navrae@stellenberg.co.za | 021 976 4519 (Kantoorure: 08:00 tot 14:00)
WhatsApp-boodskappe:  081 045 2428 

Erediens: Sondag 21 Julie 2024


Eenheid . . .  | Efesiërs 2:11-22
Oggenddiens om 09:00 in die kerk en aanlyn | Mia van der Merwe (1)

Familiediens om 09:00 in die kleinsaal en aanlyn | Ds. René Potgieter

Meditatiewe diens om 09:00 in die kapel en aanlyn | Ds. Dietmann

Kleuterkerk om 09:00 in die kleuterkerklokaal (grootsaal)

Aanddiens om 18:00 in die kerk en aanlyn | Ds. Schoombie

Suid Afrika: Hoe staan sake nou?

’n Gesprek saam met dr. Hanekom en prof. Schwella


Woensdag 24 Julie om 18:30 in die kerk

Dr. Braam Hanekom, direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis en prof. Erwin Schwella, politieke kommentator gaan ’n gesprek lei oor hoe Suid-Afrika se toekoms na die verkiesing lyk.  Die 2024-verkiesing het vir verbasing en opgewondenheid asook ’n tikkie onsekerheid oor die toekoms van die land gesorg.  Kom luister na hulle perspektiewe oor waar ons tans staan asook moontlike scenarios vir die toekoms.  Dit sluit ook in wat die rol van die kerk en gelowiges in hierdie oorgangstyd moet wees.  Registreer asseblief by spg@kaapkerk.co.za/skakel 021 957 7202, of ontvangs@stellenberg.co.za/021 976 4519 om aan te dui dat jy die bespreking gaan bywoon.  Toegang is gratis.

Klouterkerk | Sondag 4 Augustus

Ds. Philipp Dietmann nooi alle ouers met kinders van drie jaar oud en jonger om op Sondag 4 Augustus vanaf 09:00 tot 09:30 by ons klouterkerkbyeenkoms in die kafeteria aan te sluit.  Dit is ’n informele byeenkoms waar kinders en ouers gemaklik en ontspanne kan saam wees en ons die geleentheid gebruik om met mekaar oor ons geloof te gesels.  Die kaggel sal aangesteek word en na die byeenkoms kuier ons saam oor ’n koppie tee en ligte versnaperinge.  Geen vooraf besprekings is nodig nie.

Huweliksverrykingskursus is goed op dreef

Die jaarlikse Date night-kursus het die afgelope week begin en 15 pare het by vanjaar se kursus ingeskakel.  Die bekende Alpha-kursus se materiaal word in die aanbieding gebruik en paartjies kry geleentheid om een keer per week vir ses weke verskeie aspekte van hul verhouding met mekaar te bespreek.
"Dit is 'n baie intieme atmosfeer," sê Mia van der Merwe een van die kursusgangers. "Net jy en jou maat gesels met mekaar en bespreek die gespreksvrae in die materiaal.  Daar is geen groepbesprekings, of situasies waarin ’n mens blootgestel voel nie.  Ek sal die kursus regtig vir alle paartjies van alle ouderdomme aanbeveel."

Winterhulp - help asseblief

Baie dankie aan elkeen wat gereeld op verskeie maniere ons hande versterk om ander te help.  Danksy dié bydraes kon ons tydens die afgelope week se stormweer warm klere en komberse aan mense in geteisterde areas uitdeel, kos versprei en vir mense ’n warm koppie sop aanbied. Die nood is veral wintermaande baie groot en ons sal enige verdere bydraes van klere, komberse of bevrore sop baie waardeer.  Kontantbydraes na ons Noot-vir-noodfonds is ook welkom.  EFT bydraes na ABSA-tjekrekening 145 058 0011,  takkode 632005. Gebruik “winterhulp” as verwysing.  Kontak gerus vir ds. René Potgieter by rene@stellenberg.co.za met enige navrae.
LIGREISIGERS! 'n Kamp vir graad 4's tot 5's.  Kom hoor hoe jy jou lig helder in jou wêreld kan laat skyn deur Jesus se voorbeeld te volg.

Wanneer:  2 - 3 Augustus, vanaf Vrydag 17:00 tot  Saterdagoggend 10:00.

Waar:  Stellenberg-gemeente se salekompleks  Koste: R150 per kind

Inskrywings sluit: Woensdag 31 Julie 2024 om 12:00, sodat ons betyds pizzas kan bestel.  Klik HIER om aanlyn in te skryf.

VatVyf-program

- 24 Julie 10:30 in die kleinsaal: Kom luister na Piet Smit, die gewilde gospelsanger.  Kaartjies teen R100 per persoon is by die kerkkantoorontvangs te koop, of skakel Charlotte by 021 976 4519.  Nooi gerus vriende saam na die besondere geleentheid.
14 Augustus: Ons bersoek die Dassiesfonteinpadstal  naby Caledon.  Ons gaan tussen die oudhede snuffel en saam ontbyt eet – elkeen betaal vir homself.  Vertrek om 09:00 en behoort 15:00 weer terug te wees.  Besprekings by Charlotte 021 976 4519 voor 8 Augustus. 

Daar is nog plek beskikbaar, maar jy moet gou spring!

Ons bied op Vrydagaand 26 Julie dié gewilde produksie saam met Johan Rademan, omroeper van RSG en Christo Snyman van die Broers-musiekgroep aan.  ’n Heerlike driegangmaaltyd asook ’n wynproe deur Beyers Truter word aangebied.  Kaartjies teen R500 per persoon is by die kerkkantoor te koop. 

Die projek se opbrengs word aan die gemeente se getuienisprojekte geskenk.
Stuur ’n e-pos aan ontvangs@stellenberg.co.za om jou plek te  bespreek.

Kontreikuier saam met Sutherland-gemeente | 30 Aug.


Te koop:
  • Braaivleis, boereworsrolle, roosterkoeke, pannekoek en poeding.
  • ’n Kontreimark wat ’n groot verskeidenheid tuisgemaakte items, gebak en handwerkitems aanbied.  
  • Vars skaapvleis, maar geen bestellings kan ongelukkig geneem word nie.
Help asb. met die volgende:
  • Helpers wat pannekoek kan rol en behulpsaam kan wees met verkope word benodig.  Kontak asb. vir Christine Ferreira 083 440 2086 indien jy kan help.
  • Ons het helpers nodig wat poedings sal maak en skenk.  Laat weet asseblief vir Christine Ferreira 083 440 2086 indien jy kan help. Bydraes kan by die kerkkantoor afgegee word.
  • Skenk asseblief die volgende produkte sodat ons koste so laag moontlik kan hou: tamatiesous, skroefnoedels, suiker, canola olie, wit asyn, Rajah kerriepoeier.
Ons reik uit oor grense heen deur egte Kaapse gasvryheid aan die vriendelike mense van dié pragtige Karoodorp te betoon.   

Stellenberg Bybelskool

Na afloop van die Paas- en Pinksterfeeste vier ons Koninkrykstyd waartydens ons fokus skuif na die maniere waarop God in ons hede heers en regeer.  In die baie bekende Onse Vader gebed leer Jesus ons bid: "Laat u koninkryk kom, laat u wil op aarde geskied net soos in die hemel".  Dit is nie net ’n gebed waarin ons ons vertroue vir die hede en toekoms in die hande van God plaas nie, maar 'n gebed wat ons prakties tot gehoorsaamheid wil lei. In die volgende Bybelskool kursus gaan ons hierdie gedagte verder verken. Wat sou dit beteken om ons vir die Koninkryk van God te beywer soos wat Jesus ons in Matteus 6:33 versoek het? 

Datums: Maandag 12,19, 26 Augustus asook 2 en 9 September 2024

Inskrywings: Skakel die kerkkantoor by 021 976 4519 of e-pos Charlotte by ontvangs@stellenberg.co.za om plek te bespreek.

Tyd en plek: 19:00 tot 20:30 in die kerkgebou.

Koste: R 40 donasie vir 'n gedrukte handleiding.

Aanbieder: Ds. Marius Breytenbach.

Stellenberg terapiesentrum | Omgee, hoop, leiding

By die Stellenberg Terapiesentrum, geleë op die gronde van die NG kerk Stellenberg, bied ons ’n omvattende benadering tot kinderontwikkeling en gesinsbegeleiding. Ons doel is om elke kind en hul gesin te ondersteun met ’n multidissiplinêre span wat spesialiseer in verskeie aspekte van terapie en opvoeding.

Ons multidissiplinêre span en dienste:

Met leedwese

Ons neem  afskeid van Anna Charlene Bergh ( 15/04/1947 - 04/07/2024).  Charlene was sedert 2000 ’n meelewende lidmaat van die gemeente.  Sy het in Zonnezicht aftreeoord gewoon.  Begrafnisreëlings is onbekend.

Maria Eatery

Maria Eatery spog met ’n splinternuwe spyskaart met sakpaspryse.  Die restaurant is Maandag tot Vrydag vanaf 07:00 tot 16:00 oop en Saterdag vanaf 08:00 tot 13:00, maar is op Sondae gesluit.  Laai gerus die spyskaart HIER af met verskeie opsies vir ontbyt wat heeldag bedien word, asook ander ligte en bekostigbare etes. 

Tassies-vir-tjokkers

Ons wil graag elke leerder by Shiloh se preprimêre skool met ’n skooltassie en skryfbehoeftes toerus sodat hulle die leerproses met oorgawe kan aanpak.  Borg asseblief ’n tassie of skryfbehoeftes deur ’n kaartjie wat aan die boomtak in die voorportaal van die kerk/kleinsaal hang, te neem en die instruksies te volg. 

Breigroep

Die breigroep ontmoet weer op Maandag 5 Augustus om 09:30 in die markplein.  Bring jou breiwerk saam.  Nuwe lede is baie welkom.

Voorstelle@stellenberg.co.za

Die kommunikasiekommissie het dit goedgedink om aan lidmate geleentheid te bied om voorstelle op ’n vinnige en gerieflike wyse te kommunikeer.  Gebruik gerus die kanaal, voorstelle@stellenberg.co.za vir opbouende voorstelle of kommentaar. 

Gebedsversoeke

Indien jy bewus is van iemand wat siek, of in die hospitaal is, of self ’n gebedsversoek het, gee dit asseblief deur aan ontvangs@stellenberg.co.za/021 976 4519.
Ons doen voorbidding vir Dolf du Pisani wat siek is.
Finansiële bydraes

Baie dankie vir jou finansiële bydrae wat dit vir ons moontlik maak om voort te gaan met die gemeente se werksaamhede.
- Gebruik gerus die SnapScan-toepassing om jou bydrae te maak.
- Elektroniese  bydraes na: ABSA-tjekrekening 145 058 0011, takkode 632005.
- Kontantbydraes: Kan by die kerkkantoor inbetaal word, of in die beveiligde posbus op die kerkkantoor se stoep gegooi word. 
- Debietorders: Laai gerus die debietordervorm af, voltooi en e-pos na stellenberg@stellenberg.co.za.

Elektroniese kommunikasie

  • Op jou rekenaar:
    Jy kan gemeentenuus weekliks deur middel van die Stellenberg-weekliks per e-pos ontvang.  Stuur jou e-posadres aan sanel@stellenberg.co.za.
  • Op jou selfoon:
    Skandeer enige van die QR-kodes met jou slimfoon se kamera om by die WhatsApp-groep van jou keuse aan te sluit en toegang tot gerieflike elektroniese kommunikasie te ontvang. Jy kan die Stellenberg-weekliks, geestelike dagstukke en algemene nuus op jou selfoon ontvang.

In die omgewing . . .

NG kerk Welgemoed bied aan ’n Kunskafee met praktiese werksessies. Geen voorafervaring is nodig nie.  Alle materiaal is by die koste ingesluit en jy kan jou kunswerk na afloop van die klas huis toe neem.
27 Aug. 09:00 - 12:00: Mosaïek (R700)

28 Aug. 09:00 - 12:00 Skilder (R450)

29 Aug. 09:00 - 12:00 Terapeutiese kuns (R400). 
Kaartjies beskikbaar by NG kerk Welgemoed se kerkkantoor.
  • Chrismar Villas het ’n vakature vir ’n geregistreerde vepleegkundige.  Klik HIER om die volledige posbeskrywing af te laai.

  • Edelweiss bak pannekoek op Vrydag 26 Julie.  Plaas asseblief bestellings voor 24 Julie telefonies by Christa Cilliers 021 976 1150.

- Advertensies - 

Jy kan hier adverteer

Plaas gerus ’n advertensie in die Stellenberg-weekliks.  Die nuusblad word tans weekliks elektronies aan 2 500 persone gestuur en is ook op die gemeente se webwerf beskikbaar.  Advertensies sal slegs aanlyn beskikbaar wees en word nie in gedrukte formaat uitgegee nie. Lees meer . . .
- Bellair-pendeldiens: Bied vervoer vanaf die R320 na die lughawe asook besoeke aan winkels, dokters en hospitale.  Kontak Marius Brink by 079 968 5486/ 079 590 1070.
- Karringmelk- en All-Bran-karringmelkbeskuit te koop:
Tuisgebakte beskuit verpak in 400 gram-pakkies teen R65 elk.  Bestanddele: bruismeel / semelryke-bruismeel, karringmelk, margarien, eiers, suiker en sout.  Beskuit word afgehaal by Rheazichtstraat 27, Ridgeworth (Estate), naby NG kerk Bellville Uitsig.
Betaling geskied kontant of met elektroniese oordrag.
Skakel of WhatsApp vir Willie 082 853 5652.  
Vlieënier soek werk: Kontak Jaco by 079 607 7997.  Hy het Frozen ATPL opleiding en voldoende vliegure.
Woonstel gesoek:  ’n Jong dame met ’n verlamde kat soek dringend 'n eenslaapkamer woonstel om vanaf 1 Augustus te huur.  Kontak asseblief vir Elsabe Botha by 084 547 1134 indien u verblyf beskikbaar het.
Om juweliersware te herstel en/of te vervaardig, maar nie seker is waarheen om dit te neem nie, kan 'n uitdagende ervaring wees. Is u op soek na kundiges om u juweliersware te herstel, of nuwe juwele te vervaardig? 

Gold and Diamond Traders, Durbanville (GDT),
Palm Grove Sentrum, Winkel 8 &9b
Landlyn: 021-975 1835 / Selfone: 084 495 5639 & 084 607 7145

Ons dienste sluit die volgende in:
Lees meer . . .
Belê in jou welstand – dit lê die grondslag vir algehele sukses, persoonlike vervulling en die belewenis van geluk.

Dr. Stephan le Roux is ’n gesondheid- en welstandspesialis wie se passie dit is om mense te ondersteun en te begelei in die ontwikkeling en handhawing van persoonlike welstand.  Lees meer . . .
Stuur 'n WhatsApp na Mishani Coetzee by 079 425 1711 om meer besonderhede rakende pryse en verskillende kategorieë te bekom.
Subscribe to our email list.