Lees deur internet, klik hier >>
8 Oktober 2019
kommunikasie@kaapkerk.co.za
  NG Wes-Kaapland: oorsig van algemene sinode 2019
dag 3 - 8 oktober

Beste Leser

Anandie
Algemene Sinode: Dag 3
Ons getuienis in die wêreld

Anandie Greyling lei die dagwyding. Sy praat oor gasvryheid n.a.v. Lukas en haal Adele Calhoun aan: “Hospitality is to be a safe person, who offers others the grace, shelter and presence of Jesus." Gasvryheid kan geleen of geruil word, maar is meer radikaal volgens die Bybel. Nelus Niemandt stel die vraag: "Hoe moet die NG Kerk in hierdie tyd in sy konteks die gasvryheid waarvan die evangelie praat, uitleef?" Klik hier om 'n berig hieroor, sowel as 'n videogreep, op Kerkbode se webwerf te lees.
Carin
Gendergeregtigheid
Carin van Schalkwyk van die NG Kerk Vrystaat vertel haar verhaal. Dis vanjaar 29 jaar vandat die NG Kerk vroue tot die amp van leraar toegelaat het en Carin vertel dat haar mede-teologiestudente daarna laat hoor het dat die sinode sonde met die besluit gepleeg het. Die vergadering kyk na die video Regtig? met opmerkings wat vroue en mans teenoor vrouepredikante gemaak het. Dit dui op 'n belangrike kultuurskuif wat dringend nodig is in die kerk.  Sinodegangers het die volgende riglyne opgestel om leiding te verskaf vir die kyk en gesprekke rondom die video. 
Amptelike gendergeregtigheidsbesluit:
1. Die Algemene Sinode moedig kerkvergaderinge – in lyn met vorige besluite – aan om doelgerig moeite te doen met verteen-woordiging, beginnende reeds by kerkrade.
2. Die Algemene Sinode versoek gemeentes weereens – in lyn met vorige besluite – om vroue as kerkraadslede af te vaardig na sinodesittings. Lees hier verder. Hierdie besluite kom uit die verslag van die Moderamen, en die agtergrond kan daar gevind word.

Grondhervorming
Grondhervorming is sedert 1997 ’n kritiese punt vir die NG Kerk. Dan Kriek, president van AgriSA, gesels hieroor. As deel van President Ramaphosa se adviespaneel het hy die kabinet gedien met ’n alternatiewe verslag wat die privaat sektor verteenwoordig en o.a. die beskerming en uitbreiding van eiendoms-regte aangespreek. “Ons in die landbou is boodskappers van hoop. AgriSA is gekant teen enige wysiging van die grondwet soos voorgestel. Ons is bewus daarvan dat dit massiewe onsekerheid in die landbousektor veroorsaak oor die pad vorentoe. Ons is nie negatief oor grondhervorming nie. Ek dink ons maak vordering. Die rol van die kerk is om voorbidding te doen, gesprekke te fasiliteer en mense bymekaar te bring. Dit is waar die oplossing van grondhervorming gaan wees – tussen gewone mense wat net ’n beter lewe wil hê en saam vorentoe wil gaan." (Grafika: Kerkbode)

Afgevaardigdes
Van die afgevaardigdes uit die Sinode van Wes-Kaapland:
V.l.n.r. André Agenbag, Michelle Boonzaaier, Melanie Thirion, Jampie Nel, Bossie Minnaar, Danie Nel, Maryna van Rensburg, Lambert Jacobs,
Sulet Brummer, Roodt Griessel, Anriëtte de Ridder, Lorinda Maritz,
Marié-Louise du Preez en Mercia Ross

Ekologie
Willie van Heerden van die Taakspan Ekologie spreek die vergadering toe oor klimaatsverandering, volhoubaarheid en hernubare energie. Hy sê: "Geloofsgemeenskappe word deur hierdie ekologiese insigte uitgedaag om ’n etiese verantwoordelikheid te neem t.o.v. die florering van die skepping. Een van die gespreksvrae wat by die tafels bespreek is, lui: "Wat is die grootste ekologiese uitdaging in die omgewing waar jou gemeente geleë is?"

Spesiale gaste verwelkom
Nog ekumeniese vennote en spesiale gaste woon vandag se sessie by en word deur die voorsitter verwelkom.  Dit sluit in Darrell Makriel en Jan Cloete (CPKSA), Erna Möller van RampUp, Renier Schoeman van die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van Kultuur, Godsdiens en Taal Regte, Motlalentwa Betha en Desiree Brown sowel as Jerry Pillay, dekaan van die Fakulteit Teologie van TUKS. 

Selfdegeslagverbintenisse
Die vergadering het vroeër vandag 'n voorstel aanvaar wat inhou dat die Algemene Sinode van 2015 se besluite oor selfdegeslagverhoudings ter syde gestel word.  'n Beskrywingspunt van die Wes-Kaapse sinode is voorgelê en ’n uitgebreide debat is daaroor gevoer. Volgens Nelis Janse van Rensburg was dit ’n geleentheid waartydens die sinodes saam kon besin oor hoe daar oor selfdegeslagverhoudings gedink word.  "Die voorstel was dat ons moet ruimte maak vir mekaar en het baie respek vir mekaar verklank.  Dit gee riglyne, maar word op niemand afgedwing word nie.”  Die voorstel is tydens ’n geslote stemming deur ’n oorgrote meerderheid aanvaar. Lees die volledige besluit op die Kerkbode se webwerf.

Sinode-oomblikke
Vrystaat afgevaardigdes
AS steunspan
#imagine koffiestalletjie
Meer dekking oor die Algemene Sinode
Nuus oor die Algemene Sinode verskyn ook op ons Facebook en Twitter platforms.  Die vergadering word ook direk op YouTube uitgesaai.

Ten laaste
Tydens 'n dag wat gekenmerk is deur komplekse gesprekke was dit opvallend hoe die gesindheid van die vergadering een van die gesange wat gesing is: "Waar liefde en deernis is, daar is die Heer" reflekteer het. 
Foto:  Danie Marais
Groete uit eMseni - vandag 'n ware plek van genade.
Ronelda Visser


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.