navrae@stellenberg.co.za | 021 976 4519 (Kantoorure: 08:00 tot 14:00)
WhatsApp-boodskappe:  081 045 2428 

Sondag 22 Junie 2025 

Lukas 10:1-11 | Uitstuurdienste vir al drie winteruitreike

Oggenddiens om 09:00 in die kerk en aanlyn |  Ds. Visser (4)

Familiediens om 09:00 in die kerk en aanlyn | Ds. Potgieter

Meditatiewe diens om 09:00 in die kapel | Ds. Dietmann

Aanddiens om 18:00 in die kerk en aanlyn | Ds. Schoombie


Deuroffer: Teologiese Kweekskool (Sinodaal)

Sondag 22 Junie: Vetkoek met vulsels

Op Sondag 22 Junie word heerlike vetkoeke met vulsels ten bate van die jeuguitreike wat in die Junie-skoolvakansie na Leeu-Gamka en Calitzdorp onderneem word, in die markplein verkoop. Springmielies en kolwyntjies sal ook te koop wees.

Ondersteun asseblief die fondsinsameling wat deur ons jeuguitreikspanne geloods word.

Uitreike 2025

Doen asseblief voorbidding vir ons drie uitreikspanne wat o.a. Namibië, Leeu-Gamka en Calitzdorp tydens die komende skoolvakansie gaan besoek.

-Die Leeu-Gamkaspan vertrek op Saterdag 28 Junie en keer op 3 Julie weer terug.
- Die Namibië-uitreik wat die Degnosbediening gaan besoek, vertrek op Vrydag 27 Junie en keer op 7 Julie terug.
- Die Calitzdorpspan vertrek op 5 Julie en keer op 10 Julie terug.
Raak asseblief by ons winteruitreike betrokke:

- Gaan saam op ’n uitreik.  Ons kort nog hulp by die Calitzdorp-uitreik.  Aansoekvorms op www.stellenberg.co.za.

Skenk asseblief die volgende en gee bydraes by kerkkantoor af:

- Koekies en beskuit vir die uitreikspanne.

- 4-in-1-sopmengselpakkies, hawermout.

- Sagtespeelgoed of teddiebere vir kinders.

- Verfkwaste of rollers en 20 liter-blikke verf.

- Sepies en waslappe of enige ander sanitêre ware, vir besoeke aan ouetehuise.

- Skeermesse, skeerroom en haarsjampoe.

- Sokker-, netbal-, of rugbyballe en ander sporttoerusting.

- Warm klere, komberse en skoene (veral skoolskoene).

Maak ’n finansiële bydrae tot die onkoste verbonde aan die uitreike.  Rekeningbesonderhede:  Absa 9287 59 2857, takkode 632005. Gebruik UITREIKE as verwysing.


Vakansieprogram | 7 tot 10 Julie

Graad 1-tot-6-leerders word uitgenooi om vanaf 7 tot 10 Julie by ons jaarlikse wintervakansieprogram in te skakel.  

Bespreek jou plek aanlyn deur op die onderstaande skakel te klik.

’n Gebed vir wêreldleiers


Deur: Ds. Schalk van Wyk
“Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word, vir konings en vir almal wat gesagsposisies beklee, sodat ons 'n rustige en stil lewe, in alle godvresendheid en waardigheid, kan lei. Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom. Lees meer . . .

Preekreeks | Derde kwartaal

Tema: So ook op die aarde
Ter inleiding:
In dié huidige tyd en omstandighede waarin ons land, asook die res van die wêreld hul bevind, beleef ons almal onsekerheid asook  die vernietigende krag van verdeeldheid en ongelykheid. Ons is pynlik bewus daarvan dat die meerderheid mense in ons land na ’n goeie, mooi en veilige bestaan en toekoms smag. Een van die vele aangeleenthede wat ons as landsburgers almal in gemeen het, is dat ons bekommerd is oor die tekort aan werksgeleenthede, die realiteit betreffende voedselsekerheid, geweldsmisdaad en ekonomiese groei. Ook weet ons Lees meer . . .

Programreeks:
Sondag 20 Julie: Geseënd is die vredemakers | Matteus 5:9 en Johannes 4:1-26
Sondag 27 Julie: Een in Christus | Psalm 122
Sondag 3 Augustus:  Nie slagoffers nie | 2 Korintiërs 4
Sondag 10 Augustus: Gekant teen onreg, maar deernis met mekaar | Nehemia 5:1-19  
Sondag 17 Augustus: Neem mekaar se hande |  1 Korintiërs 12:12-31
Sondag 24 Augustus: Hoop bo vrees | 2 Samuel 9:1-13
Sondag 31 Augustus: Saam in tye van swaarkry | Lukas 10:25-37

Ys-vrieskas

Ons benodig ’n gekombineerde ys-en-vrieskas vir die markplein se kombuis.  Indien jy ’n toestel het wat in onbruik verval het, maar steeds in ’n goeie werkende toestand is, oorweeg asseblief om dit aan die gemeente te skenk.  Kontak Charlotte by ontvangs@stellenberg.co.za of 021 976 4519 indien jy kan help.


Nuwe ouderlinge verkies

Hartlik geluk aan Lynette Burger, Deon Maree en Phil Niehaus wat almal as ouderlinge tot die kerkraad verkies is.  Ons bid elkeen seën op hulle betrokkenheid en bediening in die gemeente toe.

Predikante aan diens

Tydens die komende skoolvakansie is ds. Marius Breytenbach (082 376 6053) vanaf 30 Junie tot 8 Julie aan diens en ds. René Potgieter (079 893 8104) vanaf 9 tot 21 Julie.

Help ons om ’n verskil te maak

Tydens die winter het ’n mens ekstra waardering vir jou lekker warm huis en die voorreg om op ’n koue wintersaand ’n geurige en warm bakkie sop vir aandete te geniet.  Daarom wil ons in besonder ook diegene ondersteun wat nie so bevoorreg is nie.

Stellenberg-gemeente is by vier sopkombuise in Khayelitsha, Bloekombos, Wesbank en Klipheuwel betrokke.  Honderde mense ontvang weekliks iets te ete by die onderskeie sopkombuise en ons wil graag met bevrore sop ondersteun.

So kan jy help om iemand van ’n voedsame maaltyd te voorsien:

- Kook gemengdegroentesop, vries in roomysbakke en besorg by die kerkkantoor. Daar is roomysbakke in die grootsaalkombuis beskikbaar.
- Skenk die volgende bestanddele:  Gedroogde sopmengsel, uie, wortels, aartappels, blokkies aftreksel.  Gee bydraes asseblief by die kerkkantoor af.

Potgooie nou aanlyn beskikbaar

In die potgooie oor die Heidelbergse Kategismus gesels di. Marius Breytenbach en Schalk van Wyk oor die Heidelbergse Kategismus en hoe dit ons kan help in geloofsgroei asook om te verstaan van wat ons as gelowiges rakende ons geloof werklik bely.  Volg die potgooie op ons YouTube-kanaal of besoek die gemeente se webwerf.

Stellenberg Bybelskool: Wat is die kerk se storie?


Deur: Ds. Marius Breytenbach
Jy kan vandag hierdie vraag vra omdat jy belangstel om te weet waar die kerk, waarvan jy deel is, vandaan kom, of omdat jy moontlik ontnugter is deur dinge wat binne die kerk gebeur. In ieder geval behoort ons volgende Bybelskoolkursus oor die ontstaan en ontwikkeling van die vroeë kerk dan vir jou interessant te wees. Lees meer . . .

Aanlyn Bybelskool 

Die Bybel vandag | Sessie 7: Deel 2 
Kyk gerus na die nuwe sessie in die aanlyn Bybelskoolreeks op die gemeente se YouTube-kanaal of die webwerf.

Gebedsversoeke

Gee asseblief gebedsversoeke deur aan ds. René Potgieter by rene@stellenberg.co.za of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 079 893 8104.

Tassies vir tjokkers

Annibrand Junior beoog om weer vanjaar alle nuwe graad R-leerders van die Klipheuwel Preprimêreskool met ’n skooltas en skryfbehoeftes toe te rus.  Daar is 30 leerders wat elkeen 'n tassie moet ontvang.  Help ons asseblief om ons doel te bereik deur 'n skooltassie met donasies van R50, R100 of R200 te borg.  Bydraes kan elektronies oorbetaal word na Absa-tjekrekening 928 759 2857, takkode 632005, verwysing 3100/001.  Ons het ’n verskaffer wat 30 eenvormige tassies en skryfbehoeftes aan die leerders sal voorsien. 

Omgeestoor en kosprojek


Tydens die wintermaande raak die vraag na warm klere en komberse groter.  Skenk asseblief bruikbare wintersklere vir ons omgeestoor.  Bydraes kan by die kerkkantoor afgegee word.

Niebederfbare kosprodukte vir die gemeente se kosprojek kan ook by die kerkkantoor afgegee word.  Suiker, langlewemelk, koffie, tee, meel, graankos, sopmengsel, konfyt, blikkiesgroente en -vleis asook kookolie is alles produkte wat in kospakkies verpak kan word.    

Breigroep

Die groep ontmoet weer op Maandag 7 Julie 2025 om 09:30 in die markplein. 
2 l-roomysbakke
Ons benodig 2 l-roomysbakke om sop aan sopkombuise te skenk.  Bydraes kan by die kerkkantoor afgegee word. 

Dankie vir jou finansiële bydrae

- Bydraes kan elektronies oorbetaal word  na  ABSA-tjekrekening 145 058 0011,  takkode 632005.
- Gebruik gerus die SnapScan QR-kode indien jy die SnapScan-toep gebruik om ’n bydrae te maak. 
- Vir jou gerief kan jy ’n debietordervorm hier aflaai, voltooi en aan finansies@stellenberg.co.za stuur. 

Elektroniese kommunikasie

  • Op jou rekenaar:
    Jy kan gemeentenuus weekliks deur middel van die Stellenberg-weekliks per e-pos ontvang.  Stuur jou e-posadres aan sanel@stellenberg.co.za.
  • Op jou selfoon:
    Skandeer enige van die QR-kodes met jou slimfoon se kamera om by die WhatsApp-groep van jou keuse aan te sluit en toegang tot gerieflike elektroniese kommunikasie te ontvang. Jy kan die Stellenberg-weekliks, geestelike dagstukke en algemene nuus op jou selfoon ontvang.

In ons omgewing . . .

- Edelweiss Dienssentrum versamel plastiekdoppies (enige grootte en soort doppies) ten bate van ’n projek van die Paarlskool.  Gee gerus die doppies wat jy bymekaarmaak, by Edelweiss Dienssentrum se ontvangs af.
Edelweiss bak op Vrydag 27 Junie pannekoek teen R8 per pannekoek.  Bestellings kan by mev. Cilliers 021 976 1150 /edelweissontvangs@gmail.com ingedien word.

- Advertensies - 

Jy kan hier adverteer

Plaas gerus ’n advertensie in die Stellenberg-weekliks.  Die nuusblad word tans weekliks elektronies aan 2 500 persone gestuur en is ook op die gemeente se webwerf beskikbaar.  Advertensies sal slegs aanlyn beskikbaar wees en word nie in gedrukte formaat uitgegee nie. Lees meer . . .
- Halfdagpos vir ’n debiteureklerk: ’n Betroubare en noukeurige persoon wat onafhanklik kan werk, word benodig om met invorderings te help. Die geskikte kandidaat moet goeie ervaring en kennis van ten minste drie jaar hê.Dit is ’n voltydse pos Maandag tot Vrydag 08:00 tot 12:00. Stuur asseblief ’n CV en uurlikse tarief na ehgray62@gmail.com.

- Vakature beskikbaar: Bornman & Hayward Prokureurs, geleë te Suite 1, Reigerstraat 2, Stellenberg, het ’n voltydse pos beskikbaar vir ’n debiteureklerk met onmiddellike indiensneming. ’n Mededingende markverwante salaris word aangebied. Akkuraatheid is van kardinale belang. Stuur asseblief u volledige CV aan: info@borhay.co.za.


- Bellair-pendeldiens: Bied vervoer vanaf R320 na die lughawe asook besoeke aan winkels, dokters en hospitale.  Kontak Marius Brink by 079 968 5486 of 079 590 1070.
- Matskoonmaakdiens: Kontak Leon Ritter by 082 448 2438 vir ’n gratis kwotasie.
- Ontdek die sagte krag van Tai Chi: Voel jy styf, gespanne of het min energie?   Ontdek die sagte krag van Tai Chi – 'n bewuste bewegingspraktyk wat balans herstel, buigsaamheid, krag en uithouvermoë verbeter en die gees kalmeer. AgeWell Tai Chi bied begeleide sessies aan wat ontwerp is vir alle fiksheidsvlakke en kan met die volgende help: vermindering van spanning, verbetering van postuur, asemhaling, sirkulasie en beweeglikheid.  Geen ondervinding nodig nie – net gemaklike klere en 'n gewilligheid om stadig, bewustelik en met intensie te beweeg! Sessies op die perseel beskikbaar vir aftreeoorde en selfs vir konferensiegroepe. Belangstellendes kan my ateljee besoek by Mountain Viewrylaan 82, Stellenberg.  Bespreek jou gratis proefsessie vandag by Douw by 067 854 2093 of besoek www.agewell.fitness.
- Rekenaarhulp beskikbaar: Vriendelike en geduldige hulp met alle rekenaarprobleme.  Kontak Wynand by 079 412 7080. 
- Te huur: Aftreeoord  La Vie in Sonstraal Durbanville. Tweeslaapkamereenheid op grondvloer naby eetsaal. Ooplankombuis met sitkamer en badkamer.  Baie netjies.  DStv-pakket asook etes beskikbaar.  Koste: R12 000 per maand en beskikbaar vanaf 1 Junie 2025.  Kontak: Loret Kruger by 082 872 0526 of loret@dck.co.za.
Oorweeg u om u huis te verkoop?  Milieu-eiendomme is al die afgelope 38 jaar werksaam in die gemeente se onmiddellike omgewing.  Ons benodig voorraad vir kopers wat graag in ons area wil koop. Die agentskap doen ’n in-diepte vergelykende markanalise van die markprys van u eiendom en verseker u te alle tye van die beste diens met baie ondervinding.  Skakel JP vd Poel 082 878 5582 vir ’n gratis kwotasie, markanalise van u eiendom – dit is aan geen verpligting onderhewig nie.
U tevredenheid is ons prioriteit. 
Kontak my, Chanelle van Rensburg, vir enige korttermynversekeringsbehoeftes.  OUTsurance bied ’n wye reeks van versekeringsprodukte/oplossings, wat besigheid, huishoudelik, motor, troeteldier, en nog vele meer dekking aanbied.

My diens is gemik daarop om u as kliënt gemak en doeltreffendheid te bied, sonder die noodsaaklikheid van ’n oproepsentrum. Ek is dus u as kliënt se primere kontakpunt en verseker dat alle kommunikasie en dienste vinnig en professioneel sal geskied.  Ek is toegewyd om die beste versekeringsoplossings, wat aan u behoeftes voldoen, te verseker.
Subscribe to our email list.