Lees deur internet, klik hier >>
 23 Oktober 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Hervorming is 'n blywende opdrag
So het prof. Willie Jonker dertig jaar gelede in Die Burger geskryf. Ons vier op 25 Oktober Hervormingsondag om die Reformasie van die 16de eeu te herdenk. 
31 Oktober 1517 word algemeen aanvaar as die geboortedag van die Reformasie of Hervorming. Dit is die dag waarop Maarten Luther ’n lys van 95 stellings aan die deur van die kasteelkerk in Wittenberg vasgeheg het.  
"Die groot slagkrete van die Reformasie: die Skrif alleen, deur die genade alleen, deur die geloof alleen, deur Christus alleen – is in die loop van die eeue binne eie geledere deur die voortskrydende sekularisasie en die opdringende mag van die humanisme in groot mate subtiel of openlik van betekenis beroof.
Daarom moet Hervormingsfees vir die Protestantisme vandag ’n dag van verootmoediging wees, ’n dag van selfondersoek en terugkeer na die basis waarop dit gebou is. In plaas daarvan om selfversekerd te roem in wat eens in die verlede gebeur het, moet liewer gedink word aan ’n ander slagspreuk wat ook deel van die reformatoriese erfenis is: Ecclesia reformata semper reformanda - ’n gereformeerde kerk moet altyd weer gereformeer, vernuwe word. Hervorming is ’n blywende opdrag."
Lees die volledige artikel hier.
DinkJeug vier Hervormingsfees
DinkJeug het hierdie lekker ontmoeting vir 'n Hervormingsfees saamgestel, wat vir laerskool kategese gebruik kan word om ons te herinner waarom die Reformasie plaasgevind het. Dit kan ook vir die erediens aangepas word. 
Klik hier om dit af te laai.
#integritas kry momentum
#integritas, die beweging begin deur Communitas, die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit en prof. Erwin Schwella van Hugenote Kollege, poog om netwerke te vestig wat sal help om sistemiese korrupsie te beveg. Daarom het hulle onlangs 'n spanvergadering in Worcester gehou. Die deelnemers aan hierdie gesprek het besin oor die kopskuif wat Suid-Afrika moet maak om noodsaaklike en fundamentele transformasie te ondergaan wat nou in ons land nodig is. Hulle is van mening dat Suid-Afrikaners nie moet leef met liefde vir mag nie, maar eerder met die krag van liefde. 
Ds. Hans Steyn van Worcester-Vallei en lid van die #integritas-komitee wat help om die projekte te lei, laat weet dat hierdie beweging korrupsie in Suid-Afrika wil uitwis deur praktiese maniere te vind waarop goeie waardes in mense gevestig kan word en ook so dan vir persone integriteit te leer. 
Hy vertel ook dat die beweging eers met vyf dorpe gaan werk en dan stelselmatig sal uitbrei. Die bekendstelling van #integritas se eerste dorpe is vandeesweek op Worcester gehou en sowat 80 gemeenskapslede en sakelui het die geleentheid bygewoon. Klik hier vir foto’s. 
Enige persoon is welkom om by hierdie beweging aan te sluit. Kontak gerus vir admin@civinovus.co.za vir meer inligting.
Registreer nou vir #integritas-konferensie
Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit en die Sentrum vir Publieke Getuienis in samewerking met die CiviNovus Groep nooi belangstellendes om nou te registreer vir hierdie konferensie wat van 1 - 3 Desember in Wellington gaan plaasvind. Klik hier vir meer inligting en die registrasievorm. Besoek  #integritas op Facebook vir die jongste nuus.  
Skryf nou in vir Argiefkursus
Andrew Kok en Collette de Wet is die aanbieders van hierdie aanlynkursus. Die kursus is gratis. Klik hier om teen 30 Oktober te registreer. Na registrasie sal verdere aanwysings deurgegee word hoe jy die opleiding in jou eie tyd kan doen.
Arbeidsbediening en Badisa: SAAM is ons beter!
Carin Brink, bestuurder van Arbeidsbediening Kaapstreek en Reneé Pretorius, bestuurder van Badisa Tygerberg, het sedert verlede jaar begin kyk waar hulle ten opsigte van hul fokus en werk kan handevat. As elkeen in sy eie silo werk (terwyl daar soveel raakpunte is), trek mens onnodig swaar. Om hierdie rede het hulle dit goed gedink om in vennootskap gekombineerde netwerke te begin ontwikkel. Een van die eerstes van hierdie inisiatiewe was Arbeidsbediening se BrightStar-opleiding aan ’n groep jongmense, geïdentifiseer deur Badisa, in September. Lees hier meer. 
Dialogue on missional worship
Ekklesia and the Calvin Institute of Christian Worship are presenting an online follow-up consultation after their highly successful Missional Worship conference held last year. During this virtual gathering, leading scholars from South Africa and the United States will once again explore the relation between Christian worship and the life and witness of the Church in the world. Three 90-minutes sessions will be presented from 10 - 12 November between 16:00 and 17:30 
with ample opportunity for discussions between panellists and participants. Click here for the programme and individual links to each Zoom session.
Ontmoet ons oudste pensioentrekker
Mev. Bessie Keet het vroe
ër vanjaar haar 100ste verjaarsdag gevier en is nou amptelik ons oudste pensioentrekker. Volgens haar dogter Ilse Lombard is haar gesondheid steeds uitstekend en sy spandeer haar tyd deur met haar loopraam in die Montana-oord te stap; baie te lees en ten volle op hoogte te bly van alle relevante plaaslike en internasionale nuusgebeure deur getrou na RSG te luister. Sy doen ook nog van tyd tot tyd Huisgenoot se blokraaisels en hou só haar brein aan die gang. 
Bessie was vir amper 57 jaar getroud met Rynier Keet, wat van 1945 tot 1985 in die bediening was. Hulle eerste gemeente was NG Kerk Waterval Boven, daarna in Barberton en laastens in Arcadia, Pretoria. Saam het hulle vyf kinders gehad, waarvan drie (Danie, André en Anatolié) ongelukkig reeds oorlede is. Hul oorlewende dogters is Mariki Viviers en Ilse Lombard. 
Sy het sewe kleinkinders tussen die ouderdomme van 21 en 48, waarvan die twee jongstes 'n tweeling is, asook nege agterkleinkinders tussen een en 14  jaar oud. Vyf van die agter- kleinkinders woon in Siberië, Rusland.
EKOLOGIE
Skoon elektrisiteit is 'n moontlikheid en 'n moet!
Ingevolge nuwe regulasies wat Vrydag 16 Oktober in die Staatskoerant gepubliseer is, mag munisipaliteite sonder skuld aan Eskom nou hul eie krag opwek. Dit is onderhewig aan toestemming van die Departement Energie.
Munisipaliteite sal dus voortaan toegelaat word om hul eie krag op te wek aanvullend tot dit wat hulle van Eskom aankoop. Die regulasie is nog ietwat vaag oor die moontlikheid om elektrisiteit van onafhanklike kragverskaffers aan te koop. Net munisipaliteite wie se geldsake in orde is, sal toestemming kry om hul eie elektrisiteit op te wek. Die metro beplan om uiteindelik 680 MW in elektrisiteit danksy ’n verskeidenheid van hernubare bronne op te wek, berig Business Insider. Kaapstad het reeds planne uiteengesit om elektrisiteit onder meer met sonkrag op te wek. Eskom produseer die meeste van sy elektrisiteit met steenkool wat reuse-besoedeling meebring.
Skoon elektrisiteit word opgewek met hulpbronne en deur middel van metodes wat nie skadelik of nadelig is vir die omgewing nie. Vir inligting hieroor in die Suid-Afrikaanse konteks, klik op hierdie skakel. Bo-aan die lys van hierdie hulpbronne is sonenergie. En omdat ons hiervan persoonlike ondervinding het, het ons eko-korrespondent David Botha al verlede jaar in Junie hieroor geskryf. Lees meer hier.
Skryf in vir omgewingsbewaringsprys
As deel van die Christelike Lektuurfonds (CLF) se verbondenheid tot omgewingsbewaring word daar jaarliks ‘n prys vir omgewingsbewaring uitgeloof. Die prysgeld van R10 000 word as deel van die Andrew Murray prysfonds toegeken. Inskrywings en nominasies vir die CLF-Elise Tempelhoff toekenning vir omgewingsbewaring is oop en sluit 13 November 2020. 
Hierdie jaar se fokuskategorie is “Populêre publikasies, media-aanbiedinge, fotografiese artikels/uitstallings en dokumentêre programme wat groter sensitiwiteit van die omgewing aangespoor het.” Laai die inligtingsdokument hier af. Bydraes kan in enige van die amptelike landstale gemaak word. Stuur inskrywings en navrae aan eleanor@clf.co.za
GEMEENTENUUS
Helderberg hou dinkskrum
Helderberg-gemeente bied 'n spesiale dinkskrum vir entrepreneurs, matrikulante en werksoekers. Neem gerus deel aan hulle volgende informele gespreksaande waar kundiges hulle stories deel. Kry vars nuwe idees en geleenthede vir jou toekoms. Die sessies is gratis, maar deelnemers moet beslis hulle entoesiasme saambring om saam te kan dink en mekaar te help toerus vir nuwe uitdagings. Nooi gerus iemand saam wie se werksituasie ook geraak is deur COVID. 
Die gespreksaande vind op Dinsdag 3 November en Dinsdag 1 Desember om 18:00 in die Tent by Helderberg-gemeente in Firmountweg 82, Somerset-Wes plaas. Kontak gerus vir Ghian du Toit vir meer inligting by 073 033 9897 of stuur 'n e-pos aan ReadyForAdventureSA@gmail.com
Maskers is verpligtend.
Fokus op die Bybel by Stellenbosch-Welgelegen 
Die Leer- en Aktuele Sake diensgroep van Stellenbosch-Welgelegen reël gespreksgeleenthede om gemeentelede beter toe te rus om as gelowiges aan samelewingsgesprekke deel te neem. Dit help lidmate ook om hulle geloofsoortuigings en kennis van die Bybel en die kerk beter te verwoord.
Op 25 Oktober lei prof. Bernard Combrink die Hervormingsdiens en nagmaal om 09:30. Louis Jonker tree as gesprekleier op vir die Bybelfees om 18:00 wanneer die nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel bekendgestel word.
Beide geleenthede vind by die kerksentrum in Buitekringweg 6, Dalsig plaas. COVID-19 protokol word gevolg en maskers is verpligtend. Klik hier vir meer inligting.
Jars of Hope
Kenridge-gemeente het die afgelope paar maande hulle lidmate ingespan om glasbottels en sopbestanddele by te dra vir hulle Jars of Hope-projek. Hulle het hierdie gebottelde maaltye aan Arise Shine Africa, ‘n nie-winsgewende Christelike organisasie wat in Mitchell’s Plain geleë is, geskenk.
Arise Shine Africa is ontsettend dankbaar vir die bydraes wat hierdie gemeente tydens die pandemie aan hulle gegee het. “Met baie dankbaarheid en waardering wil ons dankie sê aan die Kenridge NG Kerk vir hul ongelooflike ondersteuning vanaf die eerste dag van die COVID-19-inperkings tot nou toe. Ons eer, waardeer en bedank julle vir die wonderlike bydraes van droë bestanddele, gekookte maaltye, Jars of Hope, klere, ens. op die eerbaarste manier om behoeftiges in ons gemeenskappe te dien. God seën julle almal.” 
Paarl-Vallei se potte prut
Die gemeente van Paarl-Vallei het laat weet dat hulle vandeesweek hulle laaste pot vir 2020 gemaak het. Meer as 7 000 etes is tydens die COVID-tyd uitgedeel aan behoeftiges. Hulle sê graag dankie vir lidmate en gemeenskapslede wat die afgelope ses maande bygedra het tot hierdie potjiekos-projek. 
“Dankie aan almal wat gehelp het met die voorbereiding van die groente en vleis. Dankie ook vir jul skenkings en bydraes.”
Omdat hierdie projek so reusesukses was, gaan dit weer voort in 2021.
NUUS VAN ONS FAMILIE UIT AFRIKA
Jongste CAVA nuusbrief uit Harare, Zimbabwe 
Lees asseblief die jongste nuus oor CAVA (Christian Audio-Visual Action), die organisasie in Harare wat hoofsaaklik NBI-kursusse fasiliteer en ook Christelike lektuur verskaf. Hulle word ondersteun deur Getuienisaksie. Ons twee susterskerke daar, die RCZ (Reformed Church in Zimbabwe) en die CCAP (Church in Central Africa Presbyterian) Harare Synod is ook by die bestuur van dié organisasie betrokke. Lees die nuusbrief hier.
Publieke Getuienis fokus op Zimbabwe 
Die Sentrum vir Publieke Getuienis fokus hierdie maand op die bewusmaking van die kommerwekkende gebeure wat in sekere Afrikalande plaasvind. Hulle fokus vir hierdie week is Zimbabwe.
Volgens menseregteorganisasies soos Amnesty International en Human Rights Watch skend die regering van Zimbabwe sy landsburgers se regte op vryheid, behuising, voedsel, veiligheid, vryheid van spraak en beweging en nog vele meer. Klik hier vir dié week se informatiewe skyfiereeks of like hulle Facebook-blad vir meer inligting. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Vastetermyn leraarspos: Riebeek-Wes
Die gemeente van Riebeek-Wes het 'n vakature vir 'n twee-jaar kontrakpos vir 'n vastetermyn leraar. Die ideale kandidaat moet 
geroepe voel vir die bediening op die platteland met ’n begrip vir die invloed van die landbou op die gemeente en die breër gemeenskap. Klik hier vir gemeenteprofiel en ampspligte. Aansoeke sluit 30 November.
Skriba/kassier: Parow-Noord
Die gemeente van Parow-Noord wag tans aansoeke in vir 'n halfdag pos as skriba/kassier. Vir meer inligting, kontak Erika Smit by die kerkkantoor op
021 939 2395 of 074 622 4400 of stuur 'n e-pos na ngkparownoord@telkomsa.net. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 6 November 2020.
Maatskaplike werker: Saron
Badisa Saron Gemeenskapsdienste adverteer tans die pos vir 'n voltydese maatskaplike werker. Registrasie by die SACSSP en 'n toepaslike tersiêre kwalifikasie is noodsaaklik. Lees hier meer oor diensvereistes en posvoordele. Aansoeke sluit op 30 Oktober.
Leraarspos: Somerset-Wes
Helderberg-gemeente adverteer in biddende afhanklikheid van die Here die pos van voltydse leraar. Die ideale kandidaat moet jonger as 35 jaar wees met 5 - 10 jaar se bedieningservaring en die visie en waardes van die gemeente kan uitleef. Lees hier meer oor die posvereistes. Klik hier om aanlyn aansoek te doen of besoek die webblad. Sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Oktober.
Klik bo vir meer inligting.
PUBLIKASIES
Die 2020 Bybelvertaling is hier!
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika stel met trots die nuwe Afrikaanse vertaling van die Bybel bekend. Die Bybel: 2020-vertaling, is die jongste, mees relevante Afrikaanse vertaling wat saamgestel is uit die nuutste beskikbare brontekste. Die vertaling streef daarna om lesers te laat voel of die Bybelskrywers van ouds in hul eie woorde self die wonderlike liefdesverhaal van God en die mens aan hulle oordra. Terselfdertyd is die teks in vloeiende, idiomatiese Afrikaans geskryf, met omvattende, beskrywende voetnote.
Die Bybel word amptelik op 29 November 2020 in Bloemfontein bekendgestel, maar kan egter reeds direk by die Bybelgenootskap se aanlynwinkel verkry word. Die Bybels is in verskillende bindstyle en uitgawes beskikbaar. Dit is ook by hulle winkel in Edwardstraat, Bellville beskikbaar.
Hoogtepunte uit Kerkbode
Kreatiwiteit bring konkrete oplossings vir kerkwees
Design Thinking is ’n mens-gefokusde kursus wat deelnemers begelei om probleme op kreatiewe maniere op te los. Jacobie M Helena vertel hier meer ná ’n slypskool by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington.
Spoegwolf se Danie du Toit oor God, kerkmusiek en ‘angry emails’
Met die woorde van Lied 464 uit die Liedboek sluit die bekende Afrikaanse band Spoegwolf hulle jongste album Wind af. “O Heer my God, as ek in eerbied wonder en al u werke elke dag aanskou. Die son en maan, die aarde, sterre, wolke, hoe U dit elke dag so onderhou.” Jacobie M Helena het ’n paar vrae aan die energieke hoofsanger Danie du Toit gestel. Klik hier om meer te lees.
Op Bybel-Media se boekrak
Die 2021 katalogus van Bybel-Media se wye reeks produkte is nou beskikbaar. Klik hier vir meer inligting oor hulle
geloofsvormende produkte wat die lewe van gemeentes en geloofsgemeenskappe kan verryk en verander.
Plaas ook nou jou bestelling vir die 2021 Jaarboek van die NG Kerke met waardevolle inligting oor sinodes, ringe, gemeentes en predikante van die NG Kerk, NG Kerk in Afrika, die Reformed Church in Africa en familiekerke in die buiteland. 'n Beperkte voorraad is beskikbaar en bestellings moet teen 15 Desember geplaas word. Laai die bestelvorm hier af.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo vir Bybelgenootskap se jongste nuusbrief.
Klik op grafika vir Badisa se Oktober nuusbrief.
Lees hier meer oor Inclusive & Affirming Ministries.
Klik bo vir die jongste nuus van KIX.
KUIERKANSE
Kraaifontein-Noord hou mini basaar
Kraaifontein-Noord hou Saterdag 31 Oktober 2020 ‘n mini basaar by hulle kerkgebou op die hoek van Roux en Hoffstraat. Die basaar begin om 09:00 en almal word vriendelik genooi om die dag te kom geniet. 
Vir meer inligting, kontak die kerkkantoor  by 021 988 3384.
Deurry-ete in George
George Moedergemeente se volgende deurry-ete vind op Vrydag 6 November plaas. Heerlike lamsvleiskerrie met rys en poeding is op die spyskaart vir slegs R60. Hoe meer porsies jy bestel, hoe goedkoper word dit.
Bestellings moet voor 3 November geplaas word deur 044 874 2036 te skakel. Bestellings kan tussen 17:00 en 18:00 afgehaal word.
Basaar in Ottery 
Ottery-gemeente hou basaar op Saterdag 31 Oktober. Daar is hope plaasvars groente, burgers met skyfies, boereworsrolletjies, pannekoek,  poeding, koek en `n witolifant-tafel. Almal is welkom om te gaan inloer by Essenhoutstraat in Ottery. Skakel vir Louna by 083 731 0044 of 021 7621276 vir meer inligting (foto geneem voor grendeltyd).
Gordonbaai wynveiling
Die gemeente van Gordonsbaai nooi almal uit om deel te neem aan hulle 18de (maar eerste aanlyn) wynveiling.
“Ons is opgewonde om vanjaar die wynveiling na jou huis te bring – voor jou rekenaar! So, sit terug, plaas jou bod en geniet dit – met ‘n glas wyn in jou hand! Wees kreatief en bie saam met ‘n paar vriende. Dis topgehalte en uitsonderlike wyne!”
Klik hier om deel te neem aan die wynveiling. Die veiling is oop tot 31 Oktober. 
Kenridge geskenkemark - kleiner, slimmer, veiliger
Kenridge-gemeente se immergewilde geskenkemark is terug
vanaf 18 - 28 Nov. Daar is 90 uitstallers met meer as 2000 verskillende produkte soos dekor-items, plante, gebak, deli-produkte en Kersgeskenke.
Aubergine Zest doen tuisgekookte wegetes vir wegneem word verskaf deur die bekende Aubergine Zest. Geniet lekker koffie, cappucino's en ‘n groot verskeidenheid soet bederfies sowel as Nina's Icecream se heerlike roomys. 'n Bedoeïen-tent verskaf buitesitplek waar besoekers hulle wegneemete, deli broodjie, roomys of drinkgoed kan geniet.
Weeksdae van 09:00 tot 18:00 en Saterdae van 09:00 tot 15:00.  Alle COVID-19-protokol geld. Geen toegang sonder ‘n masker. Betalings kan gemaak word met SnapScan en 'n krediet- of debietkaart gemaak word. 
Gratis parkering met sekuriteitswagte is beskikbaar. H/v Tygerbergvalleiweg en Van Riebeeckstraat.
ALGEMEEN
Hoe raak pandemie emosionele gesondheid?
Wat is die effek van die pandemie op ons emosionele gesondheid en hoe moet ons dit hanteer? Skakel in via Zoom op 4 November en hoor wat dr. James de Villiers oor hierdie baie relevante tema te sê het. 
Klik hier om te registreer. 
Raakgelees: Kyk na oulike diere en voel beter
Navorsers aan die Universiteit van Leeds in Engeland het bevind dat skattige diere mense se stresvlakke verlaag. In samewerking met Tourism Western Australia het dié universiteit die fisiologiese en sielkundige impak van oulike diere op studente en personeel van die instansie ondersoek.
Luidens 'n verklaring is 19 deelnemers gevra om 'n skyfievertoning van 30 minute te kyk wat beelde en kort videogrepe van 'n reeks diere ingesluit het. 15 van die 19 deelnemers se stresvlakke was hoog omdat hulle later daardie dag 'n eksamen moes aflê. Die oorblywende vier deelnemers was akademiese ondersteuningspersoneel wat hewige stres by die werk ervaar.
Die studie het bewys dat die hartklop vir elke deelnemer gedaal het nadat hulle 30 minute se prentjies en video's van oulike diere gesien het. Die gemiddelde bloeddruk van alle deelnemers het ook gedaal: van 136/88 tot 115/71.
Deelnemers wat die skyfievertoning gekyk het, moes ook 20 vrae beantwoord sodat navorsers stresvlakke kon beoordeel onder die State-Trait Anxiety Inventory. In individuele gevalle het die angsvlakke met minstens 50% gedaal! Dit kan dus 'n kragtige stresverligter en 'n gemoedsverbeteraar wees om na oulike diere te kyk, so loer gerus na die video (onder) van oulike diere sodat jy jou stresvlakke ook kan verlaag! 
Nuwe webblad vir CLF
Die Christelike Lektuurfonds spog eersdaags met 'n splinternuwe webtuiste wat beloof om verbruikersondervinding aansienlik te verbeter. Die blad is maklik en meer interaktief met 'n direkte skakel na hulle aanlynwinkel
om bestellings makliker en vinniger te maak.
Klik hier om na hulle nuutste produkte te loer.
TEN LAASTE
Weens die skoolvakansie sal daar volgende week (30 Oktober) geen uitgawe van VrydagNuus wees nie. Ons is terug op 6 November, so stuur gerus enige bydraes aan kommunikasie@kaapkerk.co.za om julle gemeentenuus en Stories van Hoop met ons lesers te deel.
Ons wens al ons matrieks en hulle families sterkte toe vir die eindeksamen wat vandeesweek begin het. Mag Jesus Christus julle krag en kalmte in hierdie tyd gee.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.