Lees deur internet, klik hier >>
28 Julie 2017
kommunikasie@kaapkerk.co.za

Beste Leser
Kleipot
Maar, Here, U is ons Vader. 
Ons is die klei, 
en U is die Pottebakker. 
U het ons almal gemaak. 
Jesaja 64:8   
Die Bybel vir Almal
SINODENUUS
1. Suid-Kaapse brande:
1.1 Hulp vanuit Potchefstroom en Japan!
Ons het vantevore berig dat die RCJ (Reformed Church in Japan) na afloop van die Suid-Kaapse brande geld bewillig het vir hulpverlening. Die RCJ het versoek dat die skenking vir 'n spesifieke gemeenskapsprojek aangewend word.
Intussen het Frans Burger, leraar by NG PUK Kandelaar, aan Pieter van Santen (NG George-Tuinedal) genoem dat daar studente is wat graag wil kom help met verf-, herstel- en bouwerk in die Suid-Kaap gedurende die wintervakansie. Op hierdie manier het ‘n klompie PUK-studente by die Kranskop-gemeenskap beland en vir ‘n week gehelp waar hul kon. Lees hier die brief wat Frans Burger na afloop van die week geskryf het - daar is ook heelwat mooi foto's (sien ook onder).

Geverfde klas
'n Geverfde klaskamer
Tafelgebed
Tafelgebed 
Heininghersteller
'n Heining word herstel
1.2 Suid-Kaapse brande: Hoop te midde van Trauma
"Ek wonder of julle besef hoe goed dit vir ons was om op daardie Saterdag, kort na die ramp van die 7de en 8ste Junie, van julle te hoor? Net die woorde: 'Ons wil graag help - hoe kan ons? Wat kan ons doen?' Dit was trouens die reaksie van oor die lengte en breedte van ons land." (Volledige brief, met erkenning aan die Hoëveld Sinode, is hier.)
“Dit laat ons harte warm word om te besef dat daar landswyd mense en gemeentes is wat vir ons bid en aan ons dink in hierdie tyd! Dit is onmoontlik om elke persoon te bedank wat iets gegee of gedoen het vir mense wat seker die grootste trauma van hule lewe ervaar het!” (Lees meer.)
So reageer ons kollegas uit die Suid-Kaap. Lees en deel gerus hierdie getuienisse oor tekens van hoop te midde van die trauma. Meer oor die rampfonds is hier.

Helpers
Of jy ’n mamma is wat saam met haar kinders beddegoed sorteer, of 'n boer
wat veevoer organiseer: DANKIE!
Logo
2.1 NG Kerk Algemene Sinode
Reaksie op Hofuitspraak oor Godsdiens in Skole
Sedert die onlangse hofuitspraak oor godsdiens in openbare skole in Suid-Afrika, was daar heelwat uiteenlopende reaksies. 
Ons vestig graag die aandag op die reaksie van die NG Algemene Sinode, soos ontvang van die kantoor van Gustav Claassen, algemene sekretaris. Klik hier.
CRL-logo
2.2 NG Kerk Algemene Sinode
Reaksie op verslag oor Regulering van Godsdiens

Die NG Kerk het 'n mediaverklaring uitgereik in reaksie op die CRL-kommissie ("Commission for the Promotion and Protection of the Rights of Cultural, Religious and Linguistic Communities") se verslag oor die regulering van godsdiens.
Die NG Kerk se reaksie doen 'n baie sterk beroep op die vryheid van godsdiens soos in die Grondwet verskans. Lees dit hier.

2.3 Leer en Aktuele Sake gee Perspektief
Pieter van der Walt en Heerden van Niekerk van die Sinodale Taakspan vir Leer en Aktuele Sake, ondersteun die kantoor van Gustav Claassen se skrywe (sien 2.1) en skryf soos volg: 
"Die omsendbrief is na ons mening goed en verhelderend. Die kern van die skrywe is dat die hof die beginsel van die Grondwet herbevestig het: Daar is nie in Suid-Afrika ‘n absolute skeiding van kerk en staat nie. Daar is wel 'n klem op godsdienstige verdraagsaamheid en diversiteit.
Ons besef daar is baie verskillende ervaringe rondom die saak, baie sieninge en emosies. Daar is ook baie vrese. 
Ons verbind onsself tot die voortgaande gesprek hieroor met ander rolspelers in die sinode, asook die onderwys". Lees meer hier. 
3. Augustus is Barmhartigheidsmaand
Diaconia en Badisa  wil gedurende die maand van Augustus saam met gemeentes reflekteer op die kerk se roeping ten opsigte van barmhartigheid. Vanjaar word 500 jaar van Reformasie herdenk en vanuit hierdie viering is daar fokusse en insette wat die praktyk van barmhartigheid verryk. 
Vir Barmhartigheidsondag op 27 Aug word daar gewerk aan 'n litanie, ‘n preekriglyn, 'n bybelstudie/kleingroepgesprek, 'n kinderles, tienergesprek en Powerpoint-aanbiedings wat in die tweede helfte van Augustus gepubliseer sal word. Gemeentes sou hierdie pakket kon gebruik om die erediens van 27 Aug 'n besondere ervaring rondom die tema van barmhartigheid te maak. Lees hier meer.
Logo's
Gielie en Bossie
4. Communitas: Brugkursus
Van Communitas kry ons inligting oor die volgende brugkursus, aangebied in September en November deur Gielie Loubser en Bossie Muller.
Die brugpredikant help vakante gemeentes om aan die einde van die "ou hoofstuk" om te blaai en reg te maak vir 'n nuwe hoofstuk. Die brugpredikant help ook die gemeente om die verandering as 'n positiewe groeigeleentheid te beleef. Klik hier en skryf voor 25 Augustus in.
5. Vriende & vennote van Getuienis!
Boekbekendstellings om van kennis te neem

Kobus Odendaal (Bestuurder: Getuienisaksie) stuur nuus oor die bekendstelling van twee besonderse publikasies. 
Op Sondagaand 30 Julie word daar by die eMseni Christian Centre, Benoni, twee merkwaardige boeke wat onlangs deur CLF uitgegee is, bekendgestel – die een is Reformation – Some South African Perspectives, met Kobus Gerber as redakteur, en die ander een is A Family of Reformed Churches in Africa – Remarkable Stories of God’s Grace, met Gideon van der Watt en Mariëtte Odendaal as redakteurs. Daar sal 'n paneelbespreking plaasvind en die boekbekendstellings val saam met die derde jaarvergadering van die Algemene Sekretarisse van 15 kerke wat lede is van die Gereformeerde Familie Forum in Afrika.
Reformation 500 A Family of Reformed Churches in Africa
Logo
6. #Imagine Kidz Experiences 
"#Imagine Kidz het gedurende die Julie-vakansie regoor Suid-Afrika plaasgevind met agt experiences! Dit is merkwaardig om na die foto’s te kyk en te sien hoe elke host die #Imagine Kidz Experience hulle eie gemaak het." So skryf JC de Jongh, projekbestuurder van #Imagine Kidz. Lees hier verder en besoek hul webwerf vir nog hope foto's soos hieronder.
#Imagine Kidz
7. Vroue in die Bediening: Welkom!
Ons herinner graag dat alle vroue in die bediening - jeugwerkers, proponente en leraars - welkom is om hierdie geleentheid op 10 Aug op Stellenbsoch by te woon. Prof Elna Mouton (Fakulteit Teologie, US) tree op as die hoofspreker en gaan aan die hand van haar eie verhaal ruimte skep vir deelnemers se saamgesels en -luister na mekaar. Lees hier meer en kontak Ankia du Plooÿ by ngkvroue@sun.ac.za.
Logo
ALGEMEEN
1. World Communion of Reformed Churches
Verklaring: Ooreenstemming oor Regverdiging deur Genade, Geloof
Woensdag 5 Julie was 'n geskiedkundige dag vir die ekumeniese kerk! Op dié dag het Gereformeerdes, Lutherane, Metodiste en Rooms Katolieke 'n dokument van ooreenstemming onderteken oor die vier tradisies se siening van hulle leer oor die regverdiging deur genade en geloof. Dié geleentheid was heel gepas in Wittenberg, waar Martin Luther gewoon en gewerk het.
Nelis Janse van Rensburg skryf: "
Die pous het, waarskynlik uit respek vir die Gereformeerde weerstand teen kerklike hiërargie, sy brief aan die kerke vandag in Wittenberg net onderteken met 'From the Vatican, Francis.' " Meer inligting is hier.
1.1 Ekumeniese verklarings
Ook die World Council of Churches (WCC) het die ondertekening van die twee ekumeniese verklarings deur die World Communion of Reformed Churches verwelkom as simbool van die kerk se strewe na gesamentlike getuienis.
“These declarations are two concrete expressions of the pursuit of full communion and common witness to the world, which is the will of Christ for all Christians,” said the Rev Dr Mary-Anne Plaatjies van Huffel, the WCC president for Africa, following the signing of the two documents at the service in Wittenberg’s Stadtkirche (Town Church). 

Die Joint Declaration on the Doctrine of Justification is hier.
Die Wittenberg Witness is hier.

Marthie Momberg, Nelis Janse van Rensburg, Mary-Anne Plaatjies Van Huffel en Andre Bartlett
WCRC: Marthie Momberg, Nelis Janse van Rensburg, Mary-Anne Plaatjies van Huffel en André Bartlett 
2. So that the World may Believe ...
Die World Council of Churches (WCC) se "Faith and Order Commission" het onlangs na 57 jaar ’n geskiedkundige vergadering in Pretoria gehou. Belangstellendes kan gerus onder luister hoe prof Nelus Niemandt (UP en voormalige moderator van die NG Kerk) dié geleentheid as ’n "homecoming" vir die NG Kerk beskryf, ’n vreugdevolle geleentheid.
"This is a very serious reflection about listening to the Word of God together with the Universal Church and not in isolation." – Rev Dr Oair Pedroso Mateus (Staff: Director of Faith and Order)
WCC meeting in Pretoria
Logo's
3. Hugenote Kollege deel Hoop op Mandeladag
By Hugenote Kollege het daar op Vrydag 21 Julie - in die gees van Mandeladag - bykans 50 van die personeel en nuwe studente van die Wellington kampus gaan hand bysit by die bekende G-Voucherprojek. ‘n G-voucher, 'n koepon wat deur sommige moontlik as onbenullig beskou word, se waarde is soveel meer as net 'n warm ete. Een koepon maak dit vir die ontvanger daarvan vir een dag moontlik om menswaardig te voel en hoop te ontvang in omstandighede waar hoop nodig is.
Vind meer uit oor die G-Voucherprojek en lees hier verder.  
 
Ouerskapkursus
Klik bo vir inligiting oor die datums, tye en kontakpersoon.
5. Raakgelees: 'n Lewe waar Niemand meer Vrees nie
“Onthou enigeen nog hoe mense Maandagaande in die eeue-oue Nikolai-kerk in Leipzig, Duitsland, sou byeenstroom om te luister na stories, kerse aan te steek en te bid vir vrede? Hoe dié byeenkomste sou aangroei totdat tot 100 000 mense op sulke aande sou versamel om te bid en ná die tyd in stille verset met kerse deur die strate te loop? Hulle doen dit vandag nog, elke Maandag. Nie omdat hulle nie die wonder van destyds onthou en gedenk nie, maar omdat hulle stééds bid vir vrede in ons wêreld vandag, stééds stories vertel van ons strydende en stukkende wêreld ..." Lees gerus hoe prof Dirkie Smit oor die soeke na ’n lewe sonder vrees en verskrikking skryf. (Met dank aan Netwerk24)
Dirkie Smit ea
Prof Dirkie Smit tydens die WCRC-konferensie in Leipzig saam met Louis van der Riet en Angelique en Marnus Havenga.
Logo
GEMEENTENUUS
1. 
Straatlig: Elkeen het ’n storie om te vertel ...
Enigeen in die Stellenbosch-omgewing met ’n hart vir uitreik, kan Straatlig (een van die Moedergemeente se projekte vir gemeenskapsontwikkeling) gerus ondersteun. Hulle programme vir kinders en volwassenes sluit BecomingKids, ’n beursfonds en Echo Jeugontwikkeling in. Eerder as om bloot te vertel wat hulle doen, gee hulle in ’n nuwe video vir mense wat by hulle programme inskakel, die kans om hulle eie stories te vertel. “Hierdie stories ondersteun die waardes waarmee Straatlig werk en beklemtoon dat elke individu, ongeag die omstandighede, ’n storie het ... ons moet net gaan luister,” vertel Ruben Scheepers. Dis deel van menswaardigheid. Kyk gerus onder die video.
Life on the fringes
2. Swellendam bring Huislikheid vir Herberg
Barbara du Toit, finansiële beampte van NG Swellendam, vertel hoe 'n klompie gemeentelede op 'n bitter koue Saterdag in Julie 'n verskil gaan maak het by die Herberg Kinderhuis op Robertson. Niks kon hulle entoesiasme demp nie - nie die 14 km se stap om alles vooraf te koop nie, nie 'n pap wiel op pad soontoe nie en ook nie die 16 gordyne wat almal te lank was vir die vensters waar hulle moes hang nie! Lees hier haar brief, wat sy pragtig soos volg aflsuit: "Wat 'n voorreg het ons Hemelse Vader nie vir ons gegee om kinderhartjies te help bly maak nie".
Ons nooi alle gemeentes om te laat weet op watter verskillende maniere God hulle in staat stel om sy liefde en omgee met ander te deel. Bydraes kan gestuur word na kommunikasie@kaapkerk.co.za.

Vlytige helpers
Op die foto links is Franco duToit, Elaine du Toit, Petrus Joubert, Sarese Brooks, Barbara du Toit en Tersia Joubert, en regs voor die bababedjie sit Charlotte, huisma van die dogters.
Godsdiens en wetenskap
3. Stellenbosch Gespreksgroep
Ons Godsdiens en die Wetenskappe

Piet Walters, sekretaris van die Stellenbosch Studie- en Gespreksgroep stuur hul program vir die tweede semester van 2017 aan. Hulle doen besondere moeite om kundige sprekers en relevante onderwerpe by hulle program in te sluit en ontmoet Dinsdae vanaf 17:00 in die kerksentrum van NG Stellenbosch-Sentraal. Die eerste byeenkoms is op 1 Augustus. Kry die program hier en oorweeg gerus om die byeenkomste te ondersteun. 
Kobus Anthonissen
4. NG Oostersee: 'n Kind wys die Weg
Hierdie kursus word op 5 Augustus by NG Oostersee aangebied deur Kobus Anthonissen.  Registrasie begin 08:30 en die kursus duur vanaf 9:00 tot 13:00. Inskrywings kan Maandag-, Woensdag- en Vrydagoggende van 09:00 tot 13:00 by die kerkkantoor gemaak word by 021 – 939 3830. Koste: R 100 per persoon. Lees hier meer.
Ouerskappraatjie
NG Durbanville Ouerskappraatjie 2 Augustus
NG Vredelust Gesinsnaweek 4-6 Aug
NG Vredelust Gesinsnaweek 
Francois Carr
7. NG Stellenberg Halfweek van Gebed
Almal met ’n hart vir gebed is welkom by hierdie halfweek van gebed waar Francois Carr, stigter en direkteur van Heart Cry, as spreker optree. Hy beywer hom vir herlewing en is 'n internasionaal bekende spreker. Die tye is 5 Aug van 09:00 – 12:30 en 6 tot 8 Aug om 19:00. Dit word in die Gebedskapel by NG Stellenberg gehou (h/v Edelweiss en Moutainviewrylaan).  Geen koste - kontak gerus die kerkkantoor met navrae: 021 976 4519.
Logo
8. NG Helderberg: Programme bied Hulp
Raak die dood van ‘n geliefde, egskeiding of enkelouerskap jou gesin? Harmony, as deel van NG Helderberg Uitreik, bied 'n verskeidenheid internasionaal erkende en interkerklike programme aan wat gegrond is op Bybelse waardes om gesinne te help met veranderinge in die familiestruktuur.  
Die volgende reeks begin op Do 3 Aug vanaf 17:30 by NG 
Helderberg, Firmountstr 82, Somerset-Wes. Lees meer hier.
Jan en Joanne Momsen
PREDIKANTENUUS
1. Jan en Joanne Momsen groet NG Rondebosch
Na nege wonderlike jare in Ronde-bosch groet Jan en Joanne die gemeente wanneer Jan einde Julie emeriteer. Dit is ook wanneer Joanne klaarmaak as onderwyseres by Hoërskool Groote Schuur. Hulle beplan om hulle in Kleinmond te vestig waar hulle uitsien na ʼn rustiger lewe en meer tyd sal hê vir ander belangstellings soos stap, reis deur Suid-Afrika, die natuurlewe, fotografie, kleinkinders en gemeenskapsdiens. Belangstellendes kan hier verder lees.
Jan en Joanne, mag Kleinmond julle spoedig omarm en ook ’n plek raak waar julle “tuis in ons familie” voel! Seënwense!
2. Gawie en Susan van Broekhuizen: Nuwe fokus
Oor sy aftrede aan die einde van Julie skryf Gawie van Broekhuizen so: "In die jare wat beide van ons marathons en ultra-marathons gehardloop het, het ons lesse en vaardighede geleer wat ons ook in die gemeentes van Touwsrivier (5 jaar) en Paarl-Vallei (34 jaar) kon toepas." 
Lees gerus verder hoe Gawie en Susan (foto onder) terugkyk én droom oor hul wenslysie wat wag! Baie seën vir die nesskrop in Somerset-Wes, Gawie en Susan!
Gawie en Susan van Broekhuizen
Andrew Esterhuizen
3. Andrew Esterhuizen bevestig by NG Touwsrivier
Ons het vantevore berig oor Andrew Esterhuizen se nuwe kontrakpos as brugleraar by NG Touwsrivier. Lees hier hoe Gielie Loubser (PSD: Gemeentebegeleiding) skryf oor Andrew se bevestiging op 23 Julie. Hy sal, as deel van 'n spesiale verwikkeling in hierdie gemeente, betrokke wees by 'n proses om verskillende vorme van multi-kulturele bediening te ondersoek. Met sy bepaalde ervaring by Communitas bring Andrew uiters gepaste gawes na die proses en ons vertrou dat hy die gemeente en gemeenskap op sy unieke manier sal begelei in gesprekke oor verskillende bedieningsmodelle. Seën op die taak wat voorlê, Andrew!
Bevestiging
Vlnr is Willie Dreyer, Dawid van Huffel, Gielie Loubser, Andrew Esterhuizen, Theunis Botha, GP Kellermann, Louis Smit, Mary-Anne Plaatjies van Huffel en Malcolm James
4. Francois en Tania Herselman, welkom in Parow-Panorama!
Op 1 Augustus begin 'n nuwe hoofstuk vir Francois Herselman: hy en Tania, saam met hulle twee seuns (Nicholas en Gideon) sien uit na die geleentheid om in die NG Gemeente Parow-Panorama te bedien.
Francois, wat in Velddrif en Reebok bedien het en sedert 2009 in die NG Gemeente Ashton predikant was, skryf: "Dit is vir my opvallend hoe ons telkens as vreemdelinge in 'n gemeenskap inkom, maar as familie daar weggaan. Die verrassende is dat God nuwe verhoudings vir ons gee waarbinne ons liefde vir Hom en vir mekaar kan groei." Seënwense vir julle, ook vir die intreepreek op Sondag 13 Augustus!
Gideon, Francois, Tania en Nicholas
Gideon, Francois, Tania en Nicholas Herselman
De Mist van Zijl
5. VGKSA Die Hoogtes ontvang De Mist van Zijl
Van die konsulent, ds Johan Louw, ontvang ons die goeie nuus dat kollega De Mist van Zijl, voorheen van VGKSA George, op Sondag 9 Julie bevestig is as leraar in die VGKSA Die Hoogtes in Hoekwil. Sy intreepreek was op 16 Julie. Ons vertrou dat dit 'n geseënde verbintenis vir almal betrokke sal wees. Welkom in jou nuwe gemeente, De Mist!
Herwin
EKOLOGIE
1. Die Strand herwin 100 ton!
Die NG Gemeente Strand doen al sedert 2013 herwinningswerk en het aan die einde van Junie 2017 die 100 ton-mylpaal bereik! Die totale gewig van materiaal wat gedurende hierdie tydperk herwin is, is 100 859 kilogram. Lees hier hoe Diek van der Zel (Dokdiek), lid van Getuienisaksie se Eko-taakspan en NG Strand- gemeentelid, skryf hoe elkeen dieselfde voorbeeld kan navolg.
Braaivleisvuur
2. 'n Ongemaklike vraag:
Kan die Aarde SA se Braaikultuur bekostig?

In 1996 het die wêreld-ekonomie elke dag dieselfde hoeveelheid energie verbrand as wat die natuur 10 000 jaar geneem het om te stoor.  Dit was 21 jaar gelede.  En die Academy of Sciences beweer dat die wêreld in die volgende 20 jaar 40% meer energie gaan verbruik as tans. Dit beteken dat ons mooi moet dink voor ons 'n vuur(tjie) aansteek. Elke stompie wat ons verbrand, dra by tot aardverwarming - iets wat dringend ingeperk moet word twv ons eie en die aarde se voortbestaan... Lees hier verder. 
Fontein Vatikaanstad
3. Pous Franciskus spaar Water
Dit is nie net in die Wes-Kaap en ander dele van Suid-Afrika waar 'n ernstige watertekort tans heers nie. In Italië is dit vanjaar so droog dat Pous Franciskus die fonteine in die Vatikaanstad laat afsit het. Die woordvoerder van hierdie onafhanklike staatjie binne-in Rome, Greg Burke, noem dat daar ongeveer 100 fonteine is en hy is van mening dat so iets nog nooit vantevore gebeur het nie. Lees die berig by www.cbsnews.com. 
BEHOU DIE HUMOR
Reception

LiG voorblad
PUBLIKASIES
1. In LiG se Augustus-uitgawe:
lees ons hoe ses oumas vertel hoe om 'n omgeeprojek te begin;
♦  deel Illse Roos hoe sy kies om te leef;
♦  is twintig wenke vir 'n eenvoudiger lewe;
  is goeie nuus oor hoe die Here hoop kan bring as 'n diep-bewaarde geheim die lig sien;
♦ lees ons van iemand wat die Bybel met die hand oorskryf en
  is raad om 'n sterk huweliksbootjie te bou wat in mooiweer én strormwaters sal koers hou.
Teken hier in op LiG, of skakel 0860 26 33 42 of 021 864 8210. Om per e-pos in te teken, gebruik  bestel@bmedia.co.za
2. Lees in die Kerkbode van 28 Julie ...
van jongmense aan die Wes-Rand wat besef dat hulle gedeelde Christelike identiteit sterker is as hulle verskillende etniese identiteite. 
Lees ook ’n verhaal oor versoening uit die NG Kerk se susterskerk in Japan, van ‘n tentmakerdominee wie se “sekulêre werk” vir hom ’n bediening is en oor die kerkhervormer, Johannes Calvyn, se pastorale kant. 
Daar is verskillende bydraes wat aansluit by die onlangse algemene vergadering van die Wêreld-gemeenskap van Gereformeerde Kerke.
Klik hier om die volledige e-Kerkbode te lees of in te teken. Bestellings kan per e-pos gestuur word na bestel@bmedia.co.za of by die webtuiste gekoop word. Klik op winkel, of tik die produknaam in.
CLF-Vroudagaanbod
4. Bybel-Media: Gedagtes en Inkleurprente
Bybel-Media het ʼn nuwe produk ontwikkel spesiaal vir gemeentes wat hierdie kwartaal op die Reformasie fokus. Die produk bestaan uit ʼn gebruikersvriendelike boekie oor die vyf Solas van die Reformasie en vyf simboliese saamkleur-plakkate. Die grafiese boekie, wat jy self kan druk, bevat stimulerende gedagtes en vrae vir saamgesels. Klik hier vir 'n videogreep wat meer vertel hiervan.
KUIERKANS
Klik onder vir meer inligting oor hierdie heerlike kuiergeleenthede!
Kuierkans
Kerkbode-logo
VAKATURES
Vakatures op e-Kerkbode

Vakatures in ons NG Kerk-familie vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via e-Kerkbode elektronies versprei. Klik hier vir die jongste vakatures. 
Kerkgebou
1. NG Op-die-Berg - Vakature vir Leraar
Hierdie gemeente is in die hart van die Koue Bokkeveld, tussen Ceres en Citrusdal en ongeveer 200 km vanaf Kaapstad, geleë. Dit is 'n  boerdery-gemeenskap met ongeveer 252 belydende lidmate, waarvan die meeste tussen 35 en 45 jaar oud is, asook 108 dooplidmate. Belangstellendes kan aansoek doen vir die pos as leraar - die sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Aug en  hier is meer inligting. 
NG Langebaan
2. NG Langebaan - Vakature vir Jeugwerker  
Hierdie Weskusgemeente, wat bestaan uit 1530 belydende en 279 dooplidmate, beskik oor 'n vakature vir 'n jeugwerker vir ‘n termyn van een jaar. Lees hier meer oor die posvereistes, pligte en aansoekproses. Aansoeke sluit 11 Augustus om 12:00 en CV's kan gestuur word na ngklangebaan@mweb.co.za.
NG George
3. NG George Moedergemeente: Orrelis
Aansoeke word ingewag vir die pos van orrelis. Lees hier meer oor die vereiste vaardighede en ondervinding waaroor die geskikte kandidaat moet beskik. Aansoeke sluit 11 Augustus. Aansoeke moet gestuur word na Drew de Kock by ngmoeder@caw.org.za of kontak hom by  044 874 2036 met enige navrae.

Kerkmusiek
4. NG Gemeente Oudtshoorn-Wes: Orrelis
Persone wat die gemeente op orrel en klavier/klawerbord kan begelei, sowel as  die  musiekbediening in ‘n gemeente kan koördineer, word genooi om aansoek te doen vir hierdie pos. Die ideale kanditaat moet ‘n belydende christen wees en die vermoë om goed in spanverband saam te werk, is baie belangrik. Aansoeke sluit 31Julie - lees hier meer.

Toringkerk
5. NG Gemeente Toringkerk: Orrelis
Ons herinner: die NG Gemeente Toringkerk in die Paarl het ’n vakature vir ’n orrelis, verantwoordelik vir die sang en musiek tydens oggenddienste en ander geleentheidsdienste. Lees meer oor die kwalifikasies, vaardighede en ondervinding waaroor die kandidaat moet beskik. Sluitingsdatum is 4 Aug.

Daniël de Wet
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Daniël de Wet
Van jongs af fassineer mense se kreatiwiteit my. Kunstenaars, argitekte, entrepreneurs, musici, skrywers en besigheidspersone. Gewone mense wat hulle Godgegewe vermoëns gebruik en deur hul kreatiewe werk 'n verskil maak.
 
Soos Besaleël. 'n Gewone man wat deur die Gees van die Here toegerus is vir kreatiewe werk. In Eksodus 31:3-5 lees ons oor hom: "Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen: ontwerpe maak en dit in goud, silwer en brons uitwerk, edelstene verwerk en monteer, en houtwerk doen. Hy sal enige werk kan doen." 

Die naam Besaleël is ryk aan betekenis wanneer ons kyk na die drie Hebreeuse lettergrepe:  be = "in"; tzal = "skaduwee"; el = "God".  Besaleël se naam beteken:  "in die skaduwee van God".  Dit is 'n figuurlike verwysing na die Gees van God.  
 
Aan die begin van 'n nuwe kwartaal kan ons mekaar daaraan herinner dat ons ook in die skaduwee van God leef.  Mag jy ervaar dat sy Gees jou toerus om met vaardigheid en kreatiwiteit, dinge aan te pak wat ʼn verskil maak.

***
Daniël de Wet is in 1997 gelegitimeer en bedien in Suider-Paarl, Durbanville-Bergsig en Knysna voordat hy hom in 2016 by die span van die NG Gemeente Stellenbosch-Wes aansluit. Kontak hom by dpdewet@gmail.com.
"A religion that gives nothing, costs nothing, and suffers nothing,
is worth nothing."
- Rev Najla Kassab haal Luther aan tydens Wittenberg-diens op 5 Julie
Vriendelike groete

Marieta Visagie en Salomi Steenkamp
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.