Die personeel by House of Rooibos is al bekende gesigte vir besoekers wat die besigheid oor die afgelope 2 jaar ondersteun het. Een van die personeellede wat al die langste by House of Rooibos werk is Elizabeth Fransman, oftewel Liezeltjie, soos almal haar noem. Amor, die bestuurder van House of Rooibos, het ‘n kort onderhoud met haar gevoer om meer oor haar met House of Rooibos-besoekers te deel.
Wat is jou gunsteling plek/aktiwiteit in Clanwilliam en/of Cederberg omgewing?
Clanwilliam Dam. Na ‘n week se harde werk is die dam die beste plek vir my om te ontspan met ‘n glasie koeldrank.
Watter reisplanne het jy nog op jou “bucket list” en hoekom?
Thailand se strande en eilande is van die beste, mees gefotografeerde en mooiste ter wêreld. Hulle kos is ook baie uniek.
Wanneer het jy by Rooibos Beperk begin werk?
Ek het in 2010 ‘n oproep ontvang van Mev. van Lill vir ‘n moontlike pos by die Suiweringsaanleg. Sy het gevra of ek kans sien vir die geleentheid en ek het dit toe aanvaar. Ek het 3 jaar tydelik aan-en-af gewerk voor ek 7 jaar gelede permanent aangestel is. My take was om leë sakke uit te soek en store uit te vee.
Watter posisie beklee jy vandag?
Ek het vir sowat ‘n jaar in die suiweringsaanleg gewerk tot ek ‘n pos gekry het om in die administrasie-afdeling te gaan werk. My take was meestal skoonmaak van kantore, teepunte en die toeristelokaal. Alles moes ten alle tye netjies en skoon gehou word. My permanente pos het by administrasie begin en daarvandaan het ek die leer begin klim. Ek het begin om met die toeriste te werk en hulp te verleen met voorraadbestuur. Vandag is ek ‘n verkoopsdame en inligtingsbeampte by House of Rooibos. As ek terugkyk na my tyd by die suiweringsaanleg en waar ek vandag gekom het, was alles die moeite werd.
Waar het jy groot geword en skool gegaan?
Ek het groot geword, asook skool gegaan in Clanwilliam.
Watter liedjie sal jy sê is ’n temalied vir jou lewe?
“Can’t give up now” deur Mariah Carey.
Wat is jou gunsteling Rooibosgeur of alternatiewe Rooibosdrankie?
Perske ystee.
Watter dag van die jaar is jou gunsteling?
My verjaarsdag op 25 Oktober.