Subscribe to our email list
 15 April 2016

Beste Leser
“Prayer is not asking.
It is a longing of the soul.
It is daily admission of one's weakness.
It is better in prayer to have a heart without words than words without a heart.”
~ Gandhi
Nelis Janse van Rensburg
SINODENUUS
1. K
ultuurverandering vir NG Algemene Sinode

Diverse behoeftes binne die NG Kerk noodsaak opnuut nadenke oor die Algemene Sinode se strukture. Tog is ons aan mekaar verbonde omdat ons glo dat die eenheid van die kerk 'n belangrike Bybelse opdrag en kragtige getuienis is.
Aan die woord is Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM). Om die kultuur van die Algemene Sinode aan te pas, geniet 'n inligtingsbrief om predikante betyds in te lig oor verwikkelinge op die nasionale kerklike toneel, 'n predikantebyeenkoms by Moreletapark-gemeente (merk 3-6 April 2017 solank op die kalender) sowel as deelname aan die "Die SA en Namibië waarvoor ons bid"-veldtog van die SA Raad van Kerke onder meer aandag. 
Die jongste Kerkbode het meer hieroor. Lees dit ook aanlyn in die nuwe e-Kerkbode
2. NG Kerk Algemene Sinode Handelinge Beskikbaar
Die volledige Handelinge van die Algemene Sinode van Oktober 2015 is nou beskikbaar op die NG Kerk se webwerf. Dit kan by hierdie skakel afgelaai word.
Die gedrukte Handelinge sal binne ongeveer drie weke vir bestellings beskikbaar wees. 
3. Ringe saam op soek na Wil van God
Alle ringsvoorsitters het verlede week inligting oor ringsvisitasie se voorgestelde verloop en prosesse ontvang. Gielie Loubser verduidelik wat hierdie visitasie behels:
Ringe se visitasie (besoek) aan gemeentes is na die 2015 sinodesitting verander. Dit is in wese 'n kom-kuier geleentheid by gemeentes om as ring die gemeentes te ondersteun, saam te vier wat die Here in en deur gemeentes doen, asook 'n gesamentlike soeke na oplossings vir uitdagende sake in gemeentes.

So 'n besoek deur die ringskommissie vind een maal elke vier jaar plaas, dit strek oor twee dae en betrek verskillende groepe waarmee gesprekke gevoer word. Mag elke gemeente waar hierdie visitasie binnekort begin, dit inderdaad as positief en ondersteunend beleef.
Luister gerus in die kort video-opname wat Charl van Rensburg (Ring van Swellendam) hieroor sê. Klik hier.
Braam Hanekom
Andre Roux
4. Wat gaan aan in die Wêreld?
Die vraag word al meer gevra hoe effektief die kerk sy getuienis laat hoor, maar ook of hy sy publieke rol genoegsaam speel as deel van die burgerlike samelewing. By die Sentrum vir Publieke Getuienis (SPG) worstel ons veral met drie vrae:
* Wat is tans aan die gebeur en hoekom gebeur dit? – Plaaslik en internasionaal 
* Watter implikasies het dit vir die plaaslike gemeente en hoe kan ons as plaaslike gemeente ʼn verskil maak?
* Hoe kan ons steeds ʼn konkrete evangeliese getuienis in ʼn sekulêre land lewer?
Op 26 April bied die Sentrum vir Publieke Getuienis ʼn eendag VBO-kursus aan waar hierdie en ander vrae hanteer sal word. Die kursus word gelei deur Braam Hanekom van die SPG, bygestaan deur prof André Roux van US se Instituut vir Toekomsstudies en Mike Burnard van INcontext Ministries. Skryf in voor of op 21 April - klik hier.
4. Arbeidsbediening in Vredenburg Floreer!
Landa Bester, werksaam by Arbeidsbediening in Vredenburg aan die Weskus, se ywer en entoesiasme is aansteeklik. Sy is verantwoordelik vir die geestelike versorging van werknemers by 28 besighede op die dorp, asook vir die werknemers van die verskillende afdelings by Transnet en by die Saldanha Hawe. Sy is ook betrokke by Straatwerk se poppie-projek, “Valuable for Jesus”, en het alreeds meer as 7 000 skoolkinders daarmee bereik. Sy vertel verder in die onderstaande video
Landa Bester - Arbeidsbediening Vredenburg
Ida Nel
5. Badisa: Vennoot in Gesondheidsorg
Ida Nel, een van Badisa se koördineerders: bejaardesorg, is deel van hierdie gesamentlike bedieningsaksie van die VGKSA (Kaapland) en die NG Kerk (Wes-Kaapland) se netwerk wat fokus op gesondheidsorg. In 'n onderhoud met Ida vertel sy: "Ek was bevoorreg dat ek reg deur my loopbaan knap toesighouers en mentors gehad het wat bygedra het tot my professionele groei en ontwikkeling. Die maatskaplikewerk beroep bied soveel geleenthede om diensbaar vir die Here te wees terwyl jy ’n professionele diens lewer." Lees hier verder ...
ALGEMEEN
1. Jan Krielskool Beste in SA!
Die bekende Jan Krielskool in Kuilsrivier is pas as die beste spesiale skool in die land aangewys - groot rede tot dankbaarheid! Lees gerus Anika Marais se berig in Die Burger hier.
Die skool was die NG Kerk se inisiatief in reaksie op die predikant-seuntjie Jan wat in 1925 gesterf het aan epilepsie. Oor baie jare was dit die NG Kerk-familie se amptelike strukture (Armesorg, Badisa, SKDB), gemeentes en welwillende lidmate wat met dankoffers en donasies die skool op- en uitgebou het tot wat dit vandag is. Hierdie spesiale skool skep steeds 'n omgewing waar leerders met leerprobleme, fisieke gestremdhede, outisme en aandagafleibaarheid kan floreer. Besoek hulle webwerf hier.
Fanie Herholdt, direkteur van die Jan Kriel Instituut, skryf: "Die erkenning wat die skool te beurt geval het, stem ons tot dankbaarheid, omdat dit ‘n bevestiging is dat die Here wat die stille barmhartigheid in die verborgenheid sien, ook in die openbaar beloon. 

Die skool se netwerk van donateursvriende, ‘n ruim befondsing en die bestuur van die uitgebreide eiendom word steeds deur die NG Kerk behartig. Seënwense!
2. Fresh Expressions: Mission Shaped Ministry
Die Fresh Expressions-span nooi jou graag na ʼn kursus wat begin op 22-23 April, en dan verder gaan op 10 en 11 Junie, 19 en 20 Augustus en 28 en 29 Oktober. Dit vind plaas op Vrydae 18:30 – 22:00 en Saterdae 08:30 – 16:00.
Die hoofkursus van die Fresh Expressions of Church-beweging, genoem msm (mission shaped ministry), sal predikante, gemeenteleiers, jeugwerkers, getuieniskommissies, pioniers, sendelinge, ensovoorts help om hul gemeentes tot groter missionaliteit te lei. Kry meer inligting hier en skryf hier in
3. Medalje vir Bybelvertaler!
Prof Hermie van Zyl, navorsingsgenoot van die Fakulteit Teologie aan die UV, het onlangs die Ds Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang vir sy betrokkenheid by Afrikaanse Bybelvertaling. Hy was onder meer deel van die span wat aan die Verwysingsbybel gewerk het, een van die vertalers van die Afrikaanse Bybel vir Dowes en is betrokke by Die Bybel: 'n Direkte Vertaling waaraan tans gewerk word.
Prof Van Zyl was oa ook deel van die Bybelgenootskap se Raad van Direkteure. Die medalje gee op ʼn tasbare manier erkenning vir die toewyding en kundigheid waarmee hy Bybelvertaling aangepak het. Lees hier meer. Baie geluk!
(Met dank aan e-Saaier van April 2016)
4. Aflos op Korttermynbasis
Ds Barend Piek, wat in Jansenville in die Oos-Kaap woon, laat weet dat hy beskikbaar is vir Pinkster of aflosdiens op 'n korttermynbasis by enige NG gemeente waar daar so 'n behoefte is. Hy is 67 jaar oud en is 'n emeritus van die NG Kerk wat voorheen onder meer in Graskop (Oostelike Sinode), Prieska en Middelburg predikant was. Kontak Barend by 072 185 4297 of piek.barend@gmail.com.
5. Raakgelees: Van Gogh se reis met God
Vir jare was min bekend oor die skilder Vincent van Gogh se reis met die Christelike godsdiens. Die skrywer William Havlicek vertel: "Vincent’s letters portray a very different story than the popular tale of the mad artist who cuts off his ear. What emerges instead is a story of selfless loyalty, the epitome of the Gospel’s sacred counsel – ‘love one another.’" 
Selfs al is dit net om die uitsonderlike skilderye met Christelike temas (sien een voorbeeld onderaan) te waardeer, kan belangstellendes die volledige artikel, met erkenning aan "Godreports", hier lees.
Barmhartige Samaritaan
Die Barmhartige Samaritaan - Van Gogh
Vryheid van spraak
6. Vryheid van Spraak en Sosiale Media
Dit lyk asof onvolwasse gesprekvoering en venynigheid net so sterk onder Christene voorkom as elders. In 'n tendensverslag van ekerk probeer hulle om 'n bydrae te lewer tot die gesprek oor goeie, sinvolle en broodnodige deelname van Christene op internet-forums en veral sosiale media. Hoe lyk die kwaliteit van die dissipelskap in ons geledere? Interessante stof tot nadenke, sowel as voorstelle - klik hier. (Met dank en erkenning aan ekerk).
Twitter Facebook YouTube
The Good Things Guy-kuns
7. The Good Things Guy ... Menswaardig?
'n Paar sinne in 'n artikel oor 'n besonder bekwame en talentvolle kunstenaar (sien langsaan) plaas die saak van menswaardigheid, waarop ons NG Kerk-familie tans fokus, weer sentraal op die tafel.
Want sien, dié kunstenaar, Michael Yeltsin,
is ook haweloos. Op straat in Kaapstad: "I’m not homeless when I go to the bank. I have no money, but they speak to me and I feel part of another world – the world that you’re from. It’s nice to be seen as if I’m a human."
Belangstellendes kan hier meer lees.
Oorweeg dan asseblief ook ondersteuning van Straatwerk se werk om 'n sigbare Christen-teenwoordigheid in Kaapstad se middestad te wees. Besoek hul webwerf hier.

GEMEENTENUUS
1. NG Gemeente Uniondale vier 150 Jaar!
Die naweek van 15-17 April vier die NG Gemeente Uniondale met dankbaarheid teenoor die Here sy 150ste bestaansjaar met die visie “Gelei deur die Gees van Christusgroei ons in Liefde”. Kontak die kerkkantoor by 044 752 1177 vir meer.
NG Uniondale 150ste
2. Oesdiens op Koringberg
Die NG Gemeente Koringberg het al vir meer as 10 jaar die gebruik om die plantseisoen met 'n vroeë oggenddiens in die middel van die week te begin. Boere en hulle werkers kom dan saam om die plantseisoen se werksaamhede aan die Here te wy en sy seën en beskerming te vra vir hierdie druk tyd wat voorlê. 
Lees gerus hier verder wat Arnold van der Westhuizen se boodskap op Woensdag 13 April aan die boerderygemeenskap was.
Koringberg-boerderygemeenskap by Oesdiens
Koringberg-boerderygemeenskap Woensdagoggend in die kerk
New Life, old life
3. NG Gemeente Stellenberg bied aan ...
3.1 Lewe na 'n Egskeiding

Hierdie reeks, wat op 12 April begin het, is 'n gratis ondersteuningsprogram vir mense wat besig is, of wat reeds geskei is. Belangstellendes is welkom om een of meer sessies by te woon.
19 April: Praktiese oorlewing tydens en na jou egskeiding - regsaspekte
26 April: Finansies en begroting
3 Mei: Kinders, ekse, nuwe verhoudings en hersaamgestelde gesinne.
Aanbieders: Etiennette Benadé (mediator), Anita Smit (finansiële beplanner) en Rudolph van Schoor (Lewenstrategie afrigter). Bespreek by Anneke 021 976 8029 of sos@stellenberg.co.za 
Islam
3.2 Islam en Ekstremisme
Stellenberg bied hierdie gespreksgeleentheid aan op Maandag 25 April om 19:00 in die kleinsaal as bydrae tot 'n beter verstaan van Islam, ekstremisme en die implikasies vir ons eie toekoms.
Braam Hanekom het onlangs 'n konferensie getiteld "Countering Violent Extremism - Mujahada and Muslims’ responsibility" in Brussels bygewoon.  Dit is deur die KU Leuven en die Dialogue Platform in Brussels aangebied en het in die week voor die bomontploffings in Brussels plaasgevind. Hy gee sy opsommende indrukke, asook die lesse wat Suid-Afrika hieruit kan leer. Ruim tyd vir gesprek en vrae. Geen besprekings nodig. Toegang is gratis.
4. Worcester: Lydenstyd deur die Kunste 
Die afgelope drie jaar dra die Moedergemeente in Worcester die boodskap van Lydenstyd beeldryk uit deur die kunste. Vanjaar was die fokus spesifiek op drama, aangevul deur 'n solo uitstalling van 'n reeks kunswerke gefokus op die plaasvervangende sterwe van Christus. 
Nioma Venter skryf: "Dit het ons uitgedaag om na te dink oor Christus wat ons 'toestande en kontekste' op Hom geneem het en gesterf het sodat ons deur hierdie omstandighede heen, hoop kan hê." Belangstellendes kan hier meer lees. Enkele foto's onderaan (sowel as op Facebook) gee 'n verdere kykie ...
Lydenstyd skilderye
Kruis-uitbeelding Daniel Louw-kunswerk
PREDIKANTENUUS
Missie Japan se Stéphan ingehuldig vir Pastorale Sorg!
Ons is saam met Stéphan en Carina van der Watt, Tobie en Annalie de Wet en die res van Missie Japan se mense diep dankbaar. Stéphan se inhuldigingseremonie op 8 April by Kobe Gereformeerde Teologiese Kweekskool as voltydse dosent in Pastorale Teologie en Sorg (ingesluit sy professorale intreerede in Japannees!) het baie geseënd verloop. Stéphan is dankbaar vir die groot geleentheid, en opgewonde oor die pad vorentoe. Ons bid julle baie seën toe!
Stephan inhuldiging
Stéphan tydens die inhuldiging, met Tobie de Wet heel regs
Van der Watts en De Wets
Die Van der Watt-gesin saam met hul ouers, Annalie en Tobie de Wet
STJ
NUUSBRIEWE
1. Stellenbosch Teologiese Joernaal
Die nuutste uitgawe (Vol. 1, Nr. 2) van Stellenbosch Teologiese Joernaal (STJ), voorheen as die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (NGTT) bekend, is van vroeër vanjaar gratis beskikbaar by www.stj.ac.za.
Hierdie uitgawe (wat 36 artikels bevat) sluit ’n noemenswaardige versameling in oor hoe ons die Bybel lees en verstaan, asook ’n afdeling met bydraes vanuit ’n konferensie oor stedelike teologie. Ons is ook trots om prof Dirkie Smit se gedenklesing ter ere van Russel Botman, die gewese rektor en visekanselier van die US, in hierdie uitgawe te plaas. Outeurs word van harte uitgenooi om manuskripte via die aanlyn sisteem in te dien. Sien die aangehegte pamflet vir meer inligting.
TEO-logo
2. TEO Nuusbrief
In die jongste uitgawe van die Universiteit Pretoria se Fakulteit Teologie-nuusbrief is daar onder meer bydraes oor kritiese denke wat nie geloofsvervreemdend hoef te wees nie (klik hier), oor die wil van God en Bileam se donkie (lees verder) en oor 'n Hooglied-kongres van 31 Augustus tot 2 September in Pretoria (sien hier meer). 
3. Bybel-Media Nuusbrief
Bybel-Media se fokus is hierdie keer op die jongste Kerkbode, die Mei-uitgawe van LiG, drie puik publikasies en nuus oor Nehemia Bybelinstituut (NBI).
Lees die jongste nuus uit Hans Steyn se pen aangeheg. Klik gerus ook op die berigte onder om meer inligting te kry.
PUBLIKASIES
Hier is nuus van ons amptelike media-vennote, Bybel-Media en CLF
Dis Moedersdag op Sondag 8 Mei. Wat van 'n intekening op LiG as geskenk aan jou ma? Klik hier ...
Onthou ook van die Bybelkalender met trooswoorde, wat gratis afgelaai kan word.
Oudste koerant betree nuwe fase
"Kerkbode betree 'n nuwe fase om die toegang tot kerknuus te vergemaklik. Op dié manier kan lidmate en leraars eerstehands uitvind wat in die kerkwêreld aan't gebeur is, en hoef hulle nie meer op die sekulêre media daarvoor staat te maak nie.
Die nuwe e-Kerkbode word 'n tweelingpublikasie van die gedrukte Kerkbode." So skryf Danie Mouton (voorsitter, BM-direksie) en Pieter Fourie (Uitvoerende Hoof). Lees gerus hier meer.
Moedig lidmate en belangstellendes gerus aan om in te teken links op die tuisblad
LiG Mei 2016 Kerkbode 15 April 2016
Mosaics on Love Jesus, Here van die Koninkryk Kleurmeditasies vir Pinkster
2. Christelike Lektuurfonds (CLF)
2.1 Aardedag-publikasies

Met die oog op Internasionale  Aardedag,  wêreldwyd op 22 April gevier, moet ons as Christene besin oor ons aandeel in die bewaring van die skepping wat God aan ons toevertrou het.  Bestel gerus CLF se twee gratis pamflette om gemeentelede en die algemene publiek in jou omgewing van hierdie belangrike onderwerp bewus te maak.
Besoek CLF se webwerf by www.clf.co.za of bestel pamflette by info@clf.co.za of skakel 021 873 6964 vir meer inligting.
Ons woon in die aarde Water is lewe Wat is die verskil tussen kerke wat groei en kerke wat sterf?
2.2 Verskil tussen Kerke wat Groei en Kerke wat Sterf
Doemprofete glo die einde van die kerk is in sig. Ander wys op die fassinerende groei wat wel in baie kerke plaasvind. Braam Hanekom vra in sy nuutste publikasie eerlike en soms konfronterende vrae oor wat die verskil tussen hierdie kerke sou wees en laat die fokus helder en duidelik val op Christus as die fondament waarop alle volhoubaar-groeiende kerke staan, maar kyk ook na belangrike lesse wat die bedieningspraktyk ons geleer het. Kontak CLF by 021 864 3678 of order@clf.co.za om te bestel.
KUIERKANS
Ons gemeentes vier en kuier altyd graag!  Ondersteun gerus - klik onder.
NG Constantia Teddiebeerfees
NG Constantia
NG De la Bat Basaar
NG De La Bat 
Joshua na die reen
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Joshua na die Reën
Joshua na die reën is 'n sanger, musikant en liedjieskrywer van Pretoria. Hy wil hê sy musiek moet mense weer laat droom, soos diegene wat hom al sien optree (en getuig het), inderdaad sal kan vertel. Dankie vir jou spesiale VrydagNuus-bydrae, Jacques!

Droogte

Die afgelope 6 maande was 'n tyd van min reën. Droogte. En ek vermoed dat dit nie net sigbaar is in die natuur nie, maar ook in mense se harte. Die omstandighede waarin baie moet oorleef, die politiek, geldsisteme, lang werksure en min gesinstyd, die kyk in die meeste mense se oë. Ek het myself die afgelope twee jaar baie keer op 'n plek bevind waar ek soms net wou weghardloop van alles af, wou gaan bly in 'n klein huisie met 'n groentetuin in die berge iewers naby George, en net vergeet van alles wat 'n mens so kan onderkry.
En toe kom die gedagte by my op dat ons almal hier is waar ons is vir 'n sekere rede. Dis al so holrug gery, ek weet. Maar wat as die kern van ons doel in die middel van die droogte vir ons wag? Sal ons aanhou weghardloop van die dinge wat ons eintlik in die gesig moet staar? Die moeilike gesprekke wat ons dalk met die mense om ons moet hê wat jare se skeiding gebring het? Die "jammer" wat ek mense skuld? Ek wil graag meer dankbaar wees vir wat ek het, en tevrede wees vir waar ek myself bevind. Ek wil die skat in die droogte gaan soek.

"Soms wil ek net loop
waar die velde in my groen is, die lug vol hoop
Maar om die droogte in die oë te kyk
O! leer my die kuns om te staan deur tyd

Breek my hart oop laat dit reën
soms moet mens eers sterf om werklik te kan leef
Strooi my vrees dan oor die see
Laat die wind my neem, laat die wind my neem."
                        -JNDR-

Vir elke leser wie se ma of ouma kleintyd Hallelujas gesing het - en in wie se ore dit soms op die mees onverwagse tye steeds weerklink.

"Strome van seën van bowe, dit het die liefde beloof.
Heerlike tyd van verkwikking, vloei uit ons Heiland en Hoof."

Luister hier.
VrydagNuus-groete aan jou.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za