Lees deur internet, klik hier >>
11 September 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Ondersteun asb. ons gemeentenavorsingsprojek
Skribas en kerkkantore word daaraan herinner om asseblief die vraelys vir die gemeentenavorsingsprojek in te vul. Die spertyd is Vrydag 11 September teen 11:00. 
Dit neem letterlik net 'n paar minute en sal ons navorsingspan help om 'n akkurate prentjie te skets oor hoe gemeentes eredienste tydens grendeltyd hanteer het. As jy nie die vraelys ontvang het nie, stuur asseblief 'n e-pos aan kommunikasie@kaapkerk.co.za.
Einde van 'n era
Met die onlangse afsterwe van Anna Bredenkamp kom ‘n era in die kerk se geskiedenis tot ‘n einde. Sy is op 28 Julie, slegs ‘n maand voor haar 101ste verjaarsdag, oorlede. Anna was die laaste vroulike sendingwerker wat finansieel deur die sinode ondersteun is. Tot 2014 was daar nog drie ander dames in hierdie geskiedkundige groep, naamlik JC Beresford, ME Olivier en JHD Koornhof.  Gedurende die afgelope klompie jare het die sinode bykans ‘n halfmiljoen rand spandeer om finansiële sorg aan afgetrede vrouedienswerkers en vroulike sendingwerkers te verleen.

Ester Retief laat weet: “Anna was sedert die 1950’s vir jare betrokke by vrouewerk op die Nkhoma sendingstasie in Malawi waar ons susterskerk, die CCAP, se hoofkantoor nog steeds is. Sy het die vroue van die teologiestudente voorberei vir hul taak as predikantsvroue in hul toekomstige gemeentes. Die klasse is gegee in die Yoshua Skool, wat vandag nog gebruik word. Sy het ook soms Chichewa-taalklasse vir jong sendelinge gegee wat dié nuwe taal onder die knie moes kry om effektief predikant te kon wees. Sy word onthou as ‘n besondere mens; iemand wat altyd keurig versorg was en haar bemagtigingswerk baie ernstig opgeneem het.”

Anna Marie de Klerk, wat ook jare lank in Malawi by ons susterskerk betrokke was, skryf: “Anna Bredenkamp is, want sy 'leef voort' in bedieningsgeleenthede van leraarsvroue. 'n Hele handvol van haar studente leef nog - haar dissipels, as jy wil, as emiriti eggenote. Hulle  getuienisse gaan oor 'n mentor wat Jesus nagepraat het en daarom kon hulle wortels in Hom 'remaining fruit' voortbring. Hulle is nog daar in Nkhoma Sinode.”

Anna en haar tweelingbroer Hendrik (foto bo) was deel van ‘n gesin van elf kinders en is op 31 Augustus 1919 in Hoopstad gebore is. Brenna Liebetrau vertel: “Sy was die hart van die familie, ‘n regte terggees en opregte kind van die Here. ‘n Doelgerigte, blymoedige en onafhanklike mens wat die lewe met dankbaarheid geleef het.” Oom Hendrik het op 31 Augustus sy 101ste verjaarsdag gevier.
Pelgrimstog van Hoop
Skrywer en TV persoonlikheid Erns Grundling het tydens inperking die Pelgrimstog van Hoop aangepak en verfilm vir sy reeks Elders, wat vanaf 30 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word. Skakel gerus in en sien hoe hy en sy span die 350km pelgrimstog ervaar het.
Lees ook hier meer oor sy avontuur. 
Vir verdere inligting oor die Pelgrimstog van Hoop wat in 2014 begin is, kontak Sharon Naude by pelgrim@sun.ac.za of 021 808 3381.
Kategeet, hoe gaan dit?
Die skole is weer oop en baie mense keer terug werk toe. Ons mag nou ook weer ons familie besoek!
Dalk is jou gemoed nou ligter as voorheen. Maar dalk voel jy nou juis meer angstig, moedeloos of moeg…

Langdurige stres of trauma kan tot uitbranding lei. Wat kan jy doen as jy nie oukei voel nie? Luister hier vir ‘n paar wenke.  Stuur dit gerus aan vir enigiemand wat dit mag nodig hê.
COVID-19 bring Japan en Diaconia saam
’n Goeie verhouding en gereelde skakeling met die Reformed Church in Japan het verlede week aanleiding gegee tot ’n gesamentlike gebedsessie tussen Missie Japan en die Reformed Church in Japan. Diaconia was deel van die geleentheid wat op die RCJ se inisiatief plaasgevind het. Nioma Venter skryf: "Die RCJ en Diaconia sou in September vanjaar ’n dagkonferensie by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit hou oor die diakonaat en rampondersteuning. COVID-19 mag dalk die fisiese ontmoeting gefnuik het, maar dit keer nie virtuele ontmoetings en korrespondensie waarin daar wedersydse bemoediging en ondersteuning plaasvind en ons saam reis en leer oor die diakonaat nie."

Klik hier vir die volledige brief in aanloop tot die biduur, waarin ds. Hirotsugu Mochida van die Sinodale Diakonale Aksie Kommissie die kerk in Japan se reaksie op COVID-19 deel. Met minder as 1% van die land wat Christene is, bestaan die meeste gemeentes uit ’n gemiddeld van 30 lidmate en dié met 100-200 lidmate, word as ’n makrogemeente beskou. Dit was baie belangrik vir gemeentes om ’n aanbiddingsgemeenskap te behou en gelowiges aan te moedig om die hele gebeure vanuit ’n geloofsperspektief te bly beskou. Hoë prioriteit is daarom aan die geestelike versorging van lidmate gegee in die tyd. In die breër gemeenskap, is ook die kerk in Japan bevrees dat armoede en finansiële nood sal toeneem en selfbelang tot konflik en skeuring op sekere vlakke mag lei. Ds. Mochida haal die woorde van die Chinese skrywer Fang Fang aan wat oor die situasie in Wuhan skryf en dan die opmerking maak dat die kriteria vir ’n land om haar beskawingspeil te bepaal en te handhaaf, sekerlik aan baie dinge gemeet kan word, maar dat die werklike bepaler is hoe daar na weerloses omgesien word. Dit herinner hom aan Jesus se woorde: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” 

Die RCJ het in Junie vanjaar ’n donasie van R45 000 aan die Diaconia Rampfonds gemaak, wat bygedra het tot die netwerkfunksionering rondom voedselvoorsiening in Worcester. Die donasie vorm deel van die uitgawe wat die RCJ sou hê om afgevaardigdes na Suid-Afrika te laat reis; daarom die besluit om ’n deel hiervan te skenk vir uitreik in die Wes-Kaap. 
Op die foto onder is (kloksgewys van links bo): Yoshitsugu Ohnishi, Nioma Venter, Arata Hashimoto, Nonoka Hayakawa, Yoko Kadowaki, Shin Toyokawa, Stéphan van der Watt, Sho Hasegawa, Nico Mostert, Pieter Van Jaarsveld en Johann Winterbach.
Predikant, maak tyd vir jouself!
Predikantebegeleiding nooi weereens alle predikante uit om gebruik te maak van die retraitegeleenthede by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit. Die koste van die retraite word deur die sinode gesubsidieer en bied aan predikante die kans om af te skakel en net uit God se hand te ontvang. Theunis Botha noem dat die inperkingstyd steeds ongelooflike uitdagings aan predikante stel.
Dalk is dit nou tyd vir 'n blaaskans vir die siel. Vir meer inligting of om jou retraite te bespreek, kontak vir Adrienne Bester by bestera@sun.ac.za
Patrick en Yolanda Jefthas
Nuwe lewe vir Arbeidsbediening in Citrusdal
Ons is verheug oor die moontlikheid om binnekort ‘n Arbeidsbedieningstak in Citrusdal te begin. Patrick Jefthas wat onlangs daar kom aftree het, was vroeër in die Paarl-tak as vrywilliger by Arbeidsbediening betrokke en het ’n passie vir dié werk. Streeksbestuurder Carin Brink ontmoet hom hierdie maand om die wiele aan die rol te sit. Sy sal dit doen in samewerking met die NG Kerk-predikant daar, Martin Steyn, maar beoog ook om kerkleiers van ander denominasies daarby te betrek. Lees meer daarvan hier.  
Rietvlei sakeman ploeg terug
Christo en Delesté Wooding wat as predikantspaar by die VGK Kokstad in die Oos-Kaap betrokke is, vertel vir ons vandeesweek hierdie inspirerende storie van ‘n boorling van Rietvlei, Oos-Kaap, wat as swaksiende seuntjie deur die kerk gehelp is en vandag as vermoënde sakeman terugploeg in sy geliefde kerk. In die foto (links) is gemeentelede voor Hebron-buitepos van die VGK Rietvlei Gemeente. 
Klik hier om die aangrypende verhaal te lees. 
Statement on Zimbabwe
The Centre for Public Witness wants to raise its serious concern about the developing situation in Zimbabwe and especially the abuses of human rights and the government’s hostile stance against churches and NGOs.
Click here to read their full statement. 
Lucky Kunene van Makhathini
In die proses van geloofsvorming gebeur dit dikwels in die Afrika-konteks dat jy eers belong, dan believe en gevolglik behave; die 3 B’s van om ’n Christus-navolger te word. Volgens Louwrens van der Westhuizen, predikant van die VGK Makhathini, is Lucky Kunene (in foto saam met sy vrou Phumzile) 'n antwoord op vele gebede. Sy verhaal is ’n goeie voorbeeld van hoe belonging aan die familie van Christus vir hom nuwe lewensbetekenis gegee het en hoe hy uiteindelik hierdie seën laat oorspoel na die lewens van ander. Daar is 'n baie groot behoefte aan sterk leierskap in die kerk op die Makhathini-vlakte en hier is een van hul eie 'kinders' nou weer terug met die doel om die gemeente te dien.
Maar wie is Lucky Kunene en hoe het sy pad tot hier geloop? Lees meer hier.
Integritas tel spoed op
Die Integritas werkgroep het Woensdag met 'n aantal belanghebbendes, asook verteenwoordigers van die dorpe Calitzdorp, Ladismith, Victoria-Wes, Richmond en Worcester vergader.
In breë kan die doelstellings soos volg saamgevat word:
'n Nuwe persoonlike verbintenis tot integriteit
'n Beweging om plaaslike strukture verantwoordbaar en deursigtig te hou
Die daarstel van gesamentlike projekte (ook met plaaslike regerings) om konstruktief die gesig van die gemeenskap te verander.

Integriteit beteken nie net dat ons sal reg praat nie, maar ook konstruktief reg doen. Kontak gerus vir braam@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
EKOLOGIE
Die seisoen van die skepping
September is die maand in die jaar wat Christene dwarsoor die wêreld hul gesigte na die skepping toe draai om met aandag daarna te kyk en te luister. Lente is in die lug. Alles begin groei. Die voëls bou neste en paar. Die grond wemel van klein diertjies en organismes. Nou is die tyd om met aandag in die tuin en grond deur te bring en “die koninkryk van die hemel” (Matt. 19:14) in ons eie tuine ontdek. Lees meer hier oor wat ons ekologie-korrespondent David Botha hieroor te sê het.
Clean-up and Recycle SA week: 14-19 September 
Hierdie jaarlikse inisiatief is deur die plaaslike plastiekbedryf begin en word ondersteun deur verskillende verpakkings- en kleinhandelaars. 
Volgens die Departement van Omgewingsake neem byna 120 000 vrywilligers jaarliks deel aan die week se opruimingsaktiwiteite wat elke jaar langs paaie, riviere, skole, huishoudings en onwettige stortingsgebiede plaasvind.
Hierdie jaar moedig hulle elke Suid-Afrikaner aan om 'n eko-vegter te wees - iemand wat 'n masker dra, veilige afstand behou en 'n verskil in hul onmiddellike omgewing maak.
Clean-up and Recycle SA deel wenke op hulle webblad oor hoe jy hierdie jaar deel kan neem by jou huis, skool, werkplek of besigheid. Klik hier om kontakbesonderhede van ‘n koördineerder in jou omgewing te kry. 
GEMEENTENUUS
Aftree Opskoppers skop af
Mosselbaai Moedergemeente se Aftree Opskoppers het na maande weer oopgemaak met 'n treffer-kuier en optrede van Petronel Baard (foto regs onder). Hierdie geleentheid het vir gemeentelede die waarde van saamwees te midde van die wêreldwye pandemie opnuut laat besef. Om mekaar in die oë te kon kyk en saam na goeie musiek en sang te luister, was sielskos vir hierdie lidmate.
“Was sò lekker om ‘n slag na ‘n lewendige optrede van ‘n kunstenaar te luister en om mekaar weer te sien – vyf maande was te lank,” skryf Helmien Maré op die gemeente se Facebook-blad.   
Bedien na buite
Kenridge-gemeente se Bediening na Buite het 'n woelige week gehad! Die gemeente het, in samewerking met MES Bellville, hawelose mense in hulle kerksaal gehuisves teen die gure weerstoestande. Hulle het ook (weer) 'n ton appels verpak en versprei regoor die Skiereiland en hulle het meer as 'n 100 Jars of Hope bottels volgemaak en versprei na verskeie sopkombuise. 
Die gemeente waardeer elke persoon wat hierdie projekte saam met hulle aangepak het. “Baie dankie aan elke lidmaat wat etes voorsien het aan die hawelose mense en saamgekuier het. Baie dankie aan elke getroue appel-pakker, asook elkeen wat leë glasbottels en bestanddele geskenk het. Dis voorwaar 'n fees om saam brûe te bou soos Jesus!” 
Klik hier om foto's van Kenridge se Bediening na Buite op hulle Facebook-blad te besigtig. 
Lentebederfpakkies vir bejaardes
Die gemeente van Aliwal-Noord wil graag baie dankie sê vir elke persoon wat op kort kennisgewing 'n bederfpakkie of twee gepak en geskenk het vir die inwoners van Huis van der Horst. Die ooms en tannies van die tehuis het die gebaar van liefde opreg waardeer.
Vroue bied HOOP by Lourensrivier
Lourensrivier-gemeente se Lifeline bied aan Meisies Agter God se Vroue bied HOOP. Word deel van die gesprek saam met Mariette Dreyer, Stephanie Nel en Jackie Strauss in die gemak van jou eie huis.
Stuur 'n e-pos aan Lifelinejeugkerk@gmail.com of skakel Tijane Visser by 083 287 0954 om in te skakel by die Zoom-sessie.
Alle ouderdomme is welkom.
PREDIKANTENUUS
Scholtz-egpaar groet Durbanville-Bergsig
Na 28 jaar in die bediening by Durbanville-Bergsig, groet Philip Scholtz deur met vervroegde aftrede te gaan. Hy skryf met gemengde gevoelens oor hierdie verreikende besluit: “Die impak van COVID-19 het nie slegs die ganse wêreld in ʼn ekonomiese wurggreep nie, maar ook die kerk van die Here Jesus en Durbanville-Bergsig word dit nie gespaar nie.
Soos wat grendeltyd gevorder het en die terugvoer oor die finansiële stand van die gemeente voorgehou is, het ek vir myself begin afvra: Wat is die bydrae wat ek kan maak om die gemeenteskip van Durbanville-Bergsig drywend te hou te midde van ʼn onstuimige oseaan van inperkings, swak ekonomie, bekommernis en wanhoop? Die enigste lig wat ek kon sien, was om die vrag van die skip ligter te maak. Dit het daartoe gelei dat ek dit gewaag het om ons spesiale kommissie te vra om die omstandighede van vervroegde aftrede te ondersoek. Na vele gesprekke, begrip, geduld en luister na mekaar en die Here, het die kerkraad die aanbeveling goedgekeur dat ek op vervroegde pensioen gaan.

Hierdie is nie ‘n heroïese daad nie, maar doodgewoon ʼn storie van groot keuses, waarin die lewe van Jesus tot voorbeeld is. Daarom is dit ʼn storie van hoop en genade en sal ek en Anneke hand-aan-hand op ons lewensreis van ʼn lewe in geloof en vertroue, vorentoe kan kyk, al lyk die toekoms onseker. God het mos belowe, Hy trek vooruit!” Lees Philip se volledige skrywe aan die gemeente hier.

Ons wens vir Philip en Anneke alle seën toe op hulle pad vorentoe.
Gordonsbaai neem afskeid van Le Rouxs
Die kerkraad van NG Gemeente Gordonsbaai skryf as volg: "Soos baie ander gemeentes het die COVID-19-pandemie die jaar geweldige druk en uitdagings aan Gordonsbaai-gemeente gebied en drastiese besluite en veranderinge genoodsaak. Na 28 jaar het Gordonsbaai-gemeente op 31 Augustus 2020 vir Jannie en Wilma le Roux gegroet. Dr. Jannie het sy intreepreek in Gordonsbaai op 24 Mei 1992 gelewer en sedertdien diep spore in die gemeente, gemeenskap en in almal se harte getrap.
Ons innige dank en waardering aan hulle vir die jare se liefde en diens in Gordonsbaai en ons bid dat God hulle met krag, gesondheid en liefde sal seën in hul getroue werk en wandel in Sy Koninkryk. Ons besef dit is skielik en ‘n groot skok vir almal, en dat die inperkingsomstandighede dit nog moeiliker  maak. ‘n Gepaste afskeidsdiens sal gehou word sodra die regulasies dit vir ons moontlik maak om as ‘n ‘vol huis’ weer bymekaar te kom."
Ons wens vir Jannie en Wilma voorspoed toe vir die toekoms.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Little Seeds: Programme Manager
Little Seeds in Bellville requires the services of a programme manager. The successful candidate will have a recognised relevant degree in social and community development. A post graduate qualification will be beneficial. Click here to view the complete job description. Closing date: 18 September. 
Huis Groeneweide, Darling: verpleegkundiges
Huis Groeneweide in Darling het tans die volgende vakatures beskikbaar vir geregistreerde, ingeskrewe en assistent verpleegkundiges. Kandidate moet by die SA Raad op Verpleging geregistreer wees. Klik hier vir die volledige posbeskrywings. Aansoeke sluit 15 September. 
Badisa Tygerberg: Maatskaplike werker  
Badisa Tygerberg het tans maatskaplike werkerposte beskikbaar. Registrasie by die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensgroepe is noodsaaklik. Toepaslike opleiding en ondervinding in kinderbeskermingsdienste en 'n bestuurslisensie is vereistes. Klik hier vir meer inligting. Aansoeke sluit 18 September. 
Tulbagh: Maatskaplike werker  
Badisa Tulbagh wag aansoeke in vir die pos as geregistreerde maatskaplike werker. Die ideale kandidaat moet oor 'n toepaslike tersiêre kwalifikasie beskik en ervaring met die implementering van die Kinderwet hê. Afrikaans as eerste taal en vaardigheid in die ander twee amptelike tale van die Wes-Kaap sal ‘n aanbeveling wees. Vir posvereistes, klik hier. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 25 September.
Peninsula Social Services: Social worker/office co-ordinator
Peninsula Social Services in Elsies River is looking for a social worker/office co-ordinator. Registration with the SACSSP and a social work tertiary qualification is a must. Previous marketing and fundraising experience will be an advantage. Click here for more information. Closing date: 15 September. 
Peninsula Social Services: Finance Admin Clerk
Peninsula Social Services in Elsies River is eagerly awaiting applications from energetic, reliable and dynamic individuals to fill this vacancy. Proven experience as a finance clerk is a requirement. Click here for more information. Closing date: 15 September. 
Helderberg: Aanbiddingsleier
Helderberg-gemeente het tans 'n vakante pos vir 'n kontemporêre aanbiddingsleier. Die suksesvolle kandidaat sal verantwoordelik wees vir die kontemporêre musiekbediening in vennootskappe met die ander bedieninge. Kry meer besonderhede oor fokusareas en vereiste vaardighede hier.
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
LiG se Oktober-uitgawe op die rak
Die nuutste uitgawe van LiG tydskrif is vandeesweek landswyd beskikbaar.
Lees oor Erica Wessels se dankbaarheid vir 'n nuwe seisoen na die woestynpad. Lesers deel hulle trauma-ervarings tydens COVID-19 en Hykie Berg vertel sy storie van die onsigbare oorlog wat volwassenes met ADHD moet veg.
Daar is ook nuttige wenke hoe om gesinstyd by jou huis te koester en hoe om 'n kreatiewe kruietuin te kweek.
Hoogtepunte uit Kerkbode
Le Roux Schoeman, redakteur van Kerkbode, deel 'n paar stories wat tans impak maak.
Digiklesia: Vyf wenke om ten volle kerk te wees
Een ding wat die grendeltyd ons kom leer het, is om kritiese vrae te vra oor ons kerkwees. Maar kerk, weet ons, is baie meer as net ’n byeenkoms in ’n gebou. So, hier is vyf maniere waarop ons aanlyn ten volle kerk kan wees.
Verlies – tyd om te rou
Verlies is ’n woord wat sinoniem geraak het met die COVID-19-inperkingstyd. Baie mense het hulle geliefdes aan die dood afgestaan of self die virus onder lede gehad, skryf Anriëtte de Ridder hier.
ALGEMEEN
Vishoek in gesprek
Die Vishoek-gemeente het vir
Stephan Joubert  gevra om virtueel met hulle te gesels oor die tema: Is COVID-19 die begin van die Eindtyd? Daar word gekyk na vrae soos: Watter inligting bevat die Bybel oor die Eindtyd en waar pas COVID-19 in? Hoe lees ons die tekens van die Eindtye? Waar pas die Antichris hierin?

Martin Barnard nooi jou om virtueel saam te luister. Regstreeks van 15 tot 17 September 2020 om 19:00 op www.facebook.com/ngvishoek en op hulle webblad.
Raakgelees: Maak musiek met vrugte
Instrumente kom voor in alle vorms en groottes, maar Playtron, ‘n maatskappy wat spesialiseer in die ontwikkeling van toepassings, het 'n toestel geskep wat gebruik kan word om vrugte en groente in instrumente te verander!
Alhoewel dit belaglik klink, het 'n YouTuber genaamd MEZERG 'n elektronika-liedjie en musiekvideo genaamd 'Watermelon' geskep, waarin hy met snye waatlemoen musiek maak.
En dit is makliker om te gebruik as wat jy dink! Die toestel, wat Playtronica genoem word, werk op slimfone en tablette in samewerking met musiektoepassings soos GarageBand. Nadat jy die nodige kabels aan die gekose vrugte of groente gekoppel het, is jy reg om musiek te maak!  
Kyk gerus die musiekvideo (onder) van MEZERG se liedjie, Watermelon, om te sien hoe hy die konsep van om met jou kos te speel na 'n heel nuwe vlak neem. 
VIRTUELE KUIERKANSE
Groote Kerk maak jaffles
Plaas nou reeds jou bestelling vir Groote Kerk se smullekker jaffles of boeppensbroodjies. Stuur 'n e-pos met jou bestelling na info@grootekerk.org.za of skakel 081 406 7873 teen 1 Oktober en gaan haal dit af op Vrydag 2 Oktober.
Aflewerings kan gereël word vir die Kaapse middestad.

Sonstraal Inry #3
Sonstraal-gemeente bied hulle derde Inry@Sonstraal op Vrydag 18 September aan. 
Heerlike burgers asook jellie en vla poedings is beskikbaar. Kontak die kerkkantoor by 021 976 1236 of klik hier vir die aanlynbestelvorm.
Bestellings sluit Woensdag 16 September teen 14:00 en kan op Vrydag tussen 14:00 en 17:30 afgehaal word.
Proteahoogte hou aanlynbasaar
Moenie Proteahoogte-gemeente se gewilde mark misloop nie. Vanweë die nasionale inperking kry hulle wintermark vanjaar 'n nuwe gestalte met 'n unieke aanlynmark, wat spog met 'n wye verskeidenheid produkte. Gaan loer gerus op hulle webblad vir 'n lys van produkte en virtuele uitstallers.
TEN LAASTE
Ons matriekleerders het vandeesweek begin met hulle rekord eksamens. Die klas van 2020 moes reeds onverwagte uitdagings in die gesig staar en ons dink deurentyd aan hulle gedurende hierdie belangrike stadium van hulle skoolloopbaan. Ons bid vir die leerders, hulle families en skoolgemeenskappe en vra vir kalmte, insig en ondersteuning.
Ons dra spesiaal hierdie weergawe van How Great is our God aan hulle op. Mag hulle daaraan vashou en inspirasie vind.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.