Subscribe to our email list
 6 Mei 2016

Beste Leser
Heidelbergse Kategismus 
Vraag 49:     Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons ?
Antwoord:  Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is. Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as ’n betroubare waarborg het dat Hy as die Hoof, ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem. Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur, deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie. 

SINODENUUS
1. Publieke Getuienis: Bill Hybels oor Leierskap

Braam Hanekom het op Dinsdag 3 Mei 'n uur lange onderhoud met die bekende Amerikaanse predikant en leierskapskenner, Bill Hybels gevoer. Bill was al advisieur vir vier Amerikaanse presidente, insluitende Bill Clinton en Barack Obama.
Die gesprek, waarin gefokus is op die tipe leierskap wat tans in die internasionale konteks van radikalisering, sowel as die SA-konteks met spesifieke uitdagings, nodig is, het by die in Harmonie sentrum buite Franschhoek plaasgevind en is deur verskeie sakelui en politici bygewoon. (Foto's onder)
Braam, Bill en Jannie
Braam Hanekom, Bill Hybels en Jannie Durand (hoofbestuurder, Remgro)
In Harmonie-gesprek
Braam, oud-president Kgalema en Gugu Motlanthe,  Hanneli Rupert, Bill Hybels, Hein Koegelenberg en Johan Beukes van in Harmonie.
Leon Venter
2. NG Wes-Kaap Luister na Jong Leraars
Die Wes-Kaap moderatuur en Sinodale Koördineringspan (SKS) nooi jong leraars (35 jaar en jonger) na 'n Jong Leraars-dagkonferensie op Woensdag 8 Junie vanaf 10:00 tot die aand. Meer inligting sal volg; teken asb solank die datum aan. 
Die moderatuur en SKS wil graag na jong stemme en standpunte oor 'n verskeidenheid sake luister en inligting oor verskeie inisiatiewe en uitdagings in die Wes-Kaap deel. Die werk van die vyf diensgroepe sal ook bekendgestel word. Reageer teen Wo 3 Junie na Leon Venter (SKS-voorsitter), by leonvntr@gmail.com rakende jou teenwoordigheid en vir meer inligting.
3. #Imagine - #Beweging #Movement!
Verteenwoordigers uit elke sinodale streek, sowel as taakspanlede van #Imagine, het op 4 en 5 Mei in Somerset-Wes saamgekom vir "debriefing" en evaluering van die onlangse #Imagine-feeste in die noorde en suide. Strategie en beplanning vir die pad vorentoe was ook deel van die agenda.
#Imagineers, kyk gerus hier na video's, inligting en skakels vir #buildingbridges ...
Onthou! Teken solank aan! Meer sal volg!
#Imagine Mission Exposure Trips - klik hier
#ImagineKidz - Oktober-skoolvakansie
#Imagine Ignite vir leiers - 3 tot 5 November
Imagine Suide-verteenwoordigers
Agter vlnr Arno Mattheus, Gielie Loubser, JC de Jongh (#ImagineKidz)
Middel vlnr Bea Pretorius (#ImagineKidz), Rehét Laskey, Carla Swanepoel, Anriëtte de Ridder
Voor vlnr Anneke Botha, Marina du Toit en Vicus Kruger
Kobus Cilliers
4. Getuienisaksie: Projek Goeie Hoop
Kobus Cilliers is al sedert 2003 aan die NGK Suiderstrand-gemeente gekoppel met opdrag: Projek Goeie Hoop,  ’n plaaslike bediening wat onder andere ook na Moslems uitreik.
Hy dien ook op die bestuur van die CCM (Christian Concern for Muslims), ’n netwerkorganisasie wat in Suid-Afrika ontstaan het en al na die res van Afrika versprei het.
Lees hier meer oor hierdie bediening.
5. Badisa: 'n Verskil in 750 000 lewens!
Averell Rust, hoofuitvoerende beampte van Badisa, vertel meer van hierdie onontbeerlike gesamentlike barmhartigheidsbediening van die NG Wes-Kaapland en VGKSA Kaapland) wat in samewerking met gemeentes en ander rolspelers:
• uitnemende professionele, vakkundige en ondersteuningsdienste aan mense en gemeenskappe in nood lewer;
• ontwikkelingsprogramme vestig om verbruikers/kliënte in staat te stel om optimaal te funksioneer.
Averell vertel meer in die onderstaande video. Besoek ook www.badisa.org.za 
Averell Rust
NG Kerk-logo
6. ABR - Jaarlikse Registrasie
Annari du Plessis (namens dr Déwyk Ungerer en die NG Kerk Algemene Steunspan Predikantesake) noem dat dit lyk of van die briewe wat aan predikante oor die ABR gestuur het, nie gestuur is nie. Predikante wat nie aanmeldings en/of rekeningstate gekry het nie, moet asseblief per e-pos laat weet.  Stuur dit aan Annari du Plessis by bevoegdheid@ngkerk.org.za of skakel 012 342 0092.
GPC Carinus
ALGEMEEN
1. Innige simpatie
1.1 Ds Gert (GPC) Carinus

Ons het met leedwese verneem van die dood van ds Gert Carinus (31.05.1926 - 30.04.2016).
Ds Carinus se bediening het in 1953 in Rondevleihoogte (vandag Die Vleie) begin, voordat hy in George-Suid, Glenwood en Parow-Noord predikant was. Hy emeriteer in 1988. Ons simpatie aan sy kinders, kleinkinders en agterkleinkinders.
'n Gedenkdiens vind op Vrydag 6 Mei om 15:00 vanuit die NG Gemeente Parow-Noord plaas, gelei deur ds Alwyn Carstens van Parow-Welgelegen. 
D Esterhuyse
1.2 Ds Danie (DC) Esterhuyse
Ons betuig graag hiermee ons opregte simpatie aan die 5 kinders, kleinkinders en familie van ds Daniël Christiaan Esterhuyse, oorlede op 27 April in die geseënde ouderdom van 90 jaar.
Ds Esterhuyse het 'n besondere passie vir barmhartigheid en die sending gehad, en het op eie inisiatief 'n Lokenburg-Abel-fonds gestig, waarvan die rente vir verdienstelike sake aangewend sal word. (Lokenburg is sy plaas se naam en Abel 'n verwysing na Heb 11:4)
Oudkollega Roy Thorne, wat as jong predikant saam met hom in die NG Gemeente Moorreesburg sy bediening begin het, deel enkele indrukke oor ds Esterhuyse - lees hier.
Die roudiens word op Vrydag 6 Mei om 11:00 deur ds Elmo Evert in Nieuwoudtville gelei, met die teraardebestelling op Saterdag 7 Mei om 10:00 op die plaas Nuwerus buite Laingsburg, gelei deur ds Esterhuyse se skoonseun, ds Nicol Smit.

Heb 11:4 Prop Danie Esterhuyse
Ds JAC Weideman
1.3 Ds Japie (JAC) Weideman
Ons innige simpatie gaan aan mev Jeanne Weideman, die eggenoot van ds Japie Weideman, (27.01.1927 - 02.05.2016), sowel as sy 4 kinders, 11 klein- en 3 agterkleinkinders.
Ds Weideman het in 1952 in die NG Gemeente Augrabies as predikant begin, waarna hy in Montagu en Cradock-Noord in die bediening was. Na sy aftrede in 1988 het hulle in Groot-Brakrivier gewoon. 
'n Roudiens, gelei deur ds Paul Roodt, vind op Vrydag 6 Mei om 10:00 vanuit die NG Gemeente Groot-Brakrivier plaas, met die teraardebestelling in die Outeniqualand begraafplaas.

2. Pinkster-boodskap van WRK-presidente
Elke jaar tydens Pinkster, publiseer die presidente van die Wêreldraad van Kerke (World Council of Churches) 'n gesamentlike boodskap ter viering van "the birthday of the church on Pentecost".
Vanjaar se boodskap, op 27 April uitgestuur, fokus op die Gees wat kan verenig: "
When the Spirit comes to us, we can share, educate, and guide others to what is more than us and to all things good—ultimately to the triune God, whose Spirit can unite a broken world and renew every culture." Lees hier verder.
Ons NG Kerk-familie het 'n besondere band met die WRK, aangesien dr Mary-Anne Plaatjies-van Huffel, die VGKSA Algemene Sinode se moderator, in 2013 as president vir Afrika by die WRK verkies is. (Sien ook foto onder).
WRK-presidente
Bishop Mark MacDonald, (Canada, WCC president  - North America); Rev Prof Dr Sang Chang, (Korea, WCC president- Asia); Rev Dr Mary-Anne Plaatjies van Huffel, (South Africa, WCC president - Africa); Rev Dr Mele’ana Puloka,  (Tonga, WCC president - Pacific); Rev Gloria Nohemy Ulloa Alvarado, Colombia (WCC president - Latin America & the Caribbean); Archbishop Anders Wejryd, Sweden (WCC president - Europe)
3. DiacAfric Konferensie
Armoede: Geleentheid of Verleentheid?

Hoe kan die kerk van Christus as gestuurdes die gemeenskappe waarin ons leef sinvol bedien? Dit is een van die vrae op die tafel by die "DiacAfric"-konferensie, wat op 31 Mei en 1 Junie in Pretoria aangebied word.
Die Taakspan vir Missionale Diakonaat, in samewerking met Hugenote Kollege, nooi gemeentes, predikante, lidmate en maatskaplike werkers hartlik uit om saam na te dink oor hierdie saak. Die doel is om die Missionale Diakonaat in Afrika te bevorder en die maatskaplike dienste en gemeentediakonaat beter te integreer. Die integrasie van Missionale Transformasie en Missionale Diakonaat word ook bespreek. Reageer voor 25 Mei - kry die volledige uitnodiging en registrasievorm aangeheg.

Bybelgenootskap van SA-logo
4. Bybelgenootskap van Suid-Afrika
4.1 Hoop met Sesotho-materiaal

Op 4 Mei het die Bybelgenootskap van Suid-Afrika sy 2  Sesotho Bybelgebaseerde geletterdheidsboekies in Phuthaditjaba in die Vrystaat bekendgestel.
Die belangrikste gaste was 300 graad R, 1 en 2-leerders uit verskillende skole in Phuthaditjaba (foto's onder). Elkeen van hierdie kinders het 'n stel Sesotho geletterdheidsboekies ontvang. Lees hier meer.

Sesotho Bybels Sesotho Bybelse geletterdheid
Die Bybel: 'n direkte vertaling
4.2 Nuus oor Bybelvertaling
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se webwerf waar inligting oor die vordering met die projek rondom Die Bybel: 'n Direkte Vertaling is:  www.bybeldirektevertaling.co.za.
Die doel van hierdie Afrikaanse Bybelvertalingsprojek is om 'n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel, geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik, te skep.

Gaan kyk gerus na "Wat is Nuut" en Sê Jou Sê op dieselfde blad.
Comrades
4.3 Comrades 2016: Hardloop vir Bybels!
Beoog jy om aan die Comrades Maraton op 29 Mei deel te neem? Oorweeg gerus om die Bybelgenootskap van SA te ondersteun. Laat jou kilometers regtig tel!
Klik hier om te registreer. 
(Dalk is daar 'n dapper skriba hier en daar wat bereid is om te laat weet as julle predikant die Comrades gaan hardloop ...) Laat weet gerus dat ons hulle sterkte kan toewens.
5. #Imagine en Spekbome: Saad in Vrugbare Grond ...
Van 'n kleinerige projek om spekbome op 'n uitreik saam te neem - tot 'n ekologie-sessie tydens #Imagine 2016! Dankie aan elkeen wat deel was van hierdie projek, van die Kweek vir die Here-span van Stellenberg, die borge van die herwinbare planthouertjies, die aanbieders van die eko-sessie (Wynand Breytenbach), tot by die #Imagineers wat aanhou om die negatiewe te omvorm in die positiewe. 
Wynand Breytenbach oor spekbome Ecocup
#Imagineers Spekboom
Gelukkige Moedersdag
6. Moedersdag - Getuienis Geleentheid?
Volgens navorsing het kerke in die VSA op Moedersdag die derde hoogste kerkbywoningsyfer (naas Paasfees en Kersfees). Dalk is iets hiervan by ons ook waar? Dit mag nodig wees vir ons om nuut te dink oor wat ons tydens Sondag se diens aan families bied wat andersins nie in 'n erediens kom nie, maar uit respek vir hul ma's, skoonma's en oumas die diens bywoon. Hier is 'n paar idees om te oorweeg. (Met erkenning aan CRC se nuusbrief van 4 Mei 2016)
7. Raakgelees: Luister - Régtig Luister?
Vir individue, maar ook gemeentes en kerke, in ons deelname aan die diskoers van die dag ... om te onthou wat luister werklik beteken. 
"
We have a contribution to make to the future, but it requires listening carefully before we speak." - John de Gruchy 
Jospeh en Oumaat
8. Raakgelees ... 'n Stampvol Kerk
Op Netwerk24 loop 'n mens van tyd tot tyd bydraes raak wat deur meer mense geniet en waardeer moet word. So 'n stuk is Adam Small se "Dié dag was die kerk stampvol." 
Oor die tema van menswaardigheid wat deur Joseph se verhaal aangebied word, oor ene ds Koekemoer van 'n NG gemeente in die Suid-Skiereiland, maar veral ook oor die unieke manier waarop Small skryf. Soos net hy kan.
Belangstellendes kan hier klik. 
Twitter Facebook YouTube
NG Citrusdal-logo
GEMEENTENUUS
1. NG Gemeente Citrusdal: Huwelikseminaar 
Arnold en Joy Mol bied van 27-29 Mei 'n huwelikseminaar op Citrusdal aan vir alle getroudes en persone wat nog gaan trou. Die program en inskrywingsvorm is hier. Inskrywingsfooie is R450 per paartjie en sluit al die kursuskostes en ook etes in.  (Elke paartjie sal beslis ook van die soetste lemoene kry ...)
Navrae kan gerig word aan Daniel van Zyl (keteng@kingsley.co.za of 083 261 7650) of Franci Engelbrecht (franci@fmphosting.co.za of 083 565 6557) 
2. NG La Rochelle: Slaapsakke vir Winter
Van die NG Gemeente La Rochelle (Bellville) kry ons hierdie inspirerende nuus! Persone wat nie ‘n dak oor hulle kop het en die wind en weer moet trotseer, is geen onbekende gesig vir ons nie. Hoe kan ons hierdie persone help om gedurende die winter warm en droog te slaap? Maak 'n slaapsak uit koerantpapier en plastiek. MES-aksie het met hierdie inisiatief vorendag gekom en kyk net hoe entoesiasties het klein en groot by La Rochelle vir hierdie projek saamgewerk!
Hou die jongste Kerkbode dop vir 'n berig hieroor en klik hier vir meer foto's.
Wouter Olivier met slaapsak
Wouter Olivier met 'n slaapsak
Harold Abrahams (MES)
La Rochelle slaapsak
'n Voltooide La Rochelle-slaapsak
Vrug van die Gees
3. Pinkster 2016: Voorbidding Versoek
Dankie vir elke leser, Bybelstudie- en gebedsgroep wat getrou voorbidding doen vir die komende Pinkstertyd in gemeentes landswyd.
Kom ons vra dat die Here elke woord en diens - en elkeen wat die Woord moet bedien - sal seën en toerus met sy Gees tot uitbreiding van sy koninkryk.
"Bid vir die vermoë om te luister:
As dissipel van Christus, na God se opdrag, in gesprek met God;
As 'n kerk, verby grense, na mekaar as die beelddraers van God;
As 'n land, verby ras- en taalgrense, na die storie van elke mense se lewe, sodat almal menswaardigheid kan ervaar."

(Bron: Pinksterreeks 2016, beskikbaar op CLF se webwerf)

PREDIKANTENUUS
#DomineesWatDraf #PastorsThatPedal #MenseWatMove!

Gesonde liggaam ... gesonde gees! Altyd lekker om te sien dat ons dominees moeite doen om gesond en gebalanseerd te lewe! Of jy nou jou dominee hier herken en of hulle liefs ongesiens op hul eie stap, swem, draf of fietsry, ondersteun gerus dié sy van hulle menswees net so entoesiasties soos die res van hul bediening.
Aktief!
BM-logo
NUUSBRIEWE
1. Bybel-Media Nuus
Na die langnaweek het Bybel-Media goeie nuus oor die jongste Kerkbode en die pryswenners van die BM-Cordis Trust-pryse.
Navrae, inligting en diensverskaffing:
Skakel 0860 26 33 42 of 021 864 8210 of stuur jou bestelling na bestel@bmedia.co.za of koop direk met kredietkaart op www.bybelmedia.org.za
Cordis Trust-pryse
Vlnr: ds Fourie Rossouw (namens Tom en Lollie Smith), dr Chris van Wyk, dr Fanie Marais (Cordis Trust), dr Pieter Fourie en voor is
me Juliana Nothnagel.
1.1 BM-Cordis Trust-pryse
Die wenners van vanjaar se Cordis Trust-pryse:
1. BM-Cordis Trust-prys vir oorspronklike Afrikaanse Christelike Gesinspublikasie: Tom en Lollie Smith vir 7 Ritmes vir kinders (CUM-uitgewers)
2. BM-Cordis Trust-prys vir oorspronklike Afrikaanse Christelike Kinderpublikasie: Juliana Nothnagel en Johann Strauss vir Ons eie Kleuterbybel (Lux Verbi NB Uitgewers)
3. BM-Cordis Trust-prys vir bydrae tot spesiale projekte met 'n Bybel-Media verbintenis: dr Chris van Wyk vir bydraes deur publikasies, Kruisgewys, preeksketse en meer.
4. Spesiale toekenning van Cordis Trust: Orde van die Lamp aan dr Pieter Fourie, uitvoerende hoof van Bybel-Media, vir besondere bydrae tot die uitdra van die boodskap van hoop. 
Hierdie pryse is vanjaar tydens 'n feestelike geleentheid op 22 April by Bybel-Media in Wellington oorhandig, alles danksy die wonderlike ondersteuning van Cordis Trust.
Chris van Wyk
Chris van Wyk
7 Ritmes vir kinders
7 Rimtes vir kinders
Ons eie Kleuterbybel
Ons eie Kleuterbybel
Pieter Fourie
Pieter Fourie
1.2 Kerkbode van 6 Mei 2015
In Kerkbode van 6 Mei kan jy lees van twee Fresh Expressions (nuwe vorme van kerkwees) wat uit die NG Kerk ontstaan het. Die een in Durban en die ander is al ’n paar jaar lank op dreef in Windhoek.
Lees ook van ’n kerklike aksie vir versoening in Suid-Afrika, hoe die gemeente en gemeenskap van Thabazimbi teenslae hanteer, en van ’n vlugteling uit midde-Afrika wat sy doktorsgraad in Stellenbosch gedoen het oor hoop.
In die gay debat is daar twee bydraes oor Nuwe Testamentiese tekste en in die kunsrubriek 'n skildery wat met sy profetiese boodskap in Koninkrykstyd gebruik sou kon word.
PUBLIKASIES
Hulpmiddels vir jou en jou gesin in vandag se tyd. Van Bybel-Media, een van die NG Kerk se amptelike media-vennote. Klik op die grafika vir meer inligting.
Ouerskap God se boustene vir die wereld 10 Gebooie - familie God se waardes vir die lewe
KUIERKANS
Hier is nuus oor basaars, kermisse, feeste en vieringe! Hou die sinode se Facebook dop vir meer nuus. Dankie aan elkeen wat help reël, bak en ondersteun!
Basaar
1. NG George-Denneoord hou Basaar! 
Die NG Gemeente George-Denneoord nooi almal van George en omgewing uit na hul gemeentebasaar om 17:00 op Vrydag 6 Mei by die kerksentrum (hoek van Charlotte- en Wallisstraat), Denneoord. Geniet smullekker kos, gebak, vermaak en vele meer vir oud en jonk! Almal welkom.  Navrae: kerkkantoor by 044 873 5642.
Badisa Familiefees
Badisa-logo
VAKATURES
1. Badisa Weskus-streek 
Citrusdal: Geregistreerde Maatskaplike Werker
Mitzi-Care Vanrhynsdorp: Gemeenskapsontwikkelaar
Badisa Weskus: Maatskaplike Hulpwerker
Badisa is 'n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Wes-Kaapland Sinode en die VGK Kaapland Sinode. Kry meer inligting oor bogenoemde drie posisies aangeheg en reageer asb voor die sluitingsdatum van 13 Mei 2016. 
Ramot-logo
2. Badisa Ramot: Verpleegpersoneel
'n Ingeskrewe verpleegkundige en 'n professionele verpleegkundige wat 'n verskil wil maak in die lewe van persone met 'n afhanklikheidsprobleem, word in Parow benodig by Ramot, Badisa se behandelingsentrum vir substansafhanklikheid. Lees hier.
Pastoral Search Committee
Vakatures op Kerkbode se webwerf
Kerkbode is steeds dié plek vir die amptelike bekendmaking van vakatures vir predikante en ander kerklike amptenare. Klik hier vir die jongste inligting.
Peet Bester
TEN LAASTE

Uit die Pen van ... Peet Bester


Ek lees ‘n paar jaar gelede ‘n boek oor Carl Jung. Daarin vertel die skrywer van ‘n inskripsie op die bo-drumpel van Jung se voordeur (en grafsteen). Ek het dié Latynse aanhaling gememoriseer: "Vocatus atque non vocatus, Deus aderit". Vry vertaal: "Aangekondig of nie, God is altyd teenwoordig". 
Baie strome en bewegings neem ons aandag in beslag. Dis veral rondom gebed waar ek hierdie trek- en stootkragte ervaar. Gebedskettings, strategieë en allerlei aksies laat my soms lam en met skuldgevoelens oor my ellendigheid dat ek nie aan alles kan of wil deelneem nie. Dis dan wanneer hierdie aanhaling my herinner dat Hy daar is. Of ons Hom nou hier betrek het of nie, Hy is hier. Soveel keer ervaar ek dat ons dink ons gebede bring Hom aan die orde. So asof Hy totaal geheueverlies het en dit ons werk is om Hom te herinner. Hy wat weet voor ons vra, Hy is eerste daar. Dit is vir my ‘n troos. Aangekondig of nie, Hy is altyd teenwoordig.
* * *
Peet Bester se bediening het hom voorheen na Augrabies, Somerset-Oos en Prince Alfred's Hamlet geneem. Hy is sedert 2013 leraar van die NG Gemeente Franschhoek. Stuur vir Peet 'n e-pos na peet@ngkfranschhoek.co.za.

Roos
"... maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het."
(Joh 14:16)
Spesiale Moedersdagwense - veral aan elkeen wat 'n ma se sorg en troos aan ander uitdeel.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za