Lees deur internet, klik hier >>
25 Mei 2018
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
Kerktoring en ballonne
Bredasdorp Gemeente
Pinksterfees vier eenheid!
 
"Ons besef ook dat eenheid nie eendersheid is nie, maar 'n verskeidenheid waarin ons saam die koninkryk dien. Ons sal die pad sensitief betree. Ons liefde, begrip en natuurlike saamgroei vanuit ons liefde vir die Here, sal ons spoed bepaal." Só verwoord hierdie nuwe gemeente, saamgevoeg uit die NG en VG gemeentes in Bredasdorp, die pad waarop hulle saam onderweg is. Klik hier vir hulle inspirerende getuienis.
"Dit was 'n groot oomblik toe ons saam nagmaal vier en die wyn met mekaar kon uitruil en deel." - Jan Fielies, kerkraadslid en geestelike werker.
Lees gerus verder oor hierdie geskiedkundige gebeure ...  

Streekbyeenkomste Mei en Junie 2018
SINODENUUS
1. Streekbyeenkomste begin
Op Maandag 28 Mei 2018 begin die streekbyeenkomste in Vanrhynsdorp om 11:00. Die groep wat Maandagoggend met ’n bussie begin toer, is: Frik Bosman, Riana Furniss, Nelis Janse van Rensburg, Melanie Thirion, Gielie Loubser, Charl Stander, Kobus Odendaal en Frederick Marais. Marié Britz, Bossie Minnaar en Nioma Venter woon sommige van die byeenkomste langs die roete by. (Die program is hier.)
Met meer as 300 mense wat reeds aangedui het dat hulle die byeenkomste sal bywoon én die emerititee vir Suid-Kapenaars wat op 30 Mei in George as deel van die toer ingesluit word, vertrou ons dat dit vrugbare geleenthede sal wees. Dankie vir voorbidding vir ’n veilige reis en sinvolle byeenkomste. Navrae kan gerig word aan Sanet Gunter by skriba@kaapkerk.co.za of 021 957 7155.

Dawn Erasmus
2. Ons groet jou, Dawn
Mariëtte Odendaal van Getuienisaksie skryf soos volg oor Dawn Erasmus, wat na 35 jaar in diens van die kerk, aftree: "Dawn het baie diep in ons harte gekruip – eers as kantoorbestuurder van wyle Johan Botha, vorige PSD van die Diensgroep Getuienisaksie, en later as ons sinodale kantoor in Bellville se ontvangsdame. Sy tree aan die einde van Mei af en sal nog ’n rukkie die nuwe persoon wat in haar plek aangestel is, bystaan gedurende die oorgangsperiode. 
Ons wens vir jou net die allerbeste toe, Dawn, en soos ons jou ken, sal jy beslis nie gaan stilsit nie!"  Lees hier meer oor Dawn. Baie seën en gesondheid toegebid!

3. Getuienisaksie
3.1 Getuienis in en deur Gemeentes, CLF en BNS as vennote

Op Vrydag 18 Mei het Stephen Pedro, bestuurder van die Taakspan: Getuienis in en deur Gemeentes; Charmaine Stofberg, bestuurshoof van CLF en Rineke van Ginkel, navorser by BNS (Beyers Naude Sentrum vir Publieke Teologie) saam besin oor hoe hulle mekaar as vennote kan ondersteun en bystaan in hul onderskeie take. Lees hier meer - foto onder.
Charmaine, Stephen en Rineke
V.l.n.r.: CharmaineStofberg, Stephen Pedro en Rineke van Ginkel
3.2 CAVA in Harare, Zimbabwe, op nuwe pad
Kobus Odendaal, bestuurder van die Diensgroep Getuienisaksie, het op 18 Mei met die uitvoerende bestuur van CAVA (Christian Audio-visual Action) in Harare, Zimbabwe, vergader (foto onder) waartydens daar besluit is om 'n nuwe rigting in te slaan. Lees hier.
Groepfoto
V.l.n.r.: Webster Gwanzura, Gerard Breytenbach, ds. Juma, Kobus Odendaal, Christine Chanza en Alwyn Francis
Groeteboodskap
3.3 Stewige bande met CCAP-susterskerk in Zimbabwe 
Kobus Odendaal (PSD Diensgroep Getuienisaksie) het verlede week die sinodesitting van die CCAP Harare, ons susterkerk in Zimbabwe, bygewoon. Dit het plaasgevind by hul konferensiesentrum net buite Harare. Op die foto dra Kobus namens die NG Kerk en VGKSA 'n groeteboodskap oor. Klik hier om meer te lees.
Sandra Leeuwner
4. Arbeidsbediening: die eerste 1000 dae
Op Vrydagaand 18 Mei is in die Groote Kerk onder andere gekyk na die werk wat deur Biblia Vissersbediening se pastorale werker, Sandra Leeuwner en 'n hulpwerker, Vasti de Villiers, in Houtbaai met hul First 
1 000 Days-projek onder die vissersgemeenskap gedoen word. Lees  hier meer.

Huwelikspare gesoek vir navorsingsprojek
Kontak Adrienne voor einde Mei 2018 en klik bo
Logo
6. Fynbos Park: tree af in Kleinmond!
Fynbos Dienssentrum, ’n program van Badisa, is in samewerking met die Goeie Hoop Behuisingsmaatskappy besig met die ontwikkeling van Fynbos Park, ’n aftreeoord in Kleinmond met pragtige berg- en see-uitsigte. Lees gerus hier meer en reageer so gou moontlik.
7. Kerkargief
Norval Geldenhuys se 100ste herdenking
Toe ons Kerkargief 'n versoek vir inligting oor Norval Geldenhuys (NG dominee, betrokke by die CSV, redakteur van Naweekpos, asook algemene sekretaris en publikasiehoof van NG Kerk Uitgewers) ontvang het, het dit behoorlik speurwerk geverg! Teologiese student Tiaan Pretorius sit hand by en kom af op 'n "sestigers"-film wat deur Norval vervaardig is.
Op Tiaan se aandrang soek hulle deur die rolle MEMA-films onder in die kluis – alles tevergeefs. Gelukkig kon die familie hulle voorsien van 'n rekenaar-kopie van die film en op Woensdag 16 Mei kon die Kerkargief die teologie studente en personeel uitnooi na 'n "Movie Matinee":  "Die Rëen Kom weer" met "popcorn", koffie en baie pret teen 50c per persoon. 
Wat is egter die storie agter die storie? Norval Geldenhuys junior (die 1963-kinderakteur in die rolprent) vertel verder. (Met dank aan Isabel Murray van die Kerkargief.)

Marizanne Pfeil en Tiaan Pretorius fliek
Marizanne Pfeil en Tiaan Pretorius fliek
Plakkaat - Die reen kom weer
Die reën kom weer-plakkaat
Logo
8. Re#imagine Pinkster 
Luanè McLachlan (wat binne die Diensgroep Gemeentebegeleiding as projekkoördineerder fokus op #imagine) berig: “Verlede week se Re#imagine tienerpinkster by NG La Rochelle gemeente was 'n geseënde byeenkoms. Hierdie geleentheid het vir ons uitgewys hoe graag tieners buite #imagine bymekaar wil uitkom en mekaar herinner aan daardie waardes. Verder was dit duidelik dat "fellowship" 'n uiters belangrike rol speel binne die tienerbediening, en dat tieners 'n ruimte soek waarbinne hulle verder kan dink en worstel oor hulle geloof en hulle plek in die wêreld.”
Kontak Luanè met navrae. Foto's van die Pinksterbyeenkomste is hier.

Liturgiese voorstelle gesoek
9. Missionale kerkwees: liturgiese voorstelle en formuliere gesoek
Ons herinner aan hierdie versoek uit die NG Algemene Sinode: Barnard Steyn skryf dat daar, in pas met die kultuurskuif in die NG Kerk na 'n missionale kerk, gewerk word aan 'n dokument "Liturgiese Voorstelle vir 'n Missionale Kerk" om in eredienste benut te word. Lees hier meer en oorweeg om bydraes teen 31 Julie in te stuur.
Parowvallei-Oos Cross The Line
GEMEENTENUUS
1. NG Gemeente Parowvallei-Oos: Comradesdiens 2018
Parowvallei-Oos bied op So. 3 Junie om 09:30 die agste keer 'n spesiale tweetalige erediens aan vir Comrades-atlete. Alle atlete en hulle families is welkom. Atlete daag gewoonlik in hulle spesiale Comrades T-hemde op by hierdie geleentheid met heerlike koffie en die beroemde koeksisters van Parowvallei-Oos se dames. Theo Swart, wat ook self die Comrades 27 keer voltooi het en steeds gereeld aan wedlope deelneem, is die prediker. Daar is veilige parkering en motors word opgepas. Die tema vanjaar is “Cross the line” en daar is ’n spesiale verrassing vir elke atleet om saam te dra tydens die Comrades. Verlede jaar het meer as 200 atlete die kerk volgepak.
Die adres is Marketstraat 168, Parowvallei. Klik hier vir ’n padkaart. Rig navrae aan ngpvoos@telkomsa.net of 021 931 6410 van 09:00 tot 13:00 op weeksdae. Gemeentes kan gerus hierdie inligting in hulle bulletins deurgee.
2. Versoek: Getuig oor jul uitreike!
Gemeentes wat tydens die komende Junie-/Julie-vakansie op uitreike vertrek, word vriendelik gevra om VrydagNuus kortliks (in sowat 60 woorde) daarvan te vertel en ’n foto aan te stuur. Kom ons getuig van God se werk deur gemeentes om gemeenskappe hier en elders te laat floreer. Kom ons inspireer mekaar – en kom ons bid vir elke uitreik. 
Inligting moet teen 8 Junie gestuur word na kommunikasie@kaapkerk.co.za; ons deel dit graag as deel van ons getuienis! 
Rooiwaluitreikgroep
Caledon-Wes en Ceres reik uit na Rooiwal-Suid in 2016
Simfonie van gebede Groote Kerk 2 Junie
Miga Coetsee
PREDIKANTENUUS
1. Miga Coetsee groet Ruyterwacht 
Ons beste wense aan Miga Coetsee, wat in Junie 2017 in die NG Gemeente Ruyterwacht in ’n vastetermynpos van ’n jaar begin het. By die verstryking van hierdie kontrak groet Miga die gemeente vandeesmaand. Mag jy goed rus en ervaar dat tyd nuwe perspektief en doelwitte bring, Miga. Seënwense!
Aldo
2. Aldo Liebenberg aanvaar beroep 
Op Sondag 27 Mei word in Port Nolloth afskeid geneem van Aldo Liebenberg, wat sedert 2014 tentmaker in die gemeente was en voorheen ook in Willowmore bedien het. Hy het ’n beroep na die NG Gemeente Karasburg in Namibië aanvaar en word op Sondag 3 Junie om 10:00 daar bevestig.
Aldo sonder die dorpie self, met sy vier seisoene in een dag, uit as salwing vir die siel. Hy groet swaar, juis a.g.v. die rykdom ervarings wat hy in Port Nolloth opgedoen het uit mense se aanvaarding, begeleiding met trekklavier en konsertina, verskillende kulture en uiteenlopende agtergronde. Mag daar op jou nuwe Namibiese paaie ook vele van hierdie ryke ervarings wag. Seënwense!

Sandra en Willem Immelman
3. NG Ashton ontvang Willem en Sandra Immelman 
Saam met die NG Gemeente Ashton verwelkom ons graag vir Willem en Sandra Immelman. Die Immelmans kom al die pad uit die Noordelike Sinode vanaf die NG Gemeente Rustenburg-Bergsig. Enigeen wat op Sondag 27 Mei in die Langeberg-omgewing is, kan Willem gerus om 09:30 gaan ondersteun vir sy bevestiging en intreepreek.
Wilem getuig dat hulle uitsien na hierdie beroep (en vertel dat elkeen van sy beroepe in verskillende sinodes was!) Sy passie in die bediening is om mense te begelei om gelowig te leef ... om dissipels van Jesus te maak. Hier is meer.
Mag julle baie vrug op julle arbeid daar beleef, Willem en Sandra.

Van Niekerks
4. NG Calvinia en Maryke stap saam
Nadat Maryke van Niekerk se internskap in Mei 2018 tot 'n einde gekom het, is die goeie nuus dat die NG Gemeente Calvinia ’n nuwe vastetermynkontrak van ’n jaar met haar gesluit het.
Maryke getuig van God se besondere sorg en trou in hulle gemeente. Haar gebed is dat hulle altyd sal voortgaan om te droom oor die gemeente en wat God se hartklop en doel vir hulle is. Saam met Maryke en Riaan bid ons die gemeente dit beslis toe. Baie seën!

Gebedsversoeke
ALGEMEEN
1. De la Batskool se Boetman brand
Boetman, die seunskoshuis van die De la Batskool vir Dowes in Worcester, se boonste verdieping is op Maandag 21 Mei afgebrand, waarskynlik weens 'n kortsluiting. Ons is dankbaar dat daar geen beserings was nie, maar dink aan die seuns en die koshuismoeder in hierdie traumatiese tyd van ontwrigting (sien foto's onder). Die hulp wat op plaaslike vlak ingestroom het, maak ’n mens opnuut bewus van die genade van mense wat vir mekaar omgee.
Finansiële bystand word tans verwelkom om te help met die aankoop van meubels en ander noodsaaklikhede. Lees hier en oorweeg asb. om hierdie saak te ondersteun. 

Boetman-koshuis brand Boetman boonste verdieping
Kay Mason Foundation
2. Beurse! Storie van hoop!
Hier is 'n wonderlike geleentheid vir belowende kinders om 'n goeie skoolopleiding te geniet. 'n Kans om die lewe van 'n minderbevoorregte kind in die Kaapstad-omgewing te verander. Deel hierdie inligting asb met jou kollega, huishulp of andere wat dalk nie toegang tot e-pos of die internet het nie - en help waar nodig asb. met die aansoekproses. Ouers moet aansoek doen wanneer hul kinders in Gr. 6 is met die oog op finansiële ondersteuning vir hoërskoolopleiding.
Die Kay Mason Foundation, 'n nie-winsgewende organisasie, bied hierdie beurse aan - 'n baken van hoop! Lees meer en kry die aansoekvorm hier. Besoek gerus ook hulle webwerf by www.kmf.org.za en reageer voor 31 Julie

Logo
3. Nuus van Bybel-Media
Die South African Christian Directory (SACD) is ’n nuwe aanlynplatform wat ’n oorsig bied van die Christelike landskap in Suid-Afrika. Dit dek ’n wye veld van invloedsfere en aktiwiteite van Christen kerke, bedieninge, organisasies, inisiatiewe, netwerk en bewegings. Daar is tans meer as 3 000 organisasies en 35 sektore op die webwerf en dit groei daagliks.
Die SACD is ’n gratis omvattende aanlynplatform van Christen betrokkenheid vir konneksie ("connection"), kommunikasie ("communication"), samewerking ("collaboration")! Meer oor hierdie navorsingsinisiatief, gelei deur Mergon Foundation en Bybel-Media, is hier. Kontak sacd@mergon.co.za vir meer inligting of om ’n voorlegging te bespreek. Onderstaande video vertel meer.

SACD video
4. Hardloop vir Bybels 2018
Die Bybelgenootskap van SA nooi jou hartlik uit om deel te neem aan die “Hardloop vir Bybels”-projek tydens die 2018 Comrades Marathon tussen Pietermaritzburg en Durban op 10 Junie 2018. Vriende, familie, gemeentelede of kollegas kan atlete borg vir elke kilometer wat hulle aflê en só word geld vir Bybels ingesamel.
Lees hier meer en deel asb. met jou marathonmaats!

Gerdrie vd Merwe
5. Gerdrie vra hulp met “In Memoriam”
Dr. Gerdrie van der Merwe, waarskynlik ons bekendste kerkhistorikus, behartig die "In Memoriam"-sketse vir die Jaarboek van die NG Kerke nou reeds etlike jare. Hy vra weer vriendelik dat gemeentes en familielede hom met hierdie liefdesdiens wat hy so getrou lewer, help. Stuur asb. inligting oor predikante wat te sterwe gekom het, aan hom by gerdie@telkomsa.net en klik hier om meer te lees.
6. Kommunikasie: gemeentes se webwerwe
Wanneer julle gemeente se webwerf ’n nuwe baadjie nodig het, help dit soms om terselfdertyd te bepaal hoe funksioneel die webwerf tans vir besoekers is. Vra 'n buitestander, iemand wat niks van die gemeente weet nie, om die webwerf te beoordeel. Vra hoe maklik dit is om die volgende basiese inligting op julle webwerf op te spoor: aanwysings; eredienstye; bedieninge; bydraes/betrokkenheid en boodskappe/preke. 
Webwerfelemente
7. Menswaardigheid, omarming en insluiting in die kerk - ook vir outisme
In April is 'n veldtog geloods met die oog op die bewusmaking van outisme. Persone met outisme kan ook ingesluit word in 'n geloofsgemeenskap. Op die RampUp-webwerf is 'n dokument met goeie inligting hieroor. Dit is inderdaad moontlik om 'n sinvolle verhouding te bou met persone met outisme - en dit kan lei tot 'n nuwe dimensie van inklusiwiteit in jou gemeente. 
8. Raakgelees ...
Privaatheid bo missionaliteit?
Die Europese Unie se "General Data Protection Regulation" (GDPR) raak kerke en geloofsgemeenskappe ook. Om gehoor te gee aan hierdie streng regulasies, perk dit die kerk se interaksie met die gemeenskap wat hy wil dien, in. Verder redeneer Adrian Beney in 'n artikel op "Church Times" dat die kerk veronderstel is om 'n spieëlbeeld van God in verhouding met die mensdom te wees. Kan die kerk aan regulasies en wetgewing (soos die "Protection of Personal Information Act" [POPI-wetgewing] in SA) gehoor gee en steeds missionaal wees? As jy in ons eie konteks ook hieroor nadink, kan jy oorweeg om hier verder te lees. Spotprent onder met erkenning aan Church Times.
Spotprent
PUBLIKASIES
CLF: Een miljoen Bybels aan een miljoen kinders
’n Paar jaar gelede het CLF en ’n paar vennote die pragtige storieboekbybel God se Kinders van emeritus aartsbiskop Desmond Tutu in verskeie tale gepubliseer. Van daar het CLF se droom ontstaan om een miljoen Bybels aan een miljoen kinders te versprei. Die kern van die Een miljoen Bybels-projek is om ’n kind te leer oor die liefde van Jesus deur 'n eie storieboekbybel in hul eie taal. Lees meer oor die drie reekse vir verskillende ouderdomme kinders (sien ook onder).
Ja! Kleuter Bybelstories (3-5 jaar)
Ja! Kleuter Bybelstories
(3-5 jaar) 
God se kinders (4-10 jaar)
God se kinders
(4-10 jaar) 
Vertel my meer Bybel (8-12 jaar)
Vertel my meer Bybel
(8-12 jaar) 
Kaart indringerplante
EKOLOGIE
1. Gemeentes se ekobediening en natuurbewaring vat hande
Een van die belangrikste vennote van gemeentes se ekobediening behoort natuurbewaring te wees en een van die gebiede waar ons kan saamwerk, is die hantering van indringerplantegroei. Lees verder. (Dankie aan David Botha, namens die Projekspan Ekologie.)
2. Solar plant launced near Pofadder
Spanish multinational Abengoa officially launched its third large-scale solar thermal plant in South Africa on May 18, near Pofadder in Northern Cape. It is expected to have an impact on the local community and demonstrate the viability of renewable energy as a sustainable source of electricity. Read more.
Bring your own bag
4. Biddag vir Ekologie 3 Junie 2018
Gemeentes en predikante word vriendelik herinner dat Sondag 3 Junie Biddag vir Ekologie is. Die NG Algemene Sinode laat weet dat ’n preekskets met liturgie deur Fay van Eeden en Fouché de Wet (foto's onder) binnekort beskikbaar sal wees vir predikante se gebruik. Hou www.kaapkerk.co.za en ons Facebook en Twitter gerus hiervoor dop.
Fouche de Wet Biddag Fay van Eeden
BEHOU DIE HUMOR
Humor
KUIERKANS
Kuierkans
Klik bo vir meer inligting van hierdie week se kuiergeleenthede
VAKATURES
Vakatures in Kerkbode
e-Kerkbode dui nou ook aan op watter datums die volgende gedrukte uitgawes van Kerkbode verskyn. Kry dit by Vakatures (links in keuselys op e-Kerkbode); klik op 'n bepaalde vakature om dit oop te maak en let dan op die inligting regs bo.
Die eersvolgende uitgawes van Kerkbode verskyn op 1 Junie, 15 Junie en 20 Julie.

Padpredikant
1. NG Gemeente Ladismith: voltydse leraar
Ladismith is ’n plattelandse gemeente geleë tussen Barrydale en Calitzdorp op die R62-roete. Die gemeente val binne die Ring van Riversdal en bestaan uit 546 belydende lidmate en 106 dooplidmate. Hier is tans 'n vakature vir 'n voltydse leraar. Meer inligting is hier en die sluitingsdatum vir aansoeke is 20 Junie.
Logo
2. NG Kenridge: operasionele beampte
Die NG Gemeente Kenridge beskik oor 'n vakature vir 'n operasionele beampte. Pligte behels die daaglikse oop- en toesluit asook die bestuur van die fasiliteite, aankope, instandhouding van terrein, ens. Klik hier om die volledige pligstaat af te laai en stuur aansoeke na Liezl Byliefeldt (bestuurder@ngkenridge.co.za) teen 31 Mei.
Dirkie van der Spuy
TEN LAASTE
Uit die pen van ... Dirkie van der Spuy
Inspireer jy mense?

Tydens my teologiese studies op Stellenbosch was daar twee persone wat 'n blywende indruk op my gemaak het. 

Die een was Andrew Murray, wie se boeke ek gelees het en wat my geïnspireer het om 'n heilige lewenswandel na te streef en vir sonde geen plek te gee nie. Ek het die grootste respek gehad vir die nederigheid wat hy uitgeleef het en waaroor hy geskryf het. Sy ywer om in moeilike omstandighede die evangelie uit te dra was vir my ʼn voorbeeld van sy liefde vir die Here.
Die ander persoon was 'n dosent aan die teologiese fakulteit, dr. JCG Kotzè, wat bekend gestaan het as oom Kolie. Hy het vertel hoe sy hele bediening verander het toe 'n bejaarde dame na 'n preek vir hom as vurige prediker gesê het: "Dominee, jy beïndruk en boei my, maar jy help my nie."
Deur haar woorde het hy tot die besef gekom dat hy met sy eie krag en talente gepreek het en dat 'n preek in die krag en volheid van die Heilige Gees iets heeltemal anders is. 

Mag jy ook met niks minder as ʼn Geesbeheerde lewe en bediening tevrede wees nie.
-0-0-0-
                                                                                                                                     
Dirkie van der Spuy is sedert 1974 in die bediening en is tans die Hoof Uitvoerende Direkteur van die Moreletapark Assosiasie, moderator van die Oostelike Sinode en  assessor van die Algemene Sinode van die NG Kerk. Kontak hom hier.

"Mense steur hulle dikwels nie aan hoe jy sê jy glo nie; wat tel, is wat jy dóén." 
VrydagNuus-groete 
Marieta Visagie en Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.