Lees deur internet, klik hier >>
5 Mei 2017
kommunikasie@kaapkerk.co.za

Beste Leser
Al die tale, profesieë, met die tyd gaan dit verby.
Net die liefde, die volmaakte, kom en sal vir altyd bly.
Want geloof gee troos en rigting; na die toekoms reik die hoop.
Liefde is en bly die grootste: Liefde sluit die lewe oop.
(Lied 530 na 1 Kor 13)

SINODENUUS
1.
GETUIE/WITNESS
Lees hoe God deur Gemeentes in Gemeenskappe werk

Die jongste nuusbrief van Getuienisaksie NG Kerk-familie Kaapstreek kan solank hier elektronies gelees word. Hierin word die afgelope semester se getuienisstories oor hoe die Here deur ons as sy kinders gemeenskappe help versorg en heelmaak, met julle gedeel. Die harde kopie sal binnekort by kerkkantore beskikbaar wees.
Getuie voorblad
2. Brugkursus: vir ’n Nuwe Hoofstuk
'n Spesiale groep predikante het van 24 tot 26 April module 2 van hulle brugkursus op Stellenbosch deurloop. Hierdie kursus, aangebied deur Bossie Muller en Gielie Loubser, fokus op hulp aan vakante gemeentes.
Die brugpredikant help vakante gemeentes om aan die einde van die "ou hoofstuk" om te blaai en reg te maak vir 'n nuwe hoofstuk. Die brugpredikant help ook die gemeente om die verandering as 'n positiewe groeigeleentheid te beleef. Dit sal die laaste kursus wees wat Pierre Goosen (PSD: Predikantebegeleiding) voor sy aftrede aan die einde van Mei 2017 behartig. Groot dank aan hom vir soveel wat hy oor jare in ons predikante ingebou het!
Kursusbywoners
Voor vlnr:  Pierre Goosen, Rian Verster, Jan van Schoor, Juanita Greyvenstein
Agter vlnr:  Bossie Muller, Hennie Fouche, Piet Nel, Herholdt la Grange, HansSteyn, Dirk Oosthuizen,  Eric van Heerden, Gielie Loubser
3. Kom ons Bid saam ...
Ons herinner graag aan die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) se oproep om op Hemelvaart (25 Mei) 'n gebedsgeleentheid in te rig. Op dié dag (wat ook Afrikadag is) is die versoek dat gefokus word op die uitdagings wat ons land, maar ook die hele Afrika-kontinent, in die gesig staar. Terselfdertyd word kerke aangemoedig om interkerklike gebedsgeleenthede op Pinksterfees (So 4 Junie) te hou. Die NG Kerk, as lid van die SARK, ondersteun hierdie formele ekumeniese versoek en waardeer gemeentes se aandag hieraan.
Met allerlei oproepe om gebed wat die rondte doen, mag dit goed wees dat ons mekaar daaraan herinner dat gelowiges met groot vrymoedigheid enige tyd vir ons land en sy mense kan voorbidding doen. Hierdie Sondag (7 Mei) is juis ons sinodale dank- en biddag. Ons mag en moet erns met gebed maak. Geen "app" of voorskrif oor presies hoe ons moet bid, is daarvoor nodig nie.
Gebedsgeleenthede
UDM mashoof
4. Uit die Moderatuur: Kleipotte – met 'n skat in Broosheid
Alles het verander. Die politieke en ekonomiese konteks wat tans in SA heers, lok ’n verskeidenheid van reaksies by ons uit: van intense woede tot totale apatie. Die droom van ’n post-’94 reënboognasie lê byna aan skerwe en die samelewing is onseker oor die pad wat voorlê. Tydens die laaste moderatuursvergadering is ruim tyd geneem om te besin oor die situasie en die uitdagings wat dit aan die kerk bied. Die beeld van kleipotte wat maklik breek (2 Kor 4), kan ons bemoedig. Lees hier verder.
5. Andrew Murray-gedenknaweek
Ons stuur hartlike wense aan een en almal betrokke by die groot Andrew Murray-vieringe wat die volgende paar dae in en rondom Wellington plaasvind. So is daar Vrydagaand 5 Mei die prestigeryke Andrew Murray-prysfonds prysoorhandiging, ’n erediens met dr Coenie Burger (2017-pryswenner) en ’n kranslegging op So 7 Mei.
Die gedenkkonferensie en bekendstelling van die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in die Hugenote Kollege vind op Dinsdag 9 Mei plaas.
Nelis Janse van Rensburg (moderamen), André du Toit (historiese oorsig) en Christelle Nagel (argitek) sal as sprekers by lg optree. Mag elke geleentheid besonder geseënd verloop!
Andrew Murray Sentrum
Alpha logo
6. Sentrum vir Publieke Getuienis
6.1 Was jy al in die Tronk?

Stel jy belang om 'n draai daar te maak?
Publieke Getuienis reël in samewerking met Alpha SA se bediening in tronke besoeke aan gevangenisse in ons omgewing. Dit sal ongeveer 'n uur uit jou oggend neem en sal
jou help om Jesus se woorde: "... Ek was in die gevangenis…" beter te verstaan.  So besoek kan jou lewe verander en perspektief gee op hierdie seer werklikheid in ons midde. 
As jy belangstel, kontak die kantoor by spg@kaapkerk.co.za of 021 957 7202.
Handevat
6.2 Vat hande met Khayelitsha-gemeente
Stel jy en jou gemeente belang om hande te vat met 'n gemeente in Khayelitsha en die Great Commission Network (GCN)?
Woon dan hierdie leierskap-opleidingsgeleentheid saam met swart pastore van die GCN op Dinsdag 9 Mei (10:30 tot middagete) by die sinodale sentrum in Bellville by. Die gasspreker is prof Erwin Schwella van die Skool vir Publieke Leierskap. 
Kontak vir Danelle by 021 957 7202 of spg@kaapkerk.co.za.
Indien jy nie die byeenkoms kan bywoon nie, maar wel belangstel om deel word van hierdie netwerk, kontak vir Wouter v Velden (wouter@ngkwelgemoed.co.za) of Gielie Loubser (gielie@sun.ac.za).
Byeenkomste
7. NG Wes-Kaapland
Streeksbyeenkomste

Charl Stander, skriba van die Wes-Kaap moderatuur, herinner predikante en gemeenteleiers aan die verskillende streeksbyeenkomste, wat van 8 tot 16 Mei in ons sinodale gebied plaasvind. Dit bied die ideale geleentheid vir gesprek en terugvoer oor die werk-saamhede van die sinode. Klik gerus hier om te sien watter geleentheid naby jou aangebied word en kontak jou ringsvoorsitter so gou as moontlik om jou teenwoordigheid te bevestig.
Strikkie
8. Vigsherdenking Sondag
Gemeentes word herinner aan Vigsherdenking Sondag op 21 Mei. Die Vigstaakgroep van Diaconia wil gemeentes aanmoedig om tydens eredienste ruimte te maak om aandag te gee aan MIV en Vigs. Ondanks kwynende belangstelling en befondsing vir hierdie saak, word daar steeds daagliks ongeveer 1000 mense in Suid-Afrika met MIV geïnfekteer. Help ons asseblief om nie te vergeet en stil te raak nie, maar as kerk bewus en betrokke te bly! Om hiermee te help, is liturgiese riglyne voorberei wat binnekort op www.kaapkerk.co.za en www.cabsa.org.za beskikbaar sal wees.   
Logo
9. News from #Imagine Kidz
9.1 Registration – Take Note!

#imagine Kidz are proud to announce that #Imagine Kidz will be hosted at Hermanus, Riebeeckstrand and Attie van Wyk (Durbanville) during the June/July holidays. Although registration for June/July has closed, you are welcome to register by 1 August for the October holidays and by 1 October for the December holidays. Contact jc@imaginekidz.com or visit their Facebook or website for more information.
Logo
9.2  Unique #Imagine Kidz content
The #imagine Kidz team has created unique content relevant for today. The focus is on the story of the paralysed man that was healed by Jesus when his friends lowered him through the roof. WhatsApp is used as a vehicle to connect to the world of young children. By using this vehicle they have a look at the heart of Jesus, our own broken hearts and how Jesus, despite our broken hearts, sends us to share the Gospel with those around us.
ALGEMEEN
1. Fakulteit Teologie, Stellenbosch
1.1 Winterskool 13-15 Junie

Die Winterskool wat jaarliks deur die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch, aangebied word, vind vanjaar van Dinsdag 13 Junie tot Donderdag 15 Junie plaas en handel oor die tema "Hervorming van die Kerk, Samelewing en Mense". Lees hier verder en kry die volledige program. Skryf voor Vrydag 2 Junie in.
Sprekers
Waghid Yusef
1.2 Jeugdaglesing
Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch bied op Vrydag 12 Mei die jaarlikse Jeugdaglesing aan oor die tema: "Die Jeug en Hoër Onderwys". Prof Yusef Waghid van die Dept Opvoedkunde is die hoofspreker. Die tema word aangevul met 'n paneelbespreking deur studente van die fakulteit. Bespreek 'n sitplek by Helette, hvdwest@sun.ac.za of 021 808 9560 voor 8 Mei.  Lees meer hier.
2. Ian Nell: Professorale Intreerede
Prof Ian Nell  het op 6 April sy professorale intreerede gelewer oor die titel: "Ons weet aan wie ons behoort? Die drama van bedieningspraktyk in 'n postkoloniale Afrika-konteks". 
Deur die gebruik van die drama-metafoor het hy hierdie komplekse vraag van wat dit beteken om te behoort, spesifiek binne die postkoloniale Afrika-konteks, uit verskillende perspektiewe beskou. Hy het oa daarop gewys dat hierdie vraag reeds vir 500 jaar binne die Gereformeerde tradisie gevra word. Sien foto onder.
Ons hartlike gelukwense aan jou, Ian!

Prof Ian Nell ea
Vlnr: Guillaume Nell (seun), Judy Nell, prof Ian Nell, prof Nico Koopman (Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en personeel)
en Elzette Nell (dogter)      Fotograaf: Justin Alberts
Middelafhanklikheid
3. Hugenote Kollege
Werkswinkel oor Middelafhanklikheid

Ons kollegas by Hugenote Kollege bied van 12-15 Junie ’n werkswinkel oor middelafhanklikheid in Wellington aan. Veral maatskaplike werkers, beraders, sielkundiges, predikante, arbeidsterapeute en gemeenskapsleiers kan gerus hierop let. Die fokus is op die assessering van middelmisbruik en afhanklikheid om verdere dienste binne die raamwerk van die voortgesette sorg (“Continuum of care”) te beplan. Klik hier en kontak vir Isebell Appollis by iappollis@hugenote.com of 021 873 1181.
Logo
4. HospiVisie-kursus 
Om in Sonskyn te Glo

HospiVisie stuur inligting oor 'n kursus wat die impak van depressie aanspreek. Die kursus, van 11-13 Mei, word by HospiVisie se kantore by Tygerberg Hospitaal aangebied en is vir enigeen wie se lewe direk of indirek deur depressie geraak word, of diegene wat kliënte met depressie bystaan. Lees hier meer en reageer so gou moontlik.
Sentrum vir Christelike Spiritualiteit-logo
5. Andrew Murray-Desmond Tutugesprek
Hier is 'n herinnering: die jaarlikse Andrew Murray-Desmond Tutu-gesprek vind op Sondag 7 Mei na die oggenderediens in die NG Moederkerk, Wellington plaas. Die pryswenners vir hulle boek oor die doop, drs Coenie Burger en Andries Cilliers, is in gesprek rondom die tema "100 jaar: Andrew Murray vandag". Hierdie gesprek word aangebied deur die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit.  
6. Jan Kriel vier 80 Jaar
Op 80 klop die Moederhart nog sterk!

Op 4 Mei 1937 het die plek wat ons vandag ken as Jan Krielskool in Kuilsrivier sy deure geopen. Hoewel Lady Duncan, vrou van die destydse goewerneur in die Kaap, die geleentheid waargeneem het, was dit 'n beskeie begin met sewe kinders in die Ou Pastorie en die dominee se perdestal. Vandag behels dit 'n skool met ongeveer 560 leerders (van graad R tot matriek) met 'n groot verskeidenheid van gestremdhede. Daar is koshuise, 'n kliniek en 'n moderne sentrum vir “alternatiewe leer en assessering”, pragtige skoolterrein en fasiliteite. 
Fanie Herholdt deel iets van hierdie spesiale instelling se geskiedenis. En ons lig ons hoed graag ter ere van tannie Finnie Kriel!
Tannie Finnie Kriel
Mev Finnie Kriel
Jan Kriel-tehuis, Die Burger 6 Mei 1937
Die Burger berig oor die opening - 6 Mei 1937
7. God se wil?
Wonder jy wat is God se wil vir jou lewe? Enigeen wat hieroor nadink en leiding soek, kan oorweeg om te registreer vir e-kerk se videoreeks. Jy kry sodoende elke week ’n e-pos waar hulle uit die Bybel hierdie tema ondersoek. Klik hier, en onder op die grafika om die eerste video te sien.
eKerk God se wil
Alta du Toit Opedag
Alta du Toit Nasorgsentrum: Opedag 19 Mei
Embrace logo
9. Embrace se Moedersdagprojek
Bring jou ma, ouma, susters en vriendinne vir ’n uur na jou plaaslike hospitaal se kraamafdeling en voeg waarde toe tot mammas en babas se lewe! Word deel van die uitreik op So 14 Mei en vind uit hoe om self ’n besoek aan jou plaaslike hospitaal te reël.
Besoek Cape Town Embrace se 
Facebook, kontak Sonja Basson by sonja@kaapkerk.co.za of kry die Afrikaanse pamflet hier.

10. Raakgelees ...
10.1 Kan die Kerk die "droogte" breek?

"Terwyl Suid-Afrika kreun onder protes, rassisme en negatiwiteit, ontvang ek onlangs 'n uitnodiging om 'n gesprek tussen ses kerke op Nieuwoudtville te fasiliteer.
Laat ons nie naiëf wees nie. 'n Plekkie soos Nieuwoudtville word ook geteister deur al die kwale waarvan ons bewus is. Maar binne in die kerksaal is die atmosfeer totaal anders. Aanvanklik half gedemp en versigtig, maar die heerlike aandete wat die tannies (nee, hulle sal nie aanstoot neem nie) voorgesit het, met roosterkoek en al, skep gou 'n gemoedelike atmosfeer."
Lees gerus hoe Braam Hanekom (PSD: Publieke Getuienis) verder vertel aan 'n verhaal wat ruik na die belofte van reën. Van hoop.
Klik hier.
Nieuwoudtville-gesprek 25 April 2017
Braam Hanekom en ses kerke uit Nieuwoudtville se verteenwoordigers
Chris v Wyk
10.2 "Geen ander Evangelie": Refo500
Chris van Wyk skryf soos volg: “Ek het die internasionale konferensie ‘Geen Ander Evangelie’ ter viering van die 500ste herdenking van die Protestantse Hervorming in Indianapolis Indiana bygewoon vroeg in April 2017.  Ses van die bydraes het gefokus op die evangelie van genade uit Paulus se Galasiërs-brief. Nog drie het gefokus op God se werk in die lewens van Luther, Johannes Calvyn en ander leiers in die breër Gereformeerde tradisie. Die res van die konferensie was werkswinkels met die fokus op in-diepte gesprekke oor ander hervorming kwessies soos waarom die Hervormers nie verenig het in een kerk nie en waar hulle missionale nalatenskap vandag voortgaan". Lees hier meer (met dank aan Grens.Pos van 21 April 2017).
Prof Moltmann
10.3 Jürgen Moltmann
Teologie van Vreugde

Prof Jürgen Moltmann, bejaarde en gevierde Duitse teoloog, was onlangs op besoek aan Suid-Afrika. Hy het gehore diep geraak met sy klem op 'n teologie van vreugde. Volgens die Bybel is die deurbraak van God se regering vergesel van vreugde, iets waaraan ons dikwels 'n tekort het. Hier is 'n skakel na die teks van sy voordrag
Kyk na 'n Youtube-gesprek tussen Moltmann en Miroslav Volf, nog 'n gevierde sistematiese teoloog, oor 'n teologie van hoop. (Met dank oorgeneem uit Grens.Pos van 21 April).
GEMEENTENUUS
1. Boland en Bosveld kuier saam!
In ’n wonderlike verhaal van samewerking het die NG gemeentes van Worcester-Oos en Thabazimbi saamgespan om oor 1500 kilometers heen mekaar se hande te sterk deur middel van die ruilhandel van produkte eie aan elkeen se omgewing.
So vertel Chris Cronje (Worcester) dat 35 ton sekelboshout (3500 sakkies) uit die Bosveld op Vrydag 28 April in die Boland aangekom het. Saterdag het die vragmotor weer na die noorde vertrek met Bolandse wyn, droëvrugte, olyfolie en ’n splinternuwe Nissan 4x4 bakkie, reg vir ’n wynproe en -veiling in Thabazimbi.
Lees hier – dis dalk net die inspirasie wat jy nodig het om iets soortgelyk in jou gemeente op die been te bring. Daar is ook lekker foto's om te bekyk.
Boland en Bosveld
3 500 sakkies hout afgelaai
Hout word afgelaai
Dis 35 ton Bosveldhout in die Boland!
2. Fresh Expressions in die Karoo
Vir die eerste keer is die Fresh Expressions kursus ook in die Karoo aangebied. Die Ring van Beaufort-Wes het besluit om hierdie kursus as 'n VBO (Voortgesette Bedieningsontwikkeling) vir die streek aan te bied.
In die Karoo word die gemeentes daagliks met baie uitdagings gekonfronteer. Een daarvan is die dalende lidmaatgetalle agv verskeie redes. Hierdie kursus het gehelp om weer nuut en vars te dink oor kerkwees en veral hoe om in die veranderde tye steeds missionaal te bly. Dit was beslis vir al die leraars en gemeenteleiers 'n geleentheid om die gemeentes te lei tot 'n groter missionale betrokkenheid. Die kursus word in vier dele aangebied. Die volgende een sal op 13-14 Junie in Victoria-Wes aangebied word.
Dankie aan Phillip van die Fresh Expressions groep wat die aanbieding gedoen het. Onder is 'n foto van die kursusgangers. (Met dank aan René Potgieter.)
Fresh Expressions Karoo
Agter vlnr: René Potgieter, Olive Kiwido, Norman Stassen, Herman Burger, Gerrit Lofty-Eaton, Phillip Botha, Japie van Straaten
Voor: Fritz Kotze, Johlene Stassen, Jacques Grobbelaar, Beulah Grobbelaar, Dewald Hoffman en Manus Duminy
Logo
3. Padlangs Ouerskap in Kuilsrivier
Hennie du Pisanie, ondersteun deur Mathilda du Pisanie, Leana Sutherland en ander kundiges, bied vanaf Sondag 7 Mei vir sewe Sondae (tot 25 Junie) van 10:30 tot 12:00 die reeks "Padlangs Ouerskap" by die Laerskool Mikro – Langverwacht lokaal aan.
Koste: R250 per paar of enkelpersoon wat die kursus wil bywoon. Lees
hier en stuur ‘n e-pos aan hennie@suidkerk.org.za om in te skryf of vir meer inligting.
Padpredikant
4. Spaans in NG Pofadder!
Waar is ’n beter plek vir die oprigting van sonplase as in Pofadder? En aangesien Spanjaarde as kenners op hierdie gebied beskou word, was dit vir ds Alwyn Roux, predikant van die NG Gemeente Pofadder, verrassend toe hy een Sondag ’n Spanjaard in hul erediens sien sit.
Lees
hier hoe dit vir hierdie gaste uit Europa moontlik was om in die NG Kerk die Woord in hul eie taal te ontvang - met 'n Spaanse Bybel as geskenk! 
(Met erkenning aan Getuie)
NG Durbanville Verhoudingsreeks
NG Durbanville Verhoudingsreeks in Mei 2017
Extreme Makeover-voorblad
6. NG Gemeente Helderberg
Kinderpinksterreeks

As deel van Helderberg Uitreik (die NGO verbonde aan NG Helderberg) se projekte ontwikkel KidsXpress die afgelope 12 jaar reeds materiaal vir kinderbediening.
Daar is 11 opwindende Kinder-pinksterreekse beskikbaar met die tema "God se Extreme Makeover plan". Kinders leer by Nehemia hoe om aan God se geestelike huis te bou.
Besoek www.kidsxpress.org vir meer.
7. Reik uit! Getuig!
Gemeentes wat tydens die komende Julie-vakansie op uitreike vertrek, word vriendelik gevra om VrydagNuus kortliks (in sowat 60 woorde) daarvan te vertel en ’n foto aan te stuur. Kom ons getuig van God se werk deur gemeentes om gemeenskappe hier en elders te laat floreer. Kom ons inspireer mekaar – en kom ons bid vir elke uitreik.
Stuur julle inligting voor 13 Junie na kommunikasie@kaapkerk.co.za; ons deel dit graag. Dis deel van ons getuienis!
Reik uit!
Josua-konferesnie
NG Sonstraal: Joshua 24-konferensie 19 & 20 Mei
André en Marnel Agenbag
PREDIKANTENUUS
1. NG Gemeente Durbanville
André & Marnel, welkom!

André Agenbag (tot onlangs van Sonstraal) het die beroep na Durbanville Gemeente aanvaar.
Hy word op So 7 Mei om 09:00 tydens ʼn gesamentlike erediens in die kerkgebou met handoplegging as Bedienaar van die Woord bevestig. Ons wens vir André en sy vrou Marnel en kinders, Ian, Mieke en Jana, baie voorspoed en seën toe met hierdie nuwe hoofstuk in hul lewens.
Schalk Treurnicht
2. NG Gemeente Heidekoppie
Bly te kenne, Schalk!

Dit is lekker om saam met die NG Gemeente Heidekoppie in Brackenfell fees te vier: hulle bevestig op Sondag 14 Mei vir Schalk Treurnicht (sedert 1 Mei amptelik deel van die gemeente dmv die internskap-program.)
Schalk vertel dat hy na sy studies onder meer ’n ruk in Ladysmith, KZN, was. Daar het hy baie van dr Lourens Schoeman geleer oor gemeenskapsontwikkeling en hoe om in diverse gemeenskappe 'n rol te speel.  Baie seën vir jou intreepreek (om 08:30 op 14 Mei) en jou bediening in die gemeente toegebid, Schalk.
Peter en Chané
Hartlik geluk aan Peter Kotze ( NG Stellenberg) wat op 6 Mei met Chané Pienaar trou! 
Almatine Leene se seuntjie gebore
Gelukwense aan Almatine Leene (NG Stellenbosch-Wes) en haar man, Frederik Bester, met die
geboorte van Gideon op 1 Mei 2017
SAFCEI-logo
EKOLOGIE
1. SAFCEI: Kernooreenkoms eers Gestuit
"After over a year and a half ELA-JHB and SAFCEI were finally able to block the unlawful and unconstitutional actions of the SA government in its nuclear deal." Só lui 'n uittreksel uit SAFCEI* se mediaverklaring oor hierdie baie belangrike saak.

Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk se Algemene Sinode, reageer soos volg: "Die optrede van SAFCEI maak die kerk ongelooflik trots. In hul optrede hoor ons die kerk se profetiese stem op sy beste. Nie net het dit hier gegaan oor die potensiaal van grootskaalse korrupsie en die verarming van die land nie. Die hele saak van die eko-teologie is vierkantig op die tafel geplaas."
Lees ook Kobus Odendaal (Diensgroep Getuienis se bestuurder) se belangrike perspektief hier.
Dat ons gebalanseerd en genuanseerd oor hierdie saak moet dink en praat, is duidelik. (*Die NG Kerk is lid van SAFCEI.)
A Rocha logo
2. Ja, ons Gee Om vir Waterbronne
Waterskaarste is ‘n kommerwekkende realiteit waarmee die meeste van ons in die Wes- en Suid-Kaap daagliks te kampe het. Maar hoe moet ons as kerk in hierdie omstandighede optree, en waarvan moet ons kennis dra om op ‘n baie meer verantwoordelike manier met ons waterbronne om te gaan? Woon gerus A Rocha,  ’n internasionale netwerk van omgewingsorganisasies met 'n Christelike etos, se Algemene Jaarvergadering by en kom meer te wete. Sien onder.
Logo
3. Groenkerke: Kies vir Volhoubaarheid
Gemeentes wat steeds soek na praktiese maniere om meer groen te wees, kan hier lees. Die twee gemeentes van Gereformeerde Kerk Vrijgemaakt (GKV) in Ommen, Nederland, het reeds ’n paar jaar gelede ’n groen beleidsdokument, “Duurzaam leven” aanvaar. Daarvolgens streef hulle daarna om ’n kerk met ’n fokus op volhoubaarheid, sorg vir die skepping en omgee vir andere te wees. Hulle soek maniere om weer nuwe lewe in die ou begrip “rentmeesterskap” te blaas. In hierdie dokument, sowel as op die webwerf is allerlei inligting – en jou Afrikaanse hart behoort sommer lekker warm te klop by die lees van die mooie Nederlands. Kyk gerus watter van die onderstaande wenke pas by jou gemeente se unieke omstandighede en beleid:
Wenke
Byehotel
'n Byehotel is 'n mensgemaakte struktuur wat vir bye wat nie in swerms leef nie, 'n veilige bly- en teelplek skep. Daar is nagenoeg 3000 byspesies in sub-Sahara-Afrika, met omtrent 1000 hiervan in Suid-Afrika. Hierdie "hotel" kan onder meer gemaak word deur 'n blok hout of 'n boomstomp te vat en gate van verskillende groottes daarin te boor. Lees meer hier.
BEHOU DIE HUMOR
Grappie
PUBLIKASIES
1. Bybel-Media
Hier is 'n kykie na enkele bekostigbare produkte wat spesiaal met die oog op Moedersdag (Sondag 14 Mei) uitgesoek is, sowel as 'n Bybelkor-publikasie wat help om die dood in die lig van die opstanding sinvol te vier. Klik onder.
Jy is deel van God se plan Ester Daar is Meer
2. Kerkbode
Lees in die Kerkbode van 5 Mei
♦ Van NG Lydenburg-Suid se spesiale groentetuin wat voorsien in die voedselbehoefte van gesinne, maar ook inspireer om oor grense heen hande te vat.
Van 22 April in Bloemfontein toe God ʼn "daklose tempel" op die plaas Wilde-Als voorsien het.
♦ Neels Jackson (redakteur) het ʼn oggend saam met Bheki, (’n daklose man wat probeer om oorleef deur weggooigoed vir herwinning te verkoop) op straat in Pretoria spandeer.
♦ Lees meer van Gerjo Ben van der Merwe, skrywer van die Kruispad-dagstukkies, "geroep om ʼn dominee te wórd, nie om een te wéés nie" en
♦ ʼn seun wat naasteliefde ervaar het op sy epiese perderit vanaf Heidelberg na die Suid-Kaap.
Lig word 80
3. LiG word 80 - wat onthou JY?
Lees jy ook LiG vandat dit nog Die Voorligter was? LiG het deur die jare vele gedaantes gehad: van 'n swart-en-wit kerkblad tot 'n koerantpapier-gesinsblad tot die nuutste weergawe, die glanstydskrif vir gesinne.
Lesers word uitgenooi om deel te wees van die spesiale verjaardaguitgawe wat in Desember / Januarie gaan verskyn deur te vertel wat hulle onthou van LiG deur die jare. 80 lesers se indrukke sal in hierdie spesiale verjaarsdag-uitgawe gepubliseer word ... reageer voor 1 September na
lig@tydskrifte.co.za. Meer is hier.

Ons vier sommer nou reeds met vreugde saam met ons kollegas by
LiG fees!
KUIERKANS
Ondersteun gerus jou plaaslike gemeente met hulle projekte en fondsinsamelings. Oral word gewoeker en gewerskaf as deel van ons ervaring van 'n gemeenskap van gelowiges ... bied gerus JOU hulp in jou gemeente aan! 
Klik onder vir meer inligting. 

Kuierkans
Kerkbode
VAKATURES
Vakatures op e-Kerkbode

Vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via e-Kerkbode elektronies versprei na predikante en gemeentes, sowel as ander intekenare. Klik hier vir die jongste vakatures in die NG Kerk-familie.

NG Sonstraal
1. NG Gemeente Sonstraal: Mede-leraar
Aansoeke word ingewag vir hierdie voltydse pos. Sonstraal is 'n makro-gemeente wat in Durbanville geleë is met ʼn diversiteit van eredienste en bedieninge.
Lees hier meer oor die profiel en verantwoordelikhede van die kandidaat. 
 Vir navrae kontak Felicity de Kock (021 976 1236) of Ronel van Tonder (083 631 7682). Aansoeke sluit 12 Mei en die aanvangsdatum is 1 Julie. Meer oor die gemeente is by www.sonstraal.org.za. 
NG Sutherland kerkgebou
2. NG Gemeente Sutherland: Leraar
Die NG Gemeente Sutherland nooi alle gelegitimeerde predikante en emeriti leraars uit om voor 30 Mei 2017 aansoek te doen vir ’n vakature as voltydse leraar in ’n termynpos van twee jaar. Kandidate moet beskikbaar wees vir ‘n onderhoud en preekbeurt, wat op die onkoste van die gemeente sal geskied. Meer oor die gemeente- en leraarsprofiel is aangeheg.
Grafika
3. NG Kerk Argief: Hoofargivaris
’n Herinnering: die NG Kerk in Suid-Afrika (Wes-Kaapland) beskik tans oor 'n vakature vir 'n hoofargivaris by die NG Kerk se Argief in Stellenbosch. Die datum van diensaanvaarding is 1 Julie 2017. Meer oor die verantwoordelikhede, sowel as kennis en vaardighede wat verlang word, is in hierdie pdf-dokument. Aansoeke sluit 10 Mei 2017.
Logo
4. Jan Kriel Instituut: Hoof – Bemarking
Jan Kriel Instituut, ʼn program van Badisa, werf vriende en fondse vir kinders met spesiale onderwysbehoeftes by Jan Krielskool. ʼn Verantwoordelike en gemotiveerde persoon word benodig om hierdie pos te vul vanaf 1 Julie 2017. Aansoeke sluit 19 Mei en navrae kan gerig word aan dr Fanie Heroldt by 082 380 3505.  
Lees meer hier.
Badisa logo
5. Ruyterwacht Senoir Sentrum: Kombuisassistent
Ruyterwacht Senior Sentrum in Ruyterwacht, 'n Badisa-program vir senior burgers, het 'n vakature vir 'n algemene assistent (kombuishulp). Aansoeke sluit op 12 Mei en diensaanvaarding is so spoedig moontlik. Lees hier meer oor die vereistes en diensvoordele.
Fanie Herholdt
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Fanie Herholdt
'n Mens reken dat kinders wat met gestremdhede moet saamleef jou hulp nodig het. Dit is so. Maar wanneer jy betrokke raak, besef jy dat ons, wat onsself as “able” beskou, húlle eintlik so nodig het.
Hulle het my gevorm en geleer dat dit belangriker is om te fokus “op dit wat jy oor het as op dit wat jy verloor het”.
Dit is die groot verskil tussen ’n skool soos Jan Kriel en hoofstroom onderwys. By laasgenoemde word ons kinders deurentyd herinner aan dit wat hulle nie het nie, wat hul funksionering so negatief beïnvloed.
Verbeel jou hoe verskillend sal dit wees as ons in ons huise, gemeenskappe, kerk en land slegs hierdie een ding kan doen ... Dit is die grammatika van ’n teologie van terapie en genesing.
Dikwels onthou ek hoe die Here moeg geraak het vir Moses se besware en dan vir hom vra: “Wat het jy in jou hand?” En wat het hy nie alles met daai kierie reggekry nie?
Kan jy jou verbeel dat die Farao oortuig kan word, die Rooisee gekloof en water uit ’n rots moontlik is?
***
Dr Fanie Herholdt, sedert 2003 direkteur van Jan Kriel Instituut, is NG predikant en was gemeenteleraar in Zimbabwe (Chivhu) en op die Weskus (Vredenburg).
Naas sy gemeentewerk en studies, was Fanie deurentyd betrokke by sosiale ontwikkelingsprojekte; plaaswerkers en sport vir gestremdes. Hy is getroud met Louise, ʼn arbeidsterapeut. Die groot rol wat Jan Kriel Skool in hul middelste seun, Stephan, se lewe gespeel het, het hom beweeg om die beskikbaarheid en volhoubaarheid van spesiale onderwys by Jan Kriel sy roeping te maak. Kontak hom by fanie@jankriel.co.za.
Geen einde aan sy ontferming nie
Vriendelike groete.

Marieta Visagie en Salomi Steenkamp
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.