie altyd goed met implementering van groot projekte nie, maar al sê mense wát, word kerke in baie ander gemeenskappe steeds gesien as ’n morele kompas wat ’n unieke fasiliteringsrol kan en moet speel.” Lees hier verder watter hoopvolle stories hy deel. (Met dank aan e-Kerkbode.)

Publieke Getuienis
7. Gemeentebegeleiding se gewilde Brugkursus
Van Gemeentebegeleiding ontvang ons nuus oor die afgelope Brugkursus (foto onder). Mathilda du Pisanie herinner daaraan dat die kursus twee keer 'n jaar aangebied word - en die datums vir 2019, sowel as kommentaar van predikante wat module 2 van die pas afgelope kursus voltooi het, is hier beskikbaar. Om in te skryf, stuur jou naam en kontakbesonderhede aan Mathilda by mdup@sun.ac.za.  

Brugkursusbywoners
Predikante wat die brugkursus in November 2018 voltooi het:
Voor v.l.n.r. Gielie Loubser (PSD: Gemeentebegeleiding), Andrew Esterhuizen,
Bossie Muller, Christo Klopper, Chris Cronje
Middel: André Oosthuizen, Hennie van Deventer
Agter: Andrei Theron, Koos van der Vyver, Chris van der Westhuizen,
Johan van Zyl, Barry Fourie, Hennie Swanepoel, Michael Lemboe
Kerskrans
8. Kersvakansie 2018 
Die Sinode van Wes-Kaapland se verskillende afdelings (diensgroepe en taakspanne, sowel as ander kantore in die sisteem) sien uit na 'n welverdiende Kersvakansie.
Die meeste afdelings sluit op Vrydag 14 Desember om 12:00. Spesifieke datums vir die verskillende kantore is hier beskikbaar. Let asb. daarop dat Kersdag sowel as Woensdag 26 Desember (Welwillendheidsdag) openbare vakansiedae is. 
Baie dankie vir die getroue voorbidding en ondersteuning teenoor die sinode gedurende die afgelope jaar. Mag daar vir elke leser oomblikke van Lig in die Kerstyd wees.
Let wel
9. VrydagNuus-uitgawes oor in 2018
’n Vriendelike herinnering: die skole sluit vanjaar op Woensdag 12 Desember. Gemeentes wat inligting vir wyer kennisname wil instuur, moet asb. daarvan kennis neem dat die laaste VrydagNuus van 2018 in die week van 7 Desember verskyn. Waar moontlik help ons tot 14 Desember deur middel van Facebook en Twitter met inligting wat gemeentes graag wil deel.
GEMEENTENUUS
1. NG Gemeente Riversdal-Wes
Waardegedrewe uitreik tydens brande
In 'n spesiale getuienis skryf Deon Beyers, predikant in NG Riversdal-Wes, hoe hulle gemeente tydens die onlangse veldbrande in hulle omgewing die geleentheid raakgesien het om 'n verskil in mense se lewensom-standighede te maak - binne én buite die gemeente. Lees gerus hoe hulle aan die hand van hulle gemeentewaardes opgetree het - en hoe die sinodale rampfonds hulle hand van omgee in veral die gemeenskap van Vermaaklikheid kon sterk. Rig navrae oor die rampfonds aan Ria Koen by diaconia@kaapkerk.co.za.
Grondhervorming
2. Williston, Carnarvon beplan kerklike grondberaad in Maart
Muller Oosthuizen, predikant in die NG Gemeente Williston in die Noord-Kaap, stuur inligting oor ’n kerklike grondberaad wat Williston en Carnarvon se kerkrade op 18 en 19 Maart 2019 in Williston beplan. Hy skryf: “Dis boonop ontstellend hoe min die kerke in SA in die openbaar oor grondonteiening en die toekoms van die land en landbou praat. In gesprekke met top landbouleiers is die behoefte aan kerklike leiding baie sterk uitgespreek. Die taak van die kerk is immers om die draer te wees van hoop en versoening.” Muller versoek kerkkantore om hiervan kennis te neem – lees gerus hier meer.     
Kerssangdiens
3. NG Gemeente Bellville-Uitsig Kerssangdiens
Op Sondagaand 2 Desember om 19:00 volg ons 'n Ster ...
Kom ontdek saam met ses wyse manne, skape, herders en Josef en Maria die Een wat vir ons almal redding bring. 
Koffie en tee vanaf 18:30. Almal welkom! Navrae: 021 919 4220.
NG Wynberg Kerssangdiens
5. NG Gemeente Parowvallei-Oos
Saam met Jesus na sy nuwe wêreld
Hoe lyk en funksioneer 'n missionale gemeente? Een gemeente waar 'n mens kers kan opsteek om iets hiervan te ervaar, is die NG Gemeente Parowvallei-Oos, waar Theo Swart predikant is. Hulle laat die lig van Jesus oral skyn en gee nuwe betekenis aan hul visie "Saam met Jesus na sy nuwe wêreld". Dit doen hulle o.a. deur:
- PERCUP, 'n sambreel nie-winsgewende maatskappy waardeur met groot sukses in die breë gemeenskap gewerk word (meer is hier);

- Care Coffee Corner: meer as 270 gratis koffies, beskuit en geestelike lektuur van CLF in Afrikaans, Engels, Xhosa en Frans is uitgedeel by hul laaste geleentheid vir 2018;
- spesiale ondersteuning aan Tygerberg Hospitaal se kraamsaal en pediatriese saal
- spesiale eredienste, soos die gewilde Comrades-erediens en Verpleegstersondag
- 'n vakansieprogram vir kinders tussen 6 en 12 jaar
- agt jongmense geborg vir 'n uitreik na Merweville
- 'n nuwe afdak wat hul breë bedieningsmoontlikhede aansienlik uitbrei.
En dan deel hulle soms onverwags pragtige houtkruise (regs onder) as teken van dankbaarheid uit. Beslis 'n klein gemeente met die grootste hart denkbaar! 'n Oorsig is hier. Kontak Theo hier om meer oor hierdie gemeente se missionale visie en werk te hoor. 

NG Parowvallei-Oos
"It started with a cup of coffee ... now we serve the whole community."
Kerkgebou
6. NG Gemeente Die Strand
Getuienistoerusting teenoor Jehova Getuies
Van Marcel Vosloo, predikant by Die Strand gemeente, ontvang ons die volgende inligting: "Jehova Getuies kom klop baie keer by ons huise aan. Hulle kom bied as't ware hulself aan dat ons teenoor hulle kan getuig." Waar gelowiges soms onseker is hoe ons teenoor hulle kan getuig, het NG Die Strand op Sondagaand 18 November 'n toerustingsgeleentheid hieroor aangebied waar sowat 40 lidmate was.
"Ons het eerstens gekyk na die Jehovas se geskiedenis en hulle belangrikste leerstellige uitgangspunte, sowel as na praktiese getuienis teenoor hulle." Persone wat belangstel in meer inligting, kan Sunet Pentz, skriba, kontak by sunet.pentz@gmail.com.
7. Gemeentes: stuur asb. jul 2019-kalenders!
Dankie aan die 22 gemeentes wat reeds hul kalendervoorblaaie vir 2019 gestuur het. Elkeen weerspieël iets van die karakter en fokus van die gemeente. Dit bly 'n spesiale manier om in mekaar se wel en wee te deel en ons gemeenskaplike kerkwees te vier. In 2017 het ons 31 voorblaaie ontvang om te deel; in 2018 het dit gegroei tot 64. Dalk is hierdie jaar die een wat ons 100 kry! Stuur na media@kaapkerk.co.za
.  Regs is enkele voorblaaie wat ons reeds ontvang het.
PREDIKANTENUUS
Fouries
1. NG Gemeente Ladismith groet Daan en Mona Fourie
Op Sondag 25 Nov. lewer Daan Fourie sy afskeidspreek in die NG Gemeente Ladi-smith, waar hy sedert 2014 in die bediening was. Hy is in 1990 in Karatara (Sedgefield) georden en het vir bykans 25 jaar ’n pad met lg. gemeente gestap.
Daan deel ’n komiese oomblik: “Ek was maar kort in die bediening toe ek en Mona op ‘n dag gaan huisbesoek doen. Ons het nie ‘n vaste afspraak gehad nie, maar die wyk het geweet dat ons dié betrokke dag daar sou verbykom. Soos wat ons in die pad afstap na die tannie se huis toe, sien ons haar staan op ’n stoel buite die huis, besig om die ruite te was. Van ver af al, hoor ons hoe sy die oom slegsê. Die knope val soos sy hom vertel hoe lui en treurig hy is. Die oomblik toe sy ons uit die hoek van haar oog aangestap sien kom, begin sy in dieselfde asem te sing: 'Werk, want die nag kom nader …' ". Ons gun die Fouries ’n welverdiende rustiger tempo. Enigeen is welkom by die erediens om 09:30 Sondag.

Gradeplegtigheid
2. Vishoek se Martin verwerf PhD
Martin Barnard van NG Vishoek het onlangs tydens Noordwes Universiteit se Lenteplegtigheid sy doktorsgraad o.l.v. dr. Elmo Pienaar verwerf. Die titel van die proefskrif is "Begeleiding van die middeljarige wit Afrikaanse man tydens verpligte aflegging: ʼn Narratief-pastorale benadering". Martin skryf: "Om afgelê te word, skep geweldige trauma t.o.v. die man binne hierdie demografie se identiteits- en werksbeskouing. ʼn Begeleier kan hierdeur die kliënt bystaan om nuwe sin en betekenis in sy verhouding met homself asook in alle ander verhoudinge te vind."
Welgedaan, Martin! Wens hom hier geluk.
Frederick Marais
3. Frederick Marais 
Alles in die lewe begin deur te luister ...

Neels Jackson bied in 'n nuwe artikel in Kerkbode 'n blik op Frederick Marais (assessor van ons sinode en ook PSD: Toerusting) se geloofspad.
Hy skryf: "Dit is bloot dat hy altyd bewus is dat daar ook 'n ander perspektief is op 'n saak, dat mense wat anders dink, se siening ook legitiem is, en dat 'n mens daardie ander perspektiewe nodig het om te verstaan." Om te lees van die rol van geloofsonderskeiding op sy geloofspad, te hoor hoe hy oor die Gereformeerde tradisie dink en te sien hoe hy antwoord op die vraag waar die kerk nou is, klik hier
KAMPE
CPUT Eerstejaarskamp met Moederkerk Wellington
GEBEDSVERSOEKE
Gebedsversoeke
ALGEMEEN
Le Roux Schoeman
1. Le Roux Schoeman neem Kerkbode se leisels as redakteur!
Tydskriftemaatskappy het op 21 November bekendgemaak dat die ervare joernalis Le Roux Schoeman aangestel is as redakteur van Kerkbode.
Met 'n B.Th.-graad in teologie aan die US en ervaring by onder meer The Church of England Newspaper in Londen en 13 jaar by Media24, bring hy waardevolle kennis na die kerkkoerant van die NG Kerk. 
Hy is lidmaat by die Cape Peninsula Reformed Church, Kaapstad, se Engelstalige NG gemeente in die Kaapse middestad en sal sy diens in Januarie 2019 begin.
Lees hier verder hoe e-Kerkbode berig. Baie sterkte in jou nuwe rol, Le Roux!

World Aids Day lecture
Wêreldvigsdaglesing 30 November - klik bo.
Kerse
3. Bybelgenootskap
'n Adventkalender in video-formaat!
Die Bybelgenootskap se Adventkalender neem vanjaar die vorm aan van 'n reeks kort video's met individue wat die daaglikse Bybelverse in al 11 Suid-Afrika se tale lees. Hierdie kort voorlesings sal op hul sosiale mediaplatforms beskikbaar wees, maar jy kan ook kies om dit per e-pos te ontvang. Klik hier.
Wêreldbiddag
4. Wêreldbiddag vir vroue: 1 Maart 2019
Gemeentes wat kalenders vir 2019 finaliseer, kan gerus oorweeg om aan te teken dat die jaarlikse Wêreldbiddag vir vroue volgende jaar op 1 Maart plaasvind – altyd die eerste Vrydag in Maart. Die skrywerland is Slowenië en die tema is “Kom – alles is gereed!”
Kry die bestelvorm vir die brosjure hier

Nelus Niemandt
5. Raakgelees
Oor die kritiek jeens die kerk nagedink ...

"Vir Newbigin is die kerk 'n teken en voorsmaak van God se koninkryk. Jesus gee die kerk aan die wêreld om God se geskenk van vrede te wees. Die kerk vertel nie net van die koninkryk nie, die kerk dra iets van die koninkryk die wêreld in. Die kerk vertel die goeie nuus en ís die goeie nuus.
Al is ons swak en kry ons swaar, werk die lewende Here juis daar waar jy dit die minste verwag." As jy dalk in hierdie tyd besorg is oor die toekoms van die kerk, kan jy gerus oorweeg om te lees wat Nelus Niemandt (Fakulteit Teologie, UP) skryf. Brief met erkenning aan e-Kerkbode.
 

PUBLIKASIES
Begin lewensveranderende gesprek m.b.v. 'n CLF-pamflet!
Tydens die Desembervakansie gebruik baie Christene die geleentheid om die boodskap van die evangelie met ander te deel. Soms as deel van 'n kerk- of jeuggroepuitreik, gemeen-skapsprojek of  ander tye op 'n meer informele manier. CLF se pamflette is Bybel-gefundeerd, Jesus-gesentreerd en lewensveranderend! Deel jou geloof met ander en laat hulle met 'n pamflet wat jou boodskap sal versterk nadat jy weg is. CLF se wye reeks gratis pamflette en bekostigbare boeke kan jou uitreikaksies ondersteun om ‘n lewenslange impak te maak. Lees hier verder. Bestel aanlyn of stuur ‘n e-pos aan order@clf.co.za
Pamflette
EKOLOGIE
Gebed
1. God help ons weer ons plek in ons ekologiese huis vind
Ons as menslike spesie het ons plek in die ekologiese huis waarin ons leef, verloor.  Ons weet nie waar en hoe ons pas nie. Wanneer ons egter vir God vind, vind ons ons plek in die een web van die lewe hier op die aarde en in die groot heelal, want die vind van God is tegelyk ook die vind van myself en die res van God se skepping. Lees hier verder hoe David Botha van Projekspan Ekologie skryf. 
Eko-Kersgeskenke
Dink groen as jy Kersgeskenke uitsoek.
(Met erkenning aan Green Anglicans)
BEHOU DIE HUMOR
Humor
KUIERKANS
NG Franschhoek Kersaandmark
NG Franschhoek: Aandmark
NG Helderberg Klassieke Klanke
NG Helderberg: Klassieke Klanke
VAKATURES
Kerkbode - vakatures
Kerkgebou
1. NG Gemeente Stellenberg: jeugpredikant
Stellenberg-gemeente is 'n makro-gemeente in die noordelike voorstede van Kaapstad en bestaan uit 4106 belydende en 1345 dooplidmate. Die gemeente se droom is: “Om uit te reik oor alle grense”. Hier is tans 'n vakature vir 'n jeugpredikant. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 4 Januarie 2019. Lees hier verder.
Kerk
2. NG Gemeente Nuwerus: vastetermynpos van drie jaar vir leraar
Die NG Gemeente Nuwerus is 'n plattelandse gemeente ongeveer 70 km noord van Vanrhynsdorp op die N7-snelweg. Hier is 'n vakature vir 'n leraar in 'n vastetermynpos van drie jaar. Klik hier. Aansoeke sluit op 6 Desember 2018.
Kerkgebou
3. NG Gemeente De la Bat: skriba/kassier
De la Bat Gemeente vir Dowes in Bellville het 'n vakature vir 'n skriba/kassier. Die persoon sal ook verantwoordelik wees vir die administrasie van La Belle-gemeente. Hier is meer inligting oor die pos. Aansoeke sluit op 15 Januarie 2019. 
Logo
4.1 Magdalenahuis Beradingsentrum:
maatskaplike werker
Die Magdalenahuis Beradingsentrum beskik oor 'n vakature vir 'n maatskaplike werker wat oor die nodige kwalifikasies beskik en belangstelling toon in die aannemingsveld. Aansoeke sluit 18 Januarie 2019 en diensaanvaarding is 1 Maart. Klik hier vir meer

4.2 Strand: Maatskaplike werker en maatskaplike hulpwerker
Hierdie tak van Badisa het tans twee vakatures. Klik hier om meer te lees oor die posvereistes. Aansoekers moet 'n volledige CV en bewys van registrasie teen 15 Desember 2018 stuur aan asmith@badisa.org.za.
Stephen
TEN LAASTE

Uit die pen van ... Stephen Pedro

"(Mission) is the good news of God's love, incarnated in the witness of a community, for the sake of the world". Hierdie is letterlik die laaste sin van David J. Bosch se fenomenale missiologiese bydrae in sy boek Transforming Mission. Hiermee sluit hy aan by die Duitse teoloog, Dietrich Bonhoeffer, se ekklesiologie dat die kerk bestaan vir ander: "the church is the church only when it exists for others."

Ek wil aansluit by hierdie twee teoloë - een uit Afrika en een uit Europa - deur die kerk, die liggaam van Christus, hier kort voor die aanbreek van Advent (waartydens Christene die koms van Jesus Christus na die wêreld gaan vier en verkondig), opnuut op te roep om te onthou en hiervolgens te lewe: ons is versamel, geroep, en afgesonder vir en gestuur na die wêreld met die goeie nuus van God se liefde. Soos Jesus Christus ons tereg oproep, "Soos die Vader my gestuur het, stuur Ek julle ook." (Johannes 20:21) 
                                                                 -0-0-0-

Stephen Pedro was vir meer as 22 jaar in diens van VGK Goodwood en die Elsiesrivier-gemeenskap. In Desember 2017 is hy aangestel as Predikant in Sinodale Diens (PSD) van die Verenigde Diensgroep Getuienisaksie, met spesifieke klem op Gemeentegetuienis (Getuienis In en Deur Gemeentes). Die hooffokus van sy taak is om die proses te fasiliteer wat gemeentes begelei om missionaal te word. Kontak Stephen hier.

Kerstoneel
"Bewus van hoe breekbaar en feilbaar my geloof is,
- gebind aan iets so broos soos 'n Kindjie in 'n krip - 
wil ek U nou, Here, veral kom dank
dat die evangelie so helder, met soveel eenvoud
na ons toe kom
dat selfs die herders dit kon verstaan."
(uittreksel uit gebed deur Pieter G.R. de Villiers)
Vriendelike groete
Marieta Visagie en Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.