Lees deur internet, klik hier >>
16 April 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Vakature in Diensgroep vir Getuienisaksie 
Die NG Kerk in Suid-Afrika maak die vakature vir ’n PSD (predikant in sinodale diens) in die Diensgroep vir Getuienisaksie bekend. Klik op die webwerf https://www.kaapkerkadmin.co.za/poste om die uitgebreide verantwoordelikhede van die PSD: Missionale begeleiding en Afrika-ekumene asook die aansoekvorm af te laai. Die kandidaat sal onder meer verantwoordelik wees vir die begeleiding van gemeentes in hul missionale getuienis verantwoordelikheid, om Afrika Susterkerk-verhoudinge te handhaaf en die administrasie en bestuur van die Gesamentlike Diensgroep vir Getuienisaksie. Aansoeke sluit Maandag 24 Mei om 12:00.
'n Veilige ruimte vir kinders in Kleinmond
Die ouer kinders in Kleinmond staar 'n groot uitdaging in die gesig omdat daar geen hoërskool op die dorp is nie. Te veel kinders, wat uit arm huishoudings kom, keer (na 'n lang dag) huis toe sonder internet of 'n omgewing wat bevorderlik is vir leer. Die COVID-19-pandemie het hierdie uitdaging op baie maniere beklemtoon. Veral omdat behoorlike opleiding meer vra as maar net die voltooiing van 'n kurrikulum.
Die Sentrum vir Publieke Getuienis, in samewerking met die Kogelberg Educational Trust, glo dat hulle deel van die antwoord is op hierdie kwessie. Daarom het hulle 'n na-ure leersentrum op Mthimkhulu op die been gebring. Hierdie sentrum sal saamwerk met die skole wat die leerders reeds bywoon, om hulle te help en te ondersteun met hulle huidige studies.
Hierdie na-uurse leersentrum het amptelik sy deure op 6 April 2021 geopen en die leerders is hierdie week hartlik verwelkom. Klik hier vir meer inligting oor die sentrum.
Milestone Ministry at Home
DinkJeug Webinar in samewerking met Emmaus Sentrum bied op 4 Mei 'n webinaar met die tema Milestones Ministry at Home aan. David en Gloria Anderson sal die gesprek lei en predikante sal 3 VBO-punte hiervoor ontvang.
According to David, "Milestones Ministry provides a faith milestone as a marker along life’s journey that says: “This is something important, and God is here, too.” It is a faith formation practice for both home and congregations that helps all generations recognize God’s presence in everyday life. Milestones Ministry helps to nurture the Christian faith through life’s milestones and Provides a clear and usable model to connect faith with daily life experiences and promotes Christian faith formation and outreach into the larger community." 
David is 'n mede-direkteur by Milestones, het talle grade behaal en is die skrywer van etlike boeke en artikels oor geloofsvorming tuis en in gemeentes. Klik hier om te registreer. 
#imagine 2021
Het jy gewonder hoe #imagine in 2021 lyk? Hulle gaan local!
In 2021 word #imaginelocal in bykans 80 dorpe regoor Suid-Afrika aangebied. Gemeenskappe span saam om #imagine aan tieners in hul eie dorp te bring – hulle droom, glo en doen saam om ‘n verskil te maak.
Die meeste dorpe gaan hul #imaginelocal die komende naweek (17 April) aanbied met ‘n #imagine nasionale pakket wat vooraf opgeneem en versprei is. ‘n Paar dorpe in die Wes-Kaap het reeds weggespring die afgelope naweek, onder andere Drakenstein (Paarl en Wellington), Riversdal en Bredasdorp.
Soos die Drakenstein-span laat weet: “Ons drie stasies van Reconnect, Restore en Release het ons gehelp om God opnuut te ontdek deur aanbidding, lag en speel. Ons is die #imagine generasie!”
Hou #imagine op Facebook dop om die #imagine brander oor die land te sien spoel!
Uiteindelik digter: om God se bors te beproef
Theunis Botha skryf as volg oor die naweek met Frieda van den Heever by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington: "Walter Brueggemann het 'n boek geskryf met die titel Finally comes the poet en in tye soos hierdie het ons nie nog preke nodig nie. Ons het poësie nodig. Nie hogere kuns nie, rou woorde wat lewe gee: Die vermoë om die onvermoë van menswees uit te druk. Nie performance nie, open-heart surgery - alles veilig teen die bors van die Meesterkardioloog.
Kom deel in 'n naweek van stilword, luister en skryf in die geselskap van digters en profete. Digters en profete wat nie dink hulle God is van porselein gemaak nie. Om te huil, te lag, te slaan, te skree en te rus teen God se bors. In God se bors. Om vir 'n slag diep te kan asemhaal.
Wees diep gerus: Jy hoef nie aan jouself te dink as 'n kunstenaar om hierdie retraite mee te maak nie. Die wonderlike digter Mary Oliver het haar instruksies vir die lewe so verwoord: 'PAY ATTENTION. BE ASTONISHED. TELL ABOUT IT.'
Wat is jou gedig? Wat is jou vermoë om die onvermoë van menswees uit te druk?"
Besoek die webblad vir meer inligting. Vir besprekings, stuur 'n e-pos aan Derine Piek of skakel 021 873 2151. 
Nagmaal vir kinders
Kix Kinderbediening deel ‘n lekker geselsblokkie wat die nagmaal meer verstaanbaar vir kinders kan maak. Die inligting is vertaal met toestemming van Together at Home - Church Resources. 
GEMEENTENUUS
Aggeneys-gemeente loods projek
Sarizé Retief, predikant by Aggeneys, laat weet dat hulle 'n kruideniersmandjieprojek loods vir boere binne 'n 50km radius van die dorp, waar die droogte al vir meer as agt jaar heers.
"Ons reënseisoen kom nou tot 'n einde en die meeste boere het min of geen reën ontvang nie. Daarom loods ons hierdie Borg 'n kruideniersmandjie-projek om ons boere in die dorre Boesmanland te help en te ondersteun. Hierdie hulp gee weer vir hulle hoop dat hulle nie alleen in hierdie droogte is nie en dat daar wel mense is wat omgee. Daarom nooi ons ander gelowiges wat tydens die droogte wil help om asseblief die projek te ondersteun."
Indien jy belangstel om by hierdie projek betrokke te raak en 'n koopbewys ter waarde van R350 te borg, kontak vir Sarize by sarize1@hotmail.com. Die koopbewys sal by die naaste supermark aangekoop word en aan die boere versprei word. 
Bergsig kinders - Glow Big
Die gemeente van Durbanville-Bergsig vertel dat hulle gemeente ’n lekker plek is met lekker mense. Daar is altyd nog ’n plan om dinge beter te maak by hierdie geloofsgemeenskap.
“Ons dank die Here dat Stephanie vir die graad 5 & 6 Glow Kidz ’n nuwe ruimte geskep het, waar hulle meer prakties van die Woord kan leer. Ons  besef die ouderdomsgroep is tussen die boom en die bas - tweens. Daarom bied ons nou op Vrydae, Glow Big aan vir die spesiale groep.”
Verlede week het die kinders ’n plaas besoek en op hierdie wyse meer van die Goeie Herder en sy skape geleer. “Dit was ’n baie goeie leersame ervaring gewees!” Lees meer hieroor in die gemeente se jongste Bergsig Boodskap.   
Foto: Jannie Coetzee vertel die kinders meer oor die skape wat gelam het op Vrymansfontein.
Die kerk: Plesierboot of seilboot?
Henri Meyer van Mosselbaai Moedergemeente moedig mense aan om God se hande en voete in die wêreld te wees in een van sy jongste plasings op Henri Meyer se Blog.
"Ek is partymaal so daarop gefokus om mense in die kerk te kry, dat ek vergeet waaroor dit regtig gaan. God het ‘n plan vir hierdie wêreld. Sy plan is haarfyn en in detail. Hy weet wat Hy doen.
Iemand het eendag gesê dat die kerk partymaal baie soos ‘n plesierboot is. ‘n Plesierboot adverteer en doen alles om soveel moontlik toeriste op die boot te kry. En, as hulle op is, dan word hulle ge-entertain. Dis flieks en etes en konserte, jy noem dit. Nee, die kerk moet eerder soos ‘n seilboot wees. ‘n Skip wat van sy koers seker is, aangedryf deur die wind van die Gees. Die bemanning werk baie hard om hierdie boot aan die vaar te hou - hulle hande vol eelte van al die toue werk en so aan.
Die beeld van die plesierboot en die seilboot is ‘n beeld wat ons help om dit te verstaan. Maar dit is ‘n beperkte beeld. Ons moet eintlik van die boot afklim. Ons moet in die wêreld in. Dink aan Jesus. Hy was heeltyd tussen die mense. Besig met wat? Besig om sy Vader se plan te volbring."
Lees Henri se volle skrywe hier
Gemeente plant bome
Suidpunt Struisbaai/Agulhas se gemeente vertel dat hulle lidmate onlangs die voorreg gehad het om ‘n boompie te plant as deel van die dorp se verfraaiingsprojek. "Bome word geplant nie net om die gemeenskap mooier te laat lyk nie, maar omdat dit voordelig is vir mense en die omgewing."
“Dit is wonderlik om te sien hoeveel gemeentelede aktief betrokke is in ons gemeenskap. Dit vat inderdaad baie lede om die Liggaam te wees en God se werk hier te doen. Dankie ook aan die ander gemeenskapslede en burgemeester Paul Swart.” 
Hierdie projek beoog om ‘n nuwe baken van hoop te word vir die dorp en wil graag ander gemeenskappe aanspoor om dieselfde te doen. Klik hier vir meer foto’s van die geleentheid. 
Suiderkruisers bederf gesondheidswerkers
Die gemeente van Plettenbergbaai-Suiderkruis het vroeër in die jaar aan al die persone by MediClinic en Plett Clinic (bykans 100 individue) 'n geskenkpakkie oorhandig as 'n gebaar om te sê hulle bid vir ieder en elk wat tans voor veg teen die COVID-19-pandemie.
"Ons besef dat elke dokter, verpleegster, fisioterapeut, kok, skoonmaker, sekuriteitswag, administratiewe beampte ensovoorts, 'n kardinale rol speel in die gesondheidsdiens. Dankie aan elke lidmaat wat 'n bydrae gemaak het! Julle gebaar is met die grootste waardering ontvang. Ons wil met al ons gawes die gemeenskap dien waarbinne die Here ons geplaas het. Ons dra mekaar in gebed!"
Besoek die gemeente se Facebook-blad vir meer foto's.
Leef gasvryheid uit na buite
Weens COVID-19 kon die gemeente van Vredenburg-Akkerdyk se sopkombuis nie meer bedryf word nie. Maar dit keer nie hulle Diens van Barmhartigheid om die minder bevoorregtes in hulle gemeenskap te help nie. Hulle is tans besig met ‘n proefneming waar hul een keer per maand ‘n blikke vis/vleis en ‘n halwe brood gee vir elke persoon wat in die verlede hulle sopkombuis besoek het. “Ons het reeds 76 blikkies ontvang en sal dit maandeliks begin uitdeel sodra ons 100 slaan. Baie dankie hiervoor!” 
Die gemeente vra vir ander om die geleenheid aan te gryp en gasvryheid uit te leef na buite. Donasies van pilchards en blikkies meatballs of baked beans kan gerus by die kerkkantoor afgelaai word. Kontak 022 713 1314 of info@akkerdykkerk.co.za vir meer inligting. 
EKOLOGIE
Ons vier Aardedag
Op Vrydag 22 April vier ons weer wêreldwyd Aardedag; iets wat alreeds vir meer as 50 jaar bestaan en in 1970 begin is. Dis verblydend om te sien hoe baie van veral ons jongmense entoesiasties aan hierdie vieringe deelneem. Ons Groen Span het vanjaar weereens baie moeite gedoen met mooi plakkate met waardevolle idees en inligting oor watter impak ons gedrag op ons plante en diere het en hoe dit wat ons eet die skepping beïnvloed. Ons deel ook graag weer die eko-pakkie soos verlede jaar. Lees meer hier
Steur jou gerus aan die “Earth Now”-app
Ons president moedig ons gedurig aan om die COVID Alert SA-app af te laai, sodat hulle die verspreiding en blootstelling aan die COVID-19-virus kan monitor – iets wat van lewensbelang is. Ons eko-korrespondent David Botha vra egter die vraag: Gaan hulle ook die Earth Now-app aflaai en hulle aan dié data steur en daadwerklik en haastig die veranderinge aanbring wat nodig is om Suid-Afrika se koolstofvoetspoor kleiner te maak?
Die 3 biljoen slimfoongebruikers wêreldwyd het almal toegang tot die jongste NASA-data-inligting oor die kritiese toestand waarin die aarde verkeer, maar hoe ernstig word dit opgeneem? Lees meer hier
CLF-Elise Tempelhoff-toekenning
Veels geluk aan David Botha, emeritus VGK-predikant en Getuienisaksie se eko-korrespondent van die afgelope jare, met die CLF-Elise Tempelhoff-toekenning vir Omgewingsbewaring 2021. Hy het dit ontvang ter erkenning van sy groot bydrae om teologiese gesprek oor natuurbewaring te stimuleer en ’n Christelike standpunt oor die ekologie te help ontwikkel binne die konteks van die ekumeniese kerk in Suid-Afrika. Lees meer hier.
Foto: David afgeneem by een van hulle Outeniqua geelhoutboompies.
Seaspiracy
Die Netflix-dokumentêr Seaspiracy het verlede week op die skerms verskyn en lewer ‘n indiepte blik op die oorsake van die verslegtende toestand van ons oseane.
Die film volg vir Ali Tabrizi en sy vrou Lucy waar hulle ondersoek instel oor wat die werklike gevolge is van kommersiële visvang, walvisjag, bodem-treilvissery, haaivinstropery en visplase en wat dit gaan beteken as die wêreld nie hierdie kwessies ernstig gaan opneem nie.  
"As die huidige visvangstendense voortduur, sal ons oseane teen 2048 feitlik leeg wees,” vertel Ali. “Ons moet alles in ons vermoë doen om ons oseane te beskerm. Die see is nie net vol skaars en wonderlike natuurlewe nie, maar propvol gesonde ekosisteme wat help om ons planeet te ondersteun.”
Die dokumentêr is op Netflix beskikbaar. Klik hier vir meer inligting en statistieke wat in die film gedeel is of kyk na die voorskou van Seaspiracy onder. 
GEBEDSVERSOEK
NUUS VAN ONS FAMILIE IN AFRIKA
Ons Geloofsfamilie in Afrika: BOTSWANA
As jy weer deur Botswana reis en jy sien die bordjie Mochudi regs teen die pad, net noord van die hoofstad, Gaborone, kan jy gerus daar indraai en jou Tswana-geloofsfamilie gaan ontmoet. Die Dutch Reformed Church in Botswana (DRCB) is die oudste van die susterkerke in ons kerkfamilie buite die Suid-Afrikaanse grens. Die kerk se geboorte dateer uit 1877 toe die eerste sendeling van die NG Kerk, ds. Pieter Brink, met die sendingwerk by Mochudi in Botswana begin het. Lees meer van hierdie interessante kerk hier.
Foto: Die nagmaalviering van 40 jaar as onafhanklike kerk in 2017.
VAKATURES
Child and youth care worker
Durbanville Children’s Home, a program of BADISA, has the following vacancy. Minimum requirements include: Grade 12 certificate, FET Certificate in child and youth care work, fluent in both English and Afrikaans and SACSSP registration. Closing date: 18 April. Read the full advert here
Registered social worker
Durbanville Children's Home is also looking for a social worker registered with the SA Council for Social Services Professions. A degree/diploma in Social Work, appropriate experience, knowledge of Statutory Procedures, Children’s Act and Family Reunification, valid police clearance and a driver’s license are some of the requirements. Closing date: 18 April. Click here for more information. 
Verpleegkundiges, Calitzdorp
Vygieshoftehuis in Calitzdorp beskik tans oor vakatures vir 'n geregistreerde en ingeskrewe verpleegkundige. Die aangewese kandidate moet oor die volgende beskik: goeie kennis van ouer en gestremde persone se fisiese, psigiese en liggaamlike gesondheidstoestande, kennis en toepassing van geskeduleerde medikasie en sterk leierseienskappe. Registrasie by SARV en persoonlike indemniteitsversekering is noodsaaklik. Aansoeke sluit 20 April. Lees meer hier
Saakgelastigde, Kaapstad 
Die gemeente van Tafelberg (dolerend) adverteer tans die pos as saakgelastigde. Die geskikte kandidaat moet onder andere die rekenkundige stelsel van die gemeente kan byhou, boekhouding hanteer en met diensverskaffers skakel. Rekenaargeletterdheid en kennis van webwerfonderhoud en sosiale media sal 'n aanwins wees. Aansoeke sluit 30 April. Klik hier vir meer inligting.
Klik bo vir meer inligting.
PUBLIKASIES
Book launch in Stellenbosch
The book Broken bodies and redemptive tables - The Lord’s Supper and its theological, historical and socio-political dimensions was launched in Stellenbosch at the end of March. This is the second publication in the Stellenbosch Theological Reflection series. Watch the launch event here.
Seen at the launch were (from left to right) editors Sipho Mahokoto, Robert Vosloo and Marnus Havenga. The book is available online from  Bible Media and takealot.com.
NUUSBRIEWE
Klik bo vir Inclusive & Affirming Ministries se nuusbrief.
Hiermee nuus van Missie Japan.
ALGEMEEN
Raakgelees: Man uitoorlê deur slim hond
Florian Beck wou sy Australiese herdershond Morty se gehoorsaamheid op die proef stel deur te kyk of sy troeteldier wel wag om sy bederfie te eet nadat hy hom beveel het om te “los.” Selfs al verlaat hy die kamer vir 'n rukkie...
Die video onder wys watter ongelooflike situasie die hondekamera toe vasgevang het. Die 4-jarige Morty wag slegs ‘n paar sekondes voordat hy sy lekkerny verslind. Daarna skarrel hy gou na die laai waar hy onthou die lekkernye gebêre word, maak die laai vinnig oop, haal nog ‘n lekkerny uit en plaas dit op die presiese plek waar sy eienaar die vorige een gelos het. Morty maak selfs die laai weer toe en wag stroopsoet op sy eienaar asof niks gebeur het nie.
Morty is in die kuberwêreld bekend vir sy intelligensie. Klik hier om nog 'n video te kyk oor hoe Morty sy eienaar voor slaaptyd help of hier om te sien hoe Morty sy eienaar na 'n lang dag ondersteun.   
BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
Hartenbos hou basaar
Hartenbos-gemeente laat weet dat hulle basaar op Saterdag 1 Mei plaasvind. Maak gereed vir basaarbederf uit die boonste rakke met poeding, koeke en terte, pannekoek, kerrie en rys, worsbroodjies en tjips. Loer in by die groentetent en De Rust-gemeente se vleistent of ontspan in die teetuin. Op Vrydagmiddag word ribs en tjips aangebied teen R75 per persoon. Vooraf-bestellings moet by die kerkkantoor gedoen word by 044 695 1942.
Kry & Ry by George Tuinedal
Moenie Tuinedal-gemeente se gewilde wegneemetes misloop nie. Heerlike vetkoeke, kerrie en rys, sosaties, pannekoeke en poedings is op die spyskaart. Klik op grafika onder om die bestellys aanlyn te voltooi.
Ondersteun gerus NG Kerk St. Helenabaai se inrybasaar.
TEN LAASTE
Vir die volgende paar weke van Paastyd haal ons inspirasie uit Woord & Fees om sekere betekenisvolle mylpale gedurende hierdie spesiale tyd op ons kerkkalender te beklemtoon. Eerskomende Sondag staan ook bekend as Jubelsondag en Psalm 66 besing die groot werk van God en hoe Hy die verhouding met sy volgelinge telkens vernuwe.
Dink vandag aan die Here se uitnodiging om sy missie vir die wêreld deur ons getuienis oor Hom deel te neem. Mag ons selfs in hierdie uitdagende dae die tyd vind om oor God se goedheid te jubel. Brons beeld Jubilate deur Philip Jackson.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.