Subscribe to our email list
Lees deur internet, klik hier >>
 20 Januarie 2017
kommunikasie@kaapkerk.co.za

Beste Leser
"Die engele dans voor Hom uit.
Die son kom op tot sy eer.
Die sterre ontvang hulle lig van Hom:
Here Jesus Christus, die Koning.
Wie is ek om met Hóm te mag praat in gebed?"
- J Pernetter

SINODENUUS
1. Spiritualiteit die fokus van NG Wes-Kaapland leiers
Die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland, tesame met die diensgroep-voorsitters, het Maandag en Dinsdag (16 en 17 Januarie 2017) opsy gesit om die jaar se werksaamhede by Volmoed in 'n moment van afsondering voor God te begin olv Theunis Botha en Marié Britz. Die klem was op spiritualiteit en stilte en ons vertrou dat dit 'n geseënde fokus- en rustyd was. 
Ons wens Quintus Heine (aktuarius) en Guillaume Smit (Ondersteuningsdienste voorsitter), wat beide weens onvoorsiene omstandighede nie teenwoordig kon wees nie, sterkte toe.
Moderatuur en diensgroepvoorsitters
Agter vlnr Dawid de Wet (Diaconia voorsitter), Marié Britz (Toerusting voorsitter), Frederick Marais (assessor), Elize Morkel (moderatuur), Nelis Janse van Rensburg (voorsitter moderamen), Jan Grobbelaar (Getuienisaksie voorsitter), Tinus van Zyl (moderatuur), Theunis Botha, Frik Bosman (moderatuur), Strydom Bruwer (Gemeentebegeleiding voorsitter)
Voor vlnr Gielie Loubser (moderatuur), Charl Stander (skriba), Bossie Minnaar (moderatuur), Melanie Thirion (moderatuur)
Gustav Claassen
2. NG Algemene Sinode
Ons sinode is bevoorreg om deel van 'n groter geloofsgemeenskap in die vorm van die NG Kerk-familie te wees.
Deel van die verantwoordelikheid van die NG Algemene Sinode is betrekkinge van die kerk na buite, wat kerk en staat; kerk, maatskappy en vrye vereniging; kerk en onderwys; en kerk en ekumeniese betrekkinge insluit.
Benewens beleidsake, ondersteun die NG Algemene Sinode die tien verskillende streke se sinodes op uiteenlopende terreine. Hieronder deel Gustav Claassen, algemene sekretaris van die Algemene Sinode, juis relevante nuus en inligting en help ook met riglyne vir gemeentes se reaksie op 'n wetsontwerp oor haatspraak.  

2.1 Reformasie 500
Vanjaar vier ons die vyfhonderdjarige herdenking van die Reformasie. Gustav Claassen stuur welkome nuus vir gemeentes oor materiaal wat die Taakspan Refo 500 ontwikkel om gemeentes te ondersteun met dié vieringe. Besoek gerus Reformasie 500 waar nuwe materiaal deurlopend beskikbaar gemaak word.
Sien ook Christelike Lektuurfonds (CLF) se inligting oor Reformasie 500 elders. 
Belangstellendes wat meer oor die reformasie (hervorming) wil nadink, kan ook oorweeg om hier te klik vir prof Dirkie Smit se onlangse artikel hieroor, met erkenning aan Netwerk24. Hy skryf onder meer: 
"Dis nie asof die Kerk ooit wéét nie, dié Kerk moes steeds bly leer, núút luister, núút hoor, béter verstaan, fýner gewaar word, sensitiewer aanvoel, liefdevoller optree, regverdiger, steeds méér genadig, méér verwelkomend, méér gasvry, méér insluitend, méér diensbaar, méér versoenend, immers ''n hervormde Kerk bly steeds aan't hervorm'. "

Reformasie 500
2.2 Konsepwetgewing oor Haatmisdade 
Die Algemene Sinode gee inligting vir gemeentes wat oorweeg om kommentaar te lewer op die konsepwetgewing getiteld "Combating of Hate Crimes and Hate Speech Bill"  - met 'n teikendatum van 31 Januarie 2017.
Ter wille van gemeentes wat wil reageer, word dr Marelize Marais van UV se kommentaar (wat as die NG Kerk se amptelike kommentaar sal dien)  sowel as die Tussenkerklike Raad (TKR) se dokument ter insae verskaf. Lees hier verder en oorweeg gerus jul gemeente se betrokkenheid.

2.3 Biddag vir Onderwys 
Die Biddag vir Onderwys val vanjaar op So 12 Februarie.
In die lig van die NG Kerk se kosbare geskiedenis van betrokkenheid by die onderwys, word gemeentes gevra om skole te ondersteun en om tydens eredienste op 12 Februarie hieraan aandag te skenk. Meer inligting en voorstelle van sake waarvoor voorbidding gedoen kan word, sowel as 'n gebed in Afrikaans en in Engels is hier.
Gebed vir opvoeders
Veldbrand
3. Sentrum vir Publieke Getuienis
Voorbidding vir Brande gevra
Die Western Cape Ecumenical Forum (met Braam Hanekom, PSD vir Publieke Getuienis as dagbestuurslid) is 'n organisasie wat hom daarvoor beywer om bestaande ekumeniese organisasies bymekaar te kry om sinvol oor die kerk en die kerk se bydrae in die Wes-Kaap te praat.
Die reëlingskomitee het die afgelope week dringend bymekaar gekom om oa te besin oor die talle brande wat in die provinsie woed. Dit is die droogste seisoen in meer as 100 jaar, maar talle vrae word nou ook gevra oor die ontstaan van die brande. In die lig hiervan is 'n dringende gebedsversoek vir gemeentes geformuleer - klik hier.
Sonja Basson
4. Diaconia EMBRACE uitdagings!
Diaconia, met die gewaardeerde ondersteuning van die DG Murray Trust, besef die waarde daarvan om verhoudings tussen Suid-Afrika se diverse groepe en kulture te verbeter. ’n Belegging in die vroeë ontwikkeling en welstand van kinders is ’n bewese manier om groter gelykheid, beter onderwys, gesondheid en ’n beter samelewing te skep.
Sonja Basson, inisieerder van Embrace en Nal’ibali in gemeentes, verskaf nuttige inligting oor hulpbronne wat tot gemeentes se beskikking is. Kontak Sonja gerus by sonja@kaapkerk.co.za om te hoor hoe Diaconia jou gemeente (of belangstellende individue) hiermee wil ondersteun. 
Gielie Loubser en Bossie Muller
5. Communitas
Opleiding van Brugpredikante

Die doel van ʼn brugpredikant is om ʼn vakante gemeente te help om weer haar roeping en rol duidelik te verstaan. Ons herinner aan Communitas se kursus om brugpredikante toe te rus,  wat deur Gielie Loubser en Bossie Muller aan-gebied word.
Die eerste module begin reeds op 7 Februarie. Lees hier meer en kontak vir Mathilda du Pisanie by mdup@sun.ac.za of 021 808 3265 vir meer inligting.
5.1 En - Nuwe rol vir Gielie!
Tydens die eerste vergadering van die sinode se koördineringspan (SKS) verlede week, is Gielie Loubser as die nuwe voorsitter verkies. Dit beteken dat Gielie, Predikant in Sinodale Diens: Gemeentebegeleiding, nou ook ’n lid van die Wes-Kaapse moderatuur word.
Volgens Gielie wil die SKS streef na sinvolle sinkronisasie van die sinode se werk. Hulle is ook sterk gelei om die spiritualiteit van onvolmaaktheid te omarm. Jes 42:1-9 is die anker teks waarby die span vanjaar wil stilstaan.
"Ons wil daarom ons broosheid erken en ook sag met ander se broosheid omgaan. Ons wil ook gemeentes en dominees help om onvolmaaktheid en gebrokenheid as 'n gawe te sien, 'n weg tot heiligmaking wat ons in ons sinode hierdie jaar verder wil ontgin."
Ons wens hom insig en sterkte met die nuwe rol en verantwoordelikhede toe en vertrou dat die Here hom op ’n besondere manier hiervoor sal toerus en seën.
6. Communitas: Eerste VBO-kursusse
Van Wilma le Roux by die VBO-kantoor op Stellenbosch ontvang ons inligting oor die VBO-program vir die eerste kwartaal. 'n Tabel met vollediger inligting oor elk van die kursusse is op Communitas se webwerf: klik hier.
Inskrywingsvorms en navrae: skakel gerus met Wilma by 021 808 3624 of wler@sun.ac.za. Inskrywings sluit gewoonlik sewe dae voor die kursusdatum, tensy anders vermeld. 
Jan van Zyl en Johann Winterbach
6.1  Padlangs Ouerskap 
Hierdie kursus vind van 14-16 Februarie plaas. Die doel van die kursus is om ouers te begelei in deelnemende positiewe ouerskap; om ouers toe te rus met gereedskap om hulle te help om ʼn veilige ruimte te skep waar elkeen in die gesin die geleentheid kry om sy/haar volle potensiaal te ontwikkel. Kinders word ook geleer om self verantwoordelikheid vir hulle gedrag te neem, soos bv om keuses te maak. 
Die kursus word aangebied deur Jan van Zyl en Johann Winterbach en is spesifiek so ingerig dat deelnemers toegerus word om die kursus self te gaan aanbied. 
Lees gerus hier verder. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 7 Februarie 2017. Alle inskrywingsvorms vir VBO-kursusse is by hierdie skakel beskikbaar.
ALGEMEEN
1. Hugenote Kollege se Pionierskursus Skop Af
Vrydagaand 13 Januarie was ’n groot geleentheid vir Hugenote Kollege toe die nuwe Pionierskursus met 12 studente uit verskillende kontekste ’n aanvang geneem het. Hierdie kursus lei leiers van spanne op wat nuwe geloofsgemeenskappe wil vestig en word op ’n deeltydse basis en oor ’n tydperk van 24 maande onder leiding van Ryk van Velden aangebied.
Die nuwe geloofsgemeenskappe kan uiteindelik deel word van bestaande gemeentes of as nuwe gemeentes funksioneer. Op die onderstaande foto is van die kursusgangers tydens die opleiding. Kontak Ryk by rvanvelden@hugenote.com met navrae.
Kursusgangers
Vlnr: Karen Janzen van Vuuren, Paul Stander, Nelda Roussauw, Hester du Toit, Arthur Rengqu, Andries Andrews, Gert Fritz, Wilhelm Titus, Benson Kacheje, Blessing Jackson
en André du Toit (met rug na die kamera)
Emile Britz
2. Jan Krielskool se Emile
Prestasies en Genade!

Jan Krielskool, wat vanjaar 80 jaar oud is, se wortels lê diep in die NG Kerk se barmhartige bemoeienis met kinders wat spesiale onderwysbehoeftes het.
Emile Britz, ‘n Jan Kriel-matrikulant van 2016, is by ‘n prestige-geleentheid by die Wes-Kaapse Premierswoning aangewys as toppresteerder in die kategorie vir skole vir kinders met spesiale onderwysbehoeftes.  Hy is ook vermeld as een van die matrieks wat bo sy omstandighede uitgestyg het met sy uitsonderlike prestasie - hy het vier onderskeidings behaal!
Lees meer oor Emile, maar ook oor die uitsonderlike jaar wat Jan Krielskool in 2016 beleef het met toekennings vir uitnemendheid waarvoor hulle baie dankbaar is.
3. Dowe-gemeenskap groet ds Schalk Viljoen
'n Spesiale gedenkdiens vir wyle ds SW Viljoen is op Sondagoggend 15 Januarie 2017 in die NG Gemeente Worcester De la Bat gehou. 'n Vroeëre gedenkdiens in Stilbaai op 23 Desember is deur ds Mia Lintvelt, wat haar lisensiaatjaar by ds Schalk gedoen het en ook later as kollegas saamgewerk het, waargeneem.
Sondag se gedenkdiens, waartydens ds Andri Eloff gepreek en ds Jan Oberholzer in gebaretaal getolk het, het aan die Dowe lidmate die geleentheid te gee om van ds Viljoen afskeid te neem. Ons bied ons innige simpatie aan Esther, Schalk se vrou, hulle seun en dogter en ander familie.  
Jan Oberholzer en Andri Eloff tydens begrafnisdiens
Jan Oberholzer tolk in gebaretaal, terwyl Andri Eloff preek.
Die gedenkmuur met plek vir die kissie (voor) is gebou met spesiale stene
destyds deur ds Schalk Viljoen ontwerp.
David Chikate
4. Raakgelees
4.1 Van vlugteling na Dominee
Enigeen wat hier aan die begin van die jaar op soek is na stories van hoop en tekens van God se genade, voorsiening en sorg, kan gerus oorweeg om die verhaal van David Chikate te lees.
Meer as 40 jaar nadat hy as jong seun uit die oorloggeteisterde Angola na die destydse Suidwes-Afrika gevlug het, het hy nou 'n predikant van die NG Kerk geword.
Klik hier vir die verhaal, met dank en erkenning aan e-Kerkbode en Neels Jackson.
Kosmos
4.2 Bybel, Intelligente ontwerp, Evolusie & Geloof
Kan 'n mens uit 'n wetenskaplike teorie, soos intelligente ontwerp, uit die skepping self aflei dat daar 'n God is? Hoe help die Bybel ons hieroor nadink? En: wat is die rol van openbaring in die feite van die evangelie in die vorming van ons geloof? Lees meer.
(Met dank oorgeneem uit Grens.Pos van 12 Januarie 2017.)
Francois Cillie
5. Vir gemeentes - oor Rentmeesterskap
Diegene wat in gemeentes verantwoordelikheid vir finansies aanvaar, kan gerus oorweeg om (weer) te kyk na 'n lekker doelmatige hulpmiddel oor die onderwerp van verantwoordelike rentmeesterskap, saamgestel en bedryf deur Francois Cillié, voormalige saakgelastigde van die Sinode van Wes-Kaapland.
Die blad gee allerlei bronne om te help om die Bybel se waarhede oor geld en besittings te verstaan en dit prakties uit te leef. Klik op www.bybelsevrygewigheid.co.za
.
Brandweer hulp
GEMEENTENUUS
1. Dit Brand!
Gemeenskappe staan Saam

Soos verlede week berig, is dit spesiaal om te beleef hoe ons gemeentes en breër gemeenskappe saamstaan om hulp tydens die brande te bied. Hierdie week se brande in die Wellington-omgewing het onder meer tot gevolg gehad dat Kruiskerk se eerstejaarskamp by Bergkroon buite Wellington as voorsorgmaatreël 'n dag vroeër afgesluit moes word. Lees gerus hoe Conette le Roux in e-Kerkbode berig oor die gemeenskap se wonderlike samewerking.
Verskillende gemeentes het ook ingespring om op 'n praktiese manier bystand te verleen. Een voorbeeld is die NG Gemeente Kenridge wat benodigdhede insamel om die brandbestryders mee te help. Dit sluit in water/vrugtesap/energiedrankies, energiestafies, jellielekkers en oogdruppels. In Riversdal het die gemeenskap ook ingespring en op groot skaal gehelp (foto's onder).
Deon Beyers met waterbottels
Deon Beyers (Riversdal-Wes) by waterbottels vir brandbestryders
Riversdal-omgewing se brande
Riversdal-omgewing brand
Stephan Joubert by NG Parow-Welgelegen
Roné Vosloo
3. NG Moedergemeente George
Ontmoet Roné Vosloo

"Me Roné Vosloo is ‘n finale jaar teolgiese student van Kovsies en is tans besig met haar gemeentejaarprogram in die NG Moederge-meente George.
Haar mentor is dr Steve van der Walt. Ons beste wense vergesel haar met haar studies en program hierdie jaar." So laat weet Drew de Kock van die gemeente.
Kontak Roné gerus by rone@caw.org.za of by 044 874 2036.
Terloops, ander gemeentes is baie welkom om hulle gemeentejaarstudente ook aan die res van die sinode bekend te stel via VrydagNuus. Onthou asb om 'n foto van goeie gehalte saam te stuur. Seën vir jou, Roné!
4. Asb: Kalenders 2017
Ons kollegas in die Oostelike Sinode het lank reeds die pragtige gebruik dat alle gemeentes jaarliks ’n eksemplaar van hulle kerkalmanakke (kalenders) na die sinode stuur om die kantoor op te vrolik. Ons sluit vanjaar graag hierby aan – na ’n onlangse versoek op Facebook het ons reeds ’n paar foto’s van die kreatiewe en uiteenlopende voorblaaie van ons gemeentes se 2017-kalenders ontvang. 
Ons vra mooi dat al ons gemeentes oorweeg om deel hiervan te wees: stuur die foto’s na kommunikasie@kaapkerk.co.za sodat ons mekaar se handewerk kan geniet en waardeer ... dis mos deel van wat ’n geloofsgemeenskap doen. 
Alexaderbaai kalender
Nadine Maletzki stuur Alexanderbaai se kalender. Mal 4:2 is hulle fokusteks
5. Hoeksteen van die Gemeente
Die sinode se webwerf gee graag blootstelling aan ons gemeentes. Een manier waarop dit gedoen word, is deur foto’s van ons gemeentes op die tuisblad se roterende mashoof uit te stal. Die NG Gemeente Albertinia se besondere preekstoel en hoeksteen is maar een voorbeeld hiervan. 
Gemeentes (en lidmate!) kan gerus oorweeg om hulle mooi foto’s van die kerk se hoeksteen – of ’n ander interessante kenmerk van die gebou – te stuur . So help ons mekaar om ons kommunikasie vars en nuut te hou.
NG Albertinia: hoeksteen en preekstoel
Johan en Suzette Jacobs
PREDIKANTENUUS
1. NG Gemeente Aurora
Johan & Suzette Jacobs ... 33 Jaar!
Na 'n volle 33 jaar - tot op dag en datum - word op Sondag 22 Januarie 2017 in Aurora afskeid geneem van Johan en Suzette Jacobs.
Hieroor skryf Johan: "Die vreugdevolle en vervulde bediening wat ons in hierdie 33 jaar beleef het, is nie in woorde te beskryf nie. Die hoogtepunte in ons bediening het regtig nie vir ons gelê in monumentale dinge wat tot stand gebring is nie, maar die wonderlike verhouding wat ons met ons "Sandveldmense” kon hê ..."
Na hulle aftrede beplan Johan en Suzette om hulle op Lambertsbaai te vestig. Lees gerus aangeheg meer. Ons groet met dank en erkenning en wens julle baie seën en gesondheid vir 'n vreugdevolle aftrede toe!

2.1 Ferdi en Jeandré Boll in Blanco bevestig
Prop Ferdi Boll is op Sondag 15 Januarie met handoplegging as predikant en derde leraar van die NG Gemeente Blanco in George bevestig. Na sy bevestiging het hy sy intreepreek gelewer uit Joh 1:29-34 met die tema: "Wat sien jy?"
Ferdi het in 2016 sy praktiese jaar na sy studies by die Universiteit van Stellenbosch, in dié gemeente gedoen. Hy volg in sy pa, Ferdinand, wat vir meer as 25 jaar ‘n leraar in die NG Kerk was, se voetspore. Lees hier meer, met dank aan Francois Mulder, Ferdi se kollega in Blanco. Mag dit 'n wonderlik geseënde reis vir die gemeente en die Bolls wees.
Ferdi bevestiging in Blanco
Handeoplegging tydens Ferdi (in middel saam met Jeandré) se bevestiging
Jeandre Boll klim tot bo-op Masada
2.2 Sien is glo ... GLO is SIEN!
Ferdi se vrou Jeandré was verlede jaar besig met haar praktiese jaar as mediese dokter in George. Haar blymoedige geloof-stap saam met kanker, wat in 2015 by haar gediagnoseer is, het Blanco gemeente uitermate geïnspireer. Haar verhaal ontvou op Facebook by "This is for Jani."
Tydens Ferdi se bevestiging is 'n foto vertoon van Jeandré bo-op die berg Masada in Israel, nadat sy die 700 trappe en 2 km tot bo kafgedraf het 'n maand gelede op 18 Desember 2016 ... lees hier.
Jeandré se verhaal - en kragtige getuienis - verdien om verder gedeel te word. Sy skryf onder meer: "In Afrikaans we say: 'Sien is glo', seeing is believing. But after the past 2 years, I want to say 'Glo is sien'.Without believing, we won’t see God at work and we won’t have the privilege of standing in awe and bearing witness. We won’t see God in the small things, recognise Him in the big things, praise Him and give Him the honour for the miracles we witness. Simply put, we will miss out on life." Ons seënwense vir jou, Jeandré!
Wynand Breytenbach
3. Wynand tuis in Durbanville-Bergsig
Van Durbanville-Bergsig ontvang ons die spesiale nuus dat Wynand Breytenbach, wat in November 2016 gelegitimeer is, op So 22 Januarie om 18:00 in die gemeente bevestig word as gemeenteleraar (met die fokus op Jeug & Jong Volwassenes, Kerkplanting, Gemeenskapfokus). Hy word in 'n twee jaar vastetermyn internskap bevestig en is daarna beroepbaar na enige gemeente in die land.
Wynand het reeds op hoërskool by Bergsig se tienerbediening ingeskakel. Hy getuig dat Bergsig vir hom 'n huis was (en is) waar hy geliefd voel en beleef het hoe God omsien na hom en sy alledaagse behoeftes - dit was deel van sy motivering om teologie te studeer. Almal in die omgewing is baie welkom by sy bevestiging en intreepreek tydens dieselfde geleentheid.
Chrsito en Neeltje van Staden
4. Bevestiging: Christo van Staden
Hier is spesiale nuus: Christo van Staden is op Sondag 15 Januarie in die NG Gemeente Kangovalleie bevestig. Dit was ’n baie spesiale geleentheid, want Christo en Herculene se oudste dogter, Neeltjé (self predikant op Kuruman en saam met Christo op die foto langsaan) het hom bevestig.
Wat dit nog meer besonders maak, is dat Neeltjé in Kangovalleie belydenis van geloof afgelê het in die tyd wat Christo as SAPD-kapelaan aan die gemeente gekoppel was (1999-2003).
Ons mooiste seënwense vir julle in die nuwe omgewing! Terloops, Kangovalleie is die gemeente met 'n Bybelse tuin - gaan loer gerus daar in.
Kerkbode-logo
EKOLOGIE
Gelowig en GROEN

Kerkbode begin in die uitgawe van 20 Januarie 2017 met 'n nuwe rubriek, "Gelowig en groen".
Hieroor skryf Neels Jackson, redakteur: "As die kerk van 2017 na die wêreld om hom kyk, dan is dit duidelik dat die mens se verhouding met die omgewing waarin God ons geplaas het, een van die terreine is waarop ons moet hervorm." Ds Anton Doyer sal voortaan in elke uitgawe 'n paar gedagtes hieroor deel. Terselfdertyd word gemeentes uitgenooi om Kerkbode van omgewingsprojekte in eie geledere te laat weet by kerkbode@tydskrifte.co.za

PUBLIKASIES
1. Christelike Lektuurfonds
1.1 Vir gemeentes: Hulpmiddels vir Reformasie 500

Vanjaar het gemeentes die voorreg om 500 jaar van Reformasie te herdenk. CLF sal deur die loop van die jaar as hulpmiddel 'n reeks van 12 pamflette met verskillende temas beskikbaar stel. Elke maand sal die daaropvolgende maand se pamflet geadverteer word en gemeentes kan pamflette vroegtydig vir gemeentelede en ander doeleindes bestel.
Pamflette is gratis en sal beskikbaar wees in Afrikaans en Engels, so hou hiermee ook Engelssprekende buurgemeentes en ander denominasies in jul area in gedagte en seën hulle met 'n bestelling van hierdie pamflette. Hier is inligting oor die reeks, sowel as Januarie en Februarie se materiaal.
CLF-logo
1.2 Vir gemeentes met Mediasentrums of Boekwinkels
As jou gemeente geseënd is met 'n mediasentrum of boekwinkel - of dit dalk vir 2017 beplan - kan jy gerus hier lees.
CLF, die NG Kerk se mediavennoot, bied nou betroubare, Bybelgefundeerde materiaal vir gemeentes teen 'n spesiale prys! Gemeentes met 'n uitreikhart, wat bv met gemeenskapsuitreike, sopkombuise en gevangenisbediening besig is, kan ook oorweeg om van die aanbod gebruik te maak. Hierdie aanbod is deel van CLF se viering van hulle 60 jaar lange genadepad - en ons vier dit dankbaar saam!
2. Kerkbode en Jaarboek 2017
In die Kerkbode van 20 Januarie verskyn "die storie waarin God se naam nie genoem word nie". 
Lees ook ...

• oor die verskillende Echo-gemeenskappe waar saamlewe mense help heelword. 
• Daar is nuus van ’n Pretoriase bediening wat mense help om God se Pad te stap. 

• Daar word ook berig oor sendelinge in België wat mense se lewens verander. 

• Lees hoe gelowiges ingespring het om te help tydens onlangse Kaapse brande, 

• lees oor die lande waarin Christene die meeste vervolg word oor hulle geloof, 

• en lees oor ’n aktuele kunswerk wat troos in ’n troostelose wêreld uitbeeld.
Die Jaarboek se gemeentebestellings behoort binnekort afgelewer te word, maar gemeentes wat nog nie bestel het nie, kan dit onverwyld doen - klik hier.
Klik hier om die BM-nuusbrief te lees.
Kerkbode voorblad Jaarboek 2017
Bybel-Media logo
3. Bybel-Media: NG Kerk mediahuis 
Bybel-Media, die NG Kerk se mediahuis wat gelowiges in hulle lewe en dienswerk ondersteun, help mense om deur middel van die regte produkte en media op reis met Jesus te wees én 'n verskil in die omgewing en samelewing te maak. Oorweeg gerus om die werk wat BM doen, ook deur middel van die volgende kort video in jou gemeente bekend te stel. Dankie vir jou ondersteuning waardeur jy help om BM-produkte verder te ontwikkel, soos hulle reeds langer as 40 jaar doen. Besoek Bybel-Media se e-winkel
Wireless communication
BEHOU DIE HUMOR

KUIERKANS
Ondersteun gerus jou plaaslike gemeente met hulle projekte en fondsinsamelings. Hier is bv nuus oor 'n baie unieke geleentheid in Darling, as Pieter-Dirk Uys in AFRIKAANS ten bate van Huis Groeneweide optree! 
Pieter-Dirk Uys
Pieter-Dirk Uys Fondsinsamelingskonsert ten bate van die Badisa Ouetehuis in Darling
Kontak die kerkkantoor by 022 492 2513 / 022 451 2616
 
Kerkbode
VAKATURES
Vakatures op e-Kerkbode

'n Lys van vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via die nuwe e-Kerkbode elektronies versprei na predikante en gemeentes, sowel as ander intekenare.
Klik hier vir die jongste vakatures in die NG Kerk-familie.

NG Oostersee
1. NG Oostersee: Gemeentemusikant
Die NG Gemeente Oostersee (tussen Bellville en Parow) het ’n vakature vir ’n dinamiese gemeentemusikant wat hulle musiek- en sangbediening kan bestuur en koördineer.
Meer oor die gemeente en die bepaalde vereistes vir die pos, is hier beskikbaar. Reageer voor 13 Februarie 2017.
Badisa logo
2. Badisa vakatures
Badisa is die gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-Kaapland) en VGKSA (Kaapland).
Daar is tans vakatures by verskillende van die Badisa-programme in die Kaap-streek. Klik gerus onder vir meer inligting hieroor. 
3.1 Alta du Toit Nasorgsentrum, Bellville
Bestuurder; sluitingsdatum:  27 Januarie 2017 - klik hier
3.2 Huis Andrew Murray Kinder- en Jeugsorgsentrum, Wellington
Faktotum; sluitingsdatum: 27 Januarie - klik hier
3.3 Huis Lafras Moolman, Rawsonville
Administratiewe beampte/boekhouer; sluitingsdatum: 27 Januarie - klik hier
3.4 Monte Rosa, Tuine (Kaapstad)
Administratiewe beampte/boekhouer; sluitingsdatum: 27 Januarie - klik hier
3.5 Uit en Tuis Crèche, Goodwood
Programkoördineerder met sluitingsdatum: 27 Januarie - klik hier

Wilhelm Burger
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Wilhelm Burger

Ons vier vanjaar 500 jaar van Reformasie. Die winste van 'n nuwe verstaan van die Skrif kan nie genoeg bereken word nie. Na 500 jaar wonder ons egter oor een aspek wat op die agtergrond verdwyn het … stilte.
Die Bybel moes geleer word en mense moes kennis opdoen. Die kansel is na die middel van die kerk geskuif, die akademiese toga is deur die goed toegeruste leraar gedra en die Bybel is in diepte verkondig.  Mense moes reg glo. In die proses is praktyke soos stil-word en meditasie afgeskaf. Die kerk is die ruimte waar die evangelie gepréék word. D MacCulloch skryf: "Hiermee begin die mees raserige periode in die kerk se geskiedenis."
Dit lyk of nadenke, verwondering, luister en aanbidding na 500 jaar nuut geleer moet word. 
Die vraag is net … kán ons sagter?
                                                              ***
Wilhelm Burger kom uit 'n predikanthuis. Sy pa van 95 bedien nog die siekeboeg van die ouetehuis! Wilhelm is getroud met Alna en het drie getroude kinders. Hulle eerste gemeente was Kenridge, daarna Caledon-Wes en hulle is nou reeds agt jaar in Onrusrivier. Kontak hom by wb@ngkonrusrivier.co.za.
U kroon die jaar met u goeie gawes. 
Waar U ook gaan, is daar oorvloed! (Ps 65:12)

Mag jy hierdie naweek bewus hiervan wees en werk.
Vriendelike groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za