Lees deur internet, klik hier >>
16 Junie 2017
kommunikasie@kaapkerk.co.za

Beste Leser
Ek glo in die Heilige Gees,
ons hemelse voorspraak by
en 
ons aardse voorsmaak van die Vader,
wat vir ons woorde gee om te bid
en in ons biddeloosheid self ons gebed word.
Ek glo dat die Gees die Lewegewer
en die Herskepper is,
die Een wat ons is staat stel om altyd
   weer nuut te begin met God en met mekaar.
                 Lees die hele
Geloofsbelydenis.

SINODENUUS
1. Suid-Kaapse brande
1.1 Ons gebede vir die Suid-Kaap
Die PSD’s van die Diensgroep Gemeentebegeleiding, Gielie Loubser (Gemeentes), Theunis Botha (Predikante) en Anriëtte de Ridder (Jeug- en Familie) het die afgelope week die gemeentes wat geraak is deur die brande in die Suid-Kaap besoek. Hulle het die predikante persoonlik bedien met gebed en namens die sinode aan elke gemeente 'n gebedebak oorhandig. 
Die gebedebak is simbolies van Openbaring 8:3-5 en hulle is gevra om dit Sondag in die erediens op die nagmaaltafel te plaas as simbool van al die gemeentes en lidmate wat hulle in gebed vashou en vir hulle omgee.
Lees hier meer oor Anriëtte, Theunis en Gielie se ervarings. 
Kry ook 'n spesiale liturgie wat gemeentes Sondag tydens voorbidding vir hierdie rampgebied kan benut, sowel as die liturgie wat aan die betrokke gemeentes oorhandig is.
Suid-Kaap kollegas
Anriëtte de Ridder, Francois van Tonder (Sedgefield), Minette en Marius Coetzee (Karatara),
Gielie Loubser, Stefan Human en Eugene Barnard (Knysna) en Theunis Botha
1.2 Suid-Kaapse brande: Teenwoordig in die Ellende 
Anriëtte, Theunis en Gielie (sien bo) het ook die afgelope week die Amiici-kantore in George besoek. Amiici is een van die hoofafset- en verspreidingspunte vir bydraes na die rampgebied. 
Hulle vertel: "Dit was wonderlik om te sien hoe jong lidmate dié reusetaak met ywer, passie en vaardigheid aanpak." Kry meer inligting, veral ook praktiese riglyne hoe jy kan help, of jy nou naby of ver van die Suid-Kaapse rampgebiede is. Ons groot dank aan Walton en Lianca Kruger en die hele Amiici-span! (Foto onder)
PSDs en Amiici
Theunis Botha, Ruan Venter, Anriëtte de Ridder, Divvie Esterhuizen, Walton en Lianca Kruger. Agter is Gielie Loubser en Arno O'Kennedy
1.3 Suid-Kaapse brande:
Oorweldigende reaksie - Soveel dankbaarheid! 
Ons is saam met die betrokke gemeentes opreg dankbaar vir die oorweldigende reaksie vir hulp aan die slagoffers van die onlangse brande (en storms in die Kaapse Skiereiland.)
Ons is opgewonde dat die bystand wat aangebied word, nie net finansieël is nie; mense skenk hulle tyd, hulle vaardighede. Mense is met hande, voete en harte in die Suid-Kaap en vergestalt tussen die hartseer, roet en as deur hoe 'n gemeenskap van gelowiges lyk en werk. 
Ons hoor van skenkings van ons broers en susters in Marikana en die RCJ (Reformed Church in Japan) - kollegas wat trauma persoonlik beleef het. Ons ontvang kennis van insamelings en inbetalings van so wyd as Namibië, Goudland, die Oos-Kaapland (om maar enkeles te noem). Ons hoor van ons kollegas in die NG Kerk in die Vrystaat wat tydens hulle sinodesitting besluit het om 'n bedrag van R1 miljoen aan die rampfonds van die NG Kerk in SA te skenk om die nood in dié streek te verlig. Baie dankie vir elke vorm van meelewing. Bid asb vir die Suid-Kaap.
Lees gerus ook hoe Eugene Barnard (NG Knysna) skryf
Nioma Charmaine Pieter
1.4 Suid-Kaapse brande:
Wat leer ons? 
Na net meer as 'n week van erge brande en trauma in die Suid-Kaap, maak Nioma Venter (PSD: Diaconia), graag van die sinode se kant af 'n paar opmerkings oor wat ons tot hiertoe ervaar het en verduidelik hoe die sinode se rampfonds werk.
Nioma kon die afgelope week 'n paar Suid-Kaapse gemeentes wat deur die brande geraak is, besoek - lees hier wat sy skryf.

Foto: Nioma Venter; Charmaine Smith (Suiderkruis, Plettenbergbaai); Pieter van Santen (George-Tuinedal).
2. Nuwe predikante besoek Sinode
'n Groep van 15 nuwe kollegas (diegene wat sedert die vorige sinodesitting in die Wes-Kaap by ons aangesluit het) het op 5 Junie 'n blik op die personeel en werk van die sinode gekry. Lede van die moderatuur het die groep by die sinodale sentrum in Bellville met koffie en verversings ontvang, waarna Nelis Janse van Rensburg een en ander oor ons sinode se struktuur en uitgangspunte vertel het.
Na ’n vinnige kykie na die sinodale sentrum en kennismaking met die personeel, is hulle Stellenbosch toe ... Lees hier.
Ons sien daarna uit om saam met julle op weg te wees, kollegas! Julle is hartlik welkom. Foto's onder en meer op Facebook.

Nuwe predikante
Bo vlnr Cornis Botha (Klawer), Wynand Bezuidenhout (Vasco), Gert Kok (Eendekuil), Roelien Karsten (St Stephen's), Dewald du Toit (Caledon),  Banus Botha (Kraaifontein) en Francois Maritz (Ceres)   
3. Argief Gooi Deure Oop vir Nuwe Predikante
Tydens hulle besoek aan die sinode om ’n bekendstelling van die verskillende diensgroepe te kry, is ons nuwe predikante ook by die Argief verwelkom. Liesl Rabie (hoofargivaris) het hul toegespreek, voordat hulle na die groot kluis afbeweeg het. Hier kon ’n paar kollegas kyk of hulle die swaar laaikaste van die kluis kan skuif en het Karen Minnaar voorbeelde van ou huweliksregisters en ander dokumente aan die groep gewys. Meer foto's van die besoek is hier
Banus met kluisrakke
Banus Botha (Kraaifontein) skuif
die swaar kluisrakke
Dewald en kluisrakke
Dewald du Toit (Caledon) toets ook die skuif van die kluisrakke onder in die Argief
Ou foto
4. Argiefkronieke
Wat skuil in jou Bybel?

"Hierdie is nie ’n teologiese vraag nie – eerder ʼn Sherlock Holmes-speurverhaal tipe. Of so sê Ruan Nieuwenhuizen, die Argief se student-assistent wat sedert die aan-vang van 2017 die Familiebybel-projek hanteer.
Dit het so gebeur: 'n navorser uit Amerika het sy eie voorsate se inligting hier kom soek en besef dat ons 'n rykdom van ongeopende Bybels (meer as 300 van state- tot sakformaat) huisves. Hy het voorgestel dat hy ’n projek befonds sodat ons die Bybels kan kategoriseer, fotografeer en uiteindelik die inligting toeganklik maak vir enigeen op soek na oupagrootjie of kleinniggie se Bybel ..." Isabel Murray (Argiefbeampte op Stellenbosch) vertel meer ...
(Herken jy dalk die meegaande foto? Dan moet jy asb verder lees!)
Legkaart
5. Uit die Moderatuur
In die gereelde brief van ons moderatuur, Uit die Moderatuur, skryf Charl Stander (skriba) aan predikante en gemeentes aan die hand van die metafoor van 'n legkaart van die SA-samelewing wat van die tafel geval het - 'n legkaart waaraan ons as dienende kerk weer kan help bou. Lees die brief hier.
Jerry Orpin
6. Getuienisaksie
Ons Nigeriese broer, Orpin

As jy in die Fakulteit Teologie op Stellenbosch se gange stap, sal jy dikwels van ons NG Kerk-familie se kerkleiers in Afrika sien wat met hul nagraadse studies besig is.
Een van hulle is ds Jerry Dooyum Orpin van ons susterskerk in Nigerië, die NKST. Hy is besig met sy MTh in Nuwe Testament onder studieleiers, prof Marius Nel en dr Charlene van der Walt. Dis veral NetAct en Getuienisaksie wat 'n belangrike rol speel om hierdie studente met universiteite te help skakel en logistiese ondersteuning verskaf. Lees hoe Kobus Odendaal skryf oor Jerry se tesisonderwerp.
7. Sentrum vir Publieke Getuienis
Alles is Nie net Sleg nie!

Stel jy belang in 'n stukkie positiwiteit? Die sentrum het data wat deur die IRR (Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge) vrygestel is, grafies verwerk vir maklike gebruik in gemeentes. Klik hier.
Die Sentrum vir Publieke Getuienis kan gekontak word by spg@kaapkerk.co.za.
8. Badisa: Hulp teen Middelafhanklikheid
Badisa het 'n mediaverklaring oor die Internasionale Dag teen Middelmisbruik (26 Junie 2017) uitgereik. Dit is hier beskikbaar.
Die drie behandelingsprogramme onder Badisa se bestuur is Toevlug, Ramot Behandelingsentrum vir Substansafhanklikheid en ABBA, wat vroeë intervensie vir dwelmafhanklikheid in Stellenbosch en omliggende areas bied. Klik onder om meer van elkeen te wete te kom.
Besoek www.badisa.org.za om 'n verskil te maak of kontak Annemarie Bezuidenhout by abezuidenhout@badisa.org.za vir meer inligting.
ABBA Ramot Toevlug
On the journey
9. #Imagine videos “On the journey… signs”
Het jy geweet #Imagine maak unieke, oorspronklike video's vir elke fees? Die 2017 #Imagine experience se tema het daaroor gegaan dat Jesus jou op jou lewensreis ("on the journey") ontmoet. In die proses ontdek jy hoe Hy jou kan gebruik om ’n verskil in die wêreld te maak. Kyk na die volgende drie video's onder oor agt tieners se reis met Jesus en lees meer hier. Die video’s kan ook vertoon word as deel van ’n preekreeks of ’n kamp. 
Journey video 1
Video 1
Journey video 2
Video 2
Journey video 3
Video 3
10. Vrystaatse NG Kerk: Gereformeerd en Pragmaties
Tydens hulle sinodesitting vandeesweek in Bothaville is Pieter van Jaarsveld (moderator), Carin van Schalkwyk (herkose skriba) en Riaan van Zyl (ondervoorsitter) tot die moderatuur van die NG Kerk Vrystaat verkies.
Volgens ’n berig op e-Kerkbode is hulle grootste werk om betrokke in hul eie konteks en wyer in hulle gemeenskap te wees. Lees hier meer. (Foto met dank aan e-Kerkbode) Ons bid julle seën op julle werk toe, kollegas!
Sinodegangers
Riaan van Zyl, Pieter van Jaarsveld, Carin van Schalkwyk
Big heart
ALGEMEEN
1. Raakgelees...

1.1 Nuwe geloofsgemeenskappe
God gee 'n ruimer Hart as jy plek maak vir Ander!

Om relevant kerk te wees in 'n veranderende gemeenskap, vra soms dapper keuses en aanpasbaarheid. In 'n artikel in "The gospel coalition" skryf Sarah E Zylstra in 'n pragtige verhaal hoe 'n kerk in Mississipi dit reggekry het. 
"Now, at Redeemer, 'we experience the richness and goodness that comes out of the Presbyterian church without having to give up the goodness that came out of the African-American church.'
'The combination pushes people out of their comfort zones. People have to willingly forego legitimate comforts and preferences in order to be together,' Taylor said. 'But God expands your heart when you make room for the other, and that’s the real blessing.' " Die volledige artikel is hier.
Alleen
1.2 Raakgelees...
Enkellopendes en die kerk: Menswaardigheid
In "Christianity Today” spreek joernalis Joy Smith kerke se hantering van families as die norm (en enkellopendes as die uitsondering) aan. In haar resensie van One by One: Welcoming the Singles in Your Church, deur Gina Dalfonzo, herinner sy aan die waarde van enkellopendes.
"Instead of envisioning every single person as someone’s potential spouse, Gina Dalfonzo works to restore the integrity of the individual - she highlights the value unmarried people add to companies, organizations, and families. She emphasizes the church’s need for single people and the biblical value given to their lives and ministries.” Lees hier.
W Jordaan
1.3 Raakgelees ... 
Vadersdag: Foto met Punctum bring Onthou
Wilhelm Jordaan, gerespekteerde joernalis, skryf 'n ruk gelede oor spesiale oomblikke van onthou - en verwys dan na rituele van sy saamwees met sy pa.
Hy skryf treffend oor die herinneringe van 'n foto met "punctum" - "daardie 'iets' in 'n foto wat jou in die gemoed kneus of prik."
"Vandag kneus die 'punctum' van herinneringe my. Ek mis hom – sy stilte, die aandag van sy oë en die warmte van sy nabyheid. En hy bly my by in die mistiek van vreemde vaderskap".
As Vadersdag vir jou só is, wens ons jou spesiale herinneringe toe om die seer minder te maak.
As jy Sondag, en elke dag, steeds die lewe saam met jou pa kan vier, wens ons julle besondere vreugde in die saamwees toe. 
En as geen Vadersdagviering vir jou is nie, wens ons jou vrede toe.
Logo
2. NID se Shalom - Eie hoekie van die Hemel!
Die Nasionale Instituut vir Dowes (NID), is een van die vele werksaamhede van die NG Kerk in SA (Sinode van Wes-Kaapland). Een deel van hulle werk is die versorging van Dowe bejaardes in 'n doof-vriendelike omgewing by Shalom in Worcester.
Lees gerus watter pragtige briefie van dank van Granny Nicholson (een van die inwoners) op 15 Junie in Die Burger se briewekolom verskyn. Dit is 'n pluimpie vir Shalom en die NID - en 'n getuienis van God wat ook die Dowes deur sy kerk versorg. Hartlike dank aan die toegewyde personeel! Meer inligting is op NID se webwerf: http://www.nid.org.za/ .
3. Internasionale Studentebediening: Let op E-posadres 
Jurie en Magdaleen Goosen van Helderberg Uitreik is saam met medewerkers verantwoordelik vir internasionale studentebediening op die kampus van Stellenbosch.
Een van die bediening se doelstellings is om studente beter toe te rus vir hul dienswerk en getuienis wanneer hulle na hul lande van herkoms terugkeer. Lees hier en let asb op Jurie se korrekte e-posadres: goosens@isales.co.za  - raak gerus betrokke en kontak hom! 

Wynberg breiers
GEMEENTENUUS
1. Gemeentes brei dat Penne klap!

1.1 NG Wynberg: Kombersprojek
Lekker om te sien hoe die dames van Wynberg Gemeente hard besig is met ’n kombersprojek vir bejaardes!  (Sien die foto langsaan.)
1.2 NG Stellenberg: Breigroep
Breiers en liefhebbers van die hekelpen vergader Maandae by Stellenberg. Hulle sorg jaarliks dat daar lieflike serpe, musse, truie en ander warm benodigdhede vir die uitreike saamgestuur word. Why Duvenage (leraar verantwoordelik vir uitreike) het die produkte op Ma 12 Junie amptelik ontvang. Klik hier vir meer asook nog foto's
Stellenberg breispan
Stellenberg se vlytige breigroep
Pinksterbywoners
2. NG Worcester-Brandwag: Pinkster-uitreik
Worcester Brandwag laat weet van hulle geseënde uitreik-aksie gedurende Pinkster. Pinksterbidure is in die Brandwacht Primêre Skool gehou vir alle plaaswerkers in die omgewing. Ds Danie van Eden het die bidure waargeneem en die voorafsang is deur die plaaslike ouderling behartig.
Hy het die kinders aan sy voete gehad met nuwe kinderliedjies en die hartlike natuurlike samesang van die biduurgangers was wonderlik. Elke aand is die kinders bederf met iets soets en Woensdagaand het die susters van die Diens van Barmhartigheid die biduurgangers met heerlike warm pannekoek verras. Kontak die gemeente by 023 347 4990.
3. NG Gemeente Stellenberg
Om mekaar te leer Ken: Uitreik oor alle Grense

Die Turquoise Harmony Institute (THI) se doel is om dialoog en verdraagsaamheid tussen mense van verskillende agtergronde en kulture te bevorder. Hulle fokus op dialoog om ander beter te leer ken en verstaan.
In pas met NG Gemeente Stellenberg (in Durbanville) se strewe "Ons reik uit oor alle grense" het lede van die THI op 12 Junie ’n aandete aan gemeentelede kom voorsit en saamgeëet en gekuier om meer van mekaar se kultuur te verstaan. Dit was ’n unieke geleentheid, simbolies van wedersydse verdraagsaamheid, respek en harmonie. Meer oor die THI is hier. Op die foto onder is Aydin Inal (streeksdirekteur van die THI) saam met Marius Breytenbach van Stellenberg.
Turquise Harmony
Friendship & Dialogue Dinner
Marius en Adin
Aydin Inal (Streeksdirekteur van THI, Kaapstad) en Marius Breytenbach
4. Uitreike: Julie-skoolvakansie
’n Herinnering: ons plaas graag in die volgende week of twee inligting oor gemeentes se uitreike in die komende skoolvakansie. Oorweeg asb om VrydagNuus kortliks daarvan te vertel en foto's van vorige uitreike aan te stuur. Dit is deel van ons getuienis van God se werk deur gemeentes om die gemeenskap waarin ons kerk is, te help floreer. Hier is reeds inligting en meer is baie welkom by kommunikasie@kaapkerk.co.za
EKOLOGIE
1. Verklein jou Koolstofvoetspoor só
Die VGK/NGK se Getuienisaksie stel ’n paar maklike aksies voor wat hulle gehelp het om hul koolstofvoetspoor drasties te verklein.  Lees gerus hier verder en volg hul voorbeeld.
Koolstofvoetspoor
Eersterivier
Dankie, Vader, vir die reën wat geval het
en ons riviere en damme weer voed.
Foto: Eersterivier, Stellenbosch
(Met dank aan Mathilda du Pisanie, Communitas)
BEHOU DIE HUMOR
104
Logo
NUUSBRIEWE
Missie Japan: Tuisbesoek om die draai!
Stéphan van der Watt skryf soos volg oor hul voorgenome besoek aan SA: "Na maande se beplanning en voorbereiding is ons DV oor 2 weke gereed om te vertrek na Suid-Afrika, vir ons derde tuisbesoek (sedert 2009) as gesin. 'Opgewonde!' is die woord."
Hulle program en ander versoeke is ook nou beskikbaar - Stéphan beloof dat hulle sal probeer om soveel as moontlik van hul ondersteuners persoonlik te bedank en terugvoer te gee by ontmoetings. Vir die lokfilm van die kortfilm wat gemaak is om hulle storie tydens die besoek te vertel, klik onder. 
Lokfilm
Mensehandel
PUBLIKASIES
1. CLF: Hulp teen Mensehandel
Mensehandel in Suid-Afrika neem volgens die VN toe, maar ons as Christene kan ʼn belangrike rol speel om hierdie euwel aan te spreek.
CLF se nuwe pamflet oor hierdie onderwerp bespreek onder meer die voorkoms van mensehandel, hoe mensehandel verband hou met ander misdade, en dan ook hoe ons as Christene betrokke kan raak met die bekamping daarvan. Die inhoud van die pamflet (wat tans gedruk word) sal reeds van 15 Junie 2017 op CLF se webwerf onder gemeentetoerusting aflaaibaar wees. Bestel gedrukte pamflette by order@clf.co.za.
'n Pa en sy Dogter
2. Vadersdag So 18 Junie
Laatslapers wat skielik besef dat hulle nog ’n geskenk vir ’n pa of oupa wou koop, kan oorweeg om een van Bybel-Media se uitgesoekte publikasies met die oog op vaders te bestel. Daar is ook ’n gratis geskenk in die vorm van ’n aanhalingsboek oor vaderskap ... lees hier verder.
KUIERKANS
Klik onder vir meer inligting.
Kuierkans
Kerkbode
VAKATURES
Vakatures op e-Kerkbode

Vakatures in ons NG Kerk-familie vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via e-Kerkbode elektronies versprei. Klik hier vir die jongste vakatures.
Die volgende gedrukte Kerkbode verskyn op 23 Junie 2017.

Kerkgebou
1. NG Gemeente Velddrif: Orrelis
Die NG Gemeente Velddrif wag aansoeke in van geskikte kandidate vir die pos as orrelis. Lees hier meer oor die vereiste vaardighede en ondervinding waaraan kandidate moet voldoen, sowel as die aansoekprosedure. Reageer voor 12:00 op 26 Julie. Navrae kan gerig word aan die skriba by ngkvelddrif@telkomsa.net.
Badisa-logo
2. Badisa
2.1 Ramot: Maatskaplike werker

Ramot Behandelingsentrum vir middel-afhanklikheid is ’n program van Badisa. Aansoeke van gekwalifiseerde persone wat die waardes van Badisa ondersteun, word ingewag. Die sluitingsdatum is 30 Junie en diensaanvaarding 1 September, of so spoedig moontlik daarna. Lees meer hier.

2.2 Riviersonderend: Maatskaplike hulpwerker
Die Beheerraad van Badisa Riviersonderend, wag aansoeke in van gemotiveerde persone vir die pos as maatskaplike hulpwerker. Lees hier verder oor die verlof-, mediese  en pensioenvoordele, sowel as die vereistes waaraan die geskikte kandidaat moet voldoen. Diensaanvaarding: so gou moontlik.

Logo
3. Bestuurder: ACVV La Belle
Die ACVV La Belle (waar die NG Gemeente La Belle onder meer by die bediening aan die bejaarde inwoners betrokke is) het 'n vakature vir 'n bestuurder/hoof. Belangstellendes moet 'n volledige CV en stawende dokumente voor 26 Junie stuur na acvvlabelle@acvv.org.zaDie volledige advertensie is hier.
Francois Maritz
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Francois Maritz
Ek wonder deesdae oor die verhouding tussen rus en tegnologie. ’n Verhouding wat ons lewens gaandeweg ingrypend verander. Otto Scharmer skryf die van ons wat hy "frontline practitioners" noem, deel 'n gemeenskaplike realiteit. Ons voel die hitte van ’n altyd vergrotende werklading onder die druk van om-altyd-meer-te-doen. 
Op my yskas het ek geskryf: "Omdat masjiene of rekenaars konstant beskikbaar is, dink ons ons moet ook konstant beskikbaar wees?"
Wanneer Barbara Brown Taylor oor die Sabbat skryf, noem sy dit "The Practice of Saying No". Walter Brueggemann skryf oor "Saying NO to the
CULTURE OF NOW". 
Die oplossing tot ’n kultuur van gejaagdheid is afsondering en stilte. Ek wonder of ons dit nog regkry om ons kinders van afsondering en stilword te leer. As Jesus Homself op ’n gereelde basis afgesonder het, en stilgeword het, hoekom vind ons dit só moeilik?
***
Francois Maritz, oud-Kovsie en jeugpredikant in Ceres, voltooi binnekort sy MTh in Spiritualiteit. Hy lees graag oor tegnologie, rus en spirituele praktyke. Volhoubare oplossings in harmonie met die natuur lê hom na aan die hart. Kontak hom by francoismaritz89@gmail.com.
I pray to God - my life a prayer -
and wait for what he'll say and do.
My life's on the line before God, my Lord,
waiting and watching till morning,
waiting and watching till morning.
(Ps 130 - The Message)
VrydagNuus-groete.

Marieta Visagie en Salomi Steenkamp
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.