Terugvoer van Moderamen
Terugvoer van Moderamen
Lees deur internet, klik hier >>
1 Oktober 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Terugvoer van die moderamen
Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland, gee 'n kort video-oorsig van hierdie week se vergadering. 'n Volledige verslag sal binnekort beskikbaar wees. 
Digitale bediening
Bekroonde skrywer en teoloog Stephan Joubert het tydens die moderamen gesels oor COVID-19, bediening in die digitale tyd en die realiteite van die vierde industriële revolusie. In sy gesprek stel hy die soeklig op florerende kerkwees en hoe om Jesus in ‘n eietydse wêreld te loof. Hy kyk na digitale bediening en meen dat digitaliteit 'n integrale deel van ons realiteit en identiteitsvorming moet word. Lees hier meer oor Kerkbode se dekking van hierdie insiggewende gesprek.
Ontmoet Missie Japan se Du Rands
Getuienisaksie fasiliteer en bevorder die samewerking tussen gemeentes van die NG Kerkfamilie en susterskerke in die buiteland wat in vennootskap met mekaar is. Een van hierdie vennootskappe is Missie Japan, gesetel by Vennote in Getuienis by die NG Kerk Vrystaat, maar wat deur heelwat gemeentes binne ons sinode gesteun word.
Een van die sendelingspare wat al sedert 1 Mei 2018 daar betrokke is, is Elmar en Nadine du Rand wat in Tokushima woon. Hulle is tans op besoek in Suid-Afrika en het ook alreeds heelwat gemeentes besoek. Lees meer van hulle en hul werk in Japan hier
Kleinmond Leersentrum wil leerders motiveer
Braam Hanekom vertel aan Overstrand Herald dat verskeie moontlikhede ondersoek word om die Kleinmond Leersentrum se kurrikulum verder uit te brei. “Daar is die afgelope tyd ervaar dat veral hoërskoolleerlinge hulle motivering tydens die COVID-19-pandemie verloor het. Nie alleen het duisende leerders uit die onderwyssisteem geval nie, maar al meer leerders vra hoekom daar hard vir matriek gewerk moet word, as werk na skool in elk geval skaarser word. Dit word in talle oorde bevestig, van model-C skole tot by die bekende Jakes Gerwel tegniese skool op Bonnievale. Motivering is tans ‘n groot probleem.” 
Hulle berig verder dat die Kogelberg Educational Trust se trustees tot die besef gekom het dat ekstra wiskunde en tale alleen nie gaan help nie. Daarom word daar nou spesifiek gekyk na ekstra sessies vir mentorskap en motivering. Daar word beoog om weekliks sessies oor motivering, dissipline, naskoolse kwalifikasies, studiebeurse ens. by die leersentrum aan te bied. “Kinders moet ervaar dat hulle waarde het en dit kom net deur spesiale aandag aan hulle te gee. Ons uitdaging is nou veel groter as die blote aanbied van hulp met die gewone kurrikulum.”
Foto: Overstrand Herald
Landbou vat hande op De Aar
Die Sentrum vir Publieke Getuienis het onlangs, op uitnodiging van die Institute for Sustainable Social Development, ‘n konferensie vir opkomende boere op De Aar aangebied. Kundiges uit die kommersiële landbousektor is genader om die kursus aan te bied. 52 opkomende boere van dorpe soos Noupoort, De Aar, Richmond, Britstown, Philipstown, Hanover en Victoria-Wes het die konferensie bygewoon. Basiese opleiding in landbou is voorsien.
Die konferensie het in die NG Gemeente De Aar se kerksaal plaasgevind. Komplekse kwessies soos die oorbenutting van meentgronde is aangespreek. Daarmee saam ook die wantroue tussen opkomende boere en gevestigde boere. Die geleentheid was egter ‘n wonderlike oefening in die bou van sosiale kohesie en wedersydse vertroue. Basiese perspektiewe op die bewaring van grond, plante, diere, mense en volhoubare voedselvoorsiening is hanteer. Klik hier vir meer foto's van die geleentheid.  
Arbeidsbediening se rooi motortjie
Donateurs weet dikwels nie wat met hul skenkings gebeur nie en daarom is dit ’n riem onder die hart as mens so ’n verblydende getuienisstorie vanuit Oudtshoorn hoor. 
André van Staden, wat sedert 2007 die koördineerder van Arbeidsbediening se vele besoekpunte in Oudtshoorn is, vertel hoe sy rooi motortjie, wat meer as 14 jaar gelede as deel van sy vergoedingspakket geskenk is, steeds ingespan word om die evangelie in die werksplek te bring. Lees meer hier.  
Bemagtiging en verhoudingsbou ‘n prioriteit
Bemagtiging en die bou van verhoudings is van groot belang, nie net omdat dit getuig van hoe ons as Christene Christus navolg nie, maar dis ook tot seën vir die gemeenskappe waarin ons woon. En dis presies waarop Stephen Pedro, PSD Gemeentegetuienis, fokus. Tydens sy besoek aan Britstown die naweek van 17 tot 19 September was dit weereens vir hom ’n hoë prioriteit. Lees meer van sy besoek en Ringswerkswinkel hier.
Foto: Stephen Pedro (in die middel voor) saam met die VGK Colesbergringslede tydens die werkswinkel. 
My Mooi Dorp Webinaar
Op 9 September het Barend la Grange, voorheen van South Africa Day, Mari Hudson van RSG se program My Mooi Dorp en Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis saam 'n webinaar aangebied.
Hulle het gesels oor hoe Suid-Afrikaners die sosiale kohesie op hulle dorpe kan verbeter en watter praktiese dinge gedoen kan word om van ons land se dorpe mooier en beter plekke te maak. Praktiese voorbeelde van dorpe waar daar reeds ‘n verskil gemaak is, was bespreek. Gemeenskapsleiers wat reeds by die verbetering van dorpe betrokke was, het ook deel van die paneel gevorm. Kyk gerus na die opname van die sessie onder. 
EKOLOGIE
Vier Seisoen van Skepping met staptog en piekniek
Kom ons vier die Seisoen van Skepping en gaan stap op Saterdag 2 Oktober vanaf Constantianek tot by Kirstenbosch Tuine. Bring jou eie water en versnaperinge. Kontak Rudolph Scharneck by rudolphschar@gmail.com vir meer inligting.
Ons vier Wêreld-dieredag
Ekologie is meer as die plante om ons; dit sluit veral ook ons diere in. Op Maandag 4 Oktober vier ons Wêreld-dieredag. Die doel van dié dag is om mense bewus te maak van diereverwaarlosing. Deur hierdie dag jaarliks te vier en meer gemeenskappe daarby betrokke te kry, kan ons die plaaslike en globale standaarde ten opsigte van dierewelsyn verhoog. Deur bewusmaking en opvoeding kan ons ’n wêreld skep waar die waardigheid en versorging van diere altyd ’n prioriteit sal wees. Ons kan net ’n verskil maak wanneer ons betrokke raak! Dankie aan Marizanne Pfeil-Wessels van ons Groenspan wat die inligting verskaf het.
GEMEENTENUUS
Die Seisoen van die Skepping in Citrusdal
September merk die begin van lente en is ‘n tyd vir groei en groen. Daarom het Citrusdal-gemeente hulle jong lidmate aangemoedig om voëlvoerders te maak wat hulle by Ons Huis ouetehuis op die dorp kan ophang. Martin Steyn vertel meer oor hierdie opwindende projek.
“Dit het alles begin met ‘n plasing van DinkJeug om voerhuisies te maak vir September, ‘n maand waarin ons dink oor God se skepping, groei, groen en nuwe lewe. Ons het dit toe ‘n bietjie verder geneem en gedink dat ons die kinders in die gemeente moet uitdaag om self voerhuisies te maak. Dit kon van enige material gemaak word.
Die idee was dat alle jongmense iets vir hulle gemeenskap doen. Ook om tyd in die motorhuis saam met pa of ma te spandeer of dalk net weer te besef dat God vir hulle net so lief is soos vir al die voëls. Ouers is ook gemotiveer om te gesels oor God se sorg vir sy skepping terwyl hulle besig is en ook weer te besef dat God sy kinders ook baie liefhet, soos vertel in Lukas 12: 6 - 7. Terwyl hulle daar bou, word hulle herinner dat as God so lief is vir voëls, soveel liewer is Hy vir elkeen. Sy skepping en die voëls in die tuin herinner ons daaraan. En dink net as ‘n oupa of ouma so na die voëls in die voerhuisie kyk en dink: Maak nie saak hoe oud of jonk ek is nie, God het my lief, Hy sorg ook vir my. So het ons heelwat voerhuisies ingekry, maar meer as dit ook die stories van die pa of ma wat gehelp het, die frustrasie met die bouery en ook dankbaarheid van tyd saam spandeer." Meer foto's van die voëlvoerders kan op die gemeente se Facebook-blad gekry word. 
Stellenberg Kweek vir die Here
Kweek vir die Here laat weet dat hulle fluks vorder met hulle spekboomprojek. Hulle het onder andere pas 90 dankiegeskenkies vir 'n troue gemaak. Hulle stal vanjaar vir die eerste keer by Stellenberg se feesmark uit. Besoek hulle gerus van 18 Oktober tot 6 November vir pragtige plantjies, wat min water vereis.
Alle fondse wat ingesamel word, gaan vir die gemeente se jeuguitreike. Vir meer inligting, skakel gerus vir Koos Lamont by 082 447 2109.
Uitreik na Loeriesfontein se basaar 
Awie Brand vertel meer oor hoe Caledon Moedergemeente en Caledon-Wes saam uitgereik het na NG Kerk Loeriesfontein. 'n Groep van meer as 40 mense uit die Overberg is saam Loeriesfontein toe om te help basaar hou en om tydens die basaar op 25 September 2021 saam met die gemeente te kuier.
"Die Here Jesus laat 'n mens altyd sprakeloos staan. Deur sy Gees plant Hy self die idee. Dan maak Hy 'n klein groepie mense opgewonde en maak hulle vol planne. Wanneer die volgende groep dan bykom, was Hy lank reeds met hulle ook besig en is hulle gereed om met dít wat hulle in oorvloed ontvang het, ander te dien. Presies só het alles gebeur.
Uiteindelik is mense nie net uit een gemeente betrek nie, maar 'n hele streek. Die Overberg se mense (en selfs wyer) het skaap, bees, eland, kontant, groente, wyn, naaldwerk, blomme, gebak, speelgoed, sop vir plaaswerkers ensovoorts gegee. Uit vreugde. Met dankbaarheid.
Hierdeur kon Loeriesfontein-gemeente steeds basaar hou. Die droogte het hulle in 'n wurggreep vir baie jare. Hulle is psigies en finansieel broos en weerloos.
Dit was 'n wonderlike dag. Die son en wind was sag en stil. Mense was vol blydskap en dankbaarheid, want die Here Jesus self het gesorg dat alles reg is. Hy dek self die dekor van vreugde, veral wanneer medegelowiges uitreik na 'n gemeente wat swaarkry. Hierdie is, so lyk dit vir ons, presiés waarvan ons Here Jesus hou.
Dit blyk reeds dat dit 'n rekord-basaar was. Van die items word steeds ná die tyd verkoop en die geld moet nog inkom. Maar groot is die verrassing: die insameling van offers was 'n bysaak. Daar het iets in ons almal gebeur. Ons is almal, saam met die Loeriesfonteiners, verryk op 'n manier wat ons nog lank oor gaan nadink. Almal is by die Drie-enige God se werk betrek. Hoe Hy mense, wanneer hulle op die grond lê, optel deur die liefde en omgee van sy kinders en hulle aanmekaar bind asof hulle mekaar al jare ken en liefhet." 
'n Suksesvolle uitreikkwartaal by Kenridge
NG Gemeente Kenridge vertel dat hulle tydens hul afgelope uitreikkwartaal vitamientablette en -bruispille vir Maitland Gemeenskapskerk se voedselprojek ingesamel het.
“Ons het vroeër die maand die laaste van die vitamiene gaan aflewer, saam met 100 gehekelde serpe. Twee gemeentelede het die serpe met groot liefde gehekel en verpak met 'n Bybelvers by. Mag die serpe nuttig wees en seën bring vir elkeen wat een ontvang! Baie dankie vir almal wat bygedra het!”
Vetplantfees op Calitzdorp
Cara Pieterse van Calitzdorp-gemeente vertel dat die gemeente deelgeneem het aan die pasafgelope Vetplantfees wat vanaf 18 tot 19 September op die dorp aangebied is.
"Die teetuin agter die kerksaal was ‘n vrolike affêre en is bo alle verwagting baie goed ondersteun op beide dae. ‘n Spoggerige dinee is die Saterdagaand aangebied deur die vroue van die gemeente. Uitstallers het van so ver as Mpumalanga en die Noord-Kaap gekom en mense kon nie uitgepraat raak oor die verskeidenheid vetplante wat te koop aangebied is nie.
Kenners het op beide dae praatjies omtrent vetplante deur kennein die kerkgebou aangebied en die splinternuwe grootskerm TV in die kerkgebou het grootliks bygedra om die aanbiedinge te verhelder." Besoek die gemeente se Facebook-blad vir meer foto's. 
PREDIKANTENUUS
Goodwoodpark verwelkom Steyns
Egbert Steyn vertel dat hy opgewonde is oor sy toekoms by NG Gemeente Goodwoodpark. "Die werk as brugleraar skep die geleentheid om saam met ander gemeenteleiers God se leiding vir die toekoms te soek en skep nuwe moontlikhede. Dit bied vir my ook geleentheid om my passies en lewenservaring, waar byvoorbeeld probleemoplossing, strategie-beplanning en fasilitering deurlopend deel van my lewe was, aan te wend in koninkryksverband."
Hy vertel ook meer oor die lesse waarmee hy wegstap van NG Gemeente Paterson.
"Eerstens het ek hier geleer dat getalle nie sukses beteken nie. Diep geestelike gesprekke en belewing van die gemeenskap met ons Here saam met ander, is. Alhoewel Paterson-gemeente ‘n klein gemeente is, stel die roeping hier mens bloot aan feitlik enige lewensituasie. Arbeidsonrus, misdaad, gebrek aan krag en water, COVID, werkloosheid, droogtes en dies meer, raak die leraar net soveel as die armste inwoner. Gevolglik was ek betrokke by verskeie krisis-insidente wat die totale bevolking raak en daarmee saam gereelde blootstelling aan, en ervaring met plaaslike-owerheidstrukture, politieke en arbeidsverteenwoordigers.  
Aan die begin wou ek graag sien dat lidmate vinnig geestelik groei, maar ek het besef dat mense tyd nodig het om te groei - Paulus se beeld van plant, natmaak en God wat laat groei, het mooi afgespeel in mense se lewens. Daarmee saam het ek ervaar dat huisbesoek ‘n onmisbare rol in veral plattelandse gemeentes vervul.
Sy intreepreek word beplan vir 10 Oktober. Egbert, ons is saam met jou en Almarié opgewonde en bid dat die Here julle sal seën en vashou tydens jul bediening in Goodwoodpark.
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
Klik op die grafika om meer inligting en skakels vir registrasie te kry. 
Bedienaarskursus: Jeug- en familiebediening. Hierdie kursus het in September afgeskop, maar studente kan steeds in Okt en Nov aansluit. Kontak jeug@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Vastetermynpos - senior bediening, Durbanville
Durbanville-gemeente is 195 jaar oud. Die gemeente staan in die hartjie van Durbanville, ‘n voorstad van Kaapstad wat vinnig ontwikkel en uitbrei. Daar is sewe aftreeoorde in die onmiddelike omgewing en groot getalle senior lidmate wat in hulle eie wonings woon. 
Ampspligte sluit in: bediening van die Woord en sakramente in die eredienste van die gemeente en aftreeoorde, begeleiding van Bybelstudiegroepe of Bybelkursusse, pastorale versorging deur huis- en siekebesoeke, sterwensbegleiding, begrafnisse en roupastoraat, toerusting van lidmate (bv. hantering van aftrede) en bemagtiging van senior lidmate wat nog aktief is om hulle roeping uit te leef. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Oktober 2021. Klik hier om die volledige advertensie te lees.
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
ALGEMEEN
Raakgelees: Google nou 23 jaar oud!
Google het hierdie week sy 23ste verjaarsdag gevier. Die soekenjinreus wat ons almal vandag goed ken, is op 27 September 1998 gestig deur twee Stanford Ph.D. studente, Sergey Brin en Larry Page. Toe hierdie twee studente destyds die soekenjin in hulle koshuiskamer ontwerp het, het hulle nie gedink dat hulle program sou ontaard in een van die mees winsgewende organisies ter wêreld met meer as 100 000 werknemers nie. 
Die woord Google het mettertyd sinoniem met internetsoektogte geword en is sedert 2006 as ’n werkwoord in die Oxford-woordeboek opgeneem. Dit kan ook in Afrikaans as ’n werkwoord gebruik word met ’n kleinletter-g.
Google spog met meer as twee triljoen soektogte per jaar. Met ander woorde, meer as vyf miljard soektogte word per dag, 228 miljoen elke uur of 63 miljoen elke sekonde gemaak. Die gemiddelde persoon gebruik Google ten minste vier keer per dag.
Maar nie alles wat Google se soekenjin kan doen, is noodwendig nuttig nie. As jy die regte frase tik, kan jy verskillende funksies vind wat net daar is vir die pret. Kyk gerus die video onder om meer daaroor te leer. 
Biddag vir bejaardes
Eerskomende Sondag is Biddag vir Bejaardes. Ons het vroeër vanjaar met verskeie rolspelers gesels oor die impak wat die COVID-19-pandemie op ons bejaarde lidmate gehad het. Kyk gerus na die video onder. Alhoewel inperkings sedertdien verslap het, toon navorsing dat daar steeds diepliggende trauma is.
1 Oktober 2021 is ook deur die Verenigde Nasies aangewys as Internasionale Dag van Ouer Persone om die denkwyse oor veroudering te verander.   Badisa het tans 23 dienssentrums en 47 residensiële sorgfasiliteite regoor die Wes- en Noord-Kaap, waar programme aan ongeveer 4200 ouer persone gelewer word. In 'n persverklaring noem hulle: "Ouer persone is ons land se waardevolle bates. Ons moet hulle oppas en na hulle luister, aangesien hulle kennis en wysheid ons fondasie kan versterk en ‘n beter toekoms vir almal kan verseker. Ons ouer persone het hul lewe daaraan gewy om ‘n toekomstige generasie groot te maak. Is dit nie tyd dat ons hulle toelaat om hul laaste jare met menswaardigheid te geniet nie?" Lees die volledige verklaring hier.
KUIERKANSE
Klik bo vir meer inligting.
TEN LAASTE
Dit is ons laaste uitgawe van die derde kwartaal, aangesien skole eerskomende Vrydag sluit vir die skoolvakansie. Die volgende VrydagNuus verskyn weer op 8 Oktober. Ons hoop julle geniet die (kort) ruskans.
Ons dra hierdie uitgawe van VrydagNuus aan al ons bejaarde lesers op. Luister hier na die Afrikaanse Christen Kerk se weergawe van Doen slegs U wil Heer, steeds een van die gewildste Halleluja-liedere. Maak hierdie week tyd en koester bejaardes in jou familie, gemeente en gemeenskap.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.